Romeine 12:1-2

Die tweeling in die Bybel



Broers en susters in onse Here Jesus Christus

Van al die verskriklike dinge wat met ‘n mens kan gebeur, is die verskriklikste seker dit: om die evangelie vir ‘n leeftyd lank te hoor, en tog nie; om van die boodskap van die blye evangelie van Jesus Christus te weet, maar eintlik ook nie; om die Woord van God vir ‘n miljoen kere jou oortrommels te laat tril, maar jou hartsnare nie een te laat roer nie.

So verskriklik, broers en susters, is hierdie moontlikheid, dat Jesus op ‘n keer hieroor ‘n baie harde woord gespreek het: ‘Maar hy wat nie geweet het nie en dinge gedoen het wat straf verdien, sal ‘n ligte straf kry. Van elkeen aan wie baie gegee is, sal baie geëis word; en van hom aan wie baie toevertrou is, sal meer gevra word’ (Lukas 12:48).

Miskien moet ons almal, broers en susters, net vir ‘n keer weer duidelikheid oor een baie belangrike saak kry: die doel van die evangelie van Jesus Christus is om ons te verander. Die dryfveer agter die ontferming van God is dat ons sal omkeer na die God van ontferming. Die Woord van God (saam met die Gees), werk in ons om te herskep na die beeld van God.

Daarom is daar tussen hoor en doen, tussen genade en gehoorsaamheid, geen skeiding aan te bring nie. Die een hoort by die ander, roep om die ander. Geloof en werke is ‘n tweeling. Genade en gehoorsaamheid is ‘n tweeling. ‘n Tweeling wat albei gebore word uit die liefde van, en liefde vir God.

Ongelukkig is dit egter so, broers en susters, dat dit al dikwels gebeur het dat die kerk, en gelowiges, en u en ek, sekere tye van ons lewe ‘n groter liefde vir een van hierdie tweeling geopenbaar het, en so van een van hierdie tweeling ‘n lieflingskind gemaak het, en van die ander een van die tweeling ‘n stiefkind gemaak het.

Wanner gebeur dit? Hoe gebeur dit? Eintlik eenvoudig! So maklik plaas ons dikwels te veel klem op die genade ten koste van die gehoorsaamheid. Hoe lyk so ‘n lewe? Eintlik baie maklik om te beskryf. Mense wat die klem te swaar laat val op die genade, redeneer dikwels so: is dit nie wonderlik dat God se genade so groot is nie? Is dit nie wonderlik dat God so maklik sondes vergewe nie? Is dit nie wonderlik dat God soveel geduld met ons het nie.? Is dit nie wonderlik dat ek maar net hoef te glo, en dat bo alles, geloof nog boonop ‘n gawe, ‘n stuk genade, uit die hand van God is nie?

Daarom is alles geoorloof. Ek kan eintlik doen en leef soos ek wil. Want God vergewe mos. En God is mos geduldig. So, al weet ek dat ek verkeerd doen en lewe, daar is nog baie tyd oor. Want God se genade is groot, sy liefde is onmeetbaar, en Hy vergewe mos sonde. Hy het immers self so gesê.

Maar ook die ander moontlikheid is waar, broers en susters. Daar waar ons van die gehoorsaamheid ‘n lieflingskind maak, en van die genade ‘n stiefkind. Wat gebeur dan? Dan word genade van die tafel gevee, en God eintlik ook. Dan neem ek die ereposisie in. Dan word die evangelie ‘n wet. Dan word godsdiens ‘n liefdelose aantal ‘moets’ en ‘moenies’, ‘n lang wettiese lys van ‘dit mag jy’ en ‘dit mag jy nie’. Met die gevolg: ons word vreugdelose en verstokte mense. Lysies beheer ons lewe. Lysies op papier. Papier wat nie emosie of liefde kan betoon nie.

Dit, terwyl die Woord ons baie duidelik leer: hierdie tweeling — genade en gehoorsaamheid, geloof en werke, hoor en doen — is onskeibaar. Presies soos Paulus dit in ons teksvers stel: ‘En nou doen ek ‘n beroep op julle, broers, op grond van die groot ontferming van God: gee julle self aan God as lewendige en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is’. God se ontferming, ons wat ons self moet gee. God se genade, ons gehoorsaamheid. ‘n Onskeibare tweeling.

Wat is die agtergrond, broers en susters, van hierdie woorde van Paulus hier in Romeine 12:1? Kom ek skets dit baie vinnig: in die eerste elf hoofstukke vertel Paulus aan die Romeine wat God alles gedoen het om ‘n sondige en verlore mens(dom) op te soek. Hoe God deur die gange van die geskiedenis, van Adam af, deur Moses en Abraham, deur die berge en dale van ons menswees gevolg het. Tot op Golgota. So groot was God se ontferming, dat Hy sy eie Seun geoffer het.

Waarop Paulus dan, in Romeine 12:1, sê: wie kan, as hy of sy dit alles gehoor het, wie kan, as God sy genade so sigbaar gemaak het, as God tot sy Seun geoffer het, nie bereid wees om self ‘n offer vir God te word nie? Wie kan, in die lig van die groot Offer, nie bereid wees om ‘n klein offer te wees en te word nie? ‘n Klein offer van dankbaarheid? Dit is die minimum wat God vra.

Maar ook die maksimum. Geloof en gehoorsaamheid. Hoor en doen. Geloof en werke. Dit is goed dat ek my kind kom doop. Want kyk , sê God, kom sien hier hoe lyk my genade. Maar gaan doen ook. Dit is gehoorsaamheid. Julle wat geroep is om te dien in die gemeente, dit is genade. Maar gaan doen wat Ek van julle vra daar in jou wyk. Dit is gehoorsaamheid. Veral julle aan wie baie gegee en baie toevertrou is. Van julle sal meer geëis word.

Vir ons almal, broers en susters, is die kerk se deure elke Sondag oop. En dit is baie belangrik dat ons by die oop deure van die kerk elke Sondag sal instap. Want hier hoor ons van God se genade. Maar dit is net so belangrik om by die kerk se deure uit te stap en buite te gaan leef tot eer van God. Dit is gehoorsaamheid.

En net so ondenkbaar wat dit is, broers en susters, dat iemand op ‘n Sondag hier sal instap, en na die erediens net hier sal bly sit (tot volgende Sondag) en nie hier sal uitstap na die wêreld toe nie, net so ondenkbaar, sê Paulus, is dat genade kan gaan sonder gehoorsaamheid, of gehoorsaamheid sonder genade.

Is daar balans, broers en susters, in u en my lewe wat hierdie tweeling betref? As daar is, sal ons verander, sal ons steeds nuut en nuwer word, sal ons groei na die beeld van God. Want dit is tog die doel van die evangelie: om ons te herskep na die beeld van God.
Amen