Jeremia 8:18-9:2

God wat huil



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
'n Mens se kultuur, asook die omstandighede waarin 'n mens grootword, het dikwels 'n groot invloed oor hoe 'n mens oor God dink. Dit is waarom, meen sommige opvoedkundiges, dat God in ons Afrikaanse gemeenskap (waar van vaders verwag word om streng te wees en selfs die plak in te lê waar dit nodig blyk te wees) dikwels gesien word as streng God, iemand wat ons straf as ons nie lewe soos Hy van ons verwag nie. Dit is dan dikwels ook die beeld wat sommige mense, wanneer 'n mens met hulle oor God praat, van God het. Mense sê soms selfs dat hulle vir God bang is. Amper soos 'n kind wat vir sy pa doodbang is, maar tog bereid is om soms agteraf te konkel en dit dan ten sterkste te ontken as hy uitgevang word.

Nou is dit natuurlik waar, broers en susters, dat hierdie beeld van 'n streng God wat straf op sonde laat volg, inderdaad een van die gesigte van God in die Ou Testament is. Deuteronomium 27 en 28 byvoorbeeld, en ook baie profete-uitsprake in die Ou Testament teken 'n beeld van God wat mense straf vir verkeerde optrede en ontrouheid. Dit is immers waar ons aan ons streng beeld van God gekom het. Die probleem is egter, broers en susters, dat ons soms, miskien omdat ons grootword soos ons grootword, en in 'n bepaalde kultuur leef, die ander gesig van God, wat ook in die Bybel te vinde is, miskyk. 'n Gesig van God wat nie streng is en maar net wil straf nie, maar wat skyn van medelye en omgee vir sy kinders.

Om hierdie ander gesig van God aan die orde te stel, broers en susters, wil ek vanoggend by Esegiël 16 begin, al het ons dit nie saamgelees nie. Nou moet ons, voor ons Esegiël aan die woord stel, net onthou dat in Esegiël ons eintlik te make het met die geskiedenis van Israel, maar dat Esegiël dit vertel in die vorm van beeldspraak, of dan 'n gelykenis.

Daarom vertel Esegiël in hoofstuk 16 die geskiedenis van Israel soos volg: `Jy was 'n weggooikind. Toe jy gebore is, het niemand jou naelstring afgesny nie, niemand het jou gebad nie, niemand het jou met sout ingevryf en jou in doeke toegedraai nie. Maar toe het Ek verbygekom en jou in jou bloed sien spartel. Ek het jou innig jammer gekry daar waar jy gelê het, en daarom het Ek vir jou gesê leef, en jou tot hulp gekom'.

U sal met my saamstem, broers en susters, 'n gesig, 'n kant van God wat spreek van medelye, iets van 'n moeder se ontferming oor haar kind. Dus: 'n gesig van God wat te hulp snel en omgee, en nie maar net straf nie.

Maar dan gaan Esegiël verder: Maar toe jy, wat Ek so mooi gebad het, en met soveel sorg versorg het, 'n mooi en groot meisie word, het jy jou soos 'n straatvrou begin gedra. En dit is waarom Ek julle gaan straf.

Presies dieselfde boodskap vind ons byvoorbeeld ook in Jeremia, natuurlik 'n tydgenoot van Esegiël: ‘Ek sal hulle vrouens aan ander gee, en hulle grond aan nuwe eienaars, want almal, klein en groot, hulle vir wie Ek soveel gedoen het, vir wie Ek so goed was, wil hulleself net verryk, klein en groot, almal, selfs die profete en die priesters, is uit op bedrog’. Inderdaad 'n beeld van God wat die sonde wil straf, 'n beeld van God wat ons veral in die Ou Testament terugvind.

Maar, broers en susters, pas nadat God in Jeremia 6-8 die oordeel oor Jerusalem en sy mense uitgespreek het, neem sy ander kant weer oor. Want selfs nog voordat God hulle aan die Babiloniërs oorgee om hulle in ballingskap weg te voer, hoor Hy sy volk by voorbaat hier in Jeremia 8 vanaf vers 18 na Hom roep (en terloops, hier is ek werklik van oordeel dat die Nuwe Afrikaanse Vertaling hier dit miskyk dat God hier self aan die woord is). En kyk wat sê God hier:

My smart oorweldig my,
Ek is hewig ontsteld.
Hoor hoe benoud roep my volk
uit 'n vêr land:
Is die Here dan nie meer in Sion nie?
Is Sion se Koning nie meer in hom nie?

Verder is dit, broers en susters, asof God sy mense se optrede nie kan verstaan nie. Daarom gaan Hy aan deur te sê: `Maar waarom tart hulle my met hulle afgodsbeelde? Waarom dwing hulle My om die roede uit te haal? Waarom dóén hulle dit aan My?’

Dan sien ons, broers en susters , is dit asof God vooruit sien hoedat die Babiloniese soldate die inwoners van Jerusalem verwond en hardhandig wegvoer. En kyk wat sê God daarvan:

My volk se wonde is ook My wonde.
Ek is in rou, deur angs oorweldig.
Is daar nie Balsem in Gilead nie?
Is daar nie 'n dokter nie?
Waarom groei die vel nie oor My volk se wond nie?

Met ander woorde, broers en susters, dit is asof God eintlik radeloos en hulpeloos sit en toekyk. Sy volk bly sondig, en hulle wonde word net meer. En daar is niemand, maar niemand om hulle die regte pad te wys nie. Daar is niemand onder hulle wat sy wil wil doen nie.

En dan, broers en susters, in Jeremia 9:1, lyk dit of die volk se sonde, en hulle daaropvolgende ellende onder die Babiloniërs God tot trane dryf:

Ag, was my kop maar water
en my oog 'n traanfontein,
dat Ek dag en nag kon huil
oor die verwonding van my volk.

God, broers en susters, wat huil. Wat huil oor sy volk se sonde, wat huil oor die ellende waarin Hy hulle moes oorgee om hulle te straf vir hulle ongehoorsaamheid.

En presies voel God vandag nog. Want waar mense hulpeloos in 'n hospitaalbed lê, waar mense deur geweld in ons dag oorweldig is, en ook waar mense deur hulle eie toedoen in 'n penarie beland, huil God dag en nag oor hulle.

Is dit moontlik, broers en susters, wil 'n mens amper vra? God met betraande oë? En dit oor moedswillige mense? Oor mense wat eintlik maar net hulle eie graf gegrawe het? Die antwoord hierop, broers en susters, is nie alleen ja nie, maar God wat so oor ons voel, wil ook sê: Dit is die evangelie. Dit is die blye boodskap van die Bybel.

Dat ons God nie maar net 'n hardvogtige, straffende God is nie. Ja, waar mense God se gebod oortree, pluk hulle die vrugte van hulle eie dade. Maar dit gebeur nie omdat God dit graag wil sien nie. Dit is nie so omdat God wraaksugtig is, net wag om te kyk dat Hy ons kan straf wanneer ons oortree nie. Inteendeel. Selfs Hy staan in sulke tye byna magteloos verslae oor die ellende wat mense oor hulleself bring. Dit is immers wat Jeremia hier duidelik sê. In elke geval, soos ek dit verstaan.

Maar belangrik broers en susters: God se hartseer oor ons sonde en ellende maak Hom nie magteloos nie en daadloos nie. Want God se hartseer bring sy liefdeskrag in beweging. Hy weet die mens kry maar net sy verdiende loon en dat hulle eintlik maar moet boet vir hulle hardnekkige ongehoorsaamheid.

Maar God kan Hom as 't ware dan self nie keer nie. Daarom sê Hy in Jeremia 9:2:

Ag, was daar maar 'n reisigershut in die woestyn,
dat Ek my volk kon verlaat en weggaan van hulle af,
want almal van hulle is ontroue mense!

Met ander woorde: kon Hy maar sy ore toedruk en nie hulle gekerm hoor nie. Kon hy maar êrens gaan wegkruip in die woestyn sodat Hy hulle ellende nie hoef te sien nie.

Die blye evangelie is egter: Hy kan nie. God kan nie. Want Hy is God. Want as daar een ding is wat God in sy almag nie kan doen nie, is dit om sy medelye te keer en sy liefde vir sondige mense te onderdruk.

En wel in so 'n mate dat Hy uiteindelik self mens geword het en die mens se straf op sy Seun laat neerkom het. Dit, solank, as mense tog maar net nie hoef te boet vir hulle dade nie. Want hulle ellende en sonde ontroer Hom. Selfs dit kan sy liefde vir hulle nie onderdruk nie.

Is dit 'n gesig van God, broers en susters, wat maar net wil straf, wat net ‘n veroordelende Regter is, wat kwaad word vir die mens wanneer die mens nie aan God se verwagting voldoen nie? Nee, broers en susters. Dit is 'n gesig van God, van ons almagtige God, wat, alhoewel Hy somtyds ons optrede nie kan begryp nie, vol trane is. Trane wat sy liefde in beweging sit, liefde wat ook seëvier oor die sonde van mense.

Daarom die vraag broers en susters: as dit is hoe God ook is, hoe kry ons as sy kinders dit reg om ons medelye vir ander hok te slaan en ons liefde vir sondaars op te skort?

Hoe kry ons wat die Woord aan ander moet bring, ons as predikante, u as ouderlinge en diakens, en ons ander as kinders van God wat die gesig van God in die wêreld behoort te wees, dit reg om die nood van ander mis te kyk.

Wat meer is: hoe kry ons dit reg om ons eie mense te verwaarloos. My mense in my wyk? Die wat langs my bly? Hulle wat saam deel is van hierdie gemeente?

U wat reeds op die kerkraad dien, en in die besonder u wat nou hierna bevestig gaan word, dit is u taak. Dit is my taak. Dit is ons taak. Om hierdie gesig van God aan ander te wys deur te gaan leef soos God soms oor ons voel.

Mag u daarom, waar u in u wyke gaan werk, hierdie gesig van God vir God by ander wees. En mag u ook sê: Ek wil dit wees, want ek kan nie anders nie. Want ook ek glo in die blye evangelie.
Amen