Eksodus 4:10-17; Deuteronomium 34:7-12

Hoe reageer ons wanneer God ons roep?



Broers en susters en kinders in onse Here Jesus Christus:
Sommige onder ons het nie meer die lus, of weier soms botweg, om iets nuuts aan te pak, betrokke te raak by ander wat bystand nodig het, of om byvoorbeeld betrokke te raak by spesifieke aksies in die gemeente of dienslewering in die gemeente in die algemeen.

Baie redes kan gegee word hoekom mense/gelowiges soms so optree, redes waarvan sommiges selfs legitiem kan wees. Ek noem 'n paar voorbeelde:

  • Party sê eenvoudig dat hulle nie tyd het nie;
  • ander weer sê dat bepaalde omstandighede in die verlede hulle die vrymoedigheid ontneem om betrokke te raak in die werk van en diens aan die Here. Hulle het byvoorbeeld in die verlede iets aangepak, maar soveel kritiek ontvang dat hulle net nie weer kans sien om iets nuuts te probeer nie;
  • nog ander sê weer hulle het probeer, maar hulle pogings was so onsuksesvol dat hulle nie weer kan sien vir so 'n teleurstelling nie, of;
  • en dit hoor 'n mens baie, mense sê hulle sal so graag iets wil probeer, iets nuuts alleen of saam met ander wil aanpak, betrokke wil raak, maar dat hulle eenvoudig net nie die talente en vermoëns het om dit te doen nie. Met ander woorde, hulle beskou hulleself as minderwaardig, voel selfs negatief oor hulle eie vermoëns, of glo selfs dat hulle tot niks goed in staat is nie.

Met Moses, broers en susters, het ons in ons gelese gedeelte gesien, was dit presies soos in laasgenoemde geval. Wanneer die Here aan Moses die opdrag gee om aan die farao te gaan sê dat Hy, wat die Almagtige is, besluit het om die volk Israel uit Egipte te laat trek, om sodoende aan hulle hulle eie land en blyplek te gee, is Moses dadelik vol verskonings.

'n Bietjie terug, in Eksodus 3, lees ons dat Moses se eerste verskoning min of meer soos volg klink: Here, maar wie is ék dat ék kan waag om dit vir die farao te gaan sê? U weet mos dat ek 'n Egiptenaar doodgeslaan het. Ek vlug dan juis van die farao af weg, en nou wil u hê dat ek reg in die leeu se bek moet instap. Sê nou hulle sluit my toe of maak my dood? Nee, Here, dit is darem te veel gevra!

En God se antwoord? Jy moet gaan Moses, want Ek sal by jou wees, en dit is genoeg.

Maar Moses gee nie moed op nie. Hy kom met 'n tweede verskoning: Goed Here, as ek wel gaan, wie sal ek sê het my gestuur? Hulle ken u mos nie. Hulle het mos hulle eie gode. Hulle sal heel waarskynlik vir my lag.

Maar weer kom God met 'n antwoord: Jy sê net vir hulle dat dit Ek is, die Almagtige, wat jou gestuur het. Omdat dit Ek is wat jou stuur, is dit genoeg.

Dan, sien ons, probeer Moses 'n ander invalshoek. Maar sê nou maar net Here, my eie mense, die Israeliete, wil my nie glo dat u aan my verskyn het en self aan my hierdie opdrag gegee het nie?

Weer is God reg met 'n antwoord. Gooi neer jou kierie op die grond, en dit sal 'n slang word. Gryp dan die slang aan sy stert, en dit sal weer 'n kierie word. Of, steek jou hand in jou klere in, en dit sal melaats word, en steek dit weer in, en dit sal gesond word. En as dit nie genoeg bewys aan hulle is nie, vat van die Nyl se water en gooi dit op die grond uit, en dit sal bloed word. As jy al hierdie dinge doen, sal hulle jou glo. Ek, wat die Almagtige is, sal daarvoor sorg.

En, broers en susters, al doen Moses toe al hierdie dinge, en gebeur alles presies soos God beloof het, kom Moses met 'n laaste verskoning waarvoor, hoop hy, God geen antwoord sal hê nie: Here, u weet tog ek praat swaar en onduidelik. U weet mos my tong sukkel.

En, al word God toe kwaad vir Moses (ja, God word soms wel kwaad vir sy kinders), is God weer reg met 'n antwoord: Aäron is mos jou broer, Moses, en jy weet mos goed dat hy die woord baie goed kan voer. As dít jou probleem is, vat hom dan saam. Dan is al jou besware en vrese mos besweer.

Wat, broers en susters, doen u en ek gewoonlik in so 'n situasie? Wat doen ons wanneer ons iemand vra om ons met iets te help (bv om ons te help in die gemeente met iets) en al wat ons hoor is verskoning op verskoning? Ja, kom ons wees maar eerlik. Ons los so iemand alleen, ons skryf so iemand af by wyse van spreke. Vra nie weer nie, en gaan soek liewers na iemand anders wat wel wil help. Soos ons seker ook met Moses, na al sy baie verskonings, sou gemaak het.

Die interessante is egter, broers en susters: nie God nie. Wanneer God iemand roep, al is daar hoe baie verskonings, los God nie so iemand maar net alleen of met rus nie. Hoekom nie? Want wanneer God roep/opdrag gee, roep Hy nie maar net nie. Nee, God roep mense vir take wat Hy weet daardie mense sal kan uitvoer, en wat meer is, indien die mens wat Hy roep wel bepaalde tekortkominge het vir die uitvoering van dit waartoe God hom/haar roep, rus God so iemand toe, en wel op so 'n manier dat daardie persoon geen, maar geen, leemte meer sal hê om te doen wat God vra nie.

Dit sien ons baie duidelik in die lewe van Moses. As hy sê, Here, maar wie is ek dat ek kan gaan, sê die Here: Ek sal by jou wees. As hy sê maar wie sal ek sê het my gestuur, sê God: sê dit is Ek, die Almagtige. As hy sê die volk sal hom nie glo nie, gee God aan hom die vermoë om wonders te kan doen. En as hy sê hy praat swaar, sê God: Vat dan vir Aäron saam. God rus dus toe, en voorsien, waar dit nodig is.

Maar ook, het ons gesê, roep God hulle wat Hy weet die taak sal kan uitvoer. Wat lees ons van Moses in Deuteronomium 34? Daar was nie weer 'n profeet soos Moses in Israel nie. Hy het die Here persoonlik geken. Die volk het na hom geluister. Ja, hulle het selfs dertig dae lank oor sy dood gerou.

Dit dan, wat Moses betref, broers en susters. Kom ons praat so 'n bietjie oor onsself. Wat kan ons uit hierdie bekende verhaal leer wat ons prakties kan gebruik, daar waar ons elke dag wetend in God se teenwoordigheid leef, en juis daarom wil leef soos God van ons verwag?

Wanneer God ons roep vir 'n taak, broers en susters, roep God sommer nie maar net nie. God roep spesifieke persone vir spesifieke take in sy gemeente. Of, anders gesê: Hy roep sy kinders vir spesifieke take, vir take wat God weet hulle sal kan uitvoer. En wat meer is, indien daar wel tekortkominge in van sy kinders se monderinge kan/mag wees om dit uit te voer waartoe God hulle geroep het, sal God hulle bekwaam maak/hulle die vermoëns gee/hulle toerus, om te doen wat Hy van hulle verwag.

Nou kan ons sê: Dit is alles goed en wel, maar hoe weet ek wanneer, of hoe, God my roep tot 'n besondere taak? God, broers en susters, roep sy kinders op verskillende maniere. Wanneer ek in my daaglikse gang met nood in aanraking kom, roep God my. Sê God (by implikasie): Dink maar gerus wat ek aan/vir jou doen wanneer jy in nood verkeer, gaan en gaan doen dieselfde. Wanneer iemand my spesifiek nader om hom/haar by te staan of te help, roep God ons. Ja, selfs wanneer ons aanbied om te help, roep God nie alleen nie, maar het God alreeds geroep.

Kom ons dink meer spesifiek oor die kerk in die algemeen en ons gemeente. In die kerk, broers en susters, roep God ook op verskillende maniere, op maniere wat 'n mens soms nie eers sal dink dat dit God is wat die eintlike `roepwerk' doen nie. Wanneer die kerkraad u benoem en die gemeente u verkies as kerkraadslid, het God geroep. Nie die gemeente nie. Want God het die gemeente deur sy Gees gelei om u te roep. Wanneer ons in die gemeente iemand se naam noem wat ons dink met iets kan help, is dit nie mense wat op ander mense wil staatmaak nie. Nee. Dit is God wat roep. Al lyk dit nie so nie. Want iemand noem nie maar net sommer 'n naam nie. Gelowiges leef onder die leiding van God se Gees (altans, so behoort dit te wees), en onder daardie leiding laat God ons besluite neem. Verantwoordelike besluite. Al besef ons dit nie eers altyd nie.

As ons dit miskien vir 'n slag besef, sal ons weer die moed hê om iets nuuts te probeer/aan te pak, of betrokke te raak daar waar God ons wil gebruik. Sal ons miskien in die vervolg ook twee keer dink voordat ons eenvoudig net sê nee. Want as God deur die mens roep, en ons antwoord is nee, is daardie nee nie 'n nee vir mense nie, maar eintlik 'n nee vir God.

En laat ons ook maar onthou: wat, broers en susters, sou van u en my geword het as Jesus se ja aan die kruis, 'n ja wat 'n ja was vir die mens en die wegneem van sy sonde, 'n nee was? Voor God sou ons nie kon bestaan nie, vir ons sou die dood die einde van alles gewees het.

Ek wil afsluit met twee kort opmerkings: In Deuteronomium 34:10 lees ons dat Moses die Here persoonlik geken het. Hoe het dit gebeur, naamlik dat die Moses wat ons in die begin leer ken (die Moses wat maar traag was om God se opdrag uit te voer) en die Moses aan die einde so van mekaar verskil (dat daar van hom gesê word dat hy die Here persoonlik geken het? Ek meen dat ons, op grond van ons gelese gedeeltes, net een antwoord hierop kan gee: Moses het die Here persoonlik geken omdat hy, toe die Here hom gestuur het, die Here op sy beloftes geneem het, Hom vertrou het, en sy taak gaan uitvoer het. En in hierdie uitvoering van sy taak, in die uitvoering van die werk van die Here, het hy nie alleen nader en nader aan God beweeg nie, ja, seker ook soms met God en sy eise geworstel, maar ook meer en meer van God te wete gekom. Sodat 'n mens seker amper sal kan sê: Wie die Here werklik wil ken, moet met die Here se werk besig wees.

My laaste opmerking: As ons reg verstaan hoe God roep, met ander woorde, dat God in die meeste gevalle sy kinders roep tot diens deur ander mense die `roepwerk' te laat doen, maar dat dit dan God is wat roep en nie die mens nie, sal ons miskien ook minder verskonings hê om vir God ja te sê. En miskien moet ons tog ook maar sê: Gehoorsaamheid aan God is nie onderhandelbaar nie. Wie dink dit is, verstaan nie dat God liefde is nie. Verstaan baie min van Christus se ja vir ons aan 'n kruis 2000 jaar gelede. En so iemand, sê Paulus, wat God se liefde nie ken nie, is die ellendigste van alle mense.
Amen