Markus 5:1-20

Ons almal is waardig genoeg om deur God gebruik te word



Broers en susters in ons Here Jesus Christus

Dit gebeur dikwels dat persone wat deur u, die gemeentevergadering, verkies word om as ouderling of diaken te dien, nie vir die taak kans sien nie. Die rede hiervoor is gewoonlik drieledig van aard. Eerstens is daar soms gewoonweg net verskonings. Mense wil dit nie doen nie. Hulle wil nie hulle tyd aan die Here afstaan nie. Hulle is bang dat die taak, in wese deur God self opgelê, inbreuk sal maak op hulle eie belange. Hulle is gemaklik in die geloof. Hulle wil net van die Here ontvang, maar nie ook iets vir die Here teruggee nie.

Tweedens, broers en susters, is daar egter diegene wat om bepaalde redes nie vir die taak kans sien nie. Hulle het dalk eenvoudig net nie die tyd nie. Ander weer se gesinsomstandighede is van so ‘n aard dat dit net nie vir hulle moontlik is om dit te doen nie. Ander weer kan nie in die aand bestuur nie. En so kan ons aangaan. Maar kom ons sê maar: wettige redes wat ‘n mens moet verstaan.

Dan is daar egter ook diegene wat meen dat hulle nie waardig genoeg vir die taak is nie. Hulle oordeel byvoorbeeld dat hulle eie geloofslewe, wat inderdaad hulle erns is, nie voorbeeldig genoeg is nie. Hulle meen dat hulle geloof te swak is. Dat hulle nie geleerd genoeg is nie, dat hulle kennis van die Skrif te min is. Of dat hulle nie belangrik genoeg is nie. Dat hulle maar net gewone mense is, so gewoon dat die amp as ouderling of diaken nie by hulle pas nie.

Wanneer ons so voel, broers en susters, en dalk voel van u wat vanaand in die amp bevestig gaan word miskien ook so, moet ons miskien vir ‘n slag weer gaan kyk wie die mense is wat God in sy wingerd gebruik. Veral, wie die mense is wat Jesus heel aan die begin gebruik het.

So, kom ons vra: wie sou u reken was die eerste sendeling wat Jesus ooit uitgestuur het? Wie is die eerste persoon wat Jesus gebruik het om ander van die wonderlike gawes en dade van God te gaan vertel?

Seker iemand wat baie goed opgelei was, sal ons dadelik wil antwoord. Iemand wat ‘n besondere verhouding met God gehad het. Wat ‘n grondige kennis van die Skrif gehad het. Wat absoluut voorbeeldig in leer en lewe was. Seker ook iemand vernaam. Dalk iemand soos Paulus. Of dalk een van die dissipels soos Petrus, Johannes of Jakobus.

Nee, broers en susters. Dit is nie korrek nie. Inteendeel. Die korrekte antwoord sal ons dalk skok. Jesus het nie alleen, vertel Markus 5:1-20 ons, na ‘n begraafplaas gegaan om sy eerste sendeling te vind nie, bo alles was hy nog waansinnig ook. Iemand wat aanvanklik vol bose geeste was. ‘n Man met wie Palestina nie geweet het wat om mee te doen nie. Hulle het hom geboei maar die boeie het hy gebreek. Hy het sy klere van sy liggaam afgeskeur. Hy het in grotte gewoon. Hy was vir ander niks anders as ‘n kranksinnige mens op vrye voet nie. Iemand wat eerder opgesluit moes wees. Wat onder streng mediese behandeling behoort te wees. Iemand wat niemand wou aanvaar nie. Wat bo alles onrein gereken was. Boonop tussen ‘n klomp onrein varke gebly het. Iemand waarmee jy dus nie meng nie. ‘n Verlorene vir die samelewing. Eintlik reeds dood, daarom nie te onvanpas dat hy so tussen die dooies bly nie.

Jesus broers en susters, vertel Markus ons, het egter nie so gereken nie. Wat hy gesien het was nie iemand met wilde hare, bebloede gewrigte, skrape op die vel en arms wat wild swaai en ‘n stem wat hard skreeu nie. Nee. Jesus het iemand gesien wat God in sy lewe nodig gehad het, iemand met potensiaal. Iemand wat normaal kan funksioneer. Iemand wat Hy kan gebruik. En daarom genees Hy hom.

Vir die omstanders, veral die wagters wat die begraafplaas, was dit te veel. Daarom het hulle dorp toe gehardloop om die ander te gaan vertel wat hulle gesien het. En toe die mense terugkom sien hulle ‘n man, ewe rustig, met al sy klere aan, by sy volle positiewe.

Maar ook iemand wat nou in staat is om die Here te dien. Want toe Jesus in die skuit klim om te vertrek, wou die man saam. Maar Jesus laat hom dit nie toe nie. Hoekom nie? Want Jesus het hom genees, nie ter wille van die man self, of tot voordeel van Jesus nie, maar tot voordeel vir ander. Anders gesê: Jesus het hom geroep, genees, en bekwaam gemaak om vir ander van Hom te gaan vertel.

Daarom Jesus se opdrag: gaan na jou huis toe, na die dorpie waar jy gebly het, na jou eie mense toe, en gaan vertel hulle wat die Here alles vir jou gedoen het, dat Hy jou jammer gekry het.

Wat sê hierdie verhaal vir ons vanaand, broers en susters? Vir ons wat in die Here glo, maar ook vir ons wat deur die gemeente, en dus deur God self geroep is om sy werk te gaan doen? Eerstens: niemand is vir God te onwaardig om deur Hom gebruik te word nie. Want as God iemand kon gebruik wat deur bose geeste in besit geneem was, wat deur almal vermy en verwerp was, kan God almal van ons ook gebruik.

Daarom, broers en susters, kan dit ook nie wees dat ons eie geloofslewe byvoorbeeld te swak is, dat ons nie nie voorbeeldig genoeg is, ons geloof te swak is, ons nie geleerd genoeg is, ons kennis van die Skrif te min is, of dat ons nie belangrik genoeg is om deur God gebruik te kan word nie. Ook hoef ons nie baie goed opgelei te wees of vernaam te wees nie. Want as God iemand soos hierdie kon gebruik, kan Hy ons ook gebruik. Almal van ons is dus waardig genoeg.

Tweedens, broers en susters, moet ons raaksien dat God ons almal red en roep, nie ter wille van onsself nie, maar ter wille van ander. God roep ons almal met ‘n roeping. Dit kan wees om doodgewoon by my werk te getuig, ‘n goeie vader of moeder te wees, ‘n goeie onderwyser te wees, of ‘n goeie vakman, of wat ons ook al doen. Maar dit kan ook wees dat God ons in die besonder in sy kerk, en daarom in ons gemeente wil gebruik. Wanneer ons dus deur die gemeente verkies word tot die taak van ouderling of diaken (en by implikasie dus deur God self), moet ons dit nie alleen ernstig oorweeg nie, maar besef dat God ons wil gebruik. Dat Hy ons nodig het.

Maar nie alleen dit nie. Dat Hy ons ook bekwaam sal maak vir ons taak. Dat Hy nooit iets van ons sal vra waartoe ons nie in staat is nie. Want wat het Hy byvoorbeeld van hierdie man verwag? Om doodeenvoudig na sy huis te gaan, na sy eie mense, die wat hy ken, en hulle te vertel wat God aan hom gedoen het, en dat God hom jammer gekry het. Dit kon tog nie te moeilik of te onmoontlik gewees het nie?

Dieselfde geld ook vir ons. Ook ons, ons wat die geleentheid het om elke dag in die wêreld te getuig, en ons wat die voorreg het om op die kerkraad te kan dien, moet maar net presies dieselfde gaan doen. Vir ander gaan vertel hoe goed God vir ons is, dat Hy ons jammer kry, met ander woorde, dat Hy ons liefhet en ons daarom versorg. Dus: ons opdrag is eenvoudig om met ander te gaan deel wat God met ons deel, vir ander te gaan doen wat God aan ons doen, vir ander te wees (sover moontlik) as dit wat God vir ons is.

Maar ook: die feit dat God ons bekwaam maak, meer bekwaam sal maak en sal toerus, beteken daarom nie dat ons niks hoef te doen nie. Nee, ‘n bepaalde inset word ook van ons verwag. Hierdie man het tog eers gepoog om Jesus te volg, en toe hy ‘n ander opdrag kry moes hy tog gaan na sy eie mense toe, met ander woorde, hy moes ook ‘n inset van sy kant af lewer.

En net so geld dit ook vir ons. Al maak God ons bekwaam, al roep Hy ons, moet ons ook ‘n inset lewer. En oor hierdie inset sal ons lank kan praat. Maar kom ons noem net ‘n paar sake: ek moet sorg dat ek ‘n lewende verhouding met my Skepper het - want hoe sal ek anders ander van God kan vertel? Ek moet God se Woord ywerig lees - want hoe sal ek ander uit sy Woord kan voorgaan? Ek sal in lewe en leer ‘n voorbeeld moet wees - want hoe sal ander na my kan opsien en van my raad wil vra as my voorbeeld hulle nie daartoe vrymoedigheid gee nie?

Ons almal, broers en susters, is geroep en gered met ‘n roeping. Of ons nou op die kerkraad dien of nie. Ons almal word uitgestuur om vir ander te gaan vertel wat God aan ons gedoen het. Dat God ons liefhet. Dat Hy sorg. Indien ons naby aan God lewe, indien ons verhouding met God werklik ons erns is, sal ons hierdie gawes uit God se hand nie alleen elkeen persoonlik ervaar nie, maar sal dit ook vir ons ‘n voorreg wees om dit met ander te gaan deel. En op hierdie pad sal God u in staat stel en bekwaam maak. Maar dan sal ons dit moet wil doen.

Mag die vrede van God, die liefde van Christus, en die troosvolle teenwoordigheid van die Gees met u wees wanneer u so gaan lewe.
Amen