2 Konings 5:1-14; 1 Korintiërs 1:18-31

Ons moet Jesus verkondig



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
In 'n boek wat so pas verskyn het met die titel ‘Dit kan ek nie glo nie’ bepleit J A T Robinson dat ons die inhoud van die Bybel moet herinterpreteer, en wel op so 'n manier dat die boodskap van die Bybel vir die moderne, denkende en logiese mens aanvaarbaar en verstaanbaar sal wees.

Want, sê Robinson, watter nugterdenkende mens van ons tyd kan nog die evangelie glo soos dit deur die kerk verkondig word? Dat Jesus 'n mens maar ook 'n God was, dat Hy uit 'n maagd gebore is, dat Hy wonderwerke gedoen het, uit die dood opgestaan het en so wraggies eendag weer op 'n wolk sal kom is darem 'n bietjie vergesog. Dit druis teen alle logika en gesonde verstand in. Bo alles: 'n moderne wêreld bestaande uit rekenaars, die internet, tegnologie en wetenskaplike prestasies maak sulke bygelowe net nie meer moontlik nie.

Wat Robinson nie besef nie, broers en susters, is dat sy standpunt nie so nuut is as wat hy dink nie. Want daar was nog altyd mense wat beweer het dat die evangelie, en selfs net die geloof, in 'n sogenaamd onsigbare God nie die toets van die rede kan deurstaan nie. Kom ek noem u 'n paar voorbeelde:

Die beroemde Franse sterrekundige, Josef de Lalande, het destyds al verklaar dat hy met sy teleskoop die ganse hemelruim gefynkam het en God nêrens daar gesien het nie. En omdat hy God nie in die hemelruim kon vind nie, bestaan God nie.

Reeds so vroeg as in die tyd van Paulus het sowel die denkende Griek en die trotse Jood op die prediking van die evangelie gereageer met 'n ‘maar ek kan dit nie glo nie’. Want die boodskap van die kruis was vir hulle 'n boodskap van aanstoot. Dat God op so 'n wyse verlossing bewerk het was vir hulle net nie aanvaarbaar nie.

En dan was daar Naäman, die Siriese oorlogsheld, wat nog eeue vroeër as Paulus so byna met sy ‘ek-kan-dit-nie-glo-houding’ so byna graf toe gestuur is. Naäman was 'n dapper held, maar hy was melaats. In daardie tyd was daar vir so iemand geen hoop nie, dit was alles net 'n kwessie van tyd. Toe sê die Joodse dogtertjie, wat in diens van Naäman se vrou was, dat al hoop wat oor is is om by die profeet Elisa in Samaria uit te kom.

Dit het Naäman dan ook gedoen, en toe hy voor die deur van Elisa stilhou, stuur Elisa een van sy boodskappers na Naäman met die opdrag: ‘Gaan was jou sewe maal in die Jordaan, dan sal jy gesond word en rein wees’. Toe Naäman dit hoor, was hy woedend. Ek het darem gedink, het hy gesê, dat die man sou uitkom, voor my kom staan, die naam van sy God uitroep, sy hand heen en weer beweeg en so die melaatsheid wegneem. Só sou dit vir my redelik en aanvaarbaar gelyk het en gewees het.

Maar nou wil die man hê dat ek my sewe maal in die Jordaan moet gaan bad. Watter soort opdrag is dit? Buitendien, die riviere in my landstreek is tog beter as die waters van Israel. Kon ek my nie maar net sowel in een van ons riviere gaan was het nie? En het hy vererg weggery.

Nee, broers en susters, nie dat Naäman genesing met sy hele hart begeer het nie. Hy sou al sy besittings daarvoor gee. Maar die manier waarop God hom wou genees, het hom nie aangestaan nie. Die prosedure was vir hom nie redelik aanvaarbaar nie. Met ander woorde, hy het bedenkinge gehad oor die weg van God se verlossing.

Gelukkig, lees ons, het sy diensknegte hom omgehaal, en toe hy uit die water kom, was hy gesond. Waarop Naäman na Elisa gegaan het met die woorde: `Ek weet nou daar is geen God op die hele aarde nie behalwe in Israel’. En hy kon net sowel bygevoeg het: En ek het Hom gevind langs 'n weg wat indruis teen alle menslike logiese denke en logika. Genees deur jouself te bad in die Jordaan? Dit maak net nie sin nie, maar dit werk!

Vir die Jood en Griek in die tyd van Paulus, het ons reeds gesê, het die evangelie ook ingedruis teen alle menslike logika. Die evangelie is onsin, het hulle gesê (u kan dit gaan nalees in 1 Kor 1:18-31). Waar in jou lewe het jy gehoor, het hulle geargumenteer, van 'n Messias, 'n Verlosser, wat mense verlos deur te sterf. So iemand is mos dan dood, hy kan mos niks meer doen nie. Buitendien, om aan 'n kruis in daardie tyd te sterf was die mees veragtelike dood. Dus: hoe kan 'n veragtelike mens ander mense red?

Maar wat maak Paulus, broers en susters? Hy probeer nie die evangelie deur allerhande aanpassings vir hierdie mense aanvaarbaar maak nie. Hy probeer nie die ergernis en veragting van die kruis verdoesel nie. Inteendeel. Hy verklaar ronduit: Ek het my voorgeneem om met julle oor niks anders as te praat nie as oor Jesus die Christus, en wel oor Hom die gekruisigde. Dit was die inhoud van sy prediking. Dit was die fondament waarop hy al sy gemeentes gebou het.

Buitendien, het Paulus gesê, op watter ander manier kan 'n mens God leer ken. Beslis nie deur menslike wysheid nie. Want menslike wysheid bring 'n mens hoogstens by die punt daar waar jy 'n lewende God vermoed, soos die Grieke wat in Atene 'n altaar vir die sogenaamde Onbekende God opgerig het.

En ook vandag nog, broers en susters, laat God Hom alleen deur die woord van die kruis vind, deur die verkondiging van die evangelie. En ook ons, broers en susters, al meen ons ons is hoe intellektueel, al is ons elke dag hoe besig met die wetenskap en die tegnologie. Want die groot waarheid is: die mens verwerp God nooit in wese met sy rede nie. Nee. Wanneer die mens God verwerp, verwerp hy Hom met sy hart.

Hoekom sê ek so, broers en susters? Juis omdat die evangelie nie maar net een of ander stuk filosofie of leerstuk of belydenis in die kop is nie. Die evangelie is nie iets wat maar net bloot 'n appèl op jou denke maak nie. Dit doen nie maar net 'n beroep op jou om sekere waarhede of historiese feite verstandelik te aanvaar nie. Dit daag jou nie uit tot 'n intellektuele swaardgeveg nie.

Nee. Die evangelie roep 'n mens, deur die Gees van God, op tot geloof. Geloof in Jesus Christus, die Gekruisigde. Dit doen 'n appèl op jou hart. Dit vra van groot geleerdes, slim manne en vroue, groot denkers, om so klein soos kinders te word. Want wie bereid is om soos 'n kind te glo, kom in ontmoeting met die lewende God.

Daarom, broers en susters, en in besonder u wat vanaand in die amp bevestig gaan word, u hoef 'n mens nie slim of geleerd te wees om die evangelie te kan glo of om God te ken nie. Ons as sy kinders het een van twee keuses: of ons kan die evangelie aan menslike denke en wetenskaplike norme gaan meet, 'n debat oor die waarheid van die Bybel gaan voer, en dan besluit om dit te verwerp. So sal God se heilsweg vir ons onsin bly. Of ons kan soos 'n kind glo. Dan sal God ons harte oopmaak en sal ons sy Woord hoor, glo en lewe.

En u wat vanaand in die amp bevestig word, saam met al die ander ampsdraers, u taak is eintlik so eenvoudig. U hoef nie slim of geleerd te wees om die werk van die Here te doen nie. U hoef nie gereed te sit met allerhande redenasies en argumente om God se heilsweg te verdedig nie. Nee. U taak, my taak, en immers ons almal se taak, is doodeenvoudig om Jesus te verkondig wat gekruisig is.

En u sal verbaas wees: mense wat dit hoor, verander. Hulle word nuwe mense. Hulle gaan bad figuurlik in die Jordaan en word rein. Hoekom? Want deur die hoor van die eenvoudige boodskap van die evangelie, word mense deur die Gees gebring om te glo en hulle harte vir God oop te maak. So word sondaars gered, so word sondaars nuwe mense.

En dink net: dit alles omdat u bereid was om daar waar u in die gemeente, wyk of wêreld beweeg te vertel dat God ons verlos deur Jesus wat aan die kruis gesterf het.

U het 'n heerlike taak en opdrag. Van u word net gevra om Jesus te verkondig. Gaan doen dit, en u en ander sal lewe.
Amen