Efesiërs 4:1-16

Wat is die kerk?



Broers en susters in onse Here Jesus Christus
Ons het vanaand weer ouderlinge en diakens in ons gemeente bevestig, en daarom sal dit miskien goed wees om weer so bietjie stil te staan by die wese van kerkwees. Ons het so pas weer eens gehoor dat die kerkraad geroep is om die kerk op te bou, uit te bou, oor die gemeente toesig te hou te regeer oor die liggaam van Christus. Ook in ons skrifgedeelte sien ons dit gaan oor kerk as liggaam van Christus en die toerusting en die opbou daarvan.

God roep mense om die gemeenskap van gelowiges, die kerk, op te bou. Maar wat verstaan ons onder die woordjie kerk? En wat beteken die term “gemeenskap van gelowiges”? Hoe verstaan ons ons kerkwees in hierdie wêreld, hoe verstaan ons ons gemeentelike kerkwees en natuurlik, hoe verstaan ons ons kerkwees en gemeentewees hier waar ons woon.

Dit gebeur dikwels dat ons, wanneer ons hierdie vrae vir onsself vra, ons baie gou negatief raak. Ons sê soms dinge soos “as dit nie vir ‘n spesifieke klein groepie mense was nie, dan sou ons nie ‘n kerk gewees het nie”, of ons sê iets soos “die kerk beteken nie veel hier rond nie, kyk die jongmense kom dan nie eers kerk toe nie” of “kyk hoe lyk die bywoning; vanoggend was daar nie genoeg plek nie, maar vanaand is die banke weer leeg.”

Hoe dit ook al sy, broers en susters, of ons nou positief of negatief is oor ons gemeente, ons kan nie verby die feit kom dat ons elke Sondag bely “Ek glo ‘n heilige algemene Christelike kerk, en die gemeenskap van gelowiges” nie.

Die kerk is in die eerste plek vir ons ‘n geloofsbegrip. Die kerk is nie maar net die plek en die ruimte waarbinne ons geloof uitgeleef word nie, maar die kerk is ons geloof. Daarmee sê ons natuurlik nie dat die kerk nou iets geword het wat onsigbaar geword het nie — ons glo die kerk. Ons bely daarom dat die kerk meer is as net dit wat ons hier sien. Die kerk is nie net sigbaar nie, maar ook onsigbaar. Ons as kinders van God is sigbare mense; ‘n sigbare gebeure bring ons hier bymekaar en ‘n sigbare eenheid hou ons bymekaar. Dat ons God se openbaring ontvang het om hier bymekaar te wees, is onsigbaar, maar ons as mense wat dit glo, is sigbaar. Dat hierdie gebeure die roeping en die roepstem van God is, is onsigbaar, maar die gebeure van ons saamwees hier rondom die Woord en rondom die sakramente is sigbaar.

Ons moet onthou dat hierdie maar net ‘n manier is waarop ons oor die kerk praat. Ons sal nie op ‘n punt kan gaan staan en presies kan neerskryf wat die sigbare en wat die onsigbare in ons kerk is nie. Ons kan die sigbare en die onsigbare slegs onderskei van mekaar, maar dit kan nie van mekaar geskei word nie.

Of ons nou positief of negatief oor die kerk dink, moet ons ook altyd onthou dat wanneer ons van die kerk praat, ons terselfdertyd ook van Jesus Christus praat. Die kerk is in meer as een opsig die gestalte van Jesus Christus in die wêreld. Wanneer ons na die kerk kyk, dan kyk ons in dieselfde oomblik ook na Jesus Christus.

Ek dink dat wanneer ons dit ingedagte hou, dan koel hierdie gedagte ons gemoed so bietjie as ons wil begin uitvaar teen die kerk en wil begin uitvaar teen die mense in die kerk.

Die kerk is nie ‘n menslike stigting wat mense uitgedink het nie, maar die kerk is deur die Heilige Gees in die lewe geroep. In vers 3 van ons skrifgedeelte lees ons dat die eenheid in die kerk is deur die Heilige Gees gesmee. Die kerk is daarom die werk van God, maar dit is tegelyk ook die middel waardeur God sy werk hier op aarde wil doen.

Wanneer ons deel is van die kerk is, dit in die eerste plek so omdat God ons daartoe geroep het. Die kerk is daarom ‘n gemeenskap; ‘n samekoms van gelowiges. Die kerk is nie ‘n vrye gemeenskap van gelowiges soos ‘n vereniging of ‘n klub nie. As die kerk ‘n vereniging of ‘n klub van gelowiges sou wees, dan sou ons self kon kies wat betref ons lidmaatskap as deel van die klub. En wanneer ons nie meer deel van die klub wil wees nie, dan kon ons maar net ons bedanking ingehandig het en die res van die klub sou geen aanspraak meer op ons gehad het nie.

Maar ons is kerk. Dit beteken dat ons lidmaatskap in die eerste plek deur God bepaal word en nie deur my eie keuse of my reg om deel daarvan te wees nie. Nee, lidmaatskap tot die kerk is ‘n voorreg — beklee deur genade. Dit is nie onsself wat kies om deel van die kerk te word nie, dit is God wat ons uitverkies en deel maak van sy liggaam op aarde.

Dit beteken egter nie dat die kerk ‘n gedwonge gemeenskap of ‘n dwang-gemeenskap soos ‘n staat is nie. As die kerk die staat van God sou gewees het, dan sou ons nie mense gewees het aan wie God ‘n verantwoordelikheid gegee het nie. Dan sou ons geloof verskraal het tot ‘n bygeloof en dan sou ons maar net deel van die kerk wees omdat die regering ons daartoe dwing.

Maar ons is kerk. Dit beteken ons is verantwoordelike burgers van die koninkryk van God. Hoe ons as mense voor God leef is nie omdat ons bang is dat ons in ‘n tronk van ongeloof gegooi sal word nie, maar omdat God ons liefhet en omdat ons Hom liefhet. Wat ons doen en wat ons glo, doen ons nie omdat ons daartoe gedwing word nie, maar omdat ons dankbaar is

Verder is die kerk ook nie ‘n natuurlike gemeenskap soos ‘n volk of ‘n nasie nie. As ons ‘n volkie van gelowiges sou wees, dan sou dit beteken ek glo slegs omdat almal rondom my glo. Ek glo slegs omdat my ouers my so groot gemaak het.

Maar ons is kerk. Dit beteken dat ons glo omdat ons deur God die genade geskenk is om te kan glo. Net die begeerte om te kan glo kom al van God af. God gee ons wel ‘n geloofskeuse om te glo, maar by nadenke besef ons altyd dat ons die geloofskeuse deur die krag van die Heilige Gees geneem het.

Ons moet daarom versigtig wees met ons uitsprake oor die kerk en oor die mense in die kerk. Wanneer ons iet sê oor iemand in die kerk dan sê ons dit tegelykertyd ook oor Jesus. Want die kerk is die liggaam van Christus op hierdie aarde.

Die vraag wat ons altyd hieroor vra is: Maar hoe het God dit gedoen? Hoe het God die kerk as liggaam van Christus gemaak? Die Bybel sê duidelik vir ons dat God dit doen deur die Heilige Gees. Die Heilige Gees is God se persoonlike teenwoordigheid onder ons. Die Heilige Gees is die onsigbare wat die sigbare deel van ons kerk tot stand bring. Dit is wel Jesus wat die kerk tot stand gebring het, maar dis nie iets wat Hy gestig het twee duisend jaar terug en deur ‘n klomp naïewe kortsigtige mense instand gehou word nie.

Nee, elke dag is die kerk nog steeds besig om waarlik kerk te wees. En nog steeds besig om waarlik kerk te word deur die Heilige Gees. So gesien, is dit duidelik dat Jesus Christus nie die kerk gestig het los van Homself nie, maar dat die kerk onlosmaaklik aan Jesus Christus gebonde is. Dat die kerk direk ‘n daad van God is. Dit beteken dat ons vanaand hier as kerk is omdat God dit wil en om geen ander rede nie.

Die kerk is ook ewig. Die kerk van Jesus Christus kan nie ophou om te bestaan nie, want God kan nie ophou om te bestaan nie. Net soos wat God die Vader en sy Seun en sy Gees ewig is, net so is die kerk ook ewig. Geen daad van die mens kan die kerk, en daarom die voortbestaan van die kerk, bedreig nie, want vir God is daar geen bedreiging nie.
Amen