Jesaja 8:19-9:5

Christus se geboorte beteken vir ons lig, vreugde, fees en egte blydskap



Gemeente van ons Here Jesus Christus

Kersfees is ‘n tyd van fees – soos die woord ook aandui, en soos dit nou al oor die eeue heen ook gevier is. Blydskap, vreugde en opgewondenheid is eie aan hierdie tyd. Die tinteling hiervan word geruime tyd reeds deur die meeste van ons ervaar. Lankal reeds het ons ons program vir die Kerstyd bespreek en gereël. Vir baie van ons is dit ook die hoogtepunt van die jaar. Kinders raak in vervoering oor allerlei kerspartytjies en kriptonele. Volwassenes dink in nostalgie terug aan vervloë tye of raak sentimenteel oor die Europese of Engelse wyse van Kersfees-vier.

Maar tog, broers en susters, midde in hierdie feeste van blydskap, hoor ons tog ook ‘n wanklank – ‘n bepaalde onrustigheid. Iewers slaan die harde realiteit tog ook deur die soet klinkende klokkies, die versiersels, die koekies, die gelag en die geskerts. Ag, alleen maar die kortstondigheid van ons blydskap, dui reeds op ‘n element van tydelikheid daarin. Soms is dit juis in hierdie tyd van die jaar, dat hartseer en onvrede posvat; verhoudings wat eerder gebreek as gebou word.

En dit is die kontrapunt van ons feeste. Die skadukant van Kersfees. Amos, ‘n profeet wat amper in dieselfde tyd as Jesaja opgetree het, maak van hierdie kontrapunt juis ook melding. In verse 21 en 23 van Amos 5, hoor ons hom van God sê: “Ek haat, Ek verafsku julle feeste; Ek het niks aan jul feestye nie. ...Gee pad voor My met die rumoer van jou gesing; Ek wil jou harpmusiek nie hoor nie!”

‘n Vraag aan elkeen van ons vanmôre, gemeente, is hoe sien ons blydskap, ons vreugde en feeste daar uit? Wat maak ons so seker dat ons feeste nie net oëverblindery en selfbedrog is nie? Wat vrywaar ons van die skerp woorde van ‘n Amos? Amos het dit gehad teen die feeste van die welvarende Israeliete, omdat dit ten koste van die armes was. Die vreugde van die handjievol bevoorregtes teenoor die smart en ellende van die oorgrote meerderheid het ten hemele geskreeu. En dit is vandag ook ‘n vraag aan elkeen van ons, gemeente. Dúrf ons nog in Suid-Afrika vandag bly wees en fees vier? Wat van ellende rondom ons? Durf ons ons in hierdie dae lam eet, hope kos weggooi en mors, terwyl honderde kinders – in sommige gevalle maar slegs enkele kilometers van ons af – geen brood het om te eet nie? Mag ons vreugdedanse uitvoer, terwyl duisende gesinne angs het oor die toekoms? Mag ons in die lig van hierdie feite, bly wees? Kán ons?

Hierdie vraag na ons blydskap is dus tweeledig van aard: dit raak die inhoud daarvan asook die aanleiding daartoe. Bekyk u program in hierdie feestyd krities. Wat vorm u blydskap? Hoeveel partytjies het u gehad? Kuiers? Sosialiteit? Drank? Het u op ook ‘n ander wyse as deur die erediens, by die wese van Kersfees uitgekom? En wat daarvan het u u eie gemaak? Die kwessie van die aanleiding tot ons blydskap, is die vraag na die rede vir ons blydskap. Is ons nie dalk eerder net bly dat nog ‘n jaar verby is nie? Dat die swaarkry of terugslae dalk weerstaan is nie, en ons as ’t ware weer geleentheid kry om vorentoe te kyk nie? Is ons nie net bly omdat ons dalk ‘n winsgewende jaar gehad het nie? Lê die aanleiding vir ons vreugde nie dalk net in die klink van glasies op ons prestasies nie? Of is u bly omdat hierdie ‘n tyd geword het van salige vergeet? Sodanige blydskap, gemeente, met hierdie inhoud en hierdie aanleiding, is geen blydskap nie. Dis vals en oneg. Die kortstondigheid daarvan bewys dit reeds. Sodanige blydskap is niks meer as ‘n emosionele uitlaatklep nie. Ten diepste bly ons maar bedruk. Ons kyk boontoe en ondertoe, en sien niks anders as benoudheid en donkerte raak nie – volslae duisternis en donkerte waarin ons gedryf is .

Daarom is dit dat ons ‘n profetiese appél in Jesaja se uitroep hoor: “Terug na die wet en getuienis van die Here!” Ons toekoms lê nie by mediums en spiritiste wat duistere dinge fluister en mompel nie, maar by die woord van God. Jesaja wil hiermee die inhoud van ons lewe, ook van ons blydskap, vul met die leiding van God en allermins nie met die insig van mense nie. Blydskap is ten diepste van God af, en nie van die mens af nie. Soos die fokus gedurende Kersfees op blydskap, vreugde en lig val, kan ons sê dat hierdie saak by uitnemendheid in ons gelese gedeelte aan die orde gestel word. Vers 2 handel met digterlike vaardigheid hieroor. Hierdie teks se eerste reël is egter nie baie duidelik nie. Deur bloot die Ou en die Nuwe Vertalings met mekaar te vergelyk, sien ons reeds dat dit totaal teenoorgesteld vertaal word (nasie teenoor geen-nasie). Met ‘n geringe tekswysiging1, lees hierdie versie eerder: “U het die gejuig vermeerder, hulle blydskap groot gemaak. Hulle het hulle in U teenwoordigheid verbly.”

Nou is dit merkwaardig om te sien hoedat Jesaja in hierdie gedeelte juis die wese en rede, die inhoud en aanleiding van blydskap, kwalifiseer. Ons moet in hierdie dae bly wees, vrolik wees, maar dan moet dit met die regte inhoud en impuls geskied. Kom ons luister na die insig van Jesaja.

Ten tye van hierdie aankondiging van Jesaja, het daar ‘n donker skaduwee oor sy volk gehang. Die Noordryk, oftewel die 10 stamme van Israel, was op die punt om in ballingskap weggevoer te word en om deel van die magtige Assiriese Ryk te word. Die Suidryk, oftewel die twee stamme van Juda, was hierdeur erg bedreig. Koning Agas van Juda het dan ook uit vrees vir oorlog, sy land ‘n vasal van Assirië gemaak. Omdat Agas nie op die Here sy vertroue gestel het nie, verkondig Jesaja in hoofstuk 8 aan hom, lê daar nog donkerder tye vir Juda voor. Benoudheid en angs sou hulle deel word.

En in hierdie konkreet-historiese situasie, klink die woorde van blydskap wat Jesaja verkondig, nou op. ‘n Verrassende boodskap? Inderdaad! Die Here, sê hy, gaan die volk se situasie radikaal verander. Daar lê vir hulle groot blydskap voor en dit sal uitbundig gevier word. Die profeet gebruik hier 2 voorbeelde om hulle vrolikheid te beskrywe. Enersyds verwys hy na die oestyd wat vir enige Israeliet ‘n besondere gelukkige en vrolike tyd was. Trouens, die Wet het hulle ook opgeroep om oor dit wat hulle ontvang het, vrolik fees te vier (Deut 12:12 e a). Andersyds word verwys na die uitbundigheid en gejuig wat so kenmerkend was wanneer ‘n vyand verslaan en die buit verdeel is. Wanneer die Here dus alles radikaal verander, wil Hy sy kinders bly en vrolik sien en hulle lewens met ‘n gejuig en alle feestelikheid vul.

Aangesien hierdie verandering so radikaal en totaal is, die blydskap so massief is, hoor ons ook ‘n soort van universele noot by Jesaja. Nie alleen het hy in hierdie verse ‘n verenigde ryk tussen die Noorde en die Suide in gedagte nie, maar dink hy selfs aan die heidenstreke wat hierby ingesluit sal word. God se verlossing is omvattend.

Die wese van die blydskap het tot inhoud altyd dit wat God bewerk. Ware blydskap kom van God af. Hy is die subjek en outeur daarvan. Maar dit is nie net van God nie, ook voor God, in sy teenwoordigheid. Blydskap wat nie binne die raamwerk van God se dade val nie, hou nie lank nie.

As die inhoud van die blydskap God se groot dade in die geskiedenis is, is die aanleiding, die rede hiervan, die ywer, die goedertierenheid, van God wat meebring dat sy groot dade, verlossing is. In Jesaja 9 verse 3, 4 en 5 word dan ook drie redes aangevoer vir die blydskap van die volk. Elkeen van hierdie drie verse begin ook met die woordjie “want”.

Eerstens word gesê dat alle verslawing beëindig sal word. Dit dui veral op die ballingskap. Die juk en die stok is die simbole van onderdrukking en verknegting. Net soos ‘n Gideonsbende van ouds die magtige Midianiete aangedurf en verslaan het, verlos God ook sy kinders.

Tweedens word gesê dat groot blydskap op hande is, omdat die oorlog verby sal gaan. Elke soldateskoen en bloedbevlekte uniform sal tot niet gemaak word. Vrede sal dus aanbreek.

Derdens loop alles uit op ‘n hoogtepunt. Twee versies word hieraan gespandeer: ‘n kind word gebore. ‘n Seun word gegee en hy sal ‘n koning wees, want sy koninkryk sal die voortsetting van die van Dawid s’n wees, net heerliker en ewig. Hy ontvang ook ‘n reeks heerlike koningsname: wonderbare raadsman, magtige God, ewige vader, vredevors. Hierdie name staan teenoor die Assiriese veroweraars en geweldenaars se hoogklinkende name van wie mense soos koning Agas die heil verwag het.

Ons sal moet aanvaar, gemeente, dat die volk ‘n geweldige verwagting van elke nuwe koning gekoester het. Die oomblik van troonsbestyging in Oud-Israel is dikwels ook as die geboorte-uur2 beskou. Toe Hiskia in Juda of Hosea in Israel aan bewind gekom het, was daar ook seer sekerlik geweldige verwagtinge van hierdie manne gekoester – is dit nie dalk juis die beloofde koning nie? Ons maak ‘n groot fout as ons die situasie of konteks van hierdie verlossingsdade van God miskyk. Die bedoeling van hierdie drie profesieë, elkeen met sy “want”, was nie dat dit eers honderde of selfs duisende jare later eers, in vervulling sou gaan nie. Nee, dis onmiddellik van krag, en so kon Juda nog ‘n honderd jaar of wat staande bly, het oorlog opgehou en is konings gebore wat verlossing gebring het. Die feit dat Jesaja hier van die toekoms praat, maar nietemin die verlede werkwoordvorm gebruik, dui nie net op die sekerheid nie, maar ook op die begin van die realisering daarvan. Die mense het immers rede om nou bly te wees.

Tog het nie een van die drie voorbeelde ten volle gerealiseer nie. Oorlog en verknegting hét kort hierna (715 vC) vir Israel ingetree ‘n bietjie meer as ‘n 100 jaar later (586) ook vir Juda. En elke koning hét teleurgestel.

Die pertinensie van die blydskap lê daarom vir Jesaja nie soseer in die verlossing van die oomblik nie, maar in die trou van God. Die laaste vers van ons gelese gedeelte is dan ook die kulminasiepunt want die drie “want-sinne”: “Daarvoor sal die onverdeelde trou van die Almagtige sorg.”

En soos die wese van die blydskap alleen van en voor God moontlik is, is die aanleiding daartoe slegs die verbondstrou van God. Ons dade en blydskap is leeg, maar God se trou bly ewig staan. Dit, gemeente, is die rede waarom Matteus (4:14 e v) hierdie verse op Jesus toepas. Jesaja 9 praat nie in die eerste instansie van Jesus nie. Nee, ons wat in Christus glo, gaan as ‘t ware in trurat na hierdie teks toe en weet dat ons in Christus die Wonderbare Raadsman, die Magtige God, die Ewige Vader en die Vredevors, vind. Hy alleen kon en sou die verslawing van die sonde en dood volkome verbreek. Hy alleen kon en sou die vrede bring wat alle verstand te bowe gaan. Hy alleen kon en sou die koninkryk aankondig wat ewig bly.

Daarom is die volle betekenis van hierdie lied van Jesaja vir ons alleen in Jesus Christus te vind. Hy wat die wese van die blydskap in die mens se hart skep, en die rede daarvoor ten volle vervul. Hy is die Lig wat in ‘n donker wêreld kom skyn het. Van Hom het die engel getuig en gesê: “Moenie bang wees nie, want kyk, ek bring vir julle ‘n goeie tyding van groot blydskap wat vir die hele volk bestem is. Vandag is daar vir julle in die stad van Dawid die Verlosser gebore, Christus die Here!”

Broers en susters, met hierdie inhoud en aanleiding tot blydskap, kan ook ons in Suid-Afrika vandag en elke ander dag, blydskap hê. God was getrou en sy Seun het die Lig in die duisternis geword en onder ons kom woon. Christus se geboorte beteken vir ons lig, vreugde, fees en egte blydskap. So moet ons nou gereed wees vir sy fees – deelgenote daarvan word.

Maar die vraag is of ons oor Hóm bly is, of Hy die inhoud en aanleiding daarvan en daartoe is. Die antwoord hang saam met die vraag of u al voor hierdie Koning leer buig het, en Hom toegelaat het om hierdie vrede in u hart te bring, hierdie verlossing oor u lewe te skrywe, hierdie vreugde deel van u lewenservaring te maak?

Mag die Here hierdie fees – die blydskap vreugde en lig wat die Christuskind bring – aan sy kinders skenk. Daarvoor sal die onverdeelde trou van die Almagtige sorg! En dit is ware blydskap – hierdie Wonderbare Raadsman, Magtige God, Ewige Vader, Vredevors. Almal met hoofletters!
Amen