Lukas 2:1-20

Die geboorte



Broers en susters in onse Here Jesus Christus

Kersfees is ‘n wonderlike tyd van die jaar — om baie redes. Kinders is byna buite hulleself oor die uitsig om geskenke te kry. Volwassenes word geraak deur die samesyn van mense vir wie hulle lief is en wat hulle dalk min deur die loop van die jaar gesien het.

Verder is daar geen tyd van die jaar, geen gebeurtenis in die jaar wat die Christendom so laat sing as juis Kersfees nie. Daar is geen tyd wat die lofliedere so aaneen opklink as juis in die seisoen wat ons nou in is nie. En dan nie net in die kerk nie. Oor die radio hoor ons Kersliedjies (die ou bekendes en meer modernes), en ons sing hartlik saam. Ons koop selfs laserskywe met net Kersliedere op wat ons net hierdie paar dae van die jaar speel, en dan wegbêre tot volgende jaar.

Hoekom, broers en susters, laat hierdie tyd van die jaar mense sing en God loof soos geen ander tyd nie? Hoekom nou al die vreugde? Want daar is vreugde omdat ‘n kindjie gebore is. En daar is mos altyd blydskap en dankbaarheid as daar ‘n kindjie gebore word. Daar is seker nie ‘n ouer wat nog nie ‘n pasgebore babatjie in sy arms gehou het en nie vervul was met blydskap en dankbaarheid nie. Daarom is daar in die tyd van die jaar vreugde: ‘n kindjie is gebore 2*** jaar gelede. Daarom is daar rede vir fees en vreugde.

‘n Kind is gebore wat selfs engele laat sing het: Ere aan God in die hoogste hemele en vrede op aarde vir die mense in wie Hy ‘n welbehae het. Engele laat sing het oor dit wat hierdie kindjie kom verander het en anders kom maak het. Dat ‘n nuwe tyd aangebreek het. ‘n Tyd van vrede tussen God en mens, en by implikasies, ook tussen mens en mens.

En net hier, broers en susters, haak alles soms vir ons vas. Want is die wêreld regtig anders nadat hierdie kindjie gekom het? Wat het verander? Toe Jesus gebore is, het die engele gesing van vrede wat gaan kom, maar waar is dit, vra baie mense? Waar is hierdie vrede? Niks is anders nie. Onvrede seëvier. En baie sê: eintlik is niks beter nie, en alles slegter. En kom ek noem u net een voorbeeld met wat ek bedoel. Laurika Rauch sing ‘n liedjie waarin sy bloot die name van die een stad na die ander opnoem — almal stede wat na die geboorte van die baba en na die vredeslied van die engele, getref is deur een of ander vorm van onvrede, geweld, wreedheid, lyding, moord en doodslag. Amper op die marsmaat van ‘n leërmag wat voortstu en alles voor hulle verwoes, klink die name van al daardie lydende stede:
Moskou Beijing Tokio
Jerusalem Jericho

Sarajevo o Saigon
Hirosjima Nagasaki Rubicon

Duinkerk Dover Normandië
Frankfurt New York Lockerbie
Amajuba Bellevue

Bukarest St Petersburg
Heilbron Hobhouse Gettysburg
Belfast Budapest Bagdad
Nagasaki Stalingrad

En so sing sy verder van die een stad na die ander, van die een stuk ellende na die ander, en so roep sy by ons gesig vir gesig op van voorbeeld en voorbeeld van die wreedheid van mense teenoor mekaar. Voorbeelde van onvrede. En ons sou nog baie voorbeelde kon byvoeg. En daarom, die punt waar ons vashaak, die punt waar ons vra: maar waar is dit wat anders is omdat daardie baba gebore is? Waar is die vrede waarvan die engele gesing het?

Wat ongelukkig waar is, broers en susters, is dat na die engele hierdie lied gesing het, het die ellende van mense nie opgehou nie. Miljoene der miljoene der miljoene mense is sedert daardie engelelied dood op tragiese maniere en in hartseer omstandighede — en so baie van hulle juis omdat hulle Christene was.

Maar net so het miljoene van hulle met die uitblaas van hulle laaste asem hulle hand na hierdie selfde kindjie uitgesteek, en vasgehou daaraan dat Hy gebore is. Baie van hulle het met hulle laaste asem God nie gevloek of kwalik geneem nie, maar juis ‘n loflied gesing. Hoekom? Want hulle het geweet: Jesus het alles anders kom maak. Hy het hoop gebring. Hy het ‘n nuwe perspektief gebring wat daar vantevore net nie bestaan het nie. Hy het dit alles anders kom maak.

Wat is hierdie nuwe perspektief wat hierdie babatjie gebring het? Wat dinge vir so baie gelowiges, ja, in hierdie wêreld, so radikaal verander het dat mense soms lofliedere juis met hulle laaste asem laat sing het? Wat is dan anders?

Miskien is een van die beste antwoorde op hierdie vraag juis die liedjie van Laurika Rauch wat ek vroeër aangehaal het. Want daardie liedjie eindig nie met bloot ‘n laaste paar name in ‘n lang ry van stede wat slagoffers was van oorlog en onvrede nie. Die liedjie eindig nie met ellende en swaarkry nie. Die liedjie eindig met die nuwe perspektief wat Jesus se geboorte en lewe en sterwe gebring het. Hoor hoe mooi sê daardie liedjie dit:

There’s another song that will be sung.
There’s another bell that must be rung.
There’s another city, I’ve been told,
where the streets are paved with gold.

Die perspektief wat Jesus gebring het, is juis dat daar ‘n ander lied gesing gaan word, as ‘n lied oor swaarkry en onvrede. Daar kom ‘n tyd dat ‘n ander lied as ‘n lied met ‘n lys van stede wat ellende beleef het gesing gaan word — ‘n lied waar net die heerlikheid van God gesien sal word. Klokke gaan lui, nie om te waarsku dat bomwerpers op pad is en dat mense moet skuiling soek nie. Nee, klokke gaan om ‘n ander rede lui. Klokke gaan lui, basuine gaan skril en sirenes gaan loei om aan te kondig dat die Here op pad is. Dat die ewige heerlikheid, die ewige vrede met God en met mekaar aangebreek het. ‘n Perspektief, ‘n moontlikheid wat nie bestaan het voor Jesus nie.

‘n Perspektief, ‘n geloofsoortuiging, wat miljoene gelowiges bo hulle swaarkry laat uitstyg het en wat gemaak het dat hulle met ‘n loflied hulle grafte in is — te midde van die swaarste omstandighede denkbaar. Want hulle gaan na Hom toe. Hulle is by hulle Here — tot in alle ewigheid.

Ek het die koster gevra om vanoggend die klok van ons kerk langer en harder te lui. Die gelui van die klok was nie ‘n teken dat gevaar dreig nie — inteendeel. Die klank van die klok wou ‘n totaal ander boodskap die wêreld instuur as byvoorbeeld die sinlose geraas van al die klappers gisteraand. Die lui van die klok was ‘n preek in die kleine. Die wêreld moes dit hoor: Die Here het gekom. Dit is Hy wat gebore is. Nie maar net ‘n gewone seuntjie wat ons ‘n verskoning vir geld uitgee en kuier gegee het nie. Nee, dit is die Here wat gebore is. Die ondenkbare het gebeur: dit is God wat mens geword het. Dit is Hy wat alles kom verander het. Dit s Hy wat ‘n nuwe perspektief gebring het. Dit is Hy wat gemaak het dat ons vrede met God kan hê. Dit is Hy wat gemaak het dat ons voor God kan kniel en met vrymoedigheid na Hom toe kan kom en met Hom kan praat — ons saak voor Hom kan lê. Dit is Hy wat gemaak het dat ons onsself as verloste mense, verloste sondaarmense, op pad na die ewigheid kan sien. Dit is Hy wat ons die perspektief gebring het dat ons ons nie moet vasketting aan hierdie aarde en hierdie werklikheid asof net dit wat hier gebeur belangrik is nie, want dat daar is meer — daar is oneindig meer. Daar is ‘n hele ewigheid meer. Dit moet die wêreld weet en daarom, soos wat ons uitstap vandag, moet die klok lui, moet ons vreugde en ons blydskap oor die wêreld klink.

Maar is dit al wat die geboorte van Jesus vir my beteken, wil u dalk vra. Het dit net te make met eendag vorentoe, met die ewigheid. Wat van vandag, en more? Wat is in my daaglikse lewe prakties anders omdat Jesus gekom het?

Kom ons dink mooi, broers en susters, as Jesus nie gebore is nie, wat sou anders in ons daaglikse lewe gewees het? Ja, as Jesus nie gebore was nie, sou ons dalk groter verjaardaggeskenke gekry het. Ons sal dalk meer familiefeeste gereël het om te sorg dat ons wel nog bymekaar uitkom. Maar ons lewe sou anders gelyk het.
Ons sou nie minder of meer probleme in ons lewe beleef het nie, maar ons sou dit wat met ons gebeur het nie kon hanteer nie, want ons sou alleen staan. Ons sou dalk nog ‘n God geken het, maar ons sou Hom nie beleef het as ‘n God wat so lief was vir sondaars dat Hy sy Seun gegee het nie. Ons sou waarskynlik elke oomblik van elke dag die straf van God in ons lewe gevrees het. Die oordeel oor ons sonde kon ons enige oomblik kon tref. Ons sou nie vergifnis van ons sondes beleef het nie. Miskien sou ons nog gedink het dat ons dalk ‘n kans het as ons gereeld genoeg ‘n skaap tempel toe vat en die laat keel afsny en sy vet en ingewande laat verbrand het. Maar hoe vind ‘n mens gemoedsrus in die dood van ‘n dier?

Ons sou elke dag die dood gevrees het, want daar sou niks aan die ander kant van die dood vir ons wag nie. Ons sou hopelose, hulpelose, uitsiglose, rustelose sondaars gewees het — as Jesus nie gekom het nie.

Maar Jesus het gekom. God het mens geword. God het gewys hoe lief Hy vir mense is, en nou is daar gemoedsrus vir ons. Selfs die dood word nie iets wat ons hoef te vrees nie, want die dood is ewe skielik sowel begin as einde. En hopelose, hulpelose, uitsiglose sondaars het verander in hoopvolle, begenadigde, Geesvervulde kinders van God vol gemoedsrus, wat ‘n perspektief het op die toekoms wat verby ‘n mens se denke en verby ‘n mens se oë en verby ‘n mens se lewe strek.

Ek sluit af: die kindjie in die krip het nie klein gebly nie. Deur die loop van sy lewe het dit sigbaar geword hoekom hierdie kindjie se naam ook Verlosser is. En het dit duideliker en duideliker geword: omdat Hy gekom het, het alles verander.

Daarom: laat die klokke lui, laat die lofsange opklink, laat die dankbaarheid uit ons bruis, want ons Here is gebore. Ons Verlosser is hier. En van nou af sal niks ooit weer dieselfde kan wees nie!
Amen