Lukas 2:8-20

Die waarde van die alledaagsheid van Kersfees



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
Daar is een woord wat die nag kan beskryf waarin Jesus gebore is — doodgewoon. Die lug was doodgewoon, en dalk was daar 'n briesie wat so nou en dan die blare geroer het. Miskien het wolke ook so nou en dan voor die maan verbygeskuif. Dus: 'n mooi nag om te bewonder, maar nie buitengewoon nie. Niks om mens te laat wakker lê nie. 'n Gewone nag met 'n gewone sterrehemel.

Ook die skape was doodgewoon. Party seker vet en ander weer maer. Party met ronde pense en seker 'n paar met maer beentjies. Doodgewone diere. Geen vliese van goud nie, geen pryswenners op die jaarlikse skou nie. Ook geen geskiedenismakers nie. Net doodgewone skape wat daardie aand ronde silhoeëtte teen die heuwel was.

En die herders — ook doodgewoon. Doodgewone mense (heel waarskynlik huurlinge), mense met geen status in die samelewing nie, waarskynlik met al hulle besittings by hulle en al hulle klere aan hulle lyf. Mense wat ruik soos skape, wat pligsgetrou oppas.

'n Mens sal hulle kieries nie iewers in 'n museum kan besigtig, of van hulle geskrifte in 'n biblioteek kan deurblaai nie. Niemand het hulle ook gevra wat hulle dink van maatskaplike regverdigheid of wat die regte toepassing van die Tora (wet) is nie. Inteendeel. Lukas beskryf hulle vir ons as naamloos en eenvoudig.

Dus: 'n doodgewone nag, met doodgewone skape en doodgewone herders. Alles so alledaags. Maar God, broers en susters, (en dit sal ek nou verduidelik), hou van die alledaagse. God, broers en susters, het die manier om te dans tussen die alledaagse (om dit so te beskryf).

En daardie nag, die eerste Kersnag, vertel Lukas ons, het God gedans. Die swart lug het helder ontplof. Bome wat net skadu’s was, het skielik duidelik afgeteken gestaan. Skape wat stil was, het ewe skielik 'n nuuskierige koor van geblêr geword. Een oomblik was die herders nog aan die slaap, en die volgende oomblik het hulle hulle oë uitgevryf en voor hulle het 'n engel gestaan, en saam met hom 'n menigte engele wat sing van vrede.

En skielik was dit nie meer 'n alledaagse, doodgewone nag nie. Dit was besonders. Dit was vol van God. Ek wil amper sê: dit was alles net God. Want teen die alledaagse, donker nag het sy engele soos skerp ligte afgeteken gestaan. Skerp ligte wat in die doodgewone, alledaagse donker indring en dit verdring. In die donker waar ligte die beste gesien kan word, waar hulle die nodigste is. Maar ook: teen die alledaagse in dat dit kan uitstaan.

God, broers en susters, kom na ons toe in die alledaagse om dieselfde rede. Dat ons Hom kan sien. Dat ons weer van Hom bewus kan word. En wat meer is: wanneer Hy na ons toe kom, kom Hy gewoonlik na ons toe deur die eenvoudiges (doodgewone mense en dinge). Om die waarheid te sê: God se kragtigste werktuie in hierdie lewe is die eenvoudige en doodgewone dinge (en mense).

Wie dit verstaan, broers en susters, sal miskien weer iets van Kersfees verstaan wat maar net weer gekom het, op 'n doodgewone dag, en weer sal gaan. En heel waarskynlik onthou sal word as maar net nog 'n Kersfees, nog 'n doodgewone dag wat verby is.

Kom ek verduidelik wat ek hiermee bedoel. En ter wille van die tyd, en punt wat ek later wil maak, gaan ek hier baie kort wees. Dink maar aan Moses met sy kierie. Toe God aan hom die opdrag gee om sy volk uit Egipteland te lei, wou hy nie. Want hy was te eenvoudig, te doodgewoon. Om hom te oortuig, bied God toe so 'n klein demonstrasietjie aan Moses aan: eers het sy kierie 'n slang geword, en toe Moses die slang aan sy stert gryp, het dit weer 'n kierie geword en kon hy dit optel. Dieselfde kierie wat hy sou oplig om die water te kloof en al sy mense droogvoets deur die see te neem. Dieselfde kierie wat later water uit 'n rots sou laat kom vir 'n dors volk. 'n Kierie wat Moses daaraan moes herinner dat God groot dinge met die alledaagse kan doen.

Of neem nou maar nog 'n herder van Betlehem. Daar is sekere dinge wat ons almal weet 'n mens eenvoudig net nie doen nie. Jy val nie 'n leeu met tandestokkies aan nie. Jy gaan jag ook nie bere met speelgoedgeweertjies nie. So stuur jy ook nie 'n skaapwagtertjie om teen 'n reus te gaan veg nie. Nog meer: miskien is vyf doodgewone plat klippies met 'n doodgewone slingervel nie genoeg skietgoed nie. Maar wat maak God met die alledaagse? Goliat lê plat, en God sê: `Enigiemand wat onderskat wat ek met die alledaagse kan doen, het klippe in sy kop, en geen verstand nie’.

'n Laaste voorbeeld. Toe die blinde man by Jesus kom, het van Jesus se volgelinge gemeen dat hy 'n wonderlike teologiese gevallestudie was. `Waarom was hy blind,’ het hulle gevra, `was dit die gevolg van sy sonde of die sonde van sy ouers?’ En Jesus se antwoord: Hy is blind, soos baie ander blind is, om te wys wat God kan doen. En skielik word doodgewone speeksel en doodgewone grond medisyne wat iemand se siekte genees.

Dit sal ons betaam, broers en susters, om 'n les te leer uit hierdie kierie, klippies en spoeg. Hulle het nie gekla nie. Hulle het nie God se wysheid bevraagteken nie. Hulle het nie 'n ander plan voorgestel nie. Hulle het nie gesê: `Here, u moet liewer sus of so maak nie’. Ook het hulle nie geredeneer en gesê dat op Kersdag God sus of so teenwoordig ervaar moet word nie.

Dit is miskien dan ook die rede, broers en susters, dat die aankondiging van Jesus se geboorte eerste aan die doodgewone herders gemaak is. Want hulle het nie vir God gevra of Hy seker is Hy weet wat Hy doen nie. As die engel dalk eerste na die teoloë van die dag gegaan het, sou hulle dalk eers hulle kommentare wou geraadpleeg het. As hy eerste na die elite toe gegaan het, sou hulle dalk rondgekyk het om te sien of iemand hulle darem raaksien terwyl die engel met hulle praat. Of: as hy eerste na die besiges, ag tog so belangrikes, gegaan het, sou hulle dalk eers hulle dagboeke geraadpleeg het om te kyk of daar tyd was vir 'n oudisie aan die engel.

Daarom het God, broers en susters, met sy eerste aankondiging dat sy Seun gebore is, na die herders toe gegaan. Na manne wat nie 'n reputasie gehad het om te beskerm, 'n appeltjie te skil gehad het met ander nie, of hoër op die leer as ander wou klim nie. Manne wat nie sogenaamd genoeg geweet het om vir God te kan sê dat engele nie kan sing nie, en dat messiasse nie in doeke toegedraai in 'n krip gevind sal word nie.

Na manne wat bereid was om te aanvaar dat God in die alledaagse na die mens toe kan kom, en dat hulle as alledaagse mense bereid was om gebruik te word om juis te gaan vertel dat God op hierdie manier in die wêreld ingryp en mense se lewens verander. Al klink dit hoe ongelooflik, al klink dit hoe onmoontlik.

Daar is 'n klein katedraal buite Betlehem, broers en susters, wat as die moontlike geboorteplek van Jesus beskou word. Agter 'n hoë altaar in die kerk is 'n grot, 'n klein holtetjie wat verlig word met silwer lampe. 'n Mens kan die hoofgebou ingaan en die antieke kerk bewonder. 'n Mens kan ook in die stil grot ingaan waar 'n ster wat in die vloer ingelê is wat die geboorteplek van ons Koning erken.

Daar is egter een vereiste om by die grot in te gaan. Jy moet buk. Die deur is so laag dat 'n mens nie regop daardeur kan gaan nie. Daarom moet jy maar die rug buig, of selfs op die knieë gaan om by die grot te kom.

En dit is ook waar van Christus en van Kersfees. 'n Mens kan die wêreld sien as jy regop staan. O, broers en susters, wat kan 'n mens nie alles sien as jy mooi regop in die lewe staan nie. So regop kan 'n mens baie slim wees. Jy kan byvoorbeeld sê: maar net nog 'n Kersfees. Wat maar soos alle voriges sal wees. Kom ons neem maar deel aan die vieringe en feestelikhede, dalk maak dit die dag besonders.

Maar, broers en susters, wie bereid is om voor hierdie kindjie te buk, voor Hom te kniel, al is die versoek hiertoe teen hierdie tyd al tog so alledaags, sal die wêreld op 'n ander manier sien. Sal sien dat in ons alledaagsheid God juis aan die werk is, juis aan die dans is. Sal sien hoe God mense se lewens kan verander.

Meer nog: sal ervaar dat God in hulle sogenaamd alledaagse lewens teenwoordig is. Sal ervaar dat Kersfees weer eens die ware vrede oor 'n mens kan bring. Vrede wat net van God af kom. Vrede wat nie daar is waar mense die hele tyd 'n reputasie wil beskerm, 'n appeltjie wil skil met almal rondom hulle nie, of hoër op die leer as almal wil klim nie.

Vrede wat 'n mens nie alleen God se teenwoordig laat ervaar op 'n doodgewone Kersdag soos vandag nie, maar vrede wat 'n mens bring waar jy nie omgee om maar net doodgewoon te wees nie. Doodgewoon en alledaags voor God. Maar op jou knieë, biddend.

Waar jy bid:

  • Here, leer my op hierdie Kersdag
  • om tussen al die gewoontes en alledaagsheid U raak te sien,
  • om raak te sien dat U dikwels juis teenwoordig is in al die sogenaamde alledaagsheid en gewone dinge,
  • om voor U te buig dat ek U weer kan raaksien soos U is, en nie soos ek meen U moet wees nie;
  • om dan weer eens te besef dat U ook my in my alledaagsheid wil gebruik om vrede te saai waar ek kom;
  • om op hierdie alledaagse dag U vrede te ervaar.

Wie op hierdie dag, broers en susters, uit die hoogte na die krip kyk, sal hierdie Kersdag as maar net nog 'n dag beleef. Wie egter buk wanneer hy/sy voor God op hierdie dag verskyn, sal ervaar dat in die alledaagse God na mense kom, en so mense se lewens verander. So verander, dat hulle na 'n dag soos hierdie, na 'n Kersdag waar daar op die knieë voor 'n krip gestaan is, nooit meer dieselfde kan wees nie.

Ek hoop en bid dat God vandag, op hierdie alledaagse en gewone dag, vir u en vir my, wanneer ons biddend voor Hom staan, so sal aanraak.

Die vrede van Kersfees, die vrede van God, gaan saam met u op hierdie doodgewone dag. Mag u hierdie vrede vandag so ervaar, dat u God sien dans in u lewe, sien dans in die sogenaamde alledaagsheid daarvan. Kyk mooi, soek deeglik daarna, en u sal dit vind. Want dit is hoe God werk.
Amen