Titus 2:11-15

Is ons ryk of arm?



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
In 1867 het Erasmus Jacobs, ‘n jong seun van die plaas De Kalk te Hopetown (naby Kimberley) tussen die ysterklippe en Karoobossies een van die blinkste klippe wat hy ooit gesien het, opgetel en in sy broeksak gesit. In die dae wat kom, het hy met die klip gemaak soos seuntjies maar doen: hy het met die klip karretjies gespeel, dit as ‘n ghoen gebruik, en in sy broeksak saam met sy knipmes rondgedra. Hy het dit ook vir sy pa gewys, wat vlugtig daarna gekyk het, en vir sy seun teruggegee het. Later het hy vir die klip moeg geword, en dit aan sy sussies verruil vir ‘n ingelegde vy uit sy ma se spens.

Op ‘n dag het ‘n ene Schalk van Niekerk vir die Jacobse kom kuier. Die grootmense het op die stoep gesit, en die dogters het met hulle lappoppe en die blink klip op die trappe gespeel. Oom Schalk het die klip gesien, en met sy kennersoog onmiddellik besef: hierdie was die vonds van ‘n leeftyd, en vir Suid-Afrika die vonds van die eeu. Want wat hy in sy hand gehou het, was nie alleen ‘n diamant van 21 karaat groot nie, maar ook die begin van die diamant­bedryf in Suid-Afrika.

Wat kan ons uit hierdie ware gebeure aflei? Dat ‘n mens ‘n skat kan besit sonder om hoegenaamd die waarde daarvan te besef. Jy kan dit in jou sak (of hart) ronddra sonder om ‘n duit daarvoor om te gee. Jy kan dit ewe rustig in die sand gooi sonder om ‘n oog te knip. Jy kan daaraan raak, maar dit maak jou nie ryk nie, dit bring nie ‘n verandering in jou lewe nie. Jy bly blind, en brandarm. Al lê die grootste rykdom in die palm van jou hand.

Hierdie skat wat ‘n mens in jou hand of hart ronddra, broers en susters, kan baie dinge wees. Dit kan die Bybel op jou rak wees, die liefde vir jou kind, die liefde van jou man of jou vrou, die nabyheid van iemand wat werklik vir jou omgee, die sak vol vergifnis wat God reeds aan jou geskenk het, die hope geduld wat Hy al met jou gehad het, die gemeente waaraan jy behoort. Noem maar op. En net so, broers en susters, kan dit die boodskap van Kersfees wees.

Kersfees kan kom en Kersfees kan gaan. En vir baie met die klem op gaan. Na die feesgety is daar hoogstens ‘n sweempie sentiment oor, die herinnering van al die min doen en baie feestelikhede, of ‘n Kersdeuntjie of twee wat in jou kop bly draal. Maar gou word hierdie deuntjies ook stil.

Want in die plek van die stilte van Kersfees kom die vaart en gewoel van die nuwe jaar met al sy reeds beplande take en verantwoordelikhede. Die dagboek praat, die roetine kom, en dag vir dag stap verby. Ja, saam met die verskeurde geskenkpapier verdwyn Kersfees in ‘n blik, saam met blinkers en die boom bo-op die kas.

Vir die gelowige, broers en susters, kan Kersfees egter nooit ‘n blitsbesoek aan Bethlehem wees nie. Want op Kersdag het God aan ons sy Skat gegee. Uit die skoot van ‘n moeder. En op die eerste Kersnag het God toegelaat dat hierdie moeder hierdie Skat aan die wêreld in haar arms toevou.

Maar daar wil God nie hê moet hierdie Skat bly nie. Nee. Hy wil hê dat hierdie Skat deur ons geken sal word, werklik geken sal word. Meer nog: Hy wil hê dat hierdie Skat deur ons geken sal word as die Verlosser.

Meer nog: Hy wil hê dat hierdie Skat ons lewe sal verander. Hoe? Presies soos Titus 2:11 en 12 dit stel: dat ons ons goddelose lewe en wêreldse begeertes sal laat vaar, en met selfbeheersing, opregtheid en godsvrug in die teenwoordige wêreld sal lewe.

Dit, broers en susters, is die doel van Kersfees: selfbeheersing, opregtheid, en godsvrug. Wie ná Kersfees nie so lyk nie (en laat ons dit maar weer hoor, miskien dink ons vir ‘n keer ernstig daaroor), verstaan Kersfees nie. Wie na Kersfees nie so lyk nie, nie so verander het nie, het nie Kersfees as Christusfees gevier nie. Wie na Kersfees nie so lyk nie, verstaan Kersfees nie. Wie onopgevoed bly, om Titus se eie woorde te gebruik, mis die punt, want Kersfees wil ons ryk maak in God se genade.

Tog, broers en susters, en dit is so jammer, bly ons dikwels so arm, is ons God se arm kinders, al dra ons hierdie Skat in ons harte. Kom Kersfees, gaan Kersfees, en lewe ons rustig voort soos maar altyd. Presies nog dieselfde. Met niks wat in ons lewens, in ons verhouding met God, met ander en met onsself verander het nie.

Ja, ons dra soms soos klein Erasmus Jacobs die Skat in ons broeksak, sonder om ‘n duit daarvoor om te gee. Ons speel daarmee wanneer dit ons plesier of voordeel kan gee (dink maar hoe dikwels ons God probeer gebruik), ons verruil dit selfs vir ‘n ingelegde vy, daardie enkele oomblikke van plesier waar God eenvoudig eenkant toe geskuif word.

Hoekom is dit so? Ek wil ‘n antwoord waag. Ons soek na hierdie Skat op die verkeerde plek(ke). Ons soek hierdie Skat in die kerk, rondom die Kersfeesboom, in ekstatiese belewenisse, in die hoë hemel en in heerlike en positiewe omstandighede.

God se skat, broers en susters, kom egter ook op ander en sogenaamd eenvoudiger maniere na ons toe. In die nuwe dag wat elke dag breek, in elke geleentheid om vir ander daar te wees, in elke wavrag vergifnis, in elke pakkie vol genade, en elke geskenkie vol geduld.

Wie sy oë net op ‘n skrefie wil oopmaak, sal elke dag, in elke situasie, ‘n ander faset van hierdie Skat, God se Diamant, sien skitter. En sal besef: maar ek is ryk, geweldig ryk. Ek het niks meer nodig nie!

Is dit egter so, my broer en suster, in u en my lewe? Sien ons hierdie Skat raak, en verander dit ons, dring dit ons, maak dit ons mense vol selfbeheersing, opregtheid en godsvrug. Omdat ons nie anders kan nie. Want ons het die Skat gesien! Ons het die Skat ontdek!

Of het ons die Skat, broers en susters, en bly maar net brandarm? Dit is so jammer. Tragies. Want God wil dit anders. Dit sal egter nooit anders, broers en susters, as ons dink dat Kersfees maar net ‘n blitsbesoekie aan Bethlehem is nie.

Mag u hierdie jaar so in Bethlehem vertoef, dat dit u sal opvoed om anders te wees: iemand vol selfbeheersing, opregtheid en vol godsvrug.
Amen