Handelinge 2:22-36; Romeine 1:16-17

Jesus se Kersparty



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
Daar bestaan ‘n ou Kerslegende (natuurlik nie waar nie), van die derde wyse man (van wie ons in Matteus 2 lees), wie aan Jesus met sy geboorte die mirre as geskenk gebring het. Van hom word in die legende vertel dat hy, dertig jaar nadat hy en sy twee vriende Jesus in Betlehem besoek het, besluit het dat hy weer hulde wou bring aan hierdie koning van Jode wat hy destyds, op versoek van Herodes en gelei deur die ster in die hemel, besoek het. Sy vriende was reeds dood, en al het dertig jaar reeds verloop, het hy gevoel dat hy hierdie man weer wou sien.

Die pad Betlehem toe was nie vir hom maklik met sy ou lyf nie. Maar met oumensmoed het hy met sy kierie uiteindelik tot in Betlehem gekom. Orals het hy navraag oor Jesus van Betlehem gedoen, maar nêrens het iemand van hierdie Jesus geweet nie. Uiteindelik het iemand hom na Jerusalem verwys, en gesê dat hy miskien daar moet gaan soek.

Ook in Jerusalem kon feitlik niemand hom help nie, totdat hy op die markplein iemand teëgekom het wat gesê het dat hy nie ‘n Jesus van Betlehem ken nie, maar wel ‘n Jesus van Nasaret. Dit is die man, het hy gesê, wat enkele weke gelede op Golgota gekruisig is. Die aanklag, het hy gesê, was iets soos oproerigheid, godslastering en ander dergelike dinge, aanklagte wat blykbaar nie waar was nie.

Hartseer het die ou wyse man deur die strate van Jerusalem gedwaal. Het die ster dertig jaar gelede, het hy so by homself geloop en dink, hom vir die gek gehou? Was dit nie die werklike koning van die Jode wat hy ontmoet het nie? Was dit alles net ‘n droom wat nie werklikheid geword het nie?

Met hierdie vrae in sy gemoed het hy op ‘n straathoek afgekom waar ‘n groot klomp mense saamgedrom het. Iemand was driftig en met oortuiging aan die praat. Party het gesê hy is vol soetwyn, ander weer het stil met alle aandag tot hulle beskikking geluister na wat gesê word. Skielik het sy oor die woord Jesus gehoor. Was dit moontlik, het hy gedink, en dadelik nader gestaan.

Ja, hy was reg. Die man wat aan die praat was, het Jesus se naam verskeie kere gebruik. En toe doen hy dit weer. Sy presiese woorde was: ‘God het hierdie Jesus uit die dood laat opstaan; daarvan is ons almal getuies. Hy is verhoog aan die regterhand van God en Hy het die Heilige Gees wat belowe is, van die Vader ontvang en uitgestort. Dit is wat julle nou sien en hoor’ (met ander woorde, Petrus se woorde in Handelinge 2:32-33).

Die ou wyse man wou meer hoor. Daarom het hy deur die mense gemaal en gedruk tot hy reg voor almal gekom het en dadelik uitgeroep het: Waar is hierdie Jesus? Kan ek Hom nog net een maal sien?

Waarop die man wat gepraat het geantwoord het: hier is Hy, terwyl hy na die kring dissipels rondom hom gewys het, ons is sy oë, sy mond, sy hande, sy liggaam.

Die ou man was vir ‘n oomblik stil. Maar toe het hy ver­staan, sy hande opgetel na die hemel en God geloof en geprys, terwyl hy uitroep: Elkeen van ons word Betlehem, elkeen van ons word krip. In elkeen van ons word Hy gebore. By elkeen van ons is Hy te vinde. Ons is sy liggaam.

Waar is Jesus Christus, broers en susters, die Een in wie ons glo, die Een van wie ons bely dat Hy gebore is, ge­kruisig is en opgestaan het, te vind? Of kom ons sê dit in doodgewone taal: by watter adres vind Jesus Christus se Kersparty plaas?

Die antwoord, broers en susters, wat die Bybel vir ons gee is duidelik: ons vind Jesus Christus by mense, by sy mense. Mense van wie sommiges van ons dalk nie sal hou nie. Neem byvoorbeeld die sterrekykers uit die Ooste (Mat 12). Hulle is eintlik heidene. Wat weet hulle van die God van Abraham, Isak en Jakob af? Van die Messias? Hulle is immers bygelowige sterrewiggelaars, aanhangers van horoskope. En nou kom hulle oor kontinente heen om ander te leer dat die Verlosser gebore is? Hoe kan dit?

Maar dit is nie al nie, broers en susters. Jesus Christus se Kersparty is nog ruimer en rojaler as dit. Want ‘n string ongure karakters volg die sterrewiggelaars op. Daar is die lae-klas, onrein herders, want hulle is altyd in kontak met diere. Wat as diewe beskou word omdat hulle ander se vee op almal se grond laat loop en wie. Hulle wat nie eers in die onderdorp mag kom nie, maar buite die dorp moet vertoef. Kras manne, soos NP van Wyk Louw hulle beskryf het, wat in skerms woon en ruik na bok en rook en muf.

Dan kom die tollenaars ook by, hulle wat deur baie as volksverraaiers gereken is, met die hand in dieselfde hoed as die Romeine. En die prostitute. En al die siekes, lammes en onreines. Mense, broers en susters, wat ons miskien nie rondom ons Kersboom sou wou sien nie. Wat miskien, as ons sou kon kies, nie deel sou gewees het van ons gesinnetjie se knus Kerskringetjie nie, wat dalk geen uitnodiging sou ontvang om deel te wees van ons Kersparty en ons Kerspoeding nie.

Maar tog, broers en susters, is dit tog sulke mense wat by Jesus se Kersparty opdaag, wat tot Hom aangetrokke voel. Mense wat nie van iets anders weet as om hulle op God se genade te werp nie, wat niemand anders het om na te kan uitreik as Jesus Christus nie. Dit is by hierdie mense, by hulle wat genade verlang, by hulle wat weet daar is net een Verlosser, een pad na geluk, een pad na vrede, een pad na aanvaarding, waar Jesus gevind word. Nog meer, dit is hier waar Jesus se Kersparty op sy vrolikste raak. Want dit is hier waar die Kersevangelie werklik verstaan word.

Wat, broers en susters, is die Kersevangelie wat hier gevier word? Kom ons probeer kort en duidelik wees: dat op hierdie dag, Kersfees, iemand gebore is, iemand wie, wanneer daar werklik in Hom geglo word, redding en vryspraak bring. Ware vreugde bring. Ware verlossing bring. Die Kersevangelie is ‘n evangelie wat roep en soek. Wat roep en soek na mense wat genade en vryspraak verlang, wat soek na die Een wat enkel en alleen verlossing kan bring. Wat roep en soek na mense wat sê: daar is net een plek, daar is net een iemand by wie ek vrede kan vind — Jesus Christus.

Ook ons, broers en susters, word na hierdie Kersparty van Jesus Christus genooi. Om, soos die wyse man, te kom en weer te hoor: hierdie Jesus wie op Kersdag gebore is, het ook gesterf, en opgestaan, het opgevaar, en aan julle sy Gees gegee. Daarom is julle nou sy getuies. Ander moet dit nou in julle lewe sien en hoor!

Waarna soek ons, broers en susters, tydens Kersfees? Rustigheid, daardie sogenaamde vrede, wat dikwels maar niks anders as ‘n onheilige vrede is nie? Die lekker saam­wees, dit wat op die tafel is?

Of wil ons soos die ou wyse man weer net vir Jesus sien? Wil ons, soos die herders, die tollenaars, die onreines, na Jesus gaan, omdat ons weet daar is geen ander plek van vrede en verlossing as by Hom nie? Smag ons na genade, smag ons na verlossing, smag ons na Sy teenwoordigheid?

Dan is ons ook by God se Kersparty welkom. Dan hoort ons daar. Dan mag ons nie op ‘n ander plek wees nie. En as ons daar was, broers en susters, moet ons gerus ook onthou. Saam met alles het ons sy Gees ontvang. Sy Gees wat Petrus spreekwoordelik laat sê het: soek jy Christus? Hier is Hy. Ons is sy mond, sy oë, sy hande, sy voete.

Ja, wanneer Kersfees so elke dag se fees word, wanneer die geskenk van Kersfees deur God aan ons ons geskenk aan ander word, dan het Kersfees ware Christusfees geword!

Die vraag is egter: soek ons nog regtig na Christus? Is ons bereid om, soos die ou wyse man in die legende, na Hom te gaan soek en te bly soek? Verlang ons na genade? Wil ons selfs sê: ek kan nie sonder God en sy genade nie? Dan, broers en susters, sê Paulus in Romeine 1:17, sal ons, omdat ons werklik glo, nie alleen vrygespreek word nie, maar die ware lewe ontvang.

By sulke mense word Jesus se Kersparty gevind. By sulke mense is God met Kersfees teenwoordig. Alleen by hulle wat na genade smag en daarna verlang, alleen by hulle wat Jesus Christus as die enigste en ware Verlosser bely.
Amen