Lukas 9:18-21

Kersfees is meer as maar net drome en begeertes



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
Daar is mense wat beweer dat, indien jy wil weet watter soort mense 'n bepaalde gemeenskap uitmaak, jy maar net na hulle helde moet gaan kyk. Want, word gesê, mense vereer daardie mense wat hulle drome verpersoonlik.

So vereer misdadigers hulle wat nog erger misdade as hulle gepleeg het, hulle wat verdruk en verontreg word vereer die vryheidsvegters van hulle tyd, hulle wat bang is het groot heldeverering vir die dapperes met waagmoed, en die jong mannetjies onder ons wat eendag vir Suid-Afrika wil krieket of rugby speel vereer sy krieket- of rugbyheld.

Die gevolg is dat die wêreld se helde, broers en susters, 'n klomp uiteenlopende individue is, soms geweldig van mekaar verskil, omdat mense, wat hierdie helde vereer, se drome en wense van mekaar verskil. Dink maar hoe verskil Hitler en Josef Stalin (helde vir sommiges) teenoor Gandhi en Moeder Theresa (helde weer vir ander).

Maar tog, broers en susters, is daar een held wat oor alle kultuurgrense heen gewild is, een persoon wat die hele wêreld ken en lief voor is. Iemand wie se verhaal en gesig van poolstreek tot poolstreek bekend is. En as ek aan die begin reg was deur te sê dat 'n gemeenskap of wêreld aan sy helde geken word, kan ons gerus vir 'n slag na hierdie held kyk, omdat hy juis iets van ons wêreld te sê het, iets oor ons verlangens en drome.

Die persoon na wie ek verwys, broers en susters, is by wyse van verskillende bekend. Party noem hom Sinterklaas, ander noem hom Papa Noel of Pere Noel. In die ooste word hy Hoteiosho genoem, en in die res van die wêreld staan hy bekend as Sonnerklaas, Father Christmas, Jelly Belly, en, in Afrikaans, Kersvader, of dan Vader Kersfees.

Sy oorspronklike naam was Nicholas, wat oorwinnaar beteken, en is in 280 n C gebore in die streek wat vandag as Turkye bekend staan. Sy ouers is albei aan siekte dood toe hy nog baie jonk was, hy was dus weeskind, wat later Griekse filosofie en Christelike leer gaan bestudeer en so later priester word. Nicholas is dan ook later deur die Katolieke Kerk vereer vir sy goeie werk, en het in die vierde eeu die titel ‘Biskop van Myra’ gekry, en behou tot sy dood op 6 Desember 343.

En hoewel hy vandag allerweë as 'n wonderlike persoon beskou word, was Nicholas in daardie tyd eintlik 'n verleentheid vir die kerk. Hy was twee keer in die tronk — een keer as gevolg van 'n leerstellige verskil met die kerk, en die ander keer omdat hy 'n ander biskop tydens 'n woordewisseling te lyf gegaan het.

Hy was nooit getroud nie, en was veral bekend vir die hulp wat hy aan sy buurman gegee het wat sy drie dogters nie kon onderhou nie. Die buurman het byvoorbeeld nie genoeg geld gehad om vir elkeen van sy dogters 'n bruidskat te gee sodat hulle in die oë van die jong manne van daardie tyd hubaar genoeg kon wees nie. Daarom het Nicholas in die nag stilletjies 'n hand vol goue munte deur die oudste dogter se venster gaan gooi, sodat sy tot trou kon kom. En later het hy dieselfde vir die ander twee dogters ook gedoen.

Hierdie is dan ook die verhaal/gebeure waarop die legende van Kersvader of Sinterklaas later gebou sou word. En elke geslag en elke kultuur het natuurlik sy eie kleur daaraan gegee deur sy eie stukkie by te las (of weg te neem), sodat die verhaal van Kersfees vandag letterlik so mooi en veelkleurig soos 'n versierde Kersboom geword het. Vandag is die geskenke nie meer 'n handvol munte nie, maar 'n sak vol geskenke. Hulle word ook nie meer deur die venster gegooi nie, maar deur die skoorsteen, en omdat daar deesdae nie meer so baie skoorstene is nie, in die sloop of Kerskous.

Verder was die jare, soos iemand onlangs geskryf het, baie goed vir Kersvader. Nie alleen het sy goeie dade meer geword nie, maar ook sy persoonlikheid en voorkoms. Die regte Nicholas het natuurlik 'n biskopmus en tradisionele swart toga gedra, was skraal en ernstig met 'n donker baard.
Teen 1300 was sy baard spierwit en teen 1800 het hy die ronde magie gehad wat ons vandag nog ken, en die mandjie kos oor die arm. Daarna het die swart stewels en die rooi klere gevolg. Teen die einde van die 19de eeu is die kosmandjie deur 'n sak speelgoed vervang. In 1866 was hy nog 'n kort mannetjie, maar teen 1930 was hy 'n sesvoeter met rooi wange en, in sommige lande, altyd met 'n Coca Cola in die hand.

Kersvader, dus, broers en susters, is nie maar net 'n versinsel van die speelgoedbedryf nie, hy is iemand wat werklik geleef het (en laat ek eerlik, dit was so 'n bietjie van 'n skok vir my toe ek bogenoemde inligting begin nalees en 'n groot deel daarvan kon verifieer uit verskillende bronne).

Wat egter meer is, broers en susters, en dit is dalk die skokkendste, is dat Kersvader die wense van so baie mense begin weerspieël het. Hy het deur die eeue die verpersoonliking geword van alles wat ons wil hê. Hy is die vriend wat ver kan reis en geskenke aan almal kan uitdeel; hy is die wyse man wat die goeie beloon en die slegte oorsien; die kindervriend wat nooit oud of siek word nie; die vaderfiguur wat jou op sy skoot laat sit en met wie jy jou hartsgeheime kan deel.

Maar kan hy vir ons regtig gee wat ons nodig het, broers en susters? Nee, antwoord iemand, want hy kom dan net een keer 'n jaar. Is hy byvoorbeeld by ons wanneer ons regtig hulp nodig het? Wanneer my kind sterwend in die waaksaal lê? Wanneer my man/vrou veg om te bly asemhaal. Wanneer ek vir die eksamen moet leer? Wanneer ek bang is vir more se vergadering of wedstryd?

Wat meer is, hy kan net gee, hy kan niks wegneem nie. Hy kan nie die gevolge van ons foute wegneem nie, ook nie die hartseer van 'n oop graf nie, wat nog te sê die seer van 'n hart. En as hy gee, wat gee hy of kan hy gee? Die lewe, die ware lewe, of net geskenke? Dit wat ewigdurend is, of dit wat tydelik is waarvan die glans met die tyd verdwyn?

Maar tog, broers en susters, lyk dit soms of hy die een is waaroor dit gaan tydens Kersfees. Ons sien hom in elke winkel. Op die TV. Ons hoor sy klok lui soos hy die mense en kinders na hom roep. En die mense kom. Almal vertel sy verhaal. Sommiges van ons ry selfs na 'n plek waar ons kinders hom kan sien.

Dit, terwyl daar met hom, soos al ons ander helde iets groot skort. Hulle kan nie in al ons behoeftes voorsien nie. En so word hulle, al ons helde — ook Kersvader — deel van die wêreld met sy gebreke.

Behalwe Een. Behalwe die Een oor wie Kersfees werklik gaan. Daardie Een wat nie uit ons wêreld gekom het nie. Ja, iemand wat wel soos 'n gewone mens gelyk het nie, maar deur God gestuur is en van Hom en uit Hom was, dus self God was.

Die wat Hom ontmoet of gesien het, het dadelik geweet dat Hy anders was. Blindes kon sien as Hy hulle oë aangeraak het. Lam bene het weer styf geword en 'n paar vissies en broodjies het duisende kos gegee. Hy het dooies laat lewe en mense se lewens werklik verander.

En in die laaste week van sy lewe, lees ons hier in Lukas 9, het hy vir die mense gevra: `Wie, sê julle is Ek?' 'n Vraag waarmee Jesus, toe, maar ook vanoggend, broers en susters, tot die kern van ons menslike bestaan, ons lewe, ons toekoms, wat ons is, wat ons kan wees, deurdring.

Is hy, soos Kersvader, iemand by wie ons iets kan/sal kry? Is Hy vir my die Seun van God, of die somtotaal van my al drome?. Is Hy die Skepper, die een wat aan die kruis vir my sonde gesterf het, iemand wat werklik tussen die mense kom leef het, of is Hy, soos Kersvader, die produk van my verbeelding?

Ons weet, broers en susters, wie Kersvader is: hy is die verpersoonliking van baie mense se drome en begeertes. Maar nie Jesus Christus nie. Hy kan dit nie wees nie. Want wie van ons, broers en susters, sal in ons wildste drome 'n Verlosser geskep het wat 'n doodgewone mens sou word en tussen ons kom leef het. En dit is presies wat God gedoen het. Hy het gedoen wat ons nie eers in ons drome sou waag nie.

Hy het mens geword sodat ons Hom kan vertrou, kan weet dat Hy, omdat ook Hy mens was, presies weet wat in 'n mensehart omgaan. God het Hom aan 'n kruis geoffer sodat ons God se liefde vir ons kon leer ken. Hy het die dood oorwin, sodat Hy ons altyd by Hom kan hê.

Is dit nie meer, broers en susters, as wat 'n mens ooit van enigiemand sou kon droom nie? Is dit nie so groot, so ongelooflik, dat dit amper nie waar kan wees nie? Maar dit is. Want God het dit gedoen.
Hy het vir ons iemand gegee wat altyd by ons is, nie maar net een keer per jaar nie. Hy het vir ons iemand gegee wat kan gee en wegneem, en nie maar net gee nie. Hy het vir ons iemand gegee wat weet wie en wat ons is, wat ons nodig het, iemand op wie se skoot ons nie hoef te gaan sit en te gaan vertel wat ons nodig het nie. Hy het ons iemand gegee wat vir ons gee wat vir altyd hou. Ja, Hy het vir ons iemand gegee wat nooit kan of sal verander nie, wie se kleed van verlossing altyd wit sal bly, wie se naam Jesus, die gekruisigde en opgestane Heer sal bly.

As die mense wie ons volg, hulle wat ons helde is, hulle wie ons aanhang, iets sê van wat 'n gemeenskap is en wat in hulle lewens en harte aangaan, moet ons weer mooi gaan dink oor ons verhouding met God. Is hy maar net die verpersoonliking van al ons drome, begeertes en wense (soos Kersvader vir baie oor die wêreld is), volg ons Hom en soek ons Hom op omdat hy vir iets sekere dinge wat ons graag wil hê kan gee, of maak ons volg van Hom ons lewens anders?

So anders dat God ons tydens Kersfees by die krip vind, by die krip waarin die Verlosser lê, waar ons kniel en 'n God aanbid wat vir ons meer gedoen het, doen en sal doen, as wat ons ooit kan droom of begeer!
Amen