Lukas 18:9-14; Matteus 9:9-13

Kersfees is ‘n sondaarfees



Broers en susters in ons Here Jesus Christus:
Ek weet van geen ander godsdienstige fees wat so wyd gevier word, ook deur mense wat self nie noodwendig Christene of gelowiges is, as Kersfees nie. ‘n Mens kan amper sê: hierdie tyd van die jaar vier die hele wêreld Kersfees, of dit nou gelowiges of ongelowiges is. Almal word as ‘t ware deel van die gees rondom Kersfees.

En dit het sy voordele en nadele. Die nadeel is dat sommige se viering van Kersfees (liggies, musiek, geskenke en vermaak) so maklik die ware boodskap van hierdie fees verdring. Maar dit het ook sy voordeel: dit beklemtoon nie alleen watter impak Jesus Christus se koms op die wêreld gehad het en steeds het nie, maar ook, omdat feitlik die hele wêreld op een of ander manier deel word van hierdie fees (of dit nou om die regte of verkeerde redes is), sal baie min kan sê dat hulle nooit geweet het van Jesus se koms na die wêreld nie.

En miskien, broers en susters, is dit in ‘n sekere sin ‘n vingerwysing na die kerk en ons as gelowiges, omdat meer mense in die wêreld waarskynlik so kennis van Christus se koms na die wêreld neem, as wat hulle dit deur die kerk te hore kom.

Hoekom is dit so? Ons as gelowiges, broers en susters, ken en weet van ‘n wonderlike boodskap waardeur die wêreld verander kan word. Maar ons leef dit nie altyd uit met woord en daad nie. Ons is soms maar baie stil daaroor. Ook meng ons nie sommer met die tollenaars en sondaars van ons tyd nie.

Maar miskien is ons grootste fout dat ons elke jaar van Kersfees te veel van ‘n Christenfees en selfs ‘n Christusfees maak, en te min van wat ek ‘n sondaarfees wil noem: ‘n fees omdat God sy Seun gebore laat word het sodat sondaars verlos en met God versoen kon word. Ons moet nooit vergeet dat die naam van die kindjie in die krip ook Verlosser beteken nie. En hieroor is die Woord tog baie duidelik: dit is hoekom God mens geword het — om mense weer in die regte verhouding met God te bring (Fil 1:11).

Miskien, broers en susters, net miskien sal ons Kersfeesvieringe aan diepgang wen, en ons lewe van dankbaarheid aan egtheid, as ons vir ‘n keer tydens Kersfees weer daaraan dink dat onsself sonder hierdie ingryping van God in die wêreld, nooit met God in 'n regte verhouding sou kon staan nie, nooit sou kon besef dat ons in God 'n Vader het nie. Maar wie wil nou tydens Kersfees hieraan dink, wil ek amper vra?

Verder, broers en susters, oordeel ek dat ons dikwels tydens Kersfees — veral omdat dit tradisioneel ‘n familiefees of gesinsfees geword het — nie genoeg in spesifiek persoonlike terme oor Kersfees nadink nie. Ja, natuurlik beteken Kersfees dat die profesieë van die Ou Testament in vervulling gegaan het, natuurlik beteken dit dat God so getoon het dat Hy ‘n welbehae in sy skepping het, en vrede vir sy skepping wil, maar Kersfees beteken ook iets persoonlik: dat God as mens gebore is om my, mens van die 21ste eeu van my sonde te verlos, om my so 'n lewe van oorwinning te laat lewe, om my so in die regte verhouding met God te laat leef. Maar wie wil nou, wil ek weer vra, aan so iets tydens Kersfees dink, as Kersfees oor soveel meer en lekker dinge gaan?

Sommige mense broers en susters, het 'n baie oppervlakkige sondebesef, omdat hulle meen dat hulle nie regtig so sleg is nie, ten minste nie so sleg as 'n hele klompie ander waarvan hulle weet nie. Miskien juis daarom bring Kersfees hulle nie regtig by 'n vreugdefees oor verlossing uit nie. Nee, gee my eerder ‘n fees van boompies en liggies, mooi prentjies van die krip, van saamwees en vrolik wees, as ‘n fees van die erkenning van my sonde en tekorte, en daarom die intense behoefte om juis tydens hierdie fees by Jesus Christus as Verlosser uit te kom.

Ander mense weer, broers en susters, is so vasgevang in 'n lewe van sonde en vêr wees van God af, dat hulle sonder meer aanvaar hulle is hopeloos te sleg om ooit daaruit verlos te word. En omdat hulle in eie oë (en tragies, dikwels ook in baie ander se oë) te sleg is, kyk hulle nie op in die vriendelike oë van God nie, maar leef sonder verwagting en sonder verlossing in hulle sonde voort — en mis so die kern van Kersfees tussen feesgenote: terwyl almal tuis is, en saam by 'n feesmaal aansit!

Oor die idee dat 'n mens te sleg kan wees om in aanmerking te kom vir die verlossing wat daar in Christus Jesus is, is die Woord baie duidelik. Nooit kan dit so wees nie (dink maar gerus aan almal wat in daardie stal welkom was). Maar die Woord is nog duideliker oor die gevaar dat 'n mens kan dink dat jy goed genoeg is, eintlik baie oulik is (fyn en flink, goed en gaaf), en dat jy dáárom totaal by die kind in die krip as Verlosser kan verbystap. Presies wat met die hoogmoedige Fariseër in die gelykenis gebeur wanneer hy selfvoldaan met oorgawe bid: ’God, ek dank U dat ek nie soos ander mense is nie: diewe, bedrieërs, egbrekers, en ook nie soos hierdie tollenaar nie.’ (Luk 18:11). Ja, in sy goedheid het juis sy verlorenheid geskuil.

Daar moet by ons geen illusie wees, broers en susters, dat ordentlikheid, goeie maniere, hulpvaardigheid en mededeelsaamheid genoeg is nie. Iemand wat dink dat hy/sy lewe so na aan volmaak is as wat 'n mens dit maar kan kry, omdat jy dalk nie vloek nie, en nie drink nie, en nie onsedelik lewe nie, en nie steel nie, en nie moor nie (en ek noem juis hierdie voorbeelde om ‘n spesifieke rede) , en daarom so 'n goeie voorbeeldige mens is dat die knieë nog nooit onder 'n sondelas geknak het voor die kruis van Golgota nie — so iemand, broers en susters, het nog nooit Kersfees gevier met die regte verstaan daarvan nie.

Gesonde mense het nie 'n dokter nodig nie, het Jesus in Mat 9:12 gesê. Dit is die wat weet wat siekte is, wat ook weet wat die waarde van 'n geneesheer is en wat hom by die naam en die adres ken! Dit is net 'n sondaar wat bewus geword het van die werklikheid en die gevolge van sy eie sonde, wat opgewonde kan raak oor Jesus Christus, wat Kersfees werklik kan vier.

Kom ons neem hierdie beeld wat Jesus hier van die dokter gebruik nog ‘n bietjie verder: stel jou voor dat iemand wat weet hy is siek, na die dokter gaan, sy siekte laat diagnoseer, 'n voorskrif vir medikasie ontvang, die medisyne by die apteek gaan koop, maar dan niks daarmee doen nie! Dit sal tog nie baat nie, want die genesing lê nie in die beskikbaarheid of in die besit van die medisyne nie, maar daarin dat die medisyne en die siek liggaam by mekaar moet uitkom, dat die medisyne volgens voorskrif gebruik moet word.

Anders gesê: dit baat nie dat die woord Kersfees op ons kalenders geskryf staan by 25 Desember, dat ons nie kan wag dat dit moet aanbreek nie, dat ons die familiebyeenkomste bywoon en vir mekaar geskenkies gee, en al die ander dinge wat ons dikwels saam met Kersfees doen, maar ons leef nie uit die werklikheid van 'n herstelde verhouding met God nie.

Broers en susters, die hoeveelste Kersfees vier u en ek nie nou al nie? Wat kan ons onthou van al die vorige Kersfese wat ons gevier het? Waaroor die prediking op Kersoggend gehandel het? Miskien onthou u min, of miskien baie.

Daarom wil ek u uitnooi vanoggend. Knoop net die volgende in u gedagte vas: as u ooit weer dink aan die Kersfees van 2003, onthou dan dat Kersfees ook sondaarfees is. Kersfees 2003 herinner ons aan die moontlikheid van die herstel van gebroke verhoudings, tussen God en mens en ook tussen mens en mens. Daarom is Kersfees ook ‘n fees van vrede en vreugde.

En daarom is Kersfees ‘n fees. Want daar is rede vir feesvier. Daar is rede om met oorgawe fees te vier! Daar is rede vir 'n fees: Jesus het na die wêreld gekom het om God se mense weer sy mense te maak!
Amen