Lukas 1:12-15, 26-33; 2:8-14

Kersfees sonder vrees is vrees sonder Kersfees



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
Kersfees is ‘n tyd van liefde, vrede en welbehae. Dit is amper asof daar in Kerstyd iets anders in die lug is. Al die onverdraagsaamheid en gejaagdheid is weg, en oor alle mense — selfs ongelowiges — daal daar ‘n kleed van liefde, welbehae in ander en vrede neer.

So was dit sekerlik ook tydens die heel eerste Kersfees. Engele het gesing van vrede wat God gebring het, van God se liefde vir sy mense, die skaapwagters en wyse manne het die kind in die klein dorpie Bethlehem in ‘n eenvoudige krip in 'n stal gevind, en almal was verwonderd. Almal was bly. Want God het dit sigbaar gemaak wat Hy met liefde en vrede vir sy mense bedoel.

Hierdie prentjie van liefde en vrede tydens Kersfees, broers en susters, is egter nie die enigste emosies wat Lukas vir ons vertel mense tydens daardie eerste Kersfees, en die tydjie voor daardie eerste Kersfees, ervaar het nie. Inteendeel. As ons Lukas mooi gaan lees, sien ons dat die emosies wat mense daar ervaar het nie net liefde, vrede en welbehae was nie, maar ook (en miskien eerder) angs en vrees.

Toe Sagaria in die tempel was en die engel vir hom kom vertel van die geboorte van Johannes die Doper, lees ons in Lukas 1:12-13: 12Sagaria het geskrik toe hy hom daar sien staan en hy het baie bang geword, 13maar die engel sê vir hom: ‘Moenie bang wees nie, Sagaria, want jou gebed is verhoor’. As dieselfde engel vir Maria die boodskap van Jesus se geboorte bring, is sy só verbysterd (Luk 1:30) dat die engel vir haar moet sê: ‘Moenie bang wees nie, Maria, want God bewys genade aan jou’. Dieselfde emosie vind ons in Lukas 2:9-10 by die skaapwagters: ‘Hulle het baie groot geskrik. 10Toe sê die engel vir hulle: “Moenie bang wees nie’. 11Vandag is daar vir julle in die stad van Dawid die Verlosser gebore, Christus die Here! Verbysterd, vol skrik, bang — drie keer moet die engel sê: Moenie bang wees nie.

En as ons Matteus hierby sou saamlees, sou ons die vrees van die wyse manne en die ouers van Jesus kon byvoeg: omdat die wyse manne vir Herodes bang was, het hulle met ‘n ander pad na hulle land teruggekeer, en het Josef en Maria met Jesus na Egipte gevlug omdat hulle bang was omdat Herodes die Kindjie wou doodmaak. Dus, baie duidelik: met daardie eerste Kersfees was dit nie net vrede, vreugde en liefde nie, maar ook, veral, vrees.

Dit is hierdie tekste, broers en susters, wat een van die grootste teoloë van ons tyd, Karl Barth, op ‘n keer laat sê het: Kersfees sonder vrees is vrees sonder Kersfees. Wat het hy hiermee bedoel? Dat die kind van God, indien hy/sy die volle betekenis van Kersfees wil verstaan, rekening moet hou met die angste en vrese wat ons elke dag met ons in ons lewens saamdra. En wat Kersfees te sê het juis oor hierdie vrese. En kom ek verduidelik.

Miskien is daar vanoggend mense hier wat, indien hulle nou iets sou kon sê, sou sê: asseblief tog — los nou hierdie bangmaak stories. Dit is immers Kersfees man. Laat ons tog hierdie een dag geniet, hierdie een dag ontspan — daar is oorgenoeg dae in die jaar oor waarop ons bang en benoud kan wees. Ja, my broer en suster, u is heel waarskynlik reg. En heel waarskynlik baie gelukkig ook.

Maar ander is egter nie so gelukkig nie. Want daar is mense wat vanoggend hier sit, en nog baie ander daar buite, wat bang is vir Kersfees. Bang omdat hulle weet hulle hierdie Kersdag alleen gaan wees — al is sommiges van hulle tussen mense. Bang omdat hulle alleen gaan sit met siekte wat bekruip, terwyl ander gesond is. Bang omdat hulle weet dat dit heel waarskynlik hulle laaste Kersfees saam met hulle kinders sal wees. Party is bang vir Kersfees omdat hulle weet dat hulle juis op daardie dag so gaan verlang, so baie gaan verlang na iemand wat nie meer daar is nie. En hulle weet, hierdie verlang gaan seermaak, hierdie alleenwees gaan seer maak. Baie, baie seer.

Gelukkig, broers en susters, baie gelukkig is ons wat nie vandag so voel nie. Maar al voel ons vandag nie so nie — of ons dit nou wil erken of nie: daar kom ook maar tye in ons lewe wanneer ons bang is. Niemand weet immers wat vir hom of haar voorlê nie.

Ongelukkig gaan baie van ons deur die lewe soos wat die ou kinderliedjie sê : Ek's 'n dapper muis, kyk hoe stap ek deur die huis, en daar is niks waarvoor ek skrik nie . Dapper muis of nie, broers en susters: ‘n mens kan nie vir ewig jou vrese en jou bekommernisse probeer wegpraat, wegwens, ignoreer nie. Veral nie weg-Kersfees nie, soos baie probeer doen. Ja, ook die dapperste van dapper muise moet een of ander tyd begin erken: hier is baie dinge in hierdie huis waarvoor ek eintlik regtig skrik.

Ons almal sit met vrese, broers en susters. Ook dié wie se lewens die meeste sorgvry behoort te wees, ons jongmense, ons kinders. Ook hulle worstel met vrese. Hulle is bang om lief te hê en dan seer te kry, bang vir die toekoms, bang vir mislukking, bang hulle pas nie in by die groep nie, bang hulle stel hulle ouers teleur. En met soveel vrese wat hulle jaag, probeer jongmense dan dikwels allerhande verkeerde ontsnaproetes. En u weet waarvan ek praat.

Ja, en ook ons groot dapper muise het maar ons vrese. Om die waarheid te sê, dit is feitlik deel van ons lewens. En ons besef dalk nie hoe baie nie, maar hierdie vrese van ons bepaal baie keer die verloop van ons lewens:

  • omdat ons bang is vir misdaad, trek ons na 'n ander voorstad, 'n ander provinsie, 'n ander land toe. Of ons tronk onsself op waar ons woon en wat ons gewoontes betref.;
  • omdat ons bang is ons word dalk afbetaal, neem ons voortydig 'n pakket;
  • omdat dit dalk in ons familie se geskiedenis en gene loop, is ons bang ons kry kanker of 'n hartaanval. En daarom geniet en waardeer ons nie die goeie gesondheid wat ons nou het nie, want ons is so bang vir die dag wanneer dit gaan ophou;
  • ons is bang ons verloor ons werk of dat ons geld so min werd sal wees dat ons nie meer vir ons families sal kan sorg nie; ons is bang dat ons kinders meegesleur sal word deur die baie negatiewe dinge waarmee soveel jongmense hulle deesdae besig hou; ons is bang vir die toenemende geweld en misdaad, bang ons is die volgende slagoffers in die ongekende slagting wat op ons paaie plaasvind; ons is bang vir die eensaamheid, die verswakkende gesondheid wat die ouderdom meebring; ons is angsbevange as ons dink dat ons iemand naby aan ons kan verloor;
  • en vrees vir daardie laaste vyand, die donkerste troef, die dood, sluimer maar ook in elkeen van ons.

Om so te vrees, is deel van die lewe. En soms is dit goed om bang te wees. Gesonde vrees keer dikwels dat ‘n mens nie halsoorkop in gevaarlike situasies inboender nie. Vrees kan selfs 'n skeppende krag wees: omdat jy bang is jy gaan nie slaag nie, sit jy net soveel meer in. Omdat jy bang is jy gaan nie betyds klaarmaak nie, begin jy betyds en handel alles baie beter en rustiger af.

Die moeilikheid kom egter wanneer ons vrese vir ons tronkmure word, wanneer ons deur ons vrese totaal lamgelê word; wanneer ons so bang word vir dinge wat dalk kan skeefloop dat ons hoegenaamd nie dié dinge wat regloop in ons lewens eers meer raaksien of waardeer nie.

Kersfees sê: erken hierdie vrese. Neem kennis van hierdie vrese waarmee jy saamleef. En weet as jy bang is: jy is nie die eerste een of die enigste een wat met vrese saamleef nie. Baie saam met jou, elke dag, voel so. Almal erken dit net nie.

Meer nog: met die eerste Kersfees was daar ook vrees. Sagaria was bang toe die engel aan hulle verskyn het, so ook Maria en die skaapwagters. Die wyse manne was bang vir Herodes, so ook Josef en Maria. Die eerste Kersfees was soos die lewe werklik is: emosies van blydskap en vrees, blydskap en hartseer, die goed en die sleg. Alles was deel daarvan.

Kersfees sê: moenie hierdie realiteit van die lewe juis tydens Kersfees probeer ignoreer, vroom te maak asof hulle nie bestaan nie, om te probeer om hulle tydelik dood te jol of te party nie. Want as jy Kersfees wil gebruik as geleentheid om jou vrese weg te wens, weg te kuier, weg te ignoreer, gaan jy sukkel om by die ware betekenis van Kersfees uit te kom en dan gaan jou vrees naderhand 'n wanhopige vrees wees, 'n vrees waarvoor daar nie 'n sprankie hoop meer bestaan nie, 'n vrees wat nooit ooit die liefde, vreugde, en welbehae van Kersfees meer sal ken nie.

Hoekom? Want Kersfees sonder vrees is vrees sonder Kersfees. En Kersfees met vrees is vrees met Kersfees. Presies soos dit vir Sagaria, Maria en die skaapwagters was. Toe Sagaria skrik vir die engel, was die engel se woorde: ‘Moenie bang wees nie, Sagaria, want jou gebed is verhoor’. Wanneer Maria bang is, sê die engel vir haar: Moenie bang wees nie, God bewys genade aan jou. En wanneer die skaapwagters groot skrik en bang is, hoor hulle: moenie bang wees nie, vandag is vir julle die Verlosser gebore.

Kersfees sê dus: wees maar bang, want God sal julle genadig wees, vertel God maar van jou vrese, Hy sal jou gebed verhoor, wees bewus van jou vrese, maar hoor ook dat daar vandag vir jou ‘n Verlosser gebore is. Ignoreer egter hierdie vrese, gaan nie hierdie Kersfees met jou vrese na God toe nie, en jou vrese sal inderdaad sonder Kersfees wees: sonder die Verlosser, sonder God se genade, sonder God se beloftes.

Ek weet nie, my broer en suster, wat u vrese vandag is nie; ek weet ook nie wat die toekoms vir u en vir my inhou nie. Maar net so voor Kersdag wil ek u nooi: tel u bondeltjie vrese op, tel dit op en kom saam met my. Kom saam met my in die geloof weer na Bethlehem toe. En kom ons gaan kniel voor die krip en luister weer wat die engel sê: ‘Moenie bang wees nie, want kyk, ek bring vir julle ’n goeie tyding van groot blydskap wat vir die hele volk bestem is. 11Vandag is daar vir julle in die stad van Dawid die Verlosser gebore, Christus die Here! 12En dit is vir julle die teken: julle sal ’n kindjie vind wat in doeke toegedraai is en in ’n krip lê.”

Al is u lewensomstandighede ook hoe skrikwekkend, al lyk die toekoms ook hoe donker — moenie bang wees nie — want ook vir u en vir my was daar eenmaal 'n teken, 'n kindjie wat in doeke toegedraai is en in 'n krip lê — die sekerste bewys van God se liefde.

El sluit af: in sy verduideliking van wat hy met die spreuk ‘Kersfees sonder vrees is vrees sonder Kersfees’ bedoel het, sê Barth: vrees het aan die deur geklop; geloof het oopgemaak — en toe was daar niemand daar nie!

Kom ons vier hierdie Kersfees met hierdie geloof: ons hoef nie bang te wees nie, wat ‘n Verlosser is vir ons gebore. ‘n Verlosser wat later self gesê en belowe het: ‘Ek sal jou nooit verlaat nie, jou nooit in die steek laat nie.’ Hy sal ook nie, broers en susters, want Hy is Immanuel — God met ons! Daarom: Moenie bang wees nie. Moenie — asseblief.
Amen