Matteus 1:18-25

'n Paar gedagtes rondom Kersfees



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
Mense, broers en susters, vrae soms nogal snaakse vrae oor die Bybel. Vrae soos:

  • Na Adam en Eva se skepping, waar het al die mense ewe skielik vandaan gekom?
  • Het Eva ooit weer vrugte geëet na die episode in die tuin?
  • Het Jona ooit weer vis geëet na sy episode in die maag van die vis?
  • Het Moses bosse vermy nadat God hom by wyse van die brandende besembos ontmoet het?
  • Het Petrus ooit weer probeer om op die water te loop?
  • Sou enige vrou met Paulus getrou het as hy haar gevra het om dit te doen?

En so kan ons aangaan. Snaakse soort van vrae, dit gee ek gelyk, maar vrae wat by mense opkom omdat die Bybel dikwels soos 'n heining vol gate is waardeur ons kan loer maar nie altyd die hele prentjie kan sien nie. Of anders gesê: dikwels is die Bybel soos 'n boek vol foto’s van mense in hulle ontmoeting met God, sonder dat die gevolg van alles altyd vertel word. Daarom wonder 'n mens maar soms maar oor vrae soos:

  • nadat die besetene van Gedara gesondgemaak is en huis toe gegaan het, hoe het sy huismense reageer?
  • of, nadat die dissipels Jesus verlaat het, hoe het hulle gevoel en wat het hulle gedoen, en so kan ons aangaan.

'n Saak in die Bybel waaroor daar net soveel vrae gevra word, en wel vrae wat miskien meer belangrik is en 'n bietjie meer om die lyf het, is die geboorte van Christus.

  • Die herbergier, byvoorbeeld, wat te besig was om God te verwelkom, het hy geweet wie hy weggewys het?
  • die herders en die sterrekykers, waar het hulle vandaan gekom, en wat het later van hulle geword? Het hulle byvoorbeeld later Jesus gevolg?

En ook Josef, broers en susters. Ek wil amper sê: veral Josef. Wat ook wat met hom gebeur het, vertel die Bybel ons niks van nie. En dit is eintlik vreemd, veral as ons kyk na hoe 'n geweldige belangrike rol hy speel in die eerste gedeelte van Jesus se lewe, maar dat ons later niks van hom hoor of lees nie. Want behalwe 'n kort beskrywing van sy teenwoordig wees by Jesus se optrede as twaalfjarige in die tempel, lees ons verder niks van hom nie. Oor die res van sy lewe kan 'n mens net wonder.

Maar kom ons wonder maar gerus so 'n bietjie vanoggend, broers en susters, oor Josef. Wat dink u, het Josef byvoorbeeld gedink terwyl Maria besig was om geboorte te skenk aan die Messias? Miskien, broers en susters, het hy by homself geloop en sê:

Dit is nie soos ek dit beplan het nie, God. Glad nie. My kind wat in 'n stal gebore word. In 'n grot met skape en donkies, hooi en strooi. My vrou gee geboorte, en al wat kan sien en hoor is die sterre in die hemel. Dit is nie soos ek dit voorgestel het nie. Nee, ek het gedink, soos dit vir ons mense normaal sou wees, dat my familie hier sou wees. Ek het gesien hoe die oumas en die bure en vriende saam met my by die deur saamdrom in afwagting van die geboorte. Die vroed­vrou (soos dit ook in daardie tyd gepas was), sou my kind aan my oorhandig, en almal sou vir my hande klap. Maria sou rus en ons sou die geboorte vier. Almal in Nasaret sou deel hê aan die feesvieringe.

Maar nou. Kyk nou. Nasaret is vyf dae ver. En hier is ons in 'n skaapweiveld. Wie sal saam met ons hierdie heuglike gebeurtenis vier? Die skape, die herders en die sterre? Dit lyk net nie reg nie.

Watter soort man is ek? Ek bied my vrou geen vroedvrou om haar te help nie. Geen bed waarop sy kan rus nie. Haar kussing is die kombers van 'n donkie, en die huis wat ek haar bied is 'n stal vol hooi en strooi.

Het ek iets gemis, o God? Toe U die engel gestuur het en gesê het 'n seun sal vir ons gebore word, was dit beslis nie wat ek myself voorgestel het nie. Ek het gedink ons sou in Jerusalem wees, in die tempel waar die priesters sou saamdrom om deel van alles te wees, deel van die Messias se geboorte. Want dit is tog immers juis die Messias wat hier gebore word.

Of selfs sou miskien Nasaret ook geskik kon wees. Daar het ek darem my huis en my besigheid. Daar sou darem 'n bed wees, warm water en ander om te help en te deel in al die vreugde.

Maar miskien, broers en susters, en ek wil amper sê, heel waarskynlik, het Josef die geboorte van Jesus totaal anders beleef. Miskien het hy eerder gesê: God, die geboorte van die Messias het ek myself totaal anders voorgestel as in 'n stal saam met skape en donkies. Eerder in Jerusalem in die tempel. Maar hierdie kind wat gebore word is nie my kind nie, dit is U kind. Alles was U plan. Dit het ek van die begin af besef. Daarom het ek die boodskap van die engel aanvaar. Daarom kon ek die vrae oor Maria se swangerskap hanteer. Daarom was ek bereid om na Bethlehem te gaan toe ons moes.

En daarom, wanneer Maria nou gaan geboorte skenk, is dit nie aan 'n kind nie, maar aan 'n Messias. Nie aan 'n baba nie, maar aan God. Dit is wat die engel gesê het. Dit is wat Maria glo. En Here, my God, dit is ook wat ek glo.

Al verstaan ek dit nie alles nie. Al is ek maar net 'n timmerman, iemand wat hout se kante afskaaf, wat twee maal meet voor ek sny/saag. Maar hierdie keer, besef ek, is ek nie die bouer, die timmerman nie. Hierdie keer is ek die hamer en saag en skaaf in U hand. Die spyker tussen u vingers, die beitel in U hand. Hierdie is u projek, nie myne nie. En daarom is alles goed en reg soos dit is. Want U wou dit so gehad het.

Natuurlik, broers en susters, spekuleer ons, wonder ons maar net, wanneer ons op hierdie vlak na Josef se gedagtes tydens Jesus se geboorte kyk. En ek wil weer sê: dit is maar net spe­kulasie, ons wonder maar net so 'n bietjie. Maar miskien is dit goed dat ons dit doen, broers en susters, want ook u en ek het al dikwels in Josef se skoene gestaan.

Want ook almal van ons, broers en susters, was al in sekere tye van ons lewe vasgevang tussen dit wat God beveel en dit wat vir ons sin maak. Jy het byvoorbeeld gedoen wat Hy jou beveel het om te doen, net sodat jy later begin wonder het of dit regtig Hy was wat met jou gepraat het. En jy het begin vra wat Josef gevra het.

Jy het gevra of jy steeds op die regte pad was. Jy het gevra of jy veronderstel was om links te draai toe jy regs gedraai het. En jy het dalk ook gevra of daar 'n plan agter alles was wat met jou aan die gebeur was. Want dinge het nie verloop soos jy gemeen het dit moes nie.

Almal van ons, broers en susters, weet hoe dit is om snags na lig te soek. Nie buite 'n stal nie, maar dalk buite 'n ongevalle saal of intensiewe afdeling waar iemand van ons kritiek lê. Of op die grond langs die pad. Of selfs op die groen gras in die begraafplaas. Ja, broers en susters, almal van ons het miskien al op 'n keer God se plan bevraagteken. En gewonder waarom God doen wat Hy doen.

En as dit so is, broers en susters, as u ook al soos Josef met 'n vrae voor God geworstel het, het hierdie gedeelte van vanoggend vir ons 'n geweldig belangrike boodskap. Dit wil sê: wanneer u en ek soos Josef worstel met vrae en omstandighede, doen net soos Josef gedoen het. Ge­hoorsaam. Want dit is wat hy gedoen het. Hy het gehoorsaam. Hy het gehoorsaam toe die engel geroep het. Hy het gehoorsaam toe Maria verduidelik het. Hy was gehoorsaam aan God, ja, toe dit lig en donker was. En hy het nie toegelaat dat sy vrae en verwardheid sy gehoorsaamheid beïnvloed nie. Hy het beslis nie alles geweet nie. Maar hy het gedoen wat hy geweet het hy moes doen. Hy het sy besigheid toegemaak, sy gesin geneem en na 'n ander land gegaan. En waarom? Omdat dit was wat God hom beveel het om te doen.

God, broers en susters, soek vandag nog Josefs. Mense wat glo dat God nog in beheer is, dat God nog die lewe en die wêreld onderhou en in sy hand het. Gewone mense wat bereid is om 'n God wat soms, in hulle oë, ongewoon optree, te dien. Is ons bereid, broers en susters, om hierdie soort mens te wees? Is ons bereid om te sien, te hoor en te doen, al verstaan ons nie al is nie. Al wonder ons. Al twyfel ons? Al beantwoord God nie al ons vrae nie?

Hierdie vraag moet u self antwoord. My antwoord, persoonlik, is ja. Ons kan hierdie soort mens wees. Hoekom? Want, broers en susters, al is die verhaal van die Bybel soms soos 'n heining vol gate waardeur ons maar net kan loer en nie alles kan sien nie, of soos 'n fotoboek van mense wie se stories nie altyd heeltemal vertel word nie, is daar een ding waaroor ons nooit hoef te twyfel nie. Sy Seun is vir ons gebore.

Gee God nog om? Maak ons vir God saak? Is Hy nog lief vir sy kinders? Deur die gesiggie van 'n baba in die stal antwoord Hy op al hierdie vrae ja.
Ja, jou sondes is vergewe.
Ja, jou naam staan in die boek van die lewe geskrywe.
Ja, die dood is oorwin.
En ja, God het in jou wêreld binnegekom.

Want, sê Matteus 1:23: Die maagd sal swanger word en 'n Seun in die wêreld bring, en hulle sal Hom Immanuel noem. En die naam beteken: God met ons, God by ons, God by U en God by my.
Amen