Johannes 1:1-18

‘n Suid-Afrikaanse Kersfees



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
Ons bly aan die suidpunt van Afrika. In die suidelike halfrond. En elke jaar vier ons Kersfees, ‘n vreemde Kersfees. Want ons vier Kersfees asof ons in die noordelike halfrond bly. Iewers in die noordpool. Waar dit winter en koud is. Terwyl ons somer beleef met sy warmte.
Dink maar net hoe die Kerskaarte lyk wat ons vir mekaar stuur: dit het Kersvader voorop, in die sneeu, met ‘n slee en takbokke. En ons stuur hulle vir mekaar in rooi koeverte, met groen seëls en plakkers van Kersbome op.

Dieselfde geld vir ons Kersversierings. Ook dit is nie eie aan waar ons bly en wie ons is nie (om nie eers te praat van hoe dit was met die heel eerste Kersfees nie!). Groen dennebome en misteltakkies, rooi bessies en wit sneeu. Selfs van ons mees geliefde liedere tydens Kersfees, soos byvoorbeeld Stille nag, heilige nag, kom vanuit die noordelike halfrond. En dink maar aan een van ons mees geliefde sekulêre Kersliedere: I’m dreaming of a white Christmas.

Dit alles, broers en susters, het gemaak dat ons Kersfees as iets vreemds en romanties begin ervaar het. Vol misterie. Iets soos ‘n sprokie wat kom uit ‘n sprokieswêreld. Iets waarvan ons maar net kan droom. En wat gebeur? Hier aan die suidpunt van Afrika vier ons jaar na jaar ‘n vreemde soort Kersfees. En juis daarom vat die sprokie wat Kersfees vir ons geword het nie grond nie, en verdwyn dit sommer baie gou na Kersfees in dieselfde mandjie saam met al die ander bekende sprokiesverhale van die wêreld.

Ons onbewuste behoefte om iets eie aan Kersfees te kan hê, kom pragtig na vore in Koos du Plessis se lied Somerkersfees, wat in die Liedboek van die kerk as Welkom, o stille nag van vrede (Gesang 358) opgeneem is. In die tydperk van een jaar het hierdie gesang so gewild geword, dat dit self meer as Stille na, heilige nag, gesing word.

‘n Verdere pragtige voorbeeld is die gedig van D J Opperman (Kersliedjie), wat die geboorte van Jesus binne ‘n Suid-Afrikaanse konteks omdig:

Drie outas het in die vaal Karoo
die ster gesien en die engel geglo,
hul kieries en drie bondels gevat
en aangestryk met 'n jakkalspad.

Al agter die ding wat skuiwend skyn
op ‘n plakkie, ‘n klip, ‘n syferfontein,
hulle loop toe nog ‘n bietjie wes
tot waar ‘n kersie brand in 'n stukkende fles,
en daar tussen esels en makriel
die krip gesien en neergekniel.

Die skaapvet, eiers en biltong
nederig gelê voor God se klong
en die Here gedank in gesang en gebed
vir 'n kindjie wat ook dié volk sou red...
En oor die hele affêre het uit ‘n hoek
‘n broeis bantam agterdogtig gekloek.

Twee voorbeelde, broers en susters, die een met woord en lied en die ander met woord in poësie, wat Kersfees huis toe wil bring. Na ons toe. Wat Kersfees inheems wil maak.

Wat, broers en susters, myns insiens geweldig belangrik is. Want solank Jesus vir ons net die Jesus van Betlehem en Nasaret bly, solank Kersfees bloot die viering van ‘n sprokiesagtige geboorte van ‘n Kindjie met ‘n stralekrans in ‘n romantiese stalletjie is, verstaan ons nog nie die essensie van die evangelie nie. En sal evangelie van Kersfees nooit in ons land, gemeenskap en eie lewens tuiskom nie.

Hoe broers en susters, kan ons vir ‘n slag ‘n Suid-Afrikaanse Kersfees vier? Dit is die vraag wat ek met die inleidende gedeelte van die prediking vanoggend aan die orde wil stel. Hoe kan ons vir ‘n slag wegkom van ‘n noordelike Kersfees met sy groen dennebome en mistel-takkies, rooi bessies, Kersvader en sy slee op spierwit sneeu?. Of, in die woorde van Koos du Plessis, waarvoor hoop en bid ons as ons in Gesang 358 sing (bid): Skenk ons ‘n helder Somerkersfees in hierdie land, o Heer.

Die gedeelte wat ons in Johannes saamgelees het, kan ons hier help. Johannes, broers en susters, vertel vir ons van Jesus se menswording (geboorte) op ‘n besondere manier. Anders as Matteus en Lukas lees ons in Johannes se vertelling van die geboorte van Jesus nie van die skaapwagters, die ster, die engele, die sterrekykers en die krip nie.

Nee. Johannes laat val die klem op die betekenis van Jesus se geboorte. Jesus se geboorte, sê Johannes, beteken vir ons dat

  • daar vir ons lewe gekom het;
  • die Lig gekom het om ons te verlig (dat ons kan sien wie en wat ons is — sondaars wat verlossing nodig het);
  • die wat Hom aangeneem het, die voorreg het om kinders van God genoem te kan word.

Die geboorte van Jesus, sê Johannes, is nie ‘n mooi storie vol pragtige karakters soos skaapwagters, engele en sterrekykers nie. Nee. Die geboorte van Jesus beteken dat God ‘n mens geword het. Vir sondaarmense. Dat die ewige God so menslik naby ons gekom, dat dit is asof Hyself sy tentjie teenaan ons s’ n kom opslaan het. Omdat ons verlossing nodig het.

Modern oorvertaal, broers en susters, wil Johannes van Jesus se geboorte die volgende sê: As ons grootste behoefte inligting was, sou God vir ons ‘n opvoedkundige gestuur het. As ons grootste behoefte tegnologie was, sou God vir ons ‘n wetenskaplike gestuur het. As ons grootste behoefte geld was, sou God vir ons ‘n ekonoom gestuur het. Maar aangesien ons grootste behoefte verlossing en vergifnis is, het God vir ons ‘n Verlosser gestuur.

‘n Verlosser wat Lig in duisternis is, wat lewe gee, wat verlossing gee, wat vergifnis gee, wat ons kinders van God maak. Ja, wat ons elkeen liefhet asof daar net een mens, ek alleen, in die wêreld is om lief te hê.

Hoe, broers en susters, vier ons dan, op grond van dit wat Johannes hierbo sê, ‘n eg Suid-Afrikaanse Kersfees? Dit begin waar ons hoor dat Johannes sê dat God soos ons geword, sodat ons soos Hy kan word.

Soos Hy:

  • aan ander lewe kan gee
  • ander kan vergewe;
  • vir ander die lig in ‘n donker wêreld kan wees
  • ja, ander kan liefhê asof daar net een is om lief te hê in die hele wêreld.

As ons dit gaan doen, broers en susters, dit aan mekaar gaan gee wat God aan ons gegee het, in ons omstandighede, volgens ons eie behoeftes, dan vier ons ‘n Suid-Afrikaanse Kersfees. Los van die wit sneeu, rooi bessies en misteltakkies. Los van die sprokieswêreld wat Kersfees vir so baie geword het. Ja, in ons wêreld. In ons huise. In ons kerke. In ons gemeenskappe. Daar moet ons vir ander word wat God vir ons in Christus geword het. Daar moet ons mekaar liefhê soos God ons liefhet. Dan is ons soos ‘n lig wat in die duisternis skyn, soos ‘n ster wat mense na God lei.

Ek sluit af: Kersfees wil nie vir ons ‘n soetsappige storie vertel dat God na ons toe gekom het nie. Nee. Kersfees wil sê dat Jesus God se kommunikasie met ons is. Vreemde kommunikasie, op ‘n onverwagte plek en manier. Want Jesus, as koning van die Jode, word nie in Herodes se paleis gebore nie, maar in ‘n skaapkraal, hy kom nie in die gedaante van ‘n slim Skrifgeleerde nie, maar in die gedaante van ‘n pap babatjie. In Betlehem en nie in Jerusalem nie.

Ja, Hy kom op ‘n manier en op plekke hoe en waar die mens Hom nie verwag het nie. En so moet dit ook met ons wees. Ook ons moet, as God se lig, as die wat lewe gee, as die wat vergewe, as die wat vrede soek, as die wat liefhet, dit op maniere en plekke doen hoe en waar ander dit nie verwag nie.

Ja, in ‘n volgepakte kerk soos vanoggend, maar ook daar waar net die bantamhoendertjie die getuie is. Dit wil sê: oral. Altyd. Dan vier ons ‘n Somerkersfees. Reg deur die jaar. Dan het Kersfees waar ons woon, werk en leef, tuisgekom.
Amen