Matteus 2:13-23

Om Kersfees te vier is gevaarlik



Broers en susters in onse Here Jesus Christus

Die verhaal van Kersfees is ‘n baie mooi verhaal. Dit is ‘n verhaal met so mooi sagte en vredevolle atmosfeer, ‘n verhaal van ‘n babatjie in ‘n krip, van ‘n menigte van engele wat van vrede sing, ‘n byna sprokiesagtige verhaal van herders en sterrekykers, ‘n verhaal van drome, goud, wierook en mirre. Ja, dit is ‘n verhaal wat menige kind blinkoog laat, en soos dit seker ook gebeur het terwyl ons so pas oor die Kersgebeure gesing het, ‘n verhaal wat menigte volwassene met ‘n knop in die keel laat.

Die verhaal van Kersfees, broers en susters, het egter ook ‘n ander kant, ‘n skerp kant, ‘n harde kant, ‘n kant waarvan vrede nie deel is nie. Want die Kersverhaal, broers en susters, is ook ‘n verhaal van kindermoord, ‘n verhaal van magtige menere soos Herodes, ‘n verhaal van gryp na mag in ‘n wêreld waarin kinders bloei en massas mense honger lang afstande aflê net om getel te word.

Maar nog meer: die koms van hierdie kindjie na die wêreld, vertel Matteus ons, roep ‘n heftige reaksie by die wêreld op. In Herodes staan die wêreld teen God op, en loop die wêreld die hemel storm. Ja, in die wêreld waarin Jesus gebore word waarsku die engel nie altyd in ‘n droom nie, maar kom die waarskuwings oor die sondige aard van hierdie wêreld in die vorm van vrees, verwerping, moord en doodslag.

En in hierdie proses ly juis die onskuldiges soms swaar. Soos Jesus: ‘n kindjie word gebore, en ander kindertjies sterf. En later word Jesus ‘n offer juis vir sy vyande, en al verlaat God Hom nooit, kies Hy later self om Godverlate aan ‘n rowwe kruishout te hang.

Ja, broers en susters, dit is so: dit is lekkerder om na die sterre te kyk as na die wrede wêreld rondom ons. Dit is aangenamer om by te staan waar ‘n kind gebore word as by die graf van ‘n kind. Maar dit is die lewe. Dit is die wêreld waarin u en ek leef. En juis dit wil Matteus vir ons, met sy verhaal van hierdie Kind, duidelik maak: Kersfees het ook ‘n skerp kant, ‘n harde kant, ‘n kruiskant.

Daarom, broers en susters, die hardheid waarmee Matteus sy Kersverhaal vertel, is nie maar net ‘n gier nie, dit is die werklikheid. Want Kersfees is ‘n sagte en harde verhaal, ‘n verhaal van drome, maar ook ‘n verhaal van drome wat uitmekaar spat. Want die geskiedenis van God in Christus begin by ‘n krip, maar eindig aan ‘n kruis. Dit begin waar vreemdes van vêr kom om aan Hom hulde te bring, maar eindig waar sy eie mense - sommer naby aan Hom - of sê hulle ken Hom nie, of Hom alleen aan ‘n kruis laat hang.

Dit begin waar ‘n kindjie in ‘n krip lê, maar gaan oor in skreeuende kinders wat met swaard en spies deurboor word, dit vertel van ‘n vader en moeder wat bly is, maar van ander moeders wat moedeloos en huilend probeer keer en die strate van Bethlehem vul. Ja, Kersfees uit die perspektief van ‘n kermende moeder is iets anders as die van ‘n blinkoogkind!

Dus, broers en susters, om Kersfees te vier is gevaarlik. Want wie hom/haar wil vereenselwig met die krip, moet hom/haar ook vereenselwig met die kruis. Want Kersfees bestaan uit krip en kruis, vrede en onvrede, lewe en dood, vertel Matteus ons hier. Of, kom ons sê dit anders: Kersfees bestaan uit vreugde en hartseer, uit gawe en opgawe, gawe en opdrag.

Want wie in die Jesuskind in die krip wil glo, moet ook bereid wees om in die man, Jesus van Nasaret, te glo. En wie graag na Jesus wil gaan daar waar hy onskuldig in ‘n krip lê, moet ook bereid wees om agter Hom aan te stap, ja, tot selfs by die kruis. Dit is alles of niks. Want wie Jesus in die krip aanbid, moet ook bely dat Hy die Seun van God is wanneer Hy aan die kruis hang.

En wie bely dat Jesus die Seun van God is, word self kinders van God. En wie kinders van God is, behoort aan God gehoorsaam te wees soos sy enigste Seun was. Gehoorsaamheid wat eis dat ons onsself sal verloën, ons kruis op te neem, en Hom waaragtig te volg. Al vra dit wat. Al vra dit hoeveel. Al vra dit alles. Al vra dit meer as alles.

Matteus, broers en susters, draai nie doekies om wanneer hy ons van Jesus se geboorte vertel nie. U kan vra: maar hoe rym die gejubel en opgewondenheid van kinders rondom Kersfeesbome en oop geskenke met die kindergeskreeu in Bethlehem? Meer nog: hoe rym die boodskap en belofte van Kersfees, vrede op aarde en in alle mense ‘n welbehae, met die brutaliteit en verval en onvrede van die wêreld waarin ons leef?

Matteus vra egter: wat het julle met Kersfees gaan maak, is dit die uitwerking wat julle viering van Kersfees op julle wêreld het en gehad het? Het julle dalk net na die sterre gekyk, maar nie ook na die wêreld waarin julle staan nie? Het julle net na die boodskap van vrede geluister, maar die onvrede in, by en rondom julle geïgnoreer? En: het julle nie dalk so vasgesteek by die krip, dat julle vergeet het daar is ‘n kruis - veral baie kruise van ander - in hierdie wêreld nie? Of: was julle maar te bly oor die gawe van hierdie Kindjie, maar wou nie gaan uitleef wat hierdie Gawe van julle gevra het nie?

Daar word ‘n verhaal vertel van ‘n dorpie wat tydens die Tweede Wêreldoorlog erg gebombardeer is. Feitlik al die geboue is platgevee, die kerkie in die middel van die dorp was halfpad verwoes, en die helfte van die dorpie se inwoners is gedood. Die volgende dag het iemand die kerkklok, wat wonderbaarlik deur die bomme gespaar is, begin lui, en die mense wat kon het na die kerk gestroom. Hier en daar het nog ‘n stukkende bank gestaan waarop gesit kon word. Sangbundeltjies is onder die puin uitgehaal, sommige verbrand, sommige smeulend. En in die puin, tussen die rook en dood, het die gemeente gesing. Hoekom? Want sien, dit was Kersfees.... Kersfees tussen die puin en dood, ‘n dag van dood en lewe, ‘n dag van hartseer en vreugde, ‘n dag van moedeloosheid en hoop.

Dit is hoe ons Kersfees behoort te vier. Deur na die sterre te kyk, maar ook na die wrede wêreld. Deur kinderlaggies by oop geskenke te hoor, maar ook kindergeween sonder die basiese, kos en klere. Deur bly te wees oor hierdie Seun, maar ook te huil saam met die wat treur. Deur God te dank vir sy vredesgeskenk aan ons in Christus, maar ook deur vredesgeskenke aan ander uit te deel. Al vra dit wat.

Want Kersfees het ‘n sagte kant, maar ook ‘n harde kant. Kersfees bestaan uit ‘n krip, maar ook uit ‘n kruis. Die een kom nie sonder die ander nie. En die een kan nie aanvaar word sonder om die ander te gaan doen nie. Daarom: om Kersfees met oorgawe te vier, is uiters gevaarlik.
Amen