Matteus 2:13-18; Lukas 2:8-14

Stille nag, onheilige nag



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
Oukersaand van 1945 was vir baie gelowiges in Europa tye van oorlog. Op een van die oorlogsfronte het daar egter op hierdie Oukersaand iets wonderliks gebeur. Die twee linies het naby mekaar gelê, en was die vorige paar dae in hewige gevegte betrokke.

Maar toe kom die kraak oor die veldradio. Kersfeeswense van die vyand af. Kersfeeswense wat terug beantwoord is en wat die hele gemoed op die front verander het. Die soldate het begin om die oorlogsfront so ‘n bietjie vroliker te maak. Kersfeesboompies is uit swart takke gemaak, en met metaalblikkies en stukkies skrapnel behang. Goeie wense is van loopgraaf tot loopgraaf gestuur. Daar was skielik vrede, veral vrede in mense se harte. Toe kraak die veldradio weer, en die wysie van Stille nag, Heilige nag, vul die koue naglug.

Toe gaan daar egter ‘n alarm op. Alles was ‘n set. Die vyand het besluit om teen alle militêre etiket in ‘n aanval te loods. Voordat jy kon sê mes was die vyand uit hulle loopgrawe, en met blitsende bajonette aan die storm. Dit was weer oorlog: man teen man, staal teen staal, vernuf teen vernuf. Daar was geskree, en bloed het op die wit sneeu gedrup. Maar daar was ook ‘n ander geluid. Eenkant het die radio nog steeds gespeel: die wysie van Stille nag, Heilige nag.

Klink hierdie gebeure vir u makaber, broers en susters? Onmoontlik, onmenslik? So asof so iets nooit kon gebeur het nie? Die feit is: dit het. Wat meer is. Dinge soos hierdie gebeur elke dag. Want dit is tipies van ons wêreld.

Trouens, dit het gebeur baie kort na die heel eerste Kersfees. Wanneer ‘n mens Matteus se vertelling oor Jesus Christus lees, staan ‘n mens nog een oomblik met ‘n knop in die keel by aanskoue van die kind in die krip, blinkoog in die lig van die ster bo die stal, en die volgende oomblik neem die evangelieskrywer jou met ‘n paar verse wreed weg na die straatjies van Bethlehem waar die moeders keer en kerm en die seuntjies skree en sterf.

Skaars is die ster weg of die swaard van Herodes word geswaai. Gister nog het die engele op die velde van Efrata van vrede gesing, en nou vloei dit bloed van babaseuntjies in afleivore.

Ja, skaars is ‘n Seun gebore, of ander babaseuntjies sterf. Skaars het die Jesuskind sy eerste babakrete gegee, of ander seuntjie blaas die laaste asem stuiptrekkend uit.

Ja, broers en susters, aan die een kant word daar gesing:
O, die vrolike, o die salige...

En aan die ander sê Matteus 2:18:
‘n Gekerm word op Rama gehoor,
‘n gehuil en ‘n groot gejammer:
Ragel treur oor haar kinders
en wil nie getroos word nie,
omdat hulle nie meer daar is nie.

So, tipies, broers en susters, van ons tyd. So tipies, dalk ook, van ons eie lewens. Die hele jaar sit ons oorhoeks met hierdie of daardie familielid. Maar as Kersfees kom, eet ons saam die Kersfeesmaal. Dit is mos ‘n tyd van saamwees. ‘n Tyd van deel, ‘n tyd van gee. In rustige vrede. So asof daar niks fout is nie. Maar laat die volgende dag of dae maar net kom, dan neem ons weer die bajonette op, en staan soos man teen man. Terwyl die deuntjie van Stille nag, Heilige nag, nog rustig in die agtergrond speel.

Ja, die engele sing van vrede. En terwyl hulle so sing, sit ons rustig saam op Kersdag. Ons kyk maar selfs rustig in die oë. Maar binne brand dit van haat en woede. En saam luister ons rustig na die deuntjie van Stille nag, Heilige nag.

Nog erger: die hele jaar leef ek sonder God. Is daar nie vrede in my nie, omdat God nie in my lewe nie. Dit pas my nie om in my besige program nog vir God ook tyd te maak nie. Dit is mos eintlik ook nie nodig nie. Want God het my mos nie nodig nie. Hy is mos Almagtig, Hy kan self oor die weg kom. En Hy weet mos, wanneer ek Hom nodig het, sal ek praat. Maar kom Kersfees, en dit my pas om met God besig te wees, want almal is mos met God tydens Kersfees besig (altans, hulle dink immers so), dan praat ek van hierdie vrede van God. Dan wil ek dit beleef. Dan wil ek ewe skielik hê dat my verhouding met God reg sal wees. Terwyl ek maar te goed weet dat alles behalwe reg is met my verhouding met my God. Ja, terwyl ek sing Stille nag, Heilige nag, is alles behalwe in my stil, en my aanbidding alles behalwe heilig.

Of ‘n ander voorbeeld, miskien verder van ons af, maar tog baie relevant. Hulle wat die mag in die hand het, die Herodesse van ons tyd, of dit polities of ekonomies is, of dit nou eerbaar of met skelmstreke verkry is, ook hulle sing Stille nag, Heilige nag op Kersfees saam. Hulle sing van vrede, van God se geskenk op aarde, terwyl hulle weet dat hulle optrede juis onvrede bring.

Wat, broers en susters, wil die boodskap van Kersfees vir ons regtig in hierdie omstandighede sê? Daar waar mense skree vrede, maar eintlik mekaar wil opvreet. Daar waar mense sing Stille nag, Heilige nag, maar alles eintlik onheilig is. Daar waar daar vrede is, maar kortstondige vrede, valse vrede, onheilige vrede. Net omdat dit Kers­fees is?

In die eerste plek, broers en susters, moet ons die boodskap van Kersfees nie oorskat nie. Met die koms van Christus het die nuwe hemel en die nuwe aarde egter nie ook gekom nie. Jesus kom na ons toe in ‘n wêreld van haat, sonde en bedrog. Ons leef nog steeds in daardie wêreld. En soos die eerste Kersdag die wêreld nie verander het nie, so sal elke jaar se Kersfees ook nie.

Ons moet die boodskap van Kersfees egter ook nie onderskat nie. Want Kersfees, broers en susters, is nie maar net ‘n sprokiesagtige fees vol pragtige sentimente wat alle mense in staat stel om in die gees van Kersfees vir so ‘n dag of twee met God, met hulleself en met ander te kan saamleef in vrede nie.

Nee. Kersfees is God se magtige skuif op die skaakbord van die geskiedenis. Met hierdie skuif is die bose geskaakmat, is die dood se angel uitgetrek, nie een babatjie sal weer sonder God sterf nie, het die moontlikheid vir die mens oopgegaan om nuut te kan word, te kan word wat God wil hê hulle regtig moet wees, om Stille nag, Heilige nag, met oorgawe en opregtheid te kan sing. Omdat God werklik hulle vrede is.

Daarom, broers en susters, gaan ek hierdie jaar Kersfees so vier:

  • ek gaan God opnuut prys dat Hy die wêreld nie in sy ellende gelos het nie, al lyk dit soms met die menslike oog so. Want wat in Betlehem gebeur het, sê vir my dat God weer met ons begin het, en dit elke keer weer en weer met ons elkeen sal doen.
  • tweedens sal ek weer bid dat God se ryk sal kom, sodat almal wat verontreg word, wat swaarkry, wat nie vrede het nie, of beleef nie, as gevolg van ander se uitbuiting of optrede, deur God tot ‘n einde gebring kan word.
  • derdens gaan ek God weer vra dat hy alle gelowiges in staat sal stel om weer te begin werk teen alles wat lelik in die lewe is, om in die naam van hierdie Jesuskind alles teen te staan wat nie pas by God se bedoeling vir Sy wêreld nie.
  • laastens, gaan ek weer poog, met al my tekorte en foute, die vrede waarvan die engele hier sing, werklik na te jaag, hier en nou, in elke dag met almal wat God op my pad plaas.

Ek nooi u, my broeder en suster, om dit saam met my te doen. En kom ons begin deur hierdie Kersfees Stille nag, Heilige nag te sing en dit werklik te bedoel: stil en heilig, vol vrede, en nie onheilig en vredeloos nie.
Amen