Psalm 72:1-19; Matteus 2:1-6

Waar is julle Koning?



Votumen seën

Lofsang: Gesang 90:1-3

Na wet: Gesang 89:1

Na belydenis: Gesang 89:2

Gebed

Sang: Gesang 100:1-3

Skriflesing: Psalm 72:1-16

Prediking:

Broers en susters in onse Here Jesus Christus

Een vraag wat ons regdeur Matteus vind is: `waar is die koning van die Jode?`. Dit begin by die vraag van die wyse manne in Matteus 2:2:`waar is Hy wat as koning van die Jode gebore is?`. En die antwoord dan, sien ons, kom dan na `n redelike gesukkel in Matteus 2:6: Hy is in Betlehem gebore, een van die `geringstes` onder die stede, een van die minder bekendes. Nou nie eintlik `n plek waar `n koning gewoonlik vandaan kom nie. Eintlik so bietjie agteraf, hierdie Betlehem. `n Mens sou Hom, die koning van die Jode, dus liewer eintlik op `n ander plek wou soek.

 

Ook Johannes die Doper vra hierdie vraag. Die een van wie ons in Matteus 3:1-3 lees — as die groot aankondiger wat voor Jesus sou uitgaan, wat die pad vir die Here sou regmaak — ook hy vra later hierdie vraag in Matteus 11:3: `Is U die een wat sou kom, of moet ons `nander een verwag?` Om dan net maar te hoor: As jy My soek, soek My by die lammes, die melaatses, die siekes, die dooies, die armes. Dus: nie `n koning in `n paleis nie, maar `n koning wat is waar hy nie moet wees nie. `n Koning wat te vinde is by uitvaagsels, die vreemdes en die onreines van die destydse samelewing. Ja, so graag sou Johannes die Doper Hom liewers op `n ander plek wou soek.

 

En later, broers en susters, wanneer Jesus met sy intog in Jerusalem (Matt 21) met koninklike hosannas begroet word as die koning van die Jode, die Seun van Dawid, as die een wat die Romeinse juk sal afgooi, stel Hy hulle later so teleur dat daar spoedig sarkasties en skimpend gevra word: `wie is hierdie man` (Matt 21:10) — om maar net te hoor dat hy uit Galilea van die heidene kom, vanaf `n obskure plekkie met die naam van Nasaret. Nou nie eintlik `n plek waar `n mens `n koning sou soek nie.

 

En wanneer `n Romeinse regter (Matt 27:10) in `n bespotlike verhoor aan Jesus vra: `Is jy die koning van die Jode`, antwoord nóg God nóg mens. Niemand weet nie.

 

Maar wanneer Jesus gekruisig word, is dit `n heidense prokonsul wat aan Jesus `n naam gee: `Dit is Jesus, die koning van die Jode` (Matt27:37), en is dit `n heiden wat Jesus as Seun van God bely! (Matt27:54). Maar `n koning aan die kruis? Dit kan tog nie, het baie seker gesê. `n Koning hoort nie daar nie.

 

Wanneer ons dus aan Matteus die vraag vra: waar is die Koning wat gebore is met Kersfees?, antwoord Matteus: Hy kom van `n eenvoudige plekkie af, en jy vind Hom by die armes, die verstotenes, die regloses — so half en half verskuil en verborge tussen hulle in die samelewing na wie daar nie eintlik gesoek word nie, wie meestal maar verborge bly of ongemerk by ander verbygaan. Maar, sê Matteus, terwyl Herodes, Johannes die Doper en die Jode nie weet wie of waar Jesus is nie, weet die hulpeloses, die vreemdelinge en die heidene presies wie en waar hierdie Messias is!

 

Hoekom? Omdat party op die regte plekke gesoek het, en party nie! En wanneer daar op die verkeerde plekke gesoek word, op verkeerde maniere, sê Matteus, sal ons die Koning van die Jode nie vind nie.

 

Hoe soek ons gewoonlik na hierdie Koning tydens Kersfees, broers ensusters, en waar soek ons Hom? Kom ons wees maar eerlik: ons soek Hom in die Kerk met sy oorbekende Kersverhaal (en dalk net in dieKerk), ons soek Hom in ons bekende Kersliedere (ook in die Kerk), of ons soek Hom in al die bekende `carols` oor die radio, ja, ons soek Hom soms selfs in sy nagemaakte krippie met die glimlaggende Maria en die half sedige Josef. En wat gebeur dan? So bly die Koning verborge!

 

Netsoos die Koning verborge bly, half onsigbaar, wanneer ons Hom soek by Kersboompies, by Vader Krismis met sy wa vol gelaai met persente. Of, broers en susters: ons soek die Koning in die stilte wat ewe skielik hier oor Kersfees oor die huis, die bedryf of die slagveld daal ...wanneer `n onheilige Kersvrede soos `n soort van wapenstilstand `n paar uur lank op die aarde toesak, om maar net kort na Nuwejaar vervang te word met `n geraas, `n gestry, `n geswets in die huwelik, in die besigheid, in die sport en in die politiek. En waar is die Koning dan, die Koning wat so pas gebore is? Kan ons sê dat ons Hom werklik tydens Kerstyd gevind en ontmoet het?

 

Wanneer ons na die Koning op hierdie maniere tydens Kersfees soek, broers en susters, kom Psalm 72 na ons vanoggend met meer as net `n vermanende woord: die wêreld waarin ons Kersfees vier, is nie `n wêreld van vrede nie. Dit is nie `n wêreld waarin Kersboompies en Krismis Vader die belangrikste is nie.

 

Nee, sê Psalm 72: ons wêreld, die wêreld waarin ons na ons Koning moet soek, is `n wêreld vol onreg — en laat ons nie doekies omdraai nie. Dit is `n wêreld waarin die waardigheid van menswees dikwels ondergeskik gemaak word aan die mag en brutaliteit van ander. Dit is `n wêreld waarin baie mense, op baie maniere en om verskillende redes, rondgestoot en rondgestamp word. `n Wêreld waarin heersers en konings beheer het oor magte van totale vernietiging. `n Wêreld wat ook sy armes het, die wat geen helpers het nie, die wat nie gereken word nie, die wat sinloosheid en moedeloosheid op verskillende maniere beleef.

 

En nou sê Psalm 72, net soos Matteus, dat die Koning wat met Kersfees gekom het, as jy Hom soek, juis by hierdie mense te vinde is. By die sieke, by die arme, by die hulpelose. By hulle wie niemand het om na te gaan behalwe hierdie Koning nie. Ja, hulle wat weet hoe afhanklik hulle van God is, hulle weet waar om hierdie Koning te vind en aan Hom hulde te bring. Want hulle het net hierdie Koning. En niks anders nie. Nie Vader Krismis nie, nie Kersbome en Kersliggies nie, selfs nie vrede nie, al is dit net tydens Kersfees. Dit is waar jy Hom sal kry: by mense wat Hom nodig het.

 

Waar is ons Koning, broers en susters, wanneer ons Kersfees vier? Sien ons Hom raak tussen al ons Kersfees-gewoontes, of het ons Koning se geboorte net die rede geword vir feeste, sogenaamde vrede en welbehae in ander mense? En dink ons werklik dat ons Koning nog by ons is wanneer ons die Kerstyd deurgaan sonder om Hom werklik te vind, te eer en aan Hom hulde te bring?

 

Hoe bewys `n mens hulde op die regte manier aan ons Koning? Die antwoordis eenvoudig, die implikasie van die antwoord allesbehalwe maklik: jy bring op die regte wyse hulde aan die Koning deur jou met Hom te vereenselwig.

 

Hoe vereenselwig die gelowige hom met hierdie Koning? Deur sy reg jou reg te maak, sy vergifnis joune, sy geregtigheid joune, sy adres jou adres, sy optrede jou optrede. In hierdie opsig is Psalm 72 dus `n uitnodiging om die ware Koning tegemoet te gaan. Nie maar net as toeskouers van sy fees nie, maar deel van sy fees, mense wat die boodskap van sy fees uitleef.

 

Hoe word `n mens werklik deel van God se fees, die fees wat ons Kersfees noem, broers en susters? Daar is soveel maniere: deur te leef wat hierdie Koning kom leef het, deur te doen wat Hy kom doen het, en dit te doen aan juis hulle aan wie Hy dit kom doen het. As voorbeeld, as beeld van die Koning, sodat in wat ons doen, en aan wie ons dit doen, die Koning sigbaar sal wees.

 

Verder bring ons hulde aan hierdie Koning deur te bid vir die koms van sy koninkryk. Dit is tog immers wat Psalm 72 in wese eintlik is: `n gebed dat die koninkryk van die Koning volledig sal aanbreek. En dan nie met gebede wat maar net gewoonte, wens denkery of soet drome is nie, maar gebede wat met hartstog uitroep dat die Koning en sy koninkryk werklik sal kom.

 

Ook nie met gebede waarin mense op hulle tone staan en na die hemel ryk asof hulle vanuit die hemel die koninkryk wil afbring nie. Nee. Gebede waarin daar van die Koning krag en toewyding gevra word omwaar ons is, platvoet op moederaarde, platvoet in my elke dag se lewe, platvoet in my wêreld vol onreg en onvrede, iets van sy koninkryk te laat kom.

 

Ons moet dus hierdie Koning soek deur sy reg en vrede in ons gemeente en gemeenskap te soek. Waar onvrede is, en Kersfees in hierdie onvrede gevier word, word Kersfees `n klug. Word dit `n mensefees, `n fees sonder `n Koning, `n fees waarin die mens koning geword het: koning van sy eie lewe en koning van sy eie fees en feesmaaltyd.

 

Dit is so tragies, broers en susters, dat ons soms in hierdie tyd van die jaar Kersfees met soveel oorgawe vier, maar sonder die werklike Koning van hierdie fees. Kan ons werklik sê dat in ons viering van Kersfees, in ons afwagting van Kersdag wat moet aanbreek, ons die Koning van die fees werklik soek?

 

En kan ons sê dat wanneer ons Kersfees vier, veral in alles wat ons in die Kerstyd doen, ons Koning voorop staan? In al ons reëlings, daar waar ons vakansie hou, daar waar ons ontspan, daar waar ons soek na die regte geskenk? Daar waar ons saam met ons kinders die Kersboom versier? Wie nie die Koning van hierdie fees se koninkryk tydens hierdie fees sigbaar maak nie, vier `n wêreldse fees. Wie die fees wat ons Kersfees noem vier sonder hierdie Koning, vier `n mensefees.

 

Waar is die Koning, broers en susters, ons Koning, die Koning van Kersfees? Maak ons Hom nog sigbaar wanneer ons Kersfees vier? Die wêreld neem ook deel aan hierdie fees, dit moet ons nooit vergeet nie. Mag ons daarom hierdie Kerstyd so deurbring dat juis die wêreld nie vir ons hoef te vra: maar waar is julle Koning nie!

Amen