Matteus 2:1-12

Wat is jou geskenk aan God?



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
Om geskenke te gee en te ontvang is vir ons nie ‘n vreemde ervaring nie. Ons doen dit heel dikwels. Ons gee vir iemand ietsie as hulle ons ‘n groot guns bewys het, as hulle weggaan, as hulle siek is, of net om te sê ons dink aan hulle. En nog by baie ander geleenthede wat ek glo u sal kan opnoem.

Afgesien van al hierdie geleenthede, broers en susters, is daar egter twee geleenthede in die jaar wat — wil ek amper sê — in beginsel met geskenke geassosieer word. Die eerste is Kersfees, waartydens ons aan mekaar geskenke gee om mekaar te herinner aan die groot geskenk wat die wêreld 2000 jaar gelede gekry het, aan die grootste geskenk wat enige iemand ooit kan kry: God wat sy seun Jesus Christus vir ons mens gebore laat word het om Immanuel te word, ons verlosser en Heer..

Die tweede geleentheid wat jaarliks met geskenke verbind word, sal u ook ken. Dit is wanneer ons verjaar. Wanneer iemand verjaar gee ons aan die persoon wat verjaar ‘n geskenk om verskeie redes: om te sê ‘Lekker verjaar!’, maar ook om saam met die persoon dankbaar te wees vir die feit dat God hom/haar vir nog ‘n lewensjaar gespaar en geseën het.

Dus: twee geleenthede, elke jaar, met een duidelike ooreenkoms: die gee en ontvangs van geskenke. Maar tog, broers en susters, twee geleenthede wat ook radikaal van mekaar verskil. Met Kersfees (in wese die herdenking van Jesus Christus se geboortedag) gee ons aan mekaar geskenke (d w s, nie aan die een wat verjaar nie), en op iemand se verjaarsdag gee ons aan die persoon wat verjaar geskenke. Maar nie aan mekaar nie!

En kan ons ons nou voorstel, broers en susters, dat iemand ‘n klomp vriende na sy verjaardag toe nooi, en die wat daar opdaag deel aan mekaar geskenke uit, geskenke om mekaar daaraan te herinner dat dit die herdenking van die persoon wie die partytjie aanbied se geboortedag is. En die persoon wat verjaar kry niks. Dit sal ongehoord wees, sal ons dadelik sê. Inteendeel. Ons kan ons so iets nie eers voorstel nie!

Tog gebeur dit Kersfees na Kersfees, broers en susters. Want met elke Kersfees gee ons aan mekaar, en tragies, niks vir die Here nie! Niks vir die Een oor wie die herdenking van die geboortedag eintlik gaan nie. En dit pla ons niks! Ja, ons gee vir almal vir wie ons lief is, en vir die Here, wie ons ook sê ons lief het, so maklik sê die meeste liefhet, wat gee ons vir Hom?

In die gedeelte wat ons saamgelees het, broers en susters, is die sterrekykers — van alle mense — vir ons ‘n voorbeeld van hoe op Kersdag ook aan God, in die eerste plek aan God, gegee moet word. Van die sterrekykers weet ons nie veel nie. Ons kan nie eers met sekerheid sê dat hulle drie was nie. Matteus sê in elk geval beslis nie so nie. Met ‘n bietjie meer sekerheid sou ons kon sê dat hulle waarskynlik geleerdes was komende uit die destydse Persië (waar Iran vandag geleë is), omdat geleerdes in daardie tyd uit daardie omgewing die naam sterrekykers gekry het. Met nog meer sekerheid sou ons kon sê dat sterrekykers uit die Ooste nie ‘n baie goeie naam onder die Jode gehad het nie, juis omdat hulle hulle soms met towery besig gehou het.

Matteus, broers en susters, rep egter niks hiervan as hy die sterrekykers se besoek uit die Ooste aan die kind Jesus beskryf nie. Inteendeel. In Matteus se beskrywing van die sterrekykers staan een saak voorop (wat ons duidelik in vers 2 en 11 lees): hulle het met net een doel voor oë na die kind Jesus gekom: om aan Hom hulde te kom bewys. Om lof en eer aan God te bring. Daarom het hulle, toe hulle die Jesuskind in die krip sien lê, voor Hom gekniel As ‘t ware hulleself aan Hom kom gee. En daarna, amper as ‘n simboliese daad, fisiese geskenke aan die kind gegee.

Anders gesê: die sterrekykers het nie na Jesus gekom en dan aan mekaar geskenke gegee om mekaar te herinner dat die Koning van die konings gebore is nie. Nee, hulle bring hulleself, en die geskenke vir die kindjie self, omdat hulle deur God tot die insig gebring is om die kindjie te erken vir wie Hy was. God self. Die Koning van konings. Daarom aanbid hulle Hom, en kniel voor Hom. ‘n Gebruik wat in daardie tyd veral by slawe voorgekom het. Wanneer ‘n slaaf gekoop is moes hy voor sy nuwe besitter kniel as erkenning dat hy nou aan hom behoort, dat hy homself volledig aan sy nuwe eienaar gee. Presies wat die sterrekykers hier doen. Deur voor die kind te kniel gee hulle hulleself aan Hom. Hulle geskenk aan Hom is hulleself.

As ons interpretasie van die sterrekykers se motiewe en optrede korrek is, broers en susters, plaas dit vanoggend ‘n baie groot skaduwee oor die wyse waarop ons Kersfees vier. Of, ten minste, dit dwing ons om weer ernstig na te dink oor hoe ons Kersfees vier. En hoe ons dit behoort te vier. Ja, dat ons gerus maar vir mekaar geskenke kan gee om iets te sê van die grootste en kosbaarste geskenk wat God vir ons op hierdie dag gegee het, maar dat ons in die eerste plek aan die Here Jesus ‘n geskenk moet gee. ‘n Geskenk net so groot en kosbaar.

Wat is die kosbaarste wat ons het wat ons vir God op hierdie dag kan bied, broers en susters? Niks anders as onsself nie. Soos sterrekykers. Met oorgawe.

Hoe doen ons dit, vra U? Paulus skryf hieroor aan die Romeine in Romeine 12:1: ‘En nou doen ek ‘n beroep op julle broers, op grond van die groot ontferming van God: Gee julleself aan God as lewende en heilige offers wat vir God aanneemlik is. Dit is die wesenlike van die godsdiens wat julle beoefen.’ In Die Boodskap word hierdie vers vry soos volg vertaal: ‘Ek wil nou ‘n ernstige versoek tot julle rig: Ek doen dit omdat julle begryp hoe baie God vir julle omgee. Gee julle hele lewe aan Hom. Julle moet lewende offers in God se hand wees. Staan voltyds in sy diens , 24 uur per dag . Dan maak julle God se hart sommer baie bly!’

Dit is die eerste geskenk wat ons vandag moet gee, broers en susters. Jouself. Aan God. Soos God Homself aan ons gegee het. Soos die sterrekykers gedoen het.

Prakties beteken dit, broers en susters, dat God vandag ons vra om opnuut ‘n keuse te maak! Dit is nie iets wat vanself gaan gebeur nie. Die sterrekykers het die ster gesien en hulle het 'n besluit geneem om te gaan en die Koning van die konings te aanbid! Net so moet u en ek in hierdie Kerstyd opnuut met ons verstand kies en in woorde dit vir die Here sê, en dit in dade gaan uitleef!

Om dit te doen, broers en susters, is egter nie so maklik as om maar net te sê: Here ek gee myself opnuut aan U. Vergewe asseblief my sonde. Ek wil U met my ganse lewe dien. Ek wil ‘n offer in U hand wees. Ek wil 24 uur per dag voluit vir u lewe!

Nee, broers en susters, dit gaan oor baie meer as dit. Want as ons dit gedoen het, het ons maar nog net iets gesê. Ons het nog niks gedoen nie. Daarom: as ek myself regtig aan die Here as offer wil wy, as ek myself ten volle aan die Koning van die konings wil gee, beteken dit noodwendig dat ek myself in daad ook moet gee aan almal rondom my

Daarom: as u en ek vandag Kersfees gaan vier, laat ons eerste vraag wees, voor ons aan enige iemand iets gee: Het ek myself vir Christus gegee? Soos God sy Seun vir my gegee het? Soos die sterrekykers hulle aan die Jesuskind gegee het? En dan, broers en susters, daarnaas, kan ons maar vir mekaar geskenke gee. Maar dan nie net geskenke, tasbaar soos die goud, wierook en mirre was nie.

Nee. Ook onsself aan mekaar. Vir wie wil u almal vandag geskenke gee? Gee eers jouself en dan die geskenk as simbool van die feit dat jy jouself gegee het. Dan word die geskenk iets veel meer as ‘n ding wat in papier toegedraai is, dan word dit lewend en kosbaar en waardevol!

Want as ons onsself weer aan mekaar gee, omdat ons onsself weer aan God gegee het, omdat Hy sy Seun vir ons gegee het, sal ons na Kersfees, na nuwe jaar, daar wees vir mekaar. Sal ons ook in die nuwe jaar saam kan lag, saam kan huil, saam kan werk, en saam kan ontspan.

Ek sluit af: Kerstyd is ‘n tyd van gee! Gee hierdie jaar ‘n geskenk aan iemand as herinnering aan die feit dat die Here Homself vir jou gegee het, maar veral van die feit dat jy jouself vir Hom gegee het.

Meer nog: gaan doen dit soos God self dit gedoen het. Om ons te verlos het God nie maar net ‘n geskenk aan ons gestuur nie — nee. Hy het self die geskenk geword, Hy het Homself gegee. Hy het uit die hemel gekom en ‘n mens kom word sodat jy en ek die ewige lewe kan hê. Dit is die wonder van Kersfees!
Amen