1 Johannes 5:6-12

Wil ons die Seun regtig hê? (Prediking op die eerste Sondag na Kersdag)



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
Vanoggend se erediens is in twee opsigte van besondere waarde. Die eerste is dat dit werklik lank gelede so gebeur het dat ons, op die dag na Kersdag, weer in die erediens saam kan wees. Wat ons as gelowiges, broers en susters, feitlik onmiddellik die geleentheid bied om so 'n bietjie oor ons ervaringe voor en tydens Kersfees na te dink. Ons het tog almal Kersfees om 'n bepaalde rede(s) gevier. Voor Kersfees het ons in die prediking gehoor wat die inhoud van Kersfees vir ons behoort te wees. Toe het ons gister Kersfees gevier. Vanoggend is dit verby. En die vraag wat as 't ware voor ons hang (of, ten minste, behoort te hang), is: wat het u en ek, ek en jy oorgehou van Kersfees. Watter waarde het dit vir my gehad, vir my geloof, vir my verhouding met God?

Die tweede saak wat die geleentheid van vanoggend belangrik maak, het te make met u en met my. Die vraag wat ek hierbo aan die orde gestel het, naamlik, wat het u en ek van Kersfees oorgehou, is in wese 'n geloofsvraag. En ons, broers en susters, wat net na Kersdag weer in die kerk sit, sit tog darem seker hier omdat ons gelowiges is, omdat ons verhouding met God vir ons belangrik is. En juis daarom, broers en susters, kan vanoggend se saamwees hier rondom God se Woord nie meer gepas, myns insiens, gewy word aan so 'n bietjie nadenke oor gister nie. Hoe, om dit eenvoudig te stel, was u en my Kersfees? Wat was ons belewinge? Wat kan ons daarvan saamneem na die volgende jaar? Wat, sou ons sê, was die waarde daarvan? Was dit soos ons gedink het dit sou wees? Het die viering van die dag aan ons verwagtinge voldoen? Of was dit leeg, 'n ervaring wat nie aan ons verwagtinge voldoen het nie?

Ek wil al hierdie vrae, broers en susters, vanoggend aan die orde stel deur met u 'n vertelling te deel, 'n vertelling wat ek by een van ons lidmate gekry het, en wat ek lankal graag met u wou deel. Dit is 'n vertelling wat presies pas, nie alleen by ons teksgedeelte nie, maar ook by dit wat ons vanoggend aan die orde wil stel.

Daar was op 'n keer 'n baie welgestelde man en sy seun wat dit hulle lewe gemaak het om skaars kunswerke (skilderye) te versamel, maak nie saak wat die prys daarvan was nie. Hulle het dan ook later geweldige duur en skaars skilderye gehad, van Picasso, tot Da Vinci en Rembrandt. En dikwels sou hulle saamsit en die kunswerke bewonder.

Tot die seun na die oorlog gestuur is, waar hy later sterf terwyl hy besig was om 'n maat se lewe te red. Die nuus het die vader se hart gebreek. So 'n maand voor Kersfees was daar 'n klop aan die deur, en toe hy die deur oopmaak staan daar 'n jong man voor hom.

Meneer, sê hy, jy sal my nie ken nie, maar ek is die man wat deur jou seun uit die slagveld gedra is toe 'n koeël hom in die hart getref het, die man vir wie jou seun sy lewe gegee het. Hy het dikwels van u gepraat, asook van u liefde vir kuns.

Daarom het ek vir u hierdie gemaak, 'n skildery van u seun. Ek is nie 'n groot skilder nie, maar ek dink tog u seun sou wou gehad het dat u die moes kry.

Toe die vader na die skildery van sy seun kyk, was hy verstom, verstom oor die wyse waarop die jong man sy seun se persoonlikheid so ongelooflik in die skets kon vaslê. Die vader het die jong man bedank, en onmiddellik aangebied om hom vir die skildery te betaal, waarop die man geantwoord het: nee meneer, ek kan nooit vergoed vir wat u seun vir my gedoen het nie, hy het vir my gesterf, so, asseblief, aanvaar dit as 'n geskenk.

Die vader het toe die skildery van sy seun in die middel van al die ander skaars kunswerke gehang, en wanneer mense na sy skilderye kom kyk het, het hy hulle altyd eerste na die een van sy seun geneem, want vir hom was dit die belangrikste en mooiste van almal.

Toe sterf die vader, en volgens sy testament word al die skilderye op 'n veiling te koop aangebied. Die saal was stampvol, want hier was nou 'n kans om jou hande op 'n baie skaars skildery te kry. Die skilderye was teen die muur opgehang, maar die een van sy seun het op 'n staander reg ander die afslaer gestaan.

Die afslaer het begin deur te sê dat die skildery van die seun eerste opgeveil sou word. Niemand het egter daarin belang gestel nie. Hy het bly uitroep: die seun, die seun, wie wil die seun hê?, maar niemand wou bie nie. Niemand wou 'n sent op die skildery spandeer nie. Almal het geskree: slaan dit oor, beweeg oor na die kosbare en skaars meesters. Almal het tog gekom vir die Picassos en Rembrandts.

Die afslaer was egter adamant. Die skildery van die seun moes eers verkoop word. Uiteindelik kom daar toe tog 'n aanbod van R10.00 van die tuinier. Verkoop, het die afslaer gesê, en almal het uitgeroep: baie dankie, nou kan ons by die meesters uitkom.

Tot hulle skok moes hulle egter van die afslaer hoor: ek is jammer, maar die veiling is oor. Toe ek gevra was om hierdie veiling te kom hanteer, is aan my 'n bepaalde stipulasie van die testament van die vader voorgehou, 'n stipulasie wat ek nie vooraf bekend mog maak nie. En dit is dat net die skildery van die seun verkoop sou word, en dat die een wat dit koop, al die ander skilderye en al die ander besittings van die vader kry. Dus: die een wat die seun neem, kry alles. En wie dan die skildery van die seun het, het al die ander.

Feitlik presies, broers en susters, wat ons in 1 Johannes 5:12 lees: wie die Seun het, het die lewe, wie die Seun nie het nie, het nie die lewe nie. Hy is die deur tot alles. Deur Hom alleen kom alles. As jy Hom het, dan het jy alles. Wat sou dit presies beteken, wat sou dit impliseer vir ons geloofslewe, en helaas, wat sê dit van Kersfees wat gister verby is? Kom ons dink so 'n bietjie hieroor na.

In die eerste plek, broers en susters, verstaan ek dat Johannes hier wil sê dat as jy Jesus het, jy ook al die ander dinge het wat in die Woord aan Jesus verbind word.

  • sy geboorte: waar God toon dat Hy met mense bemoeienis kom maak het, dus ook met jou, en al jou behoeftes;
  • sy kruisiging: waar hy vir die wêreld se sondes boet, ook vir joune;
  • sy opstanding: waar Hy die dood en die mag van die sonde oorwin;
  • sy hemelvaart: waar Hy nou saam met God is en regeer, waarvandaan Hy sy Gees vir ons gegee het om ons te troos, te lei en te vermaan.
  • sy wederkoms: wanneer Hy sal kom om die wêreld en ons finaal te verlos.

Wie die Seun het, sê Johannes, het dit alles. Maar, en dit is die tweede deel, nie alleen dit nie. Ons kry ook meer: ons kry ook 'n bepaalde getuienis in ons hart (vers 9). 'n Getuienisopdrag, 'n opdrag om te gaan lewe en hierdie getuienis waar te gaan maak.

Wat, broers en susters, eenvoudig die volgende beteken: as kry deel aan die kruisdood, die opstanding, die wederkoms, maar ook aan Jesus se lewe, sy lyding, die wyse waarop hy geleef het. Dit wat hy was.

En kom ek gebruik net die bekende Matteus 5-6 om te verduidelik wat so 'n lewe, so 'n getuienis beteken:

  • wees sout, wees lig, sê Jesus, en sorg dat julle as sout nie laf word of julle lig uitgedoof word nie;
  • elkeen wat maar net vir sy broer kwaad is, wat hom haat, pleeg moord;
  • leef in vrede met hulle rondom jou;
  • moenie, om jou saak sogenaamd te versterk, by die Here sweer nie;
  • moenie altyd op die vergeldingspad uit wees nie;
  • jy moet alle mense liefhê met die liefde wat daar in Jesus Christus was;
  • moenie ander bystaan om so gesien te word nie. Barmhartigheid word nie deur God gereken as 'n goeie werkie nie;
  • vergewe ander soos God jou vergewe;
  • maak jou skatte in die hemel bymekaar;
  • dien God en net God alleen, want jy kan die twee here dien nie;
  • moet nie lewe met 'n gesindheid dat God môre dalk nie sal versorg nie, want dit is ongeloof.

En dan, broers en susters, dan sluit Matteus hier af, amper presies soos Johannes vanoggend in ons teksvers sê: beywer jou eers vir die koninkryk, dan sal al die ander dinge bygevoeg word. Wie die koninkryk vind, het, met ander woorde, niks meer nodig nie. Kry eers vir Jesus, want dan het jy die lewe. Wie Jesus vind, met ander woorde, het niks meer nodig nie. En sal weet hoe om te lewe. Sal weet wat 'n lewe saam met Christus alles vra.

Dus: wie Kersfees gevier het omdat hulle daarin Jesus gevind het, daarin die waardes van die koninkryk gevind het, hulle het nie alleen niks meer nodig nie, hulle sou Kersfees beleef het as 'n ervaring van lewe voor God, by God, saam met God. En hulle sal weet dat hulle ook nie net kan ontvang na, maar ook sal moet gaan gee, hulle lewe sal moet gaan gee in gehoorsame dankbaarheid aan God.

Maar hulle wat in Kersfees sogenaamd die lewe, die lekker lewe, of al die ander dinge gesoek het, hulle het nie lewe nie, is nie deel van die koninkryk nie, omdat hulle op verkeerde plek begin het, op verkeerde plek gesoek het. En hierdie woord geld nie alleen net vir ons vanoggend hier nie, broers en susters, maar vir die wêreld.

Want dit is vir ons, en hulle, wat die Gees roep: die Seun, die Seun, wie wil die Seun hê? Het ons, broers en susters, die Seun? Het ons Hom werklik? Nie alleen sy gawes nie (geboorte, kruisiging, opstanding), maar ook sy opdragte (hoe ons moet gaan lewe, hoe ons die getuienis in ons harte moet gaan waar maak)?

Vandag, broers en susters, is laaste Sondag van hierdie millennium. Kom ons gaan wy dit aan ernstige nadenke oor ons verhouding met die Seun. Of ons Hom regtig het. Sy geskenke, maar ook die lewe wat Hy van ons vra.
Amen