Lukas 2:8-20 (of enige ander toepaslike teks)

Waaroor gaan Kersfees regtig? ('n Kinderpreek vir Kersfees)



(Die preek word aangebied deur die inhoudelike daarvan vir die kinders prakties te illustreer. Die hulpmiddels wat benodig word, is vetgedruk in die teks)

Liewe kinders

Met my dogter wat op universiteit is en my seun wat eksamens skryf, het my vrou besluit om vanjaar self die Kersboom te versier en in ons huis op te sit. Sy's 'n persoon wat alles baie deeglik en baie betyds doen en daarom het sy al op die eerste November en nie die eerste Desember die boompie opgesit. Op ons Kersboom, soos baie ander Kersbome, is daar 'n Kersvader. Dis 'n baie besonderse Kersvader – hy is ouer as wat ek is en was op al die Kersbome wat elke jaar as kind  in my ouerhuis geken het. Ek het hom saamgebring om vir julle  te wys. Julle sien, hy is al sou oud dat sy broek blou is.

Nou moet ek julle vertel van 'n baie snaakse ding wat met my gebeur het. Nou die ander aand baie laat, lê ek so half aan die slaap op die bank toe hoor ek iemand praat met my. Ek het nogal geskrik, wat al die ander mense in die huis het al lankal geslaap. Toe sien ek dis hierdie stok-ou Kersvadertjie wat met my praat. Weet julle, hy't nie so ho-ho-ho gelag soos al die Kersvaders wat ons in die winkels sien doen nie. Hy't nie eers geglimlag nie - hy het sommer baie ernstig gelyk terwyl hy met my gepraat  het.

En weet julle wat hy vir my gesê het? Hy't vir my gesê: ''Vertel vir die kinders van Kersfees! Vertel hulle wat Kersfees regtig beteken, want so baie mense het deeske dae al vergeet wat Kersfees eintlik beteken.''

Eers wys hy na die Kersboom en hy sê vir my: Vertel vir die kinders dat die naalde van 'n kersboom die hele jaar lank groen bly om ons daaraan te herinner dat Jesus gesorg het dat ons die hele jaar lank hoop kan hê. En wys vir hulle hoe die spits van die denneboom boontoe wys om so vir ons te wys dat die hoop wat ons het, van die hemel af kom.

Toe begin hy een na die ander versierings van die Kersboompie afhaal en gebruik elkeen om vir my iets te sê.

Eers vat hy 'n blink ster en hy sê vir my: Leer vir die kinders dat die ster lank terug 'n hemelse teken was van  'n belofte wat God gemaak het. Hy het belowe dat Hy 'n Verlosser na die wêreld toe sou stuur en die ster was die teken dat Hy sy belofte nagekom het.

Daarna haal ou Kersvader 'n engel van die boom af: Sê vir die kinders dat dit die engele wat  heel eerste vir ons vertel het watse wonderlike ding gebeur het toe Jesus gebore is. 'n Hele hemelkoor van hulle het gesing : Ere aan God in die hoogste hemel en vrede op aarde vir dié mense in wie Hy 'n welbehae het!

Toe vat hy 'n kers en hy sê : Sê vir die kinders dat die kers vir ons uitbeeld dat Jesus die lig vir die wêreld is en wanneer ons die lig sien wat 'n kers maak, sê dit vir ons dat Jesus die donker van die sonde weggevat het.

Toe vat ou Kersvader van die boom een van daardie kerskransies wat die mense so graag in Kerstyd opsit en hy sê : Leer vir die kinders dat hierdie krans vir ons wys hoe ware liefde werk, dié liefde wat ons by God sien en wat ons ook teenoor mekaar moet uitleef.. Dit het nie 'n begin nie en dit het nie 'n einde nie. Dit hou net aan en aan. Liefde is 'n volmaakte sirkel van omgee vir ander mense.

Toe haal hy 'n ander Kersvader van die boom af: Sê vir die kinders dat Kersvader 'n mens elke keer moet laat onthou dat ons graag moet gee, maar nie net geskenke nie : ons moet onsself gee, ons liefde, ons vergifnis, ons tyd – dis die kosbaarste geskenke wat ons kan gee.

En herinner die kinders, sê ou Kersvader terwyl hy 'n mooi toegedraaide geskenkie van die boom afhaal, dat God die wêreld so liefgehad het, dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê. Dis die geskenk wat Hy ons gegee het. En soos die wyse manne die beste geskenke gegee het wat hulle kon, goud, wierook en mirre, so moet ons vir God altyd die beste gee en die beste doen om so dankie te sê vir wat Hy klaar vir ons gedoen het.

Die volgende ding wat die ou Kersvader van die boompie afgehaal het, was een van daardie suikerstokkie-kierietjies waarmee kersbome versier word. Sê vir die kinders dat hierdie lekkertjie ons herinner aan die staf wat herders in die ou tyd gebruik het om hulle skape nader te trek om hulle so te beskerm, so te red van gevaar. Dis presies wat God gedoen het toe Jesus gebore is. Hy het ons weer na Hom te getrek, Hy red onsvan ons sondeskuld. Maar ons moet ook dieselfde doen- ons moet omgee vir en omsien na almal wat God op ons pad laat kom.

Ek het 'n sagte geklingel gehoor en toe sien ek dat die ou Kersvader 'n klokkie van die kersboompie afgehaal het: Sê vir die kinders, het hy gesê, dat soos 'n afgedwaalde skaap opgespoor word deur die geklingel van die klok wat om sy nek hang, so het Jesus ons wat afgedwaal het, weer teruggebring na God toe. Dis waaraan die klokkie op die kersboom julle moet laat dink.

Heel laaste  vat hy een van daardie snaakse blaartjies waarmee kersbome altyd versier word. In Engels noem hulle dit ''holly'', in Afrikaans is dit 'n ''huls''-blaartjie. Dis 'n blaartjie wat sulke rooi bessies het en ook nogal skerp dorings ook aan het. Toe sê die ou Kersvader : Sê vir die kinders dat hierdie blaartjies vir ons vertel wat hierdie Kindjie wat in die krip gebore is, uiteindelik vir ons gedoen het. Hy het aan die kruis gesterf vir ons sondes. Die dorings aan hierdie blaartjie herinner ons aan die doringkroon wat Hy vir ons gedra en  die rooi van die bessies herinner ons aan sy bloed wat vir ons sondes gevloei het.

Toe sê die ou Kersvader vir my:  Ek het nou genoeg gepraat. Ek wil so 'n bietjie gaan rus. Maar, groot asseblief, groot asseblief, sê tog nog net een keer vir die kinders waaroor Kersfees eintlik gaan. Dit gaan nie oor 'n Sinterklaas en 'n boompie en versierings nie. Dis baiekeer al wat mens sien as dit Kerstyd is. Maar ons kan al hierdie dinge gebruik om ons te herinner waaroor Kersfees regtig gaan.[herhaal versierings  vinnig] Dit gaan oor hoe lief God die wêreld gehad het, dit gaan daaroor dat op daardie stille, heilige nag die Jesuskind, lank verwag, Hy lig uit lig uit die Vader se ryk, uit liefde aan mense gelyk geword het. Sê dit vir die kinders.

Nou het ek my plig gedoen. Ek het vir die kinders vanmore vertel wat die ou Kersvader vir my gesê het. Nou hoop ek hy pla my nie weer nie, want mens skrik nogal as so 'n poppie laat-aand met jou begin praat.... Nee, ernstig nou: Dit het nie regtig so gebeur nie. Ons Kersboompie is nog nie op nie en hierdie ou man het nie regtig met my gepraat nie. Ek het hierdie storietjie êrens raakgelees en wou dit graag met julle deel vanmore.

Dis 'n werklikheid dat ou Sinterklaas en die Kersboom deel is van hoe ons Kersfees sien en hoe ons Kersfees vier, alhoewel hierdie dinge niks met die eintlike betekenis van Kersfees te make het nie. Ek dink nie dat dit sommer gaan verander nie. So kom ons gebruik al hierdie dinge om ons te herinner waaroor Kersfees regtig gaan. Dit gaan oor die Heer, gebore vir ons. Dit maak dat ons kan juig, want die Redder is daar, dit gee vir ons die geleentheid om die hemelse kind te loof!
Amen