Johannes 19:17-30

Die evangelie van dors



Broers en susters en kinders in onse Here Jesus Christus:
Dit is ironies dat Jesus, wat ander uitgenooi het `as iemand dors het, laat hom na My toe kom om te drink', nou self hier sê: `Ek het dors!'

As 'n mens egter die tydstip waarop Jesus hierdie woorde gesê het in ag neem, is hierdie woorde van Jesus nóg ironies, nóg vreemd. Inteendeel. Dan word dit 'n geweldige stuk evangelie. Want dit is na die drie ure van duisternis, na die drie ure van godverlatenheid, na die drie ure wat Jesus sonder God se teenwoordigheid was, dat Jesus sê dat Hy dors is. Sy uitroep kom dus nadat Hy `die allerdiepste ellende en angs van die hel ondervind het' — soos die Nagmaalsformulier dit stel — of, soos die Apostoliese Geloofsbelydenis dit stel, na sy `neerdaling na die hel'.

So verstaan, broers en susters, meen baie dat 'n mens hierdie woorde van Jesus alleen reg kan verstaan as dit gesien word teen die agtergrond van die bekende gelykenis van Lasarus en die ryk man, en die begeerte van die ryk man om sy tong te verkoel/sy dors te les met 'n druppel water. `Vader Abraham' — het hy gesê — `ek ly smarte in hierdie vlam ... Ek het dors!'

Daar is egter 'n baie belangrike verskil tussen die dors van die ryk man en dié van Jesus hier in ons teksvers. Die ryk man het dors gehad sodat sy straf vervul sou word, en Jesus het dors gehad sodat die Skrif vervul sou word. Met ander woorde: Jesus ly aan die kruis, Jesus het dors aan die kruis, sodat die volle omvang van God se genade tot die sondaarmens kon deurbreek.

En juis daarom kon Jesus hierna sê: `Dit is volbring!'. Hierna sal niemand ooit weer sonder God hoef te wees nie. Hierna sou niemand ooit weer dors vir God hoef te wees nie. En juis daarom ook kon Jesus almal wat dors het na Hom toe nooi. Want uit sy dors na God in die hel, uit sy dors na God in sy drie ure van godverlatenheid, het daar 'n fontein van lewende water ontspring, het daar 'n fontein van God se teenwoordigheid by alle sondaarmense ontstaan.

Juis daarom het Jesus ook hardop uitgeroep: `Dit is volbring! Want hierdie woorde van Jesus was 'n stuk proklamasie, 'n stuk verkondiging, 'n stuk verkondiging wat vir ons wil sê wat die sin van Jesus se lyding en sterwe was.

Die hele saak rondom Jesus se lyding, broers en susters, is juis een van die vrae wat die Christendom reeds vir baie lank besig hou. Waarom, word gevra, moes Jesus al hierdie smarte ly, waarom moes hy so 'n vernederende dood aan die kruis sterf, waarom moes hy deur God verlaat word? Is dit omdat God 'n regverdige God is — soos veral die Ou Testament ons leer — wat beloof het dat Hy die mens vir sy sonde sal straf, en daarom nie sal rus voordat Hy voluit gestraf het nie? Is dit omdat God getrou is aan sy woord, altyd sy beloftes hou, en omdat Hy beloof het dat Hy die mens sal straf, Hy dit daarom moet doen? Of is die sin van Jesus se lyding en sterwe die feit dat God 'n regverdige mens, die enigste wat ooit geleef het, wil straf om al die onregverdiges sy straf te laat ontkom?

Hierdie antwoorde, broers en susters, bevat almal aspekte van die waarheid, aspekte van die werklike sin agter Jesus se lyding en sterwe.

Maar dit is nog nie die hele sin agter Jesus se lyding nie. Want 'n God wat die kwaad haat, 'n God wat aan sy beloftes getrou bly, was bekend. Daarom, op Golgota gaan dit om meer. Op Golgota gaan dit ook om die feit dat ons hier 'n dieper kyk in die hart van God begin kry.

'n Dieper kyk in die hart van God in dié opsig dat ons hier aan die kruis nie alleen die regverdige God, die getroue God, die straffende God ontmoet nie, maar ook die lydende God, die simpatieke God. Die neerbuigende God. Die God van liefde. Die God so groot in liefde vir die sondaarmens dat Hy bereid is om sy Seun te laat ly, selfs bereid is om sy eie Seun te verlaat, sodat ons vry kan uitgaan, nooit weer sonder God hoef te wees nie.

In sy omwandelinge op aarde het Jesus baie mense genees, sondaars hulle sondes vergewe, blindes laat sien, dowes laat hoor, en selfs dooies aan hulle dierbares teruggegee. So het God se hart van liefde stadig vir die mens begin oopgaan, stadig maar seker vir mens sigbaar begin word. Maar as Jesus nie gesterwe het nie, as Jesus nie `ter helle neergedaal' nie, as Jesus nie hierdie godsverlatenheid beleef en deurleef het nie, dan sou die liefdevolle hart van God nooit volledig vir die sondaarmens oopgegaan het nie, nooit vir die sondaarmens — in terme van die liefde van God — volledig sigbaar geword het nie.

Ons kan dit ook anders stel: As Jesus nie aan die kruis gesterwe het nie, as Jesus nie `ter helle neergedaal' nie, as Jesus nie hierdie godsverlatenheid beleef en deurleef het nie, sou iemand kon sê dat daar op 'n sekere stadium tog 'n punt agter God se liefde kom. Dat God die sondaarmens tog nie so geweldig liefhet nie. Dat daar tog 'n punt kom waar God, juis as gevolg van die sondigheid van die mens, omdraai en sê: tot hiertoe en nie verder nie.

Maar juis in Jesus se hang aan die kruis, juis in sy helledors, juis in sy godverlatenheid, word God se hart van liefde vir ons volledig sigbaar. Word die omvang van God se liefde vir die sondaarmens volledig sigbaar. En juis daarom roep Jesus hardop uit, proklameer, verkondig Jesus met volle oorgawe: `Dit is volbring!'

Met die gevolg? Nou kan ons God se hart van liefde sien. Nou kan ons die God van liefde ken. Nou kan ons God in sy liefde, en nie in sy oordeel, nader. Nou kan ons die stem van God se liefdevolle hart hoor: Jy mag dalk aan My ongehoorsaam wees, jy mag My dalk verloën, jy mag dalk baie smarte oor My bring. Dit mag wees dat jy My slaan en verwond, dat jy 'n doringkroon op My kop sit, met My die spot dryf, My in die gesig spuug. Ja, jy mag My miskien so haat dat jy My aan 'n kruis tot skande wil maak, onder daardie kruis met my klere dobbel, My spyker vir spyker vasnael. Maar Ek sal jou liefhê. Ek sal jou liefhê, al moet Ek vanweë my liefde sterf. Ek sal jou liefhê, al moet ek die dors van die hel deurstaan. Ek sal nooit ophou om jou lief te hê nie. Dit, broers en susters, is die sin agter Jesus se lyding en sterwe.

En juis daarom, broers en susters, het daar nog nooit weer so 'n verkwiklike evangelie van meer verskroeide lippe gekom nie. Ek het dors, tot in hellermate het Ek jou lief. Daarom: o, almal wat dors het kom na die water. Kom na die hart van God! Die hart van God wat altyd vol liefde is.

Ek wil afsluit, broers en susters, met die volgende aanhaling uit een van die werke van die bekende Nederlandse teoloog, Okke Jager:

Al het jy Maandag geëet van die verbode vrug — soos Adam en Eva
Dinsdag jou broer doodgeslaan — soos Kain
Woensdag jou vader bedrieg — soos Jakob
Donderdag Jesus verraai — soos Judas Iskariot
Vrydag die Here verloën — soos Petrus
Saterdag die gemeente van die Here vervolg — soos Paulus
En Sondag na God gegaan en jou knieë gebuig voor die kruis op Golgota — dan sal daar vir jou vergiffenis wees.

Want daar op Golgota hang die Here met oopgesperde arms. Daar sal Hy vir jou sê: Kom na my toe, jou sondes is vergewe. Staan op en loop, en gaan probeer om in die week wat kom, beter, meer gehoorsaam, te lewe.

Hierdie liefde, broers en susters, wil oortuig. Hierdie liefde wil wek tot wederliefde. Hierdie liefde wil ons liefde in beweging bring. Soos Paulus gesê het: Die liefde van Christus dring my.

Wie nie deur hierdie liefde gedring word, verstaan daarom nie die liefde van God nie. Maar ook: wie nie ook daarom wil gaan vergewe nie, verstaan nie die vergiffenis wat God wat die gevolg is van Sy liefde vir ons nie.
Amen