Openbaring 1:9-18

Die hand van God



Broers en susters in onse Here Jesus Christus

As ‘n mens meer wil weet van die agtergrond, kultuur en geskiedenis van byvoorbeeld die Ou Testament of die tyd van Jesus, is daar net drie dinge wat ons mense vandag daarmee kan help: die Bybel, geskrifte, en opgrawings.  So het die ontdekking van byvoorbeeld die Qumrangeskrifte ons baie meer geleer van die Joodse groeperinge in die tyd van Jesus, en het die ontdekking van die Nag Hammadi-geskrifte ons meer geleer van die verskillende Christelike groeperinge veral in die tyd van die vroeë kerk.  En het die ontdekking van ‘n geskrif soos die kanon van Muratori aan ons die vroegste geskrif wat die boeke van die Bybel lys, gelewer.  ‘n Opgrawing van ‘n steenplaat naby Jerusalem waarop die naam van Pontius Pilatus staan bevestig byvoorbeeld dat hy wel die prokurator was van Judea in die tyd van Jesus.  Opgrawings het ook byvoorbeeld gehelp om presies te bepaal waar byvoorbeeld plekke soos Hebron/Jamnia was, wat vandag nie meer bestaan nie.

Verskillende opgrawings deur argeoloë het ons natuurlik ook al baie van die ander kulture in en om die tyd van Jesus geleer.  Baie onlangs het argeoloë in Sirië op 'n aantal antieke grafte wat so ongeveer dateer uit 600 jaar voor Christus.  In een van hierdie grafte het hulle op 'n aantal beendere afgekom, waarskynlik die van 'n man.  Wat interessant van die vonds was dat hulle in die man se hand 'n goue muntstuk gevind het.  Uit wat ons van sekere kulture van daardie tyd weet, is daar dadelik afgelei dat hierdie man waarskynlik 'n Griek was, en die muntstuk in sy hand heel waarskynlik reisgeld.  Reisgeld, nie vir 'n aardse reis nie, maar vir die reis na die ewigheid.  En kom ek sê ietsie meer hieroor.

Dit was die geloof van sekere Grieke dat wanneer 'n mens sterf, jy met jou dood op 'n lang en gevaarlike reis vertrek om eers aan die einde van hierdie reis by jou werklike eindbestemming uit te kom.  En vir hierdie reis het jy koopkrag nodig gehad - hoe meer, hoe beter.

Jy moes onder andere 'n aantal riviere oorsteek.  Die eerste een, genoem die Lete (rivier van verlatenheid) was maklik om oor te steek.  Jy moes net, terwyl jy deurgestap het, 'n paar teue uit die rivier drink om jou van binne uit skoon te was, en dan was jy reg vir die volgende rivier.

Die tweede rivier, genoem die Flegeton (die Griekse woord vir vuur) was effens moeiliker om te kruis.  Dit was iets soos 'n vagevuur wat jou uitwendig moes reinig.  Daarom, al wat jy moes doen was om stadig (nie te vinnig nie) deur dit te stap, en so seker te maak wanneer jy die ander kant bereik, jy nou ook uitwendig skoon/rein was.

Die derde rivier was egter die probleem: dit kon iemand net oorsteek op die boot van die mitologiese figuur Charon, en hy het geld vir sy dienste gevra.  Hoe meer jy kon betaal, hoe gouer is jy oorgehelp.  Hoe minder geld jy gehad het, hoe langer moes jy wag.  En as jy met leë hande opgedaag het, moes jy maar jou plek ingeneem het saam met duisende ander op die oewer van die rivier, so in die skemerwêreld tussen lewe en dood.

Natuurlik, broers en susters, was/is hierdie oortuigings van die Grieke niks anders as primitiewe bygeloof nie.  Inderwaarheid laat die verhaaltjie 'n mens so 'n effense glimlag op die mond kry.  Maar miskien moet ons nie in te groot meerderwaardigheid ons koppe skud nie.  Want dikwels het ons met hierdie man met die muntstuk in sy hand iets in gemeen: die knaende gevoel dat ons eendag darem net nie by God met leë hande moet opdaag nie.  En dink hier maar gerus aan die Hallelujaliedjie wat u dalk ook as kind dikwels gesing het:

Moet ek gaan met leë hande,
moet ek so my Heer ontmoet?

Goed, ons sê darem vir mekaar 'n mens hoef nie by God met muntstukke in die hand aan te kom nie, maar miskien tog met ander dinge, ander dinge soos eiegeregtigheid, goeie werke, godsdienstige prestasie, die feit dat ek darem nie soos baie ander mense was nie, dalk ook aansien, eer, geleerdheid, ja, of selfs met my geloof as prestasie styf in my hand vasgeknyp.  Dalk is dit net nodig, dalk is God se genade miskien net te min, dalk was om op grond van genade te kon glo, net nie genoeg nie.  En as dit so was, dan moet 'n man darem seker maak dat jy eendag daar, by God, die pyp sal rook.  So kom ons maak liewers seker.

Helaas, broers en susters, net om te ontdek dat wanneer ons ons laaste asem uitblaas, ons hande oopgaan en alles daaruit val -  al klem ons al vir hoe lank aan ons eie sekuriteite vas.  Want niks, broers en susters, heeltemal niks op aarde is waardevol genoeg, goed genoeg, om ons reis na die ewigheid te finansier nie.  Niks.  Heeltemal niks.  Behalwe God.  Daarom, met apologie aan die vroom bedoelings van die Hallelujalied: met leë hande moet ons gaan.  Want anders oordeel ons God se genade in Christus as onvoldoende.  Anders sê ons dat ons God nie volkome met ons redding kan vertrou nie, en, by implikasie, dat ons God nie op sy woord kan neem wanneer Hy aan ons redding belowe nie.

Openbaring 1:9-18, broers en susters, praat ook van hande, maar dan nie van ons hande en wat ons in ons hande vasklem nie, maar van God se hande, en dit wat Hy in sy hande vasklem.  Meer spesifiek praat Johannes hier van God se regterhand.

Uit die visioen wat Johannes het, is dit duidelik dat wat hy sien, nie in woorde beskryfbaar is nie.  Daarom, die beste wat hy kan doen is om dit in beelde, in vergelykings aan ons oor te dra.  Daarom gebruik hy die woordjie soos.  Beelde met gelade betekenis (hoofsaaklik ontleen uit die Ou Testament), maar met net een mikpunt: om te bevestig dat dié Jesus wat in Bethlehem gebore is, in Nasaret opgegroei het en op 'n koppie buite Jerusalem gekruisig is, God is.

En so geweldig is God se verskyning aan Johannes, so geweldig is die teenwoordigheid van sy heiligheid, dat Johannes soos 'n dooie by sy voete neerval.  En wat maak God dan?  Hy steek sy regterhand uit om Johannes aan te raak.  Om hom te troos, om hom te bemoedig, om hom gerus te stel.

Met dieselfde hand, broers en susters, waarmee God sy volk uit Egipte gelei het en later in ballingskap in, met dieselfde hand waarmee God geskep het, waarmee Hy die verloop van die geskiedenis bepaal, met dieselfde hand wat kragtig genoeg is om die hemel vas te hou, met dieselfde hand waarmee God, indien Hy wil, die hele kosmos in 'n oogwink kan wegvee.  Dieselfde hand waarvan Johannes in sy evangelie getuig: Niemand sal ons uit sy hand ruk nie.  Dieselfde hand wat vir ons sonde aan die kruis deurboor is.

Met hierdie hand, broers en susters, raak God ons ook aan.  Raak God ons dikwels aan met dieselfde bege-leidende woorde as die aan Johannes: `Moenie bang wees nie, dit is Ek, die Eerste en die Laaste, die Lewende.  Ek was dood, en, kyk, Ek lewe tot in alle ewigheid.  Telkens steek Jesus sy regterhand na ons toe uit.  Aanhoudend.

En wat is in hierdie hand wat Jesus na ons toe uitsteek? Daar is sleutels in, sê Johannes, sleutels wat die dood en doderyk oopsluit.  En wat Jesus oopsluit kan niemand toesluit nie, en wat Hy toesluit kan niemand oopsluit nie, so sê Johannes in Openbaring 3:7.  Of anders gesê: met sy regterhand het Jesus die deur van doderyk oopgesluit, daar binnegegaan sodat ons dit nooit daar hoef in te gaan nie.

Luther beskryf dit in sy beroemde preek by Torgau in 1533 op die volgende (ek wil amper sê humoristiese wyse): Christus het met sy oorwinningsvaandel in die hel ingegaan en die deure met só 'n geweld oopgestoot dat dit in hulle kosyne gerammel en die splinters gespat het.  Hy het so onder die duiwels te kere gegaan, hulle so uitgeboender, dat een hier by 'n gat uitgepeul en 'n ander daar by 'n deur uitgetuimel het.  Hy het die duiwel op sy tuisveld getroef!

Maar belangriker: Hy het so ook vir ons, met sy regterhand, die deur van die paradys, die ewige lewe oopgesluit, dit wawyd voor ons laat oopgaan.  En omdat dit so wawyd oop is, kos die deurtog ons niks nie.  Word nie tolgeld gevra nie.  Dit kos ons niks.

Maar vir Jesus het dit alles gekos.  Sy hele lewe.  Sy sterk regterhand is met spykers aan 'n kruis vasgeslaan, sodat Hy met dieselfde regterhand die deur vir ons kon oopsluit.

Kyk vir 'n slag mooi na die hand van God, broers en susters.  Dink vir 'n slag goed daaroor.  Hoor wat sê die Woord daaroor: die is die hand waarin God al ons tye vashou (Ps 31), dit is die hand wat ons van alle kant omsluit (Ps 139).  Met ander woorde: dit is die hand waarbinne ons is.

Daarom maak dit nie eintlik saak met wat ek in my hand sterf nie, maar in wie se hand ek sterf.  En wie glo dat dit nie genoeg is nie, wie meen dat God se hand nie sterk genoeg is nie, wie meen dat hy/sy tog maar iets in die eie hand moet saamneem, sê dat Jesus tevergeefs gesterf het.  En daarom is so iemand se lewe ook niks meer as tevergeefs nie.
Amen