Markus 8:34-9:1

Die resep vir 'n gelukkige en suksesvolle lewe



1. Inleidingsvrae
Sommige eksegete sien Markus se evangelie as 'n nuwe literêre genre, naamlik 'n evangelie, omdat dit meer handel oor die inhoud en betekenis en nie soseer fokus op biografiese besonderhede nie. Dit handel primêr oor die vraag wie Jesus werklik is en wat die dissipels se reaksie behoort te wees. Dit word ook beskryf as die Messiasgeheim met 'n korrektiewe Christologie.

Ander hanteer die Evangelie as 'n narratief. Die verteller skets die plot tussen Jesus as die protagonis en die antagoniste (byvoorbeeld die Romeinse owerhede; die Joodse owerhede; sy familie; die dissipels). Die vraag wat telkens na vore kom is, wie is Jesus? Hy is die Messias, die Seun van God, maar die mense verstaan dit nie, selfs nie sy dissipels nie. Omdat hulle die Messiasgeheim nie verstaan nie, begryp hulle ook nie wat die implikasies van dissipelskap behels nie. Die ware betekenis van dissipelskap is die bereidheid om saam met Jesus die kruisweg te loop (Markus 8:27-10:52). Die Evangelie nooi mense uit om afstand van hulle menslike denke te doen en die dinge van God te bedink, want eers dan kom daar die bereidheid om Jesus waarlik te volg.

2. Makro- en mikro-konteks
Die voorafgaande perikope vorm die dekor vir die verstaan van die gedeelte. Die spanning laai op rondom die vraag wie Jesus werklik is. Na die genesing van die blinde man in Betsaida, vra Jesus vir die dissipels: ‘Wie, sê die mense, is Ek?’ Petrus bely: ‘U is die Christus’. Die Messiasgeheim kom na vore as Jesus hulle belet om dit vir ander te vertel. Dan kondig Jesus vir die eerste keer sy dood en opstanding aan as 'n korrektiewe Christologie. Petrus se reaksie toon duidelik dat hy nog nie verstaan wie Jesus werklik is nie, want: ‘… jy dink nie aan wat God wil hê nie maar aan wat die mense wil hê’. In Markus 8:34 begin daar dan die regstelling om die dissipels te leer waarop die ‘volg van Jesus’ neerkom. Die gedeelte wat hierop volg, naamlik die verheerliking op die berg dui weer op die bekendmaking van wie Jesus is.

3. Eksegetiese kontoere en homiletiese refleksie (8:34-9:1)
Selfverloëning — die basiese gedagte grondliggend aan selfverloëning, is om ‘nee’ te sê. Dit beteken nie slegs om volgens die weg van askese jouself sekere dinge te ontsê nie, maar om nee te sê vir 'n selfgesentreerde lewe. Soos wat Petrus Jesus verloën het deur te sê: ‘Nee, ek ken Hom nie!’, beteken selfverloëning dat jy van jouself sê: ‘Nee, ek ken nie meer my eie selfgesentreerdheid nie’. Die aoristus imperatief beklemtoon die feit dat dit 'n doelbewuste keuse is wat gemaak moet word, maar dit sluit ook nie die gedagte uit dat dit 'n keuse is wat telkens weer gemaak moet word nie.

Kruis opneem — dit verwys na die gebruik dat 'n persoon wat veroordeel is om gekruisig te word, sy eie kruis moet dra en dui op die bereidheid wat daar by volgelinge van Jesus moet wees om soos martelare te ly. Natuurlik verwys die lyding van dissipels na die teenstand van die wêreld, van mense wat nie die dinge van God bedink nie, wat 'n gelowige in sy lewe ervaar, maar homileties gesien sal ek dit ook wil toepas op die swaarste lyding, naamlik om jouself te verloën. Die afsterwe van jou eie ego en begeertes is die swaarste kruis wat 'n mens weer telkens moet opneem.

Die gebruik van 'n chiasme in die struktuur van 'n argument kom na vore by die vraag na die lewe en die skaam vir die woorde van Jesus. Hier is 'n geweldige paradoks onderliggend aan die argument. Jy wil jou lewe vir jouself behou (egosentrisme), maar tot jou skok ontdek jy dat jy dit eintlik verloor het, of, jy gee jou lewe prys ter wille van die evangelie (selfverloëning, teosentries — oënskynlike dwaasheid), om tot jou verrassing te ontdek dat jy die lewe behou het! Hierdie paradoksale keuse kan in die prediking baie konkreet geïllustreer word.

Lewe—– daar is verskillende sienings oor wat die lewe hier beteken, die ewige lewe, of 'n meer gerealiseerde eskatologie. Ek sou hier kies vir 'n dialektiese benadering. Telkens wanneer hierdie keuse geleef word, breek daar in die tyd reeds iets van die ewigheid deur, dan ontdek jy dat dit nie dwaasheid is nie, maar juis die lewe in die volste sin van die woord. Jy ontdek dit egter eers deur die keuse te leef!

Die belangrikheid van hierdie keuse word onderstreep deur die wisselwerking tussen jou optrede (skaam vir My en my woorde) en Jesus se houding by die wederkoms (skaam vir jou). Dit hang ook saam met die aankondiging dat sommige nie sal sterwe voor hulle die koninkryk van God met krag sien kom het nie. Verskillende interpretasies van hierdie uitspraak is moontlik. Dit kan 'n aanduiding wees dat Jesus self 'n nabye einde verwag het. Ander interpreteer dit prolepties. Barth maak dit weer van toepassing op die verheerliking op die berg, waarvan in die volgende perikoop berig word. Ek sou dit weer dialekties so wil interpreteer dat dit dui op die dringendheid van die keuse, want vir diegene wat Jesus so volg breek die krag van die koninkryk reeds in beginsel in jou lewe deur.

4. Homiletiese intensie
Eksegties gesien is die skopus van hierdie perikoop die feit dat daar 'n wisselwerking is tussen jou keuse nou en die houding van Jesus by sy wederkoms. Dit roep 'n mens op om hom op die kruisweg te volg. Homileties gesien is die struktuur van die kerugma geleë in die indikatief dat Jesus die Christus die lydensweg bewandel en ly en moet sterwe ter wille van mense sodat die koninkryk van God ('n lewe in teenwoordigheid van God) in ons lewe 'n werklikheid kan word. Die imperatief is dat jy Jesus op die kruisweg moet volg deur selfverloëning. Die dringendheid van hierdie keuse speel af onder die eskatologiese belofte van die houding van Jesus by sy wederkoms.

Homiletiese gesien is die intensie om mense uit te nooi tot die paradoksale keuse van selfverloëning omdat dit jou eers die ware lewe in Christus laat ontdek.

5. Preekdoel
Om die gemeente uit te nooi om die ware lewe te ontdek. Dit gebeur deur die skynbaar paradoksale keuse om dit wat jou lewe sin gee (egosentrisme) prys te gee (lydensweg) en Jesus te volg (teosentrisme en altruïsme). Die verrassende belofte is dat 'n mens juis dan die ware lewe ontdek!

6. Teksvers vir prediking
Markus 8:35 ‘want wie sy lewe vir homself wil behou, sal dit verloor; maar wie sy lewe vir My en die evangelie verloor, sal dit behou’.

7. Preekstrategie
Die persoonlikheidsteorieë in die Sielkunde verwoord die lewenshouding van die mense van ons tyd. Volgens Maslow se behoefte-piramiede is selfaktualisering die hoogste vorm van menslike behoefte. Selfgelding en selfaktualisering is die grootste dryfkragte in 'n mens se lewe. Dit is gebaseer op egosentriese behoeftevervulling. Die resep vir lewensgeluk is juis daardie behoeftevervulling. Die rolmodelle van suksesfigure in ons tyd is juis die mense wat dit reggekry om tot selfgelding en selfaktualisering te kom. Trouens, dit word dikwels voorgehou as die simbool van 'n sterk persoonlikheid as jy jou nie deur ander laat intimideer nie, maar bereid is om selfs ten koste van ander mense jouself te laat geld. Nederigheid, diensbaarheid en selfopofferende liefde word dikwels as 'n teken van swakheid en die resep vir mislukking voorgehou.

8. Preekskets
Wat is die resep vir 'n gelukkige en suksesvolle lewe? Dit is die een saak waarvoor daar 'n groot aanvraag is — soveel te meer as dit ook nog 'n kitsresep kan wees, want ons lewe in 'n kitstyd. In tydskrifte en koerante is daar talle rubrieke wat mense raad wil gee hoe om te lewe om geluk te vind. Die raad kom gewoonlik daarop neer dat jy nie moet toelaat dat jou eie geluk en ideale deur ander vertrap moet word nie. Wees eerlik met jouself! Erken wat jou diepste wense en behoeftes is! Moenie dat ander in jou pad staan om dit te bereik nie! Staan op vir jou regte, moenie dat jou huwelik, of jou ouers, of die kerk, of jou vriende, jou inhibeer nie! Jy het die reg om as mens uiting te gee aan jou behoeftes en drome! Jy het reg op jou eie geluk! Soek dit langs die weg van self¬verwesenliking. As jy jou lewe wil leef moet jy bereid wees om daarvoor te veg.

‘... wie sy lewe vir homself wil behou, sal dit verloor; maar wie sy lewe vir My en die evangelie verloor, sal dit behou’. Dit klink na 'n resep vir mislukking, dit is dwaasheid! Dit kon dalk 2000 jaar gelede gewerk het, maar in ons veeleisende lewe is dit 'n doodloopstraat. As jy nie jouself beskerm nie, gaan jy onder! Dit is seker maar net bedoel vir mense wat te swak is om vir hulle eie regte op te staan.

Voordat ons dit te gou afwys, kom ons kyk net eers wie is dit wat sulke ‘dwaashede’ kwytraak. Dit is Jesus van Nasaret. Hy bied dit aan as 'n uitnodiging vir mense wat Hom wil volg. Daar was seker maar weinig wat sy raad gevolg het, dink ons dadelik. Inteendeel! Gedurende 2000 jaar se geskiedenis was daar miljoene mense wat na Hom geluister het en juis so in hulle lewe sin gevind het, soveel so, dat selfs vervolging en martelaarskap hulle nie van hulle keuse kon laat afsien nie. Daar moet dus iets dieper in sy woorde geleë wees wat ons nie met die eerste oogopslag raaksien nie. Ons sal eers 'n bietjie dieper moet delf om die bedoeling van sy uitnodiging beter te begryp voordat ons daaroor 'n oordeel kan uitspreek.

Daar is 'n geheim wat die persoon van Jesus omhul. Voordat 'n mens nie iets van die geheim verstaan nie, kan jy eintlik nie iets oor Hom sê nie. In die vertelling van Markus word dit gou duidelik dat die mense van sy tyd nie verstaan het wie Hy werklik was nie, selfs sy volgelinge het dit ook nie begryp nie. Hulle het wel aan sy lippe gehang as Hy begin praat het oor die koninkryk van God. Hy het gesê dat dit 'n blye boodskap was wat Hy vir hulle gebring het, maar dit was vreemde dinge wat Hy aan hulle voorgehou het. Hy het die reëls en die godsdienstige gebruike van sy tyd as skynheiligheid afgewys. Hy het gesê dat as jou hart nie reg is nie, is al die uiterlike dinge wat jy doen ook nie reg nie. God vra na dit wat in 'n mens se hart is. Die mense het in groot getalle agter Hom begin aanloop, veral toe Hy wonders gedoen het. Hy het brood vermeerder om die skare te voed, Hy het op die see geloop, bose geeste uitgedryf, Hom met onrein mense bemoei. In die voorafgaande gedeelte word vertel dat Hy 'n blinde man in Betsaida genees het. Mense het begin besef dat Hy inderdaad 'n besondere mens was. Maar wie is Hy werklik?

Is Hy dalk 'n groot profeet, of 'n besondere wysheidsleraar? Jesus vra die vraag aan sy dissipels: ‘ wie sê julle is Ek?’ Petrus antwoord: ‘U is die Christus’. Met hierdie antwoord erken Hy dat Jesus die beloofde Messias is, die gestuurde van God, wat die volk Israel reeds lank verwag. Hy sou volgens die verwagting 'n groot leier wees wat die volk van hulle onderdrukkers bevry en die glorie van die volk herstel. So 'n Messias sou mense graag wil volg. Jesus het dadelik geweet dat Petrus nog nie ten volle besef wie Hy is en wat dit beteken nie. Hy wys sy volgelinge daarop dat Hy die gestuurde van God is, wat as die Seun van die mens moet ly en sterwe en uit die dood sal opstaan. Dit is duidelik dat Petrus dit alles nie begryp nie. Sy eerste reaksie is om Jesus eenkant te roep en Hom te berispe. Hierdie opmerking oor sy lyding en dood is nie wat hulle van Hom verwag nie. Hy gaan sy gewildheid inboet en sy volgelinge verloor. Wie wil nou iemand volg wat moet ly en sterf? Jesus het hom berispe omdat hy dink aan wat mense wil en nie aan wat God wil hê nie. Nou breek die kritiese moment aan waar Jesus sy menigte volgelinge bymekaarroep om vir hulle te sê dat hulle Hom nie met die verkeerde motiewe moet volg nie. As iemand Hom wil volg moet hy bereid wees om saam met Hom die weg van die lyding en die kruis te loop.

(Verduidelik selfverloëning en kruis, asook die paradoksale keuse van lewe behou of verloor.)

Dit is duidelik uit die res van die verhaal dat die dissipels nog nie begryp het wie Jesus werklik was nie. In die hitte van die stryd het Petrus Jesus verloën. Hy kon ook nie die keuse maak tot selfverloëning nie, want dan sou hy die lewe verloor het. Die skrywer onthul hierdie geheim van Jesus eers aan die einde van sy vertelling met die mededeling oor sy opstanding. Eers dan word die Messiasgeheim onthul. Hy is die Messias, die Seun van God wat verhef is tot die regterhand van God. Eers retrospektief, vanuit die opstandingsgebeure, kan 'n mens sê wie Jesus werklik is.

Ons ken die hele verhaal. Jesus is die Messias, die gestuurde van God wat ter wille van ons gelei en gesterf en opgestaan het. Net by Hom is ware lewe. Die lewe word 'n werklikheid waar mense bereid is om Hom op die kruisweg te volg. Dit is hierdie Jesus wat sê: ‘… want wie sy lewe vir homself wil behou, sal dit verloor; maar wie sy lewe vir My en die evangelie verloor, sal dit behou’.

(Konkretiseer hierdie keuse.)

Dit klink na 'n geweldige waagstuk – ek gaan alles verloor. Voordat jy antwoord onthou eers wie Jesus is. Hy is ook jou Verlosser, wat ter wille van jou die lydensweg geloop het en die lewe voor God verwerf het.

Wat is die resep vir 'n gelukkige lewe? Die resep is om van geluk te vergeet en Jesus te volg. In die proses sal jy ontdek dat wat jy gedink het die lewe is, eintlik 'n gejaag na wind was. Jy sal ontdek dat jy eintlik niks verloor het nie, maar die ware lewe verkry het. Miljoene mense het dit deur die eeue heen ontdek en selfs onder die moeilikste omstandighede met vreugde gelewe en gesterwe.

Wat maak die lewe sinvol? Jy het mos die antwoord gehoor by Hom wat die bron van die lewe is. ‘… wie sy lewe vir homself wil behou, sal dit verloor; maar wie sy lewe vir My en die evangelie verloor, sal dit behou’ — waarom huiwer jy nog om Hom te volg?
Amen