Matteus 27:45-50

Die trein na die hel



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
Etty Hillesum, 'n Hollandse Jodin het ‘n boek geskryf met die titel ‘Treine na die hel’. Sy het tydens die Tweede Wêreldoorlog geleef en is, saam met baie ander Jode, soos vee wat na die slagpale op pad is, deur die Duitsers in treintrokke gestop om gebring te word na plekke van uitwissing, soos byvoorbeeld die baie berugte Auschwitz.

Hierdie treine, broers en susters, was inderdaad treine na die hel. Jong ma's met babatjies, kinders, ou mense, almal is ingeprop in kaal goederetrokke, en dan moes hulle so vir dae, soms vir weke, met die absolute minimum om te eet en te drink, probeer oorleef.

Baie het nie oorleef nie. By feitlik elke stasie langs die spoor is die dooies sonder seremonie van die trein afgegooi. Die inwoners van die dorpies langs die pad het na die lyke wat afgegooi word gekyk en vir mekaar gesê: ‘Hulle is die gelukkiges…’. Want wanneer die trein uiteindelik sy eindpunt bereik het, is die oorlewendes doodbenoud uit die trokke geboender en soos skape aangejaag na gaskamers. En dit was loutere hel, sê Etty Hillesum.

Sy vertel hoe sy moes aanskou hoe kinders van hulle ouers geskei word, meestal op die wreedste manier denkbaar: die ouers moes self besluit watter van hulle kinders mag saam met hulle gaan — en dus nog vir 'n kort tydjie bly leef — en watter onmiddellik deur die soldate tereggestel moes word. As die ouers nie hierdie verskriklike keuse kon of wou maak nie, is al hulle kinders net daar en dan voor hulle oë doodgemaak.

Dit is daarom geen wonder, broers en susters, dat baie mense gesê het dat, in vergelyking met Auschwitz, die hel maar eintlik 'n piekniek is. 'n Trein na Auschwitz, 'n trein na die hel, was 'n trein na 'n plek erger as die hel.

Wat is hel, broers en susters? Dit is eintlik so ‘n lelike woord. Maar ek dink dat dit wat Etty Hillesum, en dié saam met haar deurgemaak het, kwalifiseer nogal om as ‘hel’ beskryf te word. En ek glo (en weet ook) dat baie ander mense ook kan getuig van 'n tydperk van ‘hel’ in hulle lewens. ‘n Tydperk waarin dinge erg en woes was.

Maar wat is hel, broers en susters? Dit is daardie plek, sê ons gewoonlik, waar die ongelowige mense gaan opeindig, 'n plek van vlam en vuur en swael en verterende vlamme. Maar dit is ook seker die swaarkry wat mense hier op aarde beleef.

Juis daarom, broers en susters, is dit miskien die veiligste om te sê dat die hel is daar waar God nie is nie, en veral daar waar mense beleef God nie by hulle is nie. Dit is waar die hel is — waar God nie is nie. Om in die hemel te wees is om by God te wees, om die volheid van sy teenwoordigheid te kan ervaar, om God teenwoordig in jou lewe te ervaar (daarom is daar ook iets soos hemel op aarde). Om in die hel te wees, is daarom net die teenoorgestelde: dit is om vir ewig weg van God af te wees, of om die leegheid van God se afwesigheid te ervaar. Waar God is, is lig, lewe en hoop. Waar God nie is nie, is donker, dood, wanhoop. Hel is om totaal en al van God verlate te wees.

Paulus beskryf die dag van die laaste oordeel 2 Tessalonisense 1:7-9 so: [Dit is die dag] wanneer die Here Jesus met sy magtige engele 8in ’n vuurvlam uit die hemel verskyn. Dan sal Hy die mense straf wat nie vir God ken nie en dié wat die evangelie van ons Here Jesus nie gehoorsaam nie. 9Die ewige verdoemenis sal hulle straf wees, altyd geban uit die teenwoordigheid van die Here en van sy wonderbaarlike mag.

Die hel is dus iets so ergs, broers en susters, om vir altyd uit die teenwoordigheid van die Here geban te wees, dat ons nie graag daaroor wil dink nie en nog minder met mekaar daaroor wil praat. Maar tog, of ons daarvan hou of nie, dit is iets wat elke Sondag aan die orde gestel word as ons bely : Ek glo in Jesus Christus… wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is, gesterf het en begrawe is en ter helle neergedaal het.

Wat sou hierdie woorde wat ons Sondag vir Sondag in die geloof saam sê beteken? Sou dit beteken dat die hel iewers onder die aarde moet wees, dat Jesus afgegaan het na 'n baie warm plek êrens hieronder toe Hy ter helle neergedaal het?

Ek dink nie so nie. Ek dink wat ons hieroor moet sê — en ek sê dit met die grootste eerbied — is dat Jesus met sy geboorte al op die trein na die hel gelaai is. Een ding moet ons baie goed besef : Jesus is God, ewige en almagtige God. Vir Hom om as mens gebore te word, was hel gewees (lees gerus Fil 2). Ons teken mooi prentjies van die skattige babatjie met sy stralekransie wat snoesig in 'n mooi krippie vol glinsterende strooi lê. Maar sy geboorte kan ook anders verstaan word: vir die ewige en heerlike God was dit 'n vernedering om 'n mens te word, om vanuit die hemel te tree en hierdie morsige wêreld in te kom in die gestalte van 'n mens, 'n swak en 'n nietige mens. Met ander woorde, wanneer Jesus in Bethlehem gebore word, word Hy gelaai op die spreekwoordelike trein na die hel!

En dit, broers en susters, was maar die begin, sy geboorte was maar net stasie nommer een op sy lydensweg. Daar was nog baie ander stasies, elkeen baie erger as die vorige een wat vir Hom gewag het. Jesus word verwerp deur sy eie mense. Een uit sy binnekring, sy dissipels, lewer Hom uit aan die Romeine vir net 30 silwerstukke, 'n ander dissipel draai sy rug op Hom en sê: ‘Ek ken hom nie’. Hy word onregverdig verhoor, en onskuldig ter dood veroordeel. Stasie vir stasie gebeur dit. Hy word met 'n sweep geslaan, gespot, mense spoeg op Hom, hulle kap Hom met spykers aan 'n kruishout vas, gee Hom asyn as Hy dors word, en dan sterf die mens Jesus een van die aakligste en wreedste dode wat nog ooit deur die mens bedink is.

So, broers en susters, storm die trein na die hel deur die een stasie na die ander — elke volgende stasie is erger as die vorige een. Maar die ergste, die heel ergste is die eindpunt, die laaste stasie, daardie oomblik wanneer die lyding, die vernedering so erg word dat Jesus uitroep: ‘My God, My God, waarom het U My verlaat?’

Om van God verlate te wees, broers en susters, dit is hel. Dit is waarnatoe Jesus vanuit die hemel neergedaal het, na 'n toestand waar Hy, self God, absolute godverlatenheid beleef. En hoekom, hoekom doen Hy dit? Hy doen dit sodat u en ek, sondaarmense, al kry ons ook hoe swaar en hoe seer in hierdie lewe van een ding seker kan wees en aan hierdie een stukkie troos kan vashou: Jesus Christus, ons Verlosser, het ons van die hel, van die pyn en die benoudheid en die verskrikking van die hel verlos.

Jesus sterf aan die kruis vir my sonde en vir jou sonde en vir die sondes van die ganse mensdom. Besef ons wat hierdie woorde — wat ons so maklik sê — beteken? Jesus betaal vir die sondes van die ganse mensdom. En dit sluit in dat Jesus ook betaal vir die sondes van daardie mense wat Hom aan die kruis opgehang het, vir daardie soldate wat kinders uit hulle moeders se arms ruk en hulle in gaskamers inprop, vir die sondes van die ganse mensdom.

My broer en suster, moenie eers dink om dit te probeer uitredeneer of verklaar nie. Besef net, besef net wat die omvang van die prys was wat Jesus aan die kruis betaal het: die straf vir al die boosheid van al die mense oor al die tye word saamgetrek en dit kom neer op een, die mens Jesus Christus. Dit laat Hom uitroep: ‘My God, My God, waarom het U my verlaat?’ Dit, glo ek, is hel.
Tog, tog word die verhaal van Jesus die blye tyding genoem! Goeie nuus! Die dag van sy sterwe aan die kruis gedenk ons op Goeie Vrydag! Hoekom? Want die hel waardeur Jesus gaan aan die kruis, maak die stukke hel wat op my lewenspad kom, anders. Dit sê vir my: as my lewe hel word, as ek swaar kry, dan is Jesus daar vir my, daar by my, een met my — en Hy maak my vry!

Elizabeth Kubler-Ross, 'n Amerikaanse geneesheer wat spesialiseer in sterwensbegeleiding, ook die begeleiding van kinders wat sterf, vertel hoe sy een keer 'n vernietigingskamp in die Tweede Wêreldoorlog in Madja-nek (in Pole) besoek het. Veral kinders is daar aangehou en uitgewis. Sy sê dit het haar opgeval hoeveel prentjies teen die mure uitgekrap was, as 't ware die kinders se laaste boodskappe aan die wrede wêreld waarin hulle vir 'n kort tydjie was. Verstommend was dat een iets oor en oor op die mure van al die barakke geteken was: 'n skoenlapper. 'n Skoenlapper, sê Kubler-Ross, van die kinders se hunkering om uit hulle hel uit weg te kan kom, om soos 'n skoenlapper vry te kan wees, vry te wees om te kan fladder uit oor die mure van daardie verskriklike plek waarin hulle vasgevang was.

Jesus roep uit: ‘My God, My God, waarom het U My verlaat’. Hy doen dit sodat ons nooit deur God verlaat sal word nie. Jesus het ter helle neergedaal — sodat ons vry kan wees, vry om soos skoenlappers te fladder uit bo alle dinge wat vir ons soos hel voel. En die wonderlike, die absoluut wonderlike, die goeie nuus is dat niks, maar niks hierdie fladdergang van ons skoenlappergeloof kan keer nie! Hoor hoe sê Paulus dit in Romeine 8.

Wie kan ons van die liefde van Christus skei? Lyding of benoudheid of vervolging, honger of naaktheid, gevaar of swaard? 37Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat vir ons liefhet. 38Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte 39of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.

Wat vanoggend in u lewe maal, draai en spook, weet ek nie. Ek weet nie of u lewe vol vreugdes is, en of u voel of u lewe hel is nie. Ons almal weet egter dit kan met mense gebeur. Ons almal weet dat dinge soms so skeef kan loop dat ‘n mens se hele lewe soos een groot stuk hel voel. Hoe lank dit gaan aanhou, of dit ooit gaan beter word, dit weet ons egter nie altyd nie.

Maar, op grond van dit wat Jesus aan die kruis gedoen het, op sterkte van dit wat Rom 8:31 vir ons sê, het ek vanoggend die ongelooflike voorreg om vir ons almal te kan sê: die hel, ook die hel wat die lewe soms in ‘n mens se lewe kan wees, het nie 'n kans om ons van die hemel af weg te hou nie! Die hellevaart waarop ons na regte sou moes wees, word van ons af weggeneem deur dit wat Jesus aan die kruis vir ons gedoen het. Jesus se hellevaart waarborg ons hemelvaart.

Wat is hel? Hoe lyk die hel, waar is die hel presies? Ek weet nie. Wat ek wel weet, en ek sê dit met elke greintjie oortuiging wat ek in my het — die wat kan sê ‘Ek glo dat Jesus Christus my Verlosser is’ — dan maak dit nie saak waar die hel is nie. Ons is nie op pad soontoe nie. Ons fladder soos skoenlappers hemel toe.

Ja, die stormwinde waai ons soms van koers af; ja, ons kry dikwels die wind van voor, maar dit kan ons weet: ons fladder soos skoenlappers hemel toe. Ons fladder na die hemel, want Jesus was op die trein na die hel.
Amen