1 Korintiërs 15:12-19

God het trane op sy wange



Skriflesing: Johannes 11:33-44
Sang:
Prediking:
Broers en susters in onse Here Jesus Christus:

Bonhoeffer, een van die grootste teoloë van ons tyd, was een van die Duitsers wat tydens die Tweede Wêreldoorlog erg kritiek uitgespreek het teen Hitler en sy bewind, waarvoor hy dan ook in die tronk gestop is en later gesterf het omdat hy nie bereid was om sy kritiek teenoor die Duitse regering van daardie tyd terug te trek nie.

Die verhaal van Bonhoeffer is die verhaal van iemand wat vir meer as vier jaar van tronk tot tronk verskuif is, en deur die briewe wat hy vanuit verskillende tronkselle geskryf het, ontmoet ons verskeie ander mense, hulle wat saam met hom in tronkselle gesit het, Jode sowel as Duitsers.

Uit een van die dagboeke van 'n soldaat wat eers aan die kant van Hitler geveg het, maar later, juis as gevolg van sy geloofsoortuiging, nie langer daarvoor kan gesien het nie, haal Bonhoeffer die volgende gedeelte aan:

Ek het vandag in die veld gaan stap en 'n pragtige bos blomme gesien. Ek het een van die blomme gepluk en in die proses die bos effens oopgedruk. Toe sien ek tot my ontsteltenis die lyk van 'n halfontbinde kameraad daaronder lê. Ek het teruggesteier, nie omdat dit die eerste dooie mens is wat ek gesien het nie - dit was immers 'n tyd van oorlog – maar omdat die skreiende kontras tussen die blomme en die lyk op daardie oomblik vir my te veel was. Dit het vir my gevoel of die ontbinde liggaam 'n indringer was in God se skone skepping, asof dit totaal buite orde was in God se goeie lewensplan.

Hierdie soldaat, broers en susters, wie hy ook al was, meen ek was reg. Want die dood is nie maar net 'n natuurlike afsluiting van ons lewe, soos dit byvoorbeeld dood natuurlik is om asem te haal, te eet of te slaap nie. In elke geval, dit is beslis nie die Nuwe Testament se siening van die dood nie. Want in die Nuwe Testament lees ons op baie plekke die volgende van die dood: God wil die lewe, nie die dood nie, God het geen behae in die dood nie, God seën ons inteendeel met 'n onuitblusbare lewensdrif. En wat meer is: die Nuwe Testament leer ons dat daar waar lewe bedreig word, God bedroef raak.

En dit, broers en susters, meen ek, kan ons nie meer treffend sien as in juis Johannes 11:33-44 nie. Hierdie vertelling oor die opwekking van Lasarus is, broers en susters, in baie opsigte heel interessant. Byvoorbeeld meen sommige uitleggers dat hierdie gedeelte so vol (eksegetiese) probleme is, dat baie min daarom oor hierdie gedeelte preek.

Meer interessant is dat dit seker die kortste vers in die hele Bybel bevat. 'n Vers met net drie woorde: Jesus het gehuil. Net drie woorde, maar drie woorde, broers en susters, waaroor daar al boeke vol geskryf is. Juis omdat in hierdie drie woorde 'n ontsaglike hoeveelheid waarheid en betekenisse as 't ware saamgepers is.

Hierdie enkele vers, broers en susters, sê vir ons emmers vol oor Jesus se menslikheid en medemenslikheid. Dit sê dat Hy 'n man van vlees en bloed was, wat geëet het, gelag het, geslaap het, ja, en gehuil het. Net soos ons.

Maar ook, broers en susters, en dit is baie belangrik, ook saam met ons. En juis hier waar Jesus huil, broers en susters, onderstreep dit Jesus se medelye met ons, sy medemenslikheid. Dit sê vir ons: daar waar gehuil word, daar staan God nie ver nie, maar tussen ons. Ons smart word sy smart, ons hartseer sy hartseer.

Maar ook, soos dit dikwels by ons is, is Jesus se trane egter ook druppels van protes. Al huilende protesteer Hy; nie alleen teen die oppervlakkige geween van die professionele weeklaers wat vir Marta en Maria in hulle uur van beproewing omring nie (vers 33), ook nie alleen teen die totale onbegrip van die Jode wat as toeskouers teenwoordig was en net agter wonderwerke aan was nie (vers 37), maar veral, broers en susters, huil Jesus oor die werklikheid van die dood, huil Hy oor die bestaan van die vreemde indringer in God se blomtuin, die dood.

In die Bybel, broers en susters, word God op baie maniere, en let wel, ook op menslike maniere, aan ons voorgestel. Nie dat die Bybel hier wil sê dat God mens is nie, natuurlik nie. Maar Hy word tog so voorgestel, juis dat ons beter sal verstaan wie en wat God is, veral in sy verhouding met die sondaarmens. God, sê die Bybel, is 'n God met bene en arms, vingers en oë. Hy kan loop, staan en op 'n koningstoel sit. En wat meer is, God het ook 'n gesig, en wel 'n gesig wat soms blink van die trane.

Want so is God, broers en susters. As nog 'n bom ontplof waar Christene (Rooms Katoliek aan die een kant en Protestants aan die ander kant), mekaar doodmaak, dan huil God. As nog 'n boer met of sonder sy gesin op 'n plaas uitgewis word, dan huil God. As nog 'n motor gekaap word en meer as net die motor geneem word, dan huil God. En as die moordstatistiek en die geweldstatistiek op ons TV skerms verskyn, huil God ook. Soos Johannes 11:35 dit stel: Jesus het gehuil. Uit medelye met ons en vir ons. Soos ons en saam met ons. Uit protes: omdat mense nie ander se lewens wil respekteer nie.

Maar ook , broers en susters, en dit moet ons raaksien en verstaan vanaand: Jesus huil wel uit medelye en protes soos ons en saam met ons. Maar Hy huil ook anders. Want wanneer God huil , staan Hy nie soos ons met as hulpelose huilende op die rand van een of ander onomkeer-bare tragedie nie.

Immers, ons verhaal vanaand eindig met 'n dooie Lasarus wat na vier dae weer lewendig word., wat ten aanskoue van almal teenwoordig uit die bande van die dood uitstap.

Nee, broers en susters, al huil God saam met ons en soos ons, huil Hy ook anders. Hy huil Lasarus uit die graf uit, wil ek amper sê, Hy huil die dood morsdood. Hy huil iets van die toekoms die hede binne. Met ander woorde: in sy hartseer sit daar 'n groot stuk heilige ongeduld, 'n stuk ongeduld dat daar so baie lyding en hartseer is, veral onnodige hartseer, dit wat deur mense oor ander mense gebring word, tot die dag wat God alles nuut sal maak.

Ek besef maar te goed, broers en susters, dat die tema wat ek vanaand hanteer, miskien moeilik is om te verstaan. Dit mag miskien ook vir u vreemd klink oor die wyse waarop ek oor God praat. Maar hoe kan ons anders God se eienskappe en medelye met ons ellende beskryf anders as in menslike terme? Maar tog dink ek: dit is wat hierdie gedeelte vir ons wil sê:
Die dood pas nie in God se lewensplan in nie. Ja, ons almal weet dat die dood deel van ons lewe, van hierdie aardse, onvolmaakte, gebroke sondaarlewe is. En ook weet ons: die Lasarusse wat ons begrawe, staan nie na vier dae op nie. Daarvan is al die begraafplase om ons heen 'n roue realiteit. Maar tog is dit vir ons wat glo anders, want die dood is 'n oorwonne realiteit.

Juis omdat Jesus nie alleen daar by die graf van Lasarus gehuil het nie, maar eintlik sy lewe lank gehuil het. Hoor hoe stel Hebreërs 5:7 dit: `gedurende sy aardse lewe het Hy aan God gebede en smekinge geoffer met harde geroep en met trane. En sy gebede is verhoor vanweë sy eerbiedige onderworpenheid aan God'. Tot aan die kruis, leer die Bybel ons, het Hy gehuil, waar sy bloed met trane gemeng is sodat God, sê Openbaring 21:4, ons trane uit die oë uit kan afdroog.

Nie dat dit beteken, broers en susters, dat al die trane reeds afgedroog is nie. Want ons sal nog baie huilende protesteer oor geliefdes wat van ons af weggeneem sal word, is 'n feit. Ook dat ons nog dikwels met 'n opregte traan in die oog van ander se hartseer en leed sal verneem. Om nie eers te praat van verslae trane op die gesig oor soveel onnodige moord en doodslag ook in ons tyd nie.

Maar, en dit is die punt wat ek wil maak, ons huil anders, of dan, behoort anders te huil as die wêreld. Ons mag treur, maar nie treur soos 'n wêreld sonder hoop nie.

Want nie alleen huil en treur God saam met ons nie, maar weet ons dat Hy die dood oorwin het. Lasarus het Hy laat opstaan, Hy het self opgestaan, en daarom sal ons ook opstaan. Al bring die dood soveel hartseer.

Maar weet in u hartseer: God treur saam met u. En nog meer: omdat Hy die dood oorwin het, hoef u nie te treur sonder hoop nie. Want Jesus, die een wat saam met Marta en Maria getreur het, het ook aan die kruis trane gestort, en so die dood oorwin. En Hy treur nie alleen in elke treurigheid saam met u nie, Hy is by u en my al die dae tot by die voleinding van die wêreld.

Hy het die graf oorwin, die dood gedood. Sy trane het vir ons die toekoms ontsluit. En daarom moet ons leef, in al ons somse treurige omstandighede, soos mense met hoop. Want ons het dit: Jesus Christus!
Amen