Lukas 23:26-43

God vra ware berou oor sonde



Geliefdes van ons Here Jesus, ons teksvers vir hierdie prediking kom uit ons gelese gedeelte, uit vers 28: “Maar Jesus het na hulle toe omgedraai en gesê: ‘Vroue van Jerusalem, moenie oor My huil nie, huil oor julleself en julle kinders ...’”

 

Broers en susters, as ons hierdie gedeelte lees, dan besef ons hoe’n droewige begrafnisstoet hierdie was. Ek is seker dat almal van ons tog al ’n begrafnis bygewoon het. Daar is egter ’n hemelsbreë verskil tussen ‘n hedendaagse begrafnisstoet en die Here Jesus s’n. Ja, by ons stoete is die persoon al reeds dood, maar in Jesus se geval moes Hy nog na sy dood gelei word ... Hy moet as ’t ware sy eie begrafnisstoet vooruitloop. Uiteindelik het Pontius Pilatus toegegee aan die Joodse eise dat Jesus gekruisig moet word. Stadig beweeg hierdie stoet na Golgota. Saam met die Here Jesus loop daar ook twee misdadigers wat ter dood veroordeel is, een wat links en een wat regs van Hom sou hang. Anders as die Here Jesus, verdien hulle hulle straf, en is hulle kragte nie uitgeput van ’n marteling en géseling nie. Pilatus het Jesus juis laat gésel in die hoop om Hom daarna vrygelaat te kry, en dat dit meer as genoeg straf sou wees vir watter beskuldiging die Jode ook al teen Hom ingebring het. Maar helaas, die Jode was nie daarmee tevrede nie ... hierdie Jesus móét gekruisig word! Ja,hulle was so bloeddorstig, dat hulle selfs uitgeskreeu het: “Ons aanvaar die verantwoordelikheid vir Sy bloed, ons en ons kinders”(Mat 27:25)! En omdat die Here Jesus se kragte mettertyd in gegeehet, het die soldate ’n man, Simon van Sirene, langs die pad beveel om Sy kruis namens Hom te dra.

 

Stadig maar seker beweeg hierdie begrafnisstoet na die terrein van teregstelling. Vooraan die stoet stap die Romeinse soldate wat die Here Jesus aan die kruis moet gaan vasspyker, en wat moes seker maak dat Hy nie dalk deur Sy volgelinge bevry sou word nie. Tussen hulle loop die Here Jesus soos ’n veroordeelde misdadiger saam met die ander twee moordenaars. Hierdie eerstegroep mense vind die kruisiging niks snaaks nie. Eintlik is hulle also gewoond aan hierdie manier van teregstelling dat dit vir hulle maar net nog een is ... dit is vir hulle maar net nog ’n opdrag wat uitvoer moes word. Ja, vir hulle is die dood niks ongewoon nie ...hulle kom gereeld daarmee in aanraking op die slagvelde. Boonop is die vyande van die keiser ook op soortgelyke maniere tereggestel as afskrikmiddel. Al wat hulle moontlik in gedagte gehad het, was omhierdie kruisiging so gou as moontlik afgehandel te kry.

 

Agter hierdie soldate stap ’n tweede groep. Hierdie groep bestaan uit die Joodse leiers en die volk wat die Here Jesus aangekla het. By hulle is daar natuurlik ’n baie meer opgewonde atmosfeer. Ja, hulle is bly en tevrede dat daardie ruggraatlose Pilatus aan hulle eise toegegee het. Nou kan hulle uiteindelik ’n einde maak aan hierdie godslasteraar, hierdie man wat Homself die “Seun van God” noem. Al het Hy dan nou ook nie werklik iets gedoen wat die dood verdien nie, is dit beter as Hy uit die pad uit is. Hy het immers die volk teen hulle opgesweep en hulle in onguns gebring met Sy aantygings en beskuldigings. Nee, dit is beter dat Hy moet sterf! Hierdie tweede groep maak grappe en spot die Here Jesus. Ironies genoeg maak die kruisiging ook nie veel indruk op hulle nie, selfs nie al is dit ’n heidense praktyk nie. Voorheen sou hulle niks met heidense praktyke te doen wou gehad het nie, maar nóú is hierdie onmenslike praktyk ’n wonderlike straf vir selfs een van hulle eie volksgenote. Ja, dit is maar net weer eens ’n bewys hoe skynheilig hulle is.

 

Gemeente, dit is eintlik die derde groep van hierdie stoet wat vir ons belangrik is. Ja, want dit is tot hierdie groepdat die Here Jesus ’n reaksie toon. Hierdie laaste groep van die begrafnisstoet bestaan uit Jesus se vriende en familie ... ja, dit is die Here Jesus se getroue volgelinge wat op ‘n afstand volg. Moontlik was daar ook nuuskieriges wat by hulle aangesluit het, vroue wat normaalweg, as deel van die Joodse tradisie, by die dood van geliefdes gehuil het. Nou voel hulle jammer vir hierdie man, en huil hulle oor die behandeling wat Hy ontvang van sy spotters en haters. Die rede hoekom hierdie mense deel van hierdie begrafnisstoet is, verskil grotendeels van die ander twee groepe. Hulle voel en dink anders oor hierdie teregstelling.

 

In hierdie groepie is die Here Jesus se moeder. Dalk dink sy terug aan die wyse woorde van Simeon in die tempel toe hy vir haar die volgende oor haar Kindjie gesê het: “Kyk,hierdie Kindjie is bestem tot ’n val en opstanding van baie in Israel en tot ’n teken wat weerspreek sal word ... En wat jou betref, ’n swaard sal deur jou siel gaan” (vergelyk Luk 2:34-35). Ja, daar is selfs van Sy dissipels, by name Johannes en Jakobus, wat skielik die Here Jesus se profetiese woorde oor Sy eie dood so goed onthou. Hulle was eendag baie selfsugtig en wou graag die twee ereposisies aan weerskante van Jesus in Sy koninkryk beklee, naamlikdie regterkantse en linkerkantse ereposisies. Die Here Jesus het hulle toe geantwoord: “Julle weet nie wat julle vra nie ...”(Mark 10:37-38). Ja, min wetend dat juis hierdie twee ereposisies,wat hulle so begeer het, deur die twee misdadigers aan weerskante van Jesus ingeneem sal word. Moontlik sluip Petrus, wat so selfvoldaan was dat hy nooit sy Meester sal verloën nie, ook in hierdie laaste groepie rond. Anders as die ander twee groep wat hard en ongevoelig teenoor die Here Jesus se lyding gestaan het, is hierdie groepie volgelinge in trane en verdriet. ’n Mens reken seker dat die Here Jesus baie bly was dat daar tog iemand was wat meegevoel gehad het met Sy lyding. Ja, te midde van al hierdie haat en ongevoeligheid was daar darem mense wat meegevoel gehad het met Sy lyding en smart. Vir ’n oomblik het die Here Jesus van sy eie pyn en lyding vergeet. Hy stop en draai Hom na die huilende groepie vroue. En dit is tot hierdie derde groepie wat die Here Jesus Hom rig met die volgende woorde: “Vroue van Jerusalem, moenie oor My huil nie, huil oor julleself en julle kinders ...” Waarom sou Jesus tog so iets sê? Het Hy dan nie hierdie vrouens se trane en verdriet waardeer nie?

 

Geliefdes van ons Here Jesus, ons moet hierdie woorde van die Here Jesus deeglik begryp. Al was die kruis wat Hy fisies en geestelik moes dra, ongelooflik swaar, was Hy nie die een wat die slegste daarna uitgesien het nie. O nee, die Here Jesus het geweet dat Sy lydensweg nie die finale is nie ... dit is nie vir Hom ’n doodloopstraat nie! Aan die einde van Sy lydensweg, die derde dag nadat Hy in die graf gelê is, het die opstandingsmôre vir Hom gewag. En dít het die Here Jesus geweet! Ja, Sy lydensweg was maar ’n donker tonnel waardeur Hy moes reis om uiteindelik na die lig geneem te word, die lig van Sy opstanding, die oorwinning oor die dood se magte. Dít is waarom die Here Jesus vir die vrouens sê: “Dogters van Jerusalem, huil oor julleself en julle kinders ...” Die Here Jesus weet waarheen Hy oppad is, maar weet húlle wat hulle eindbestemming is? Besef hulle dat ’n keuse téén Jesus eintlik niks anders isnie as ’n keuse vír die ewige dood?

 

As die Here Jesus hierdie vrouens aanspreek as “dogters van Jerusalem”, dan bedoel Hy nie net hierdie groepie huilende vroue agter Hom nie. Nee, dit beteken die hele Jerusalem, die hele Joodse volk, al die nageslagte wat uit hulle gebore sal word! Hulle is die vrouens wat kinders in die wêreld gaan bring oor wie God se oordeel gevel is. Ja, hierdie vrouens moet eerder oor hulleself en hulle kinders huil, want ’n rukkie gelede het hulle nog saam met die Joodse leiers Jesus se bloedgesoek! Ja, toe het hulle nog bloeddorstig geëis dat Hy gekruisig moet word ... ja, toe het hulle nog hard geskreeu: “Ons aanvaar die verantwoordelikheid vir Sy bloed, ons en ons kinders!” Wat hulle egter nie besef nie, is dat die oordeel van God baie erg gaan wees vir diegene wat Sy Seun misken, en Hom nie as die enigste Verlosser wil aanvaar nie! Ja, dit is waarom die Here Jesus sê hulle moet eerder oor hulleself en hulle kinders huil, want as God se oordeel oor hulle val, sal diesulkes eerder wens dat die berge op hulle moet val en die heuwels hulle van God se oordeel moet bedek (vers 30). Ja, verwerping van Jesus Christus, God se liefdesgawe aan die mens, is verwerping van die geleentheid om die ewige lewe te erf! Huil, dogters van Jerusalem, huil omdat julle die dood bo die lewe verkies het!

 

Broers en susters, hierdie derde groepie mense, insluitend die huilende vrouens, wat op pad is na Golgota, sê vir ons vandag net so baie. Ja, hierdie boodskap is ook vir ons vandag bedoel! Ek wonder of julle werklik weet hoeveel mense het simpatie met dít wat die Here Jesus deurgegaan het, ja, hoeveel mense kry Hom jammer? Hierdie gedeelte wil vir ons sê dat daar wel baie mense is wat jammer voel vir wat die Here Jesus alles moes deurgemaak het, en boonop simpatie met Sy verwerping het, en dan ... ja, steeds verlore gaan! Kan julle dit glo? Hoeveel van daardie vrouens wat so bitterlik gehuil het oor die “arme” Jesus het later - toe hulle weer by die huis was - oor alles gaan nadink? Wie van hulle het tot bekering gekom nadat die Here Jesus hulle daartoe opgeroep het?

 

Saam met die ganse Christelike kerk staan ook ons vandag voorhierdie werklikheid: Dit is maklik om weer eens trane in die oë te kry as ons aan die Here Jesus se lyding dink ... trane van meegevoel ... trane van jammerte! Maar dit is nie die soort trane wat die Here Jesus soek nie! O nee, Hy soek trane van berou! Ja, die Here soek ’n hart wat voor Hom stukkend breek van berou oor jou sonde. Dit is waarom die psalmdigter ook bely: “U sal ’n hart vol ootmoed en berou nie gering ag nie, o God” (Ps 51:19). Dit is waarom ons nie vandag net aangedaan en huilerig kan wees oor die Here Jesus se lyding en kruisiging nie. Nee, as ons so na die kruis op kyken Hom daaraan sien hang, dan word daar van ons gevra om te huil oor ons sonde. Dít is hoe baie God die sonde gehaat het ... so baie dat Hy werklik nie eers Sy eie Seun gespaar het nie! Dit is waarom ons ook in Gesang 389, strofe 2 die volgende woorde singend bely: “Ja, ek kos Hom die slae, die smarte en die hoon. Hy dra na Gods behae, die kleed, die doringkroon ...” En die Here Jesus het nie aan die kruis gehang omdat Hý ’n sondaar was nie, maar Hy het daar gehang vir mý en vir júlle! Hoekom?

 

Gemeente, julle moet besef dat God nie van ons vra om soos die vrouens te huil en treur oor die Here Jesus se lyding en kruisiging nie. Nee, as ons dan wel trane moet hê, moet dit wees asgevolg die besef dat ons eintlik verlore is. Die kerk vier nie elkejaar vir sewe agtereen volgende Sondae die lydensweg van die Here Jesus om simpatie en meegevoel vir Hom op te wek nie. O nee! Die doel van hierdie lydensweke is juis sodat elkeen tot die besef sal kom dat die Here Jesus namens ons die straf en oordeel van die sonde gedra het. Ons kan eintlik die woorde van Jesaja 53 vers 5 op die Here Jesus van toepassing maak: “Oor óns oortredings is Hy deurboor, oor óns sondes is Hy verbrysel; die straf wat vir ons vrede moes bring, was op Hom, deur Sý wonde het daar vir ons genesing gekom.”

 

Daarom, ons moet eerder die gesindheid van die ander moordenaar aan die kruis langs die Here Jesus hê. Ja, ons moet soos hy ook die Here Jesus smeek: “Jesus, dink aan my wanneer U in U koninkryk kom” (vers 42). En dan sal elkeen van ons ook die Here se versekering kry: “Elkeen wat hom voor die mense openlik vir My uitspreek, vir hom sal Ek My ook openlik uitspreek voor My Vader wat in die hemel is” (vergelyk Mat 10:32). Ja, as jy soos die vroue van Jerusalem ook net huil oor die Here Jesus se lyding en smarte, sal jy ook net soos hulle gou-gou vergeet van die werklike betekenis van hierdie gebeure. Dan sal dit vir jou oor ’n week ook nie meer betekenis hê nie. Ja, dan sal jy ook elke dag net so skuldig wees aan die spykers wat in die Here Jesus se hande ingeslaan is ...niks minder nie as Pilatus wat Hom oorgegee het om gekruisig te word... niks minder nie as die hand wat die spykers ingeslaan het!

Amen