Johannes 19:23-30

God weet hoe ons soms voel



A. EKSEGETIESE OPMERKINGS

  1. Prediking oor die kruiswoorde van Jesus laat die homileet nie met veel opsies nie. Die kruiswoorde kan as reeks hanteer word, wat sou impliseer dat die onderskeie preke op een of ander manier inhoudelik met mekaar verband sal hou. ‘n Tweede moontlikheid is lo¬gies om die verskillende kruiswoorde afsonderlik te hanteer. Die tweede moontlikheid word in die preek wat volg, as benadering gebruik.
  2. Wanneer daar oor die kruiswoorde van Jesus gepreek word, staar een stukkie ge¬vaarwater die homileet in die gesig: van die kruiswoorde (bv Ek is dors) het te make met die menslikheid van Jesus. Die dialektiek Jesus as God en mens, moet dus fyn hanteer word in die prediking.
  3. In die preekskets wat volg word aandag gegee aan Jesus se kruiswoord ‘Ek is dors’, in samehang met ander uitsprake van Jesus wat iets van sy emosies en menslikheid na vore bring (bv Jesus se uitsprake dat Hy vaak is, moeg is en kwaad is). Die hantering van die teksgedeeltes waarin hierdie uitsprake van Jesus Christus na vore kom, sê vir ons iets van Jesus se menslikheid. Omdat Jesus ook mens was en emosies wat tipies menslik is geopenbaar het, kan die gelowige weet dat Jesus Christus (al is Hy God) weet hoe mense voel. Hy weet dus nie alleen van ons lyding nie, maar weet ook wat dit is om fisies te ly. In dieselfde wêreld waarin ons moet lewe, het Hy vir ons die verlossing kom bewerk. Dit dien vir ons as gelowiges tot groot troos.

PREEKSKETS
Skriflesing:
Johannes 19:23-30
Tema: God weet hoe ons soms voel
Prediking:
Broers en susters in onse Here Jesus Christus:

Dit is vir ons as God se kinders moeilik om aan Jesus Christus, wat God is, heilige God is, as mens te dink. Tog sien ons dat veral die skrywers van die vier evangelies plek-plek baie duidelik na Jesus Christus se mensheid verwys. Nie dat hierdie verwysings sou beteken dat Hy nou nie meer ook God was nie. Die punt is bloot: op sommige plekke word die lewe en werk van Jesus Christus so beskryf dat ons die gesig van sy mensheid kan sien. En helaas, onsself in daardie menslike gesig van God kan sien. Maar daarby kom ek ‘n bietjie later. Kom ek noem u eers ‘n paar voorbeelde, dat u kan verstaan wat ek met die menslike gesig van God bedoel. (Let op, die wyse waarop ek die voorbeelde aan u voorhou staan nie presies so in die vertellings waarna ek verwys nie. Ek interpreteer die gedeeltes juis om klem te lê op die menslike sy van die verskillende gebeurtenisse.)

Op ‘n keer, lees ons in Johannes 4, het Jesus gesê ‘Ek is moeg’. Gaan kry julle die kos. Ek gaan ‘n rukkie hier sit om te rus. Jesus was moeg. Heel waarskynlik het sy gesig gegloei van die hele dag se gestap in die son, en het sy voete gebrand. Hy wou dus rus. Daarom het Hy by die put van Jakob, by Sigar in Samaria gaan sit. Maar voor Hy sy oë kon sluit, het daar ‘n Samaritaanse vrou aangekom. Sy was alleen. En Jesus het met haar begin praat, wat ‘n vreemde gebruik in daardie tyd was. Hoekom, weet ons nie. Miskien was dit die donker kringe onder haar oë, of die feit dat sy so gekrom, gebuk onder die harde lewe, geloop het.

Op ‘n ander keer, lees ons in Matteus 8:23-27, het Jesus gesê ‘Ek is vaak’. Dit was ‘n lang dag. Die skare was reusagtig groot. So groot dat dit ‘n probleem geword het om op die strand te preek. Jesus het daarom in ‘n skuit geklim om die skare toe te spreek. Nou was dit aand, en Jesus was vaak. Agter in die bootjie het Hy aan die slaap geraak, en so diep geslaap dat die donderweer en die woeste storm wat uitgebreek het, Hom nie eers wakker kon kry nie. Slegs die gille van sy dissipel kon mettertyd tot Hom deurdring.

My laaste voorbeeld kom uit Markus 11:14-19. Daar het Jesus gesê ‘Ek is kwaad’. En heel waarskynlik sou ‘n mens dit kon sien ook. Want wat Jesus op die tempelplein voor Hom gesien het, was allesbehalwe die huis van gebed vir alle nasies waartoe die tempel bestem was nie. Daarom het Hy tafels van die geldwisselaars en duiweverkopers omgekeer. So het ‘n ontstelde Messias ‘n baie duidelike punt gemaak: Moenie van godsdiens ‘n geldmakery maak nie of God gaan julle bykom.

Ons is aan die vier evangeliste, broers en susters, baie dank verskuldig dat hulle hierdie stukkies menslikheid oor Jesus se lewe in hulle evangelies ingesluit het. Hulle hoef dit seker nie regtig te gedoen het nie, maar hulle het — en, wil ek amper sê — presies op die regte oomblikke.

Want net sodra Jesus se Goddelikheid amper ontoeganklik begin raak het, net sodra dit gelyk het of sy heiligheid net te veel vir die mense rondom Hom geword het, net sodra sy volmaaktheid onnavolgbaar begin raak het, is dit asof ‘n stem in die evangelies wil sê: Moenie vergeet nie. Hy was ook mens. Moet dit nooit vergeet nie. Hy was ook, soos jy, van vlees en bloed.

Hy was ook mens soos jy mens is. Hy weet ons is maar van stof, Hy weet ons is soms broos en onseker, Hy weet presies hoe ons as mense soms voel. Ja, wil die evangelies vir ons hier sê — wanneer ons so treffend die gesig van Jesus se menslikheid getoon word — die Een tot wie ons bid, Hy ken ons, Hy weet wie en wat ons is.

Hy ken ook versoekings. Hy het ook al ontmoedig gevoel. Hy was ook honger, en vaak en moeg. Hy weet hoe ons voel wanneer die wekker afgaan. Wanneer ons kinders almal tegelyk verskillende goed wil hê. Hy knik selfs sy kop begrypend wanneer ons soms woedend bid. Wanneer ons sê ons is alleen, verstoot. Hy is selfs geraak wanneer ons vir Hom sê dat daar meer is om te doen as wat menslik moontlik is. Ook, glo ek, glimlag Hy wanneer ons sê dat ons moeg is, lewensmoeg.

Maar ons moet boweal, broers en susters, vir Johannes baie dankbaar wees dat Hy gekies het om vers 28 van sy negentiende hoofstuk in sy evangelie in te sluit. Daar waar Jesus sê: ‘Ek is dors’.

Want dit is nie die Christus, die Messias wat hier dors is nie. Dit is die timmerman. Dit is menslike woorde midde-in Jesus se Goddelikheid. Hoekom, broers en susters, is hierdie drie woorde van Jesus so besonders?

Want dit is anders. Anders as al die ander woorde wat Hy aan die kruis geuiter het. Jesus se ander woorde aan die kruis, het iemand eendag geskryf, sou ‘n mens kon verwag: ‘Vader vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie’ — ‘n boodskap van God wat vergewe. Ons ken dit. ‘Vandag sal jy saam met my in die paradys wees’. Nog ‘n boodskap van vergifnis, vrede en hoop — ons ken God ook so. Of sy woorde aan sy ma: ‘Daar is jou seun, seun, daar is jou moeder’ — woorde van besorgdheid. Dit verwag ons van God. Ons ken God so. Of sy woorde ‘Dit is volbring’ — woorde wat sê daar is nou finaal vrede tussen mens en God.

Maar nie die woorde ‘ek is dors’ nie, broers en susters. Dit is woorde wat nie iets vir ander belowe nie, dit is nie woorde wat ander gerusstel nie. Nee, dit is persoonlike woorde, ‘n roukreet, woorde van behoefte, woorde wat ons terugruk tot die besef: maar die Woord het regtig vlees geword.

Woorde wat wil sê: onthou dat ek ook mens was. En omdat Ek ook mens was, my mensekind, weet ek presies hoe jy soms voel. Ek weet van elke kind wat weggegooi is, al leef sommiges van hulle nog by hulle ouers. Ek weet van die geskeide mens op wie ander ‘n stigma geplaas het. Ek weet van die leë posbus. Die lang alleen dae. Die nog langer nagte. ‘n Vergete verjaarsdag, ‘n stil telefoon. Van liefde wat nie terug beantwoord word nie. Of, kom ons sê dit so: Ek weet wat dit is om mens te wees, Ek weet om mens te wees is nie maklik nie.

Daarom broers en susters: wanneer daar lyding oor u kom, wanneer u swaarkry, wanneer u stoksielalleen voel, wanneer u soms in die kop al die smarte uit u lewensverhaal op die tafel pak en seer daardeur blaai, weet een ding: die Koning van konings, ons Môrester, die Prins van vrede, God, u en my Verlosser, het vlees geword en onder ons kom woon. Ons Meester weet wat dit beteken om ‘n gekruisigde timmerman te wees wat dors geraak het.

Daarom weet Hy ook van u en van my. Weet Hy van alles wat ons as mense kan ervaar. Want in dieselfde wêreld waarin u en ek moet lewe, wat ons daagliks in die gesig moet staar, het Hy vir ons die verlossing kom bewerk.

Mag dit vir u ‘n troos in elke omstandigheid van u lewe wees.
Amen