Markus 14:43-52

Is dit moontlik om ongesiens by God verby te gaan?



Geliefdes van ons Here Jesus, die teksvers van ons prediking is verse 51 en 52: “’n Sekere jongman is saam agter Jesus aan, met net ’n doek om sy lyf. Die mense gryp hom toe, maar hy het die doek gelos en kaal weggehardloop.”

Broers en susters, hoe anoniem kan ’n mens voor God bly? Is dit enigsins moontlik om ongesiens by God verby te gaan? Wel, die Bybel leer ons uitdruklik dat niks vir God verborge is of weggesteek kan word nie (vgl Ps 139:7-12). Dit is dalk moontlik om ongesiens by mense verby te kom ... selfs miskien anoniem te bly, maar voor God is elkeen van ons en ons dade ontbloot. So is dit ook met hierdie verhaal van die jongman wat kaal weggehardloop het ...

Hierdie twee verse vertel vir ons van ’n jongman wat Jesus vir ’n baie kort rukkie gevolg het ... net totdat dit te warm geword het vir hom ... toe het hy weer verdwyn soos hy verskyn het - anoniem ... naamloos. En, gelees teen die groot gebeure van Jesus se lyding, sy kruisiging en sy sterwe, raak hierdie twee versies eintlik verlore ... immers, dit is so al asof die skrywer van hierdie Evangelie dit net so terloops noem. Maar is dit werklik so terloops? Wel, as jy ’n toeskouer van die gebeure daardie aand kon gewees het, sou jy dalk die volgende toneeltjie opgemerk het: terwyl Jesus deur die mense en soldate weggelei word, sien jy uit die hoek van jou oog - heeltemal dof en uit fokus - ’n beweging ... iets soos ’n wit laken wat wapper, ’n geskarrel van mense en dan ’n kaal lyf wat in die nag verdwyn. Vir ’n oomblik wonder jy wat gaan daar aan, maar gou-gou is dit vergete as die optog met Jesus verder gaan na die huis van Kajafas, die hoëpriester. Later sou jy daardie gebeure dalk net so terloops aan iemand genoem het. Máár ... as dit jy was, wat so kaal weggehardloop het, dan was dit nie sommer iets terloops nie! O nee, dan was dit iets wat jy vir altyd sou onthou het! Hoekom sê ek so?

Gemeente, wie was hierdie jongman wat so kaal van Jesus Christus se inhegtenisneming weggehardloop het? Volgens oorlewering is dit heel moontlik dat dié jongman Johannes Markus, die skrywer van hierdie Evangelie was. Daar is goeie redes om hierdie gerug te glo. Eerstens, nie een van die ander evangelieskrywers noem hierdie insident nie ... dit kom net in hierdie Evangelie voor. Tweedens, die laaste nagmaal is volgens oorlewering in die bokamer van die huis van Markus se moeder gehou. Derdens, wie het nou eintlik die beste motief om hierdie insident , die naam van hierdie jongman geheim te hou? Sou jy wou gehad het dat iemand moes geweet het dat dit jy was wat weggehardloop het? En dit boonop nog kaal! Tog, sou jy nie dalk hierdie insident wou noem, omdat dit jou lewe daarna dalk drasties verander het nie?

Miskien is dit Markus. Wie sal egter met sekerheid kan sê? Net God sal kan! En dalk is dit op die ou end ook goed dat sy naam nie genoem word nie, want dit het groot waarde vir ons geloofslewe. Hoe so? Omdat die Heilige Gees dit wel so bewillig het dat hierdie insident in die Bybel opgeteken staan. En nie sonder rede nie! Dit is nou maar een ding van anonimiteit - enigiemand kan die skoen aantrek as dit jou pas! Die ander groot voordeel van naamloosheid is dat dit pynloos is ... geen name word genoem nie, so, niemand kan seergemaak word nie! Koos du Plessis sing juis daarvan in een van sy liedjies: “As niemand van jou hoor nie; as niemand van jou weet nie, kan jy tog niks verloor nie - kan niemand jou vergeet nie.” Ja, hoeveel het jy nie ook al verlang na sulke anonimiteit nie? Wie van ons wou nie ook al onsigbaar in ’n skare mense gewees het nie? Dit is presies wat hierdie jongman in die Bybel gekry het ... hy word nie ontmasker nie ... hy bly naamloos!

Tog, hierdie jongman het ’n naam ... Ja, elkeen van ons word nou ’n verdagte ... mense kyk na mekaar en wonder: “Is dit nie dalk hy of sy nie?” Mense se onderlangse blikke na jou, laat jou wonder: “Weet hulle dalk dat dit ek was?” Jou skuldige gewete laat jou perfek in daardie jongman se skoene staan ... en dan het jy nogal gedink jy het weggekom sonder dat iemand jou gesien het. Dalk is dit ook hoekom hierdie gedeelte in die Bybel opgeneem is. Miskien wil dit ons laat dink ... dalk wil dit juis hê dat ons so bietjie moet gaan nadink oor ons weghardlopery ... ons sondes. Ja, die vraag is nou nie meer: “Wie is hierdie jongman wat tot laat in die aand nog in sy bed wakker lê, en rondrol oor bekommernisse van wie het hom dalk gesien of herken?” nie, maar: “Hoekom rol ek in my bed rond?”

Geliefdes van ons Here Jesus, kom ons verplaas ons so bietjie na die gebeure van daardie oggend vroeg ... net miskien sal ons op dié manier die naam van die jongman kan uitvind ... en dalk sal ons onsself ook langs die pad vind. Kom ons sê jy word daardie oggend wakker gemaak deur ’n geraas onder in die straat ... dit klink soos soldate se gemarsjeer, mense wat half opgewonde babbel ... ’n geklinkel van kettings. Half deur die slaap loer jy by jou venster uit, en ewe skielik is jy wawyd wakker! Jy herken die persoon wat so rondgestamp en soos ’n skaap aangejaag word - dit is daardie Jesus waarvan almal praat. Immers, hy het nog laas nag by julle aan huis geëet. Skielik oorval die begeerte jou om hierdie geboeide Man te volg ... tyd vir klere is daar nie ... jy draai sommer vinnig die laken om jou kaal lyf. So terloops, besef jy, ek is immers nie die enigste wat Hom al gevolg het nie!

Ja, daar was geleenthede toe baie ander Hom gevolg het ... ja, eendag was Hy by die see en toe het Hy vir vissers gesê: “Volg My!” Net dit, en hulle het. Dan was daar die geleentheid toe Hy vir die man by die tolhuis ook gesê het om Hom te volg, en Levi het. Daar was selfs mense wat bereid was om Hom uit hulle eie te volg ... maar almal het hierdie Man so ’n ruk gelede in die steek gelaat en weggehardloop (v 50). Van sy getroue dissipels het nie een oorgebly nie! Maar nie een van Jesus se dissipels het Hom só skielik soos hierdie jongman begin volg nie. Daar was geen uitnodiging nie ... geen wonderwerk nie ... geen oogkontak nie ... geen groepsdruk nie ... niks nie! Net hierdie geboeide Man wat soos ’n skaap ter slagting gelei word! En hierdie prentjie gryp jou by die hart ... jy wil, néé, jy móét Hom volg. Tyd vir “totsiens” is daar nie ... iets dring jou om hierdie Man onmiddellik te volg ... jy met net die laken om jou!

En die wonderlike van hierdie twee verse in Markus evangelie is die feit dat, toe al die ander dissipels wat al drie jaar saam met die Here Jesus geloop het, Hom ewe skielik verlaat het, het daar wel een naamlose volgeling saamgeloop. Een wat vír Jesus was teenoor die baie wat téén Hom was ... één teen baie! Toe almal wat name gehad het - al die Petrusse en Johannesse, die Jakobusse en Tomasse - tou opgegooi het en vreesbevange weggehardloop het, toe het hierdie anonieme dissipel na vore gekom. Sien julle hom? Herken julle hom? Sien julle hoe blink sy oë van bewondering vir hierdie Man? Merk julle op hoe lief hy die Here Jesus het? Hoor julle hoe hy onbevrees Jesus volg en verkondig dat Hy wel die ware Verlosser is?

Nee, ons hoor dit nie! Ag, as dit maar so was ... ja, as dit maar so kon gewees het! Dan sou Jesus se lyding, sy kruisiging en dood nie so eensaam gewees het nie! Maar toe die mense - ook hulle is naamloos - na hierdie naamlose jongman, hierdie dissipel, gegryp het, het sy moed hom begewe! Ja, hoe baie keer het naamlose gevare nie al voornemende dissipels van Jesus bang gemaak en verdryf nie ... hierdie naamlose gevare is die grypers van die bose en korrupte wêreld in diens van die groot Gryper wat ons uit die Here Jesus se hande wil gryp, sodat ons bang en moedeloos sal word en ophou om Jesus te volg!

Broers en susters, hier het die naamlose jongman die geleentheid gehad om steeds vir Jesus te gevolg het, al was dit dan nou ook in boeie na sy ontydige dood! Die keuse was syne! Ja, hy kon toe ’n naam bygekry het en dalk in die Markus evangelie by name genoem gewees het as die laaste, ware dissipel van Jesus! Maar die prys was te hoog! Dit is te veel gevra! Hy kies eerder vir anonimiteit ... hy wil eerder naamloos bly en leef ... wegkom. En nou lees ons van hom as die naamlose jongman wat sy laken agter gelos het en kaal van Jesus af weggehardloop het. En só is die Here Jesus weer eens aan Homself oorgelaat, alleen in sy lyding en vernedering!

Minute later het daardie jongman weer in sy kamer gelê ... hy kon nie weer aan die slaap raak nie. Sê nou net iemand het hom herken ... wat gaan hy vir sy ma môre sê as sy hom sou uitvra na wat van sy laken geword het? Die volgende dag, elke keer as iemand toevallig in sy rigting gekyk het, het hy benoud en vreesbevange geword dat hulle hom dalk herken het! Op die ou end was hy omtrent ’n senuwrak gewees. Tog, dae en weke later gebeur niks nie ... niemand assosieer hom met daardie insident nie! Goddank, sy anonimiteit is veilig ... ja, as niemand van hom hoor nie; as niemand van hom weet nie, kan hy tog niks verloor nie! Altans, so het hy gedink!

Maar ’n paar jaar later, word daar van hom gelees in die brief aan die gemeente. Daar word vir die gemeentelede ’n prentjie geskets van ’n jongman wat kaal van Jesus af weggehardloop het. Opnuut word sy gedagtes teruggeruk na daardie oggend ... vir ’n baie kort tydjie was Jesus op sy kruispad nie alleen nie. ’n Wit laken fladder in die vroeë oggendskemering ... kaal boude verdwyn in die duisternis ... en dan niks nie! Skuldig kyk hy om hom rond ... wie het hom herken! Gelukkig niemand nie!

Gemeente, dit is die wonderlike van God se boodskap aan ons vandag. Die Heilige Gees het daardie jongman, maak nie saak wie hy was en hoe oud hy geword het nie, nie toegelaat om van sy kortstondige verhouding met Jesus te vergeet nie. Elke keer as hy sy Bybel oopgemaak het, het hy in vers 52 daarvan gelees. Ja, almal oor die wêreld heen wat hierdie boodskap gehoor het en nog sal hoor, het geweet dat hy was daar ... alleen sy naam het hulle nie geweet nie!

Miskien is dit juis waarom God ook toegelaat het dat hierdie insident in ons Bybel opgeteken staan. Dit moet ons laat nadink oor hoeveel keer was ons ook impulsiewe navolgers van Jesus, net om by die eerste groot bedreiging rieme neer te lê. Tog, hierdie twee verse wil vir ons baie meer sê. Die Here wil as’t ware vir ons ’n foto van Jesus se lydensweg saamgee. Vandag, híér in die erediens, gee God vir elkeen van ons die negatief van hierdie foto. En só stap ons, met die negatief in ons hande, huis toe. En vanaand as ons daar in die donkerkamer van ons gewete ingaan, moet ons hierdie foto ontwikkel. Vergroot dit, en kyk mooi na daardie persoon wat in die Bybel so kaal weghardloop. Herken jy hom of haar dan?

Ons is nie regtig so anoniem nie ... ons is nie werklik naamloos nie! Ons mag dalk so dink, maar God sal dit nooit vergeet nie! Miskien het Markus ook nie, en daarom het hy dit in sy Evangelie ingewerk sodat ons iets daaruit kan leer. Besef dan dat Jesus daar aan die kruis op die ou end ook nakend vir jou gehang ... jou skaamte het sy skaamte geword ... jou angs, sy angs ... jou skuld, sy pyn en vernedering! Ja, Jesus het Homself laat oplig tot vertoon van die wêreld, vir almal om te sien, herkenbaar, by die Naam genoem in drie tale as die Koning, sodat jy en jou mislukking as dissipel salig anoniem kan bly!

Maar by anonimiteit kan dit nie bly nie! As jy weer vanaand in jou bed gaan lê, luister na die geskuifel buite by die venster van jou hart. Wat se geraas is daar buite? Dit is die Here wat wil hê jy moet uitkom en Hom volg, ongeag van wat ook al die naamlose gevare vir jou inhou. Hy wil hê dat jy sy Naam op jou lippe sal neem en nie meer skaamteloos en naamloos weg moet hardloop nie. Hy wil hê dat jy bekend sal wees as sy volgeling ... ’n volgeling met ’n naam! Ja, want die Here sal weer eendag verbykom - nie as Martelaar nie, maar as opgestane Koning op sy triomftog. Onstuitbaar sal Hy dan elke straat, elke dorp, elke land, die hele wêreld in besit neem. Is jy deel van diegene wat dan saam met Hom op die triomftog loop, of gaan Hy hom dan vir jou skaam? Ek sluit af met die volgende woorde van Jesus: “Elkeen wat hom voor die mense openlik vir My uitspreek, vir hom sal Ek My ook openlik uitspreek voor my Vader wat in die hemel is. Maar hom wat My voor die mense verloën, sal Ek ook verloën voor my Vader wat in die hemel is” (Mat 10:32-33).
Amen