Johannes 12:1-7

Maria of Judas?



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:

Die teksvers vir die prediking is Johannes 12:5: “Waarom is hierdie reukolie nie vir 300 silwermuntstukke verkoop en die geld vir die armes gegee nie?”

Ek kan my nogal vereenselwig met die vraag van Judas. Daar is soms mense in die kerk wat net te vroom en te oordadig is. ‘n Mens kry die indruk dat hulle graag in die kalklig wil wees. Alles waarby ‘n “te” bykom is te erg. Maar voordat ons “te” gou ‘n oordeel uitspreek, laat ons eers probeer verstaan wat hierdie verhaal vir ons wil sê.

Die gebeurtenis speel af in die dorpie Betanië. Dit is die dorpie waar Lasarus en sy twee susters Marta en Maria gewoon het. In die vorige hoofstuk word vertel van die opwekking van Lasarus en die opskudding wat dit in die dorpie veroorsaak het, soveel so dat die Fariseërs, die priesters en die Joodse Raad saam besluit het om Jesus dood te maak, omdat hulle ‘n opstand gevrees het.

Nou is Jesus weer terug in Betanië. Hy en sy dissipels was op pad na Jerusalem vir die Paasfees. Ons weet dat Hy uiteindelik daar gevang, gekruisig en begrawe sou word, maar sy dissipels het nog nie verstaan wat met Jesus sou gebeur nie. Daar in Betanië het hulle vir Hom ‘n ete voorberei. Uit die ander Evangelies kan ons aflei dat die ete plaasgevind het aan huis van Simon. Jesus het hom van melaatsheid genees.

By die ete sou Jesus die eregas wees! Al die gaste wat daar teenwoordig was, het ‘n besondere verbintenis met Jesus gehad. Lasarus was daar – Jesus het hom uit die dood opgewek. Simon is van melaatsheid genees, die ete was by hom aan huis. Marta en Maria, Lasarus se twee susters, wat so bedroef was oor sy dood en Jesus laat roep het, hulle het die ete voorberei. Ons kan aflei dat die dissipels, die groepie intieme volgelinge, ook daar was. Hulle was saam met Jesus op pad na die Paasfees.

In die Mediterreense wêreld van die tyd was dit die gebruik dat ‘n slaaf voor die ete die gaste se voete gewas het. Daarna is die eregas se kop gesalf met ‘n paar druppels welriekende olie. Dit is waarna Psalm 23 verwys. In die ou vertaling is dit weergegee met die woorde:”...U maak my hoof vet met olie”, in die nuwe vertaling word dit vertaal met:”... U ontvang my soos ‘n eregas”. Tydens die ete het Maria opgestaan om Jesus as eregas te salf. Die skrywer beklemtoon haar oordadigheid. Sy vat ‘n halfliter egte, baie duur nardusolie, breek die fles oop en gooi dit uit oor Jesus se voete. Die nardusolie is ingevoer van die Ooste waar dit vervaardig is van die wortels van ‘n skaars plant. Dit is verseël in ‘n fles om die geur te bewaar. Dit was baie duur. Die prys waarteen Judas dit skat is drie honderd silwermuntstukke. Vir ‘n arbeider is dit gelykstaande aan ‘n hele jaar se loon. Maria het dit waarskynlik as ‘n geskenk van haar pa gekry met die oog op haar troudag. Daar was in die tyd baie vervalsings van die olie op die markte te koop, net soos vroue vandag namaaksels van parfuum met bekende handelsname, op vlooimarkte kan koop. Die verteller beklemtoon egter dat dit egte, baie duur nardusolie was. Sy gooi die hele fles, ‘n halfliter, op Jesus se voete uit. Weer blyk haar oordadigheid. Nie ‘n paar druppels op sy kop nie, nee – ‘n halwe liter op sy voete. Wat ‘n vermorsing!

Judas reageer dadelik. Dit is darem te erg! “Waarom is hierdie reukolie nie vir 300 silwermuntstukke verkoop en die geld vir die armes gegee nie?” ‘n Mens kan sy ergernis verstaan. Ons sou waarskynlik ook so gereageer het. Hierdie geld kon baie beter aangewend word. Dit kon liewer vir die armes gegee word, dit is minstens dan vir ‘n verdienstelike saak. Hy begrond sy beswaar op ‘n stewige teologiese argument. Die skrywer wil ons egter tussen die lyne inlig dat ons ons nie te veel moet steur aan sy vroom argument nie, want Judas, so sê hy, was ‘n dief. Hy het die beursie gedra en het homself uit die geld verryk. Hy skets vir ons iets van die karakter van Judas sodat ons kan agterkom dat Judas nie oor die armes besorg was nie, maar dat hy ‘n ander motief gehad het. Hy het al gedink wat hy alles met daardie geld kon doen.

Teenoor Judas leer ons in hierdie gedeelte die persoon van Maria ken. Sy was impulsief, maar sy kan nie anders nie. Sy is so oorstelp deur haar dankbaarheid teenoor, en liefde vir Jesus, dat sy haarself volledig gee, sonder reserwe, sy gee die kosbaarste besitting wat sy gehad het. Sy ag haarself nie werd om die kop van Jesus te salf nie, dan maar sy voete. Al beskou die mense dit as slawewerk, dit maak nie saak nie. Sy buig vooroor en maak haar hare los. Vir ‘n vrou in die tyd was dit ‘n skande om haar hare in die openbaar los te maak, want dit is geassosieer met straatvroue. Dit maak nie saak nie! Sy buig voor Hom op haar knieë en droog sy voete af. Sy verneder haarself in die openbaar. Die mense kan maar sê wat hulle wil! Sy wil uitdrukking gee aan haar dankbaarheid en liefde en daarvoor is sy bereid om haarself te verneder en haar kosbaarste besitting prys te gee.

Die vertrek word gevul met die aangename geur van die nardusolie, maar saam met die geur hang die verwytende vraag van Judas in die lug: “Waarom is hierdie reukolie nie vir 300 silwermuntstukke verkoop en die geld vir die armes gegee nie?” En toe is daar ‘n stilte, ‘n stilte wat jy met ‘n mes kan sny! ‘n Mens sou verwag dat iemand reageer en iets sê, maar niemand sê iets nie – net ‘n gespanne stilte. As toeskouer wil jy eintlik vir hulle daar by die ete vra: “ Is daar dan nie een van julle wat Maria se optrede gaan verdedig nie? Lasarus, jy behoort darem te begryp hoe groot haar dankbaarheid teenoor Jesus is! Jy was dood en jy lewe weer! Simon, jy behoort ook te weet hoe dankbaar ‘n mens is as jy melaats was en nou gesond is. Marta, wat van jou? Jy het dan net soos Maria gehuil van vreugde toe jou broer weer lewe! En julle dissipels, julle was dan getuies by soveel wonders wat Hy gedoen het, julle behoort darem iets te begryp van Maria se vreugde?” Maar niemand sê ‘n woord nie – net ‘n doodse stilte. Deur hulle stilswye stem hulle eintlik saam met Judas: Maria was darem oordadig, sy het oorboord gegaan, dit was ‘n vermorsing van geld, ons kon die geld beter spandeer het.

Dan red Jesus haar van die verleentheid. Hy berispe hulle: “ Laat staan haar. Julle verstaan haar nie. Julle beoordeel haar met julle verstand, maar Maria het haar hart uitgestort”. Waarskynlik het Maria op daardie oomblik ook nog nie alles verstaan nie. Jesus het sy dissipels dikwels gewaarsku dat Hy moes ly en sterf en sal opstaan, maar hulle het ook nie die volle konsekwensies van sy woorde begryp nie. Jesus kom tot haar redding. Net soos Judas ‘n teologiese begronding vir sy beswaar wou gee, gee Jesus ‘n teologiese begronding vir Maria se optrede: “Sy salf My met die oog op my begrafnis”. Hy sê vir hulle:” Julle moet nie nou die armes gebruik as ‘n verskoning om Maria se optrede af te kraak nie. Die armes sal nog altyd daar wees. Maria se daad, is ‘n daad van selfopofferende liefde. Julle moet haar nie veroordeel nie. Moenie die armes gebruik as ‘n verskoning vir julle eie halfhartigheid nie”.

Ek kan nou hier “amen” sê. Dan gaan ons almal huis toe onder die indruk van Maria se daad van liefde. Daarby kan ons ook in hierdie lydenstyd onthou dat Jesus vir ons gely en gesterf het. Dan het ons nog nie gehoor wat die Woord van God vir ons wil sê nie. Die verhaal stel ons voor die vraag: waar lê jou simpatie? Daar is mense wat openlik soos Judas sê: ”die kerk vermors geld. Ons leef in moeilike tye. Die kerk vra te veel geld, ek gaan liewer my offergawes weerhou en dit vir die behoeftiges gee! Mense soos Maria is oordadig. ‘n Mens kan nie so baie van jou swaarverdiende geld aan die kerk afstaan nie. Ek kan nie aanhou om die minste te wees en myself te verneder nie. Daar is darem grense waar jou selfrespek en eie trots ter sprake kom!”

Miskien is dit ‘n bietjie kras gestel. Ons is darem almal kerkmense, ons sal nie saam met Judas stem nie. Ons bly liewer stil soos Lasarus en Simon en Marta en die dissipels. Ons skaar ons nie openlik by Judas nie, maar heimlik dink ons dat hy ‘n punt beet het. Daar is tog grense. Die geloof en die kerk kan darem nie so baie eis nie. ‘n Mens het reg op jou vrye tyd en om jou eie begroting eers te laat klop. Deur jou stilswye stem jy eintlik saam met Judas.

Daar is mense soos Maria – hulle is wel ‘n bietjie impulsief, maar hulle is bereid om alles op te offer: hulle vrye tyd, hulle swaarverdiende geld, hulle kragte. Geen opoffering is vir hulle te groot nie! Hulle is bereid om hulleself te verneder, die minste te wees, onvoorwaardelik liefde te bewys en hulleself volledig prys te gee.

Ek weet ons voel nou almal skuldig. Terwyl ek praat is ons almal besig om te rasionaliseer. My omstandighede verskil; die dominee is nou besig om te veralgemeen; ek het meer as my kant gebring, maar êrens is daar darem ‘n grens. Maar voordat jy finaal antwoord op die vraag: met wie identifiseer jy jou in die verhaal? Luister eers na die volle verhaal. Anders as die dissipels ken ons mos die volle verhaal. Ons weet mos dat Jesus ter wille van ons gely het, gesterf het en begrawe is en op die derde opgestaan het uit die dood. Nee, kom ons stel dit meer persoonlik. Jy is mos gedoop! Toe het daar ‘n paar druppels water op jou kop gedrup. Toe het God jou as ‘n eregas gesalf. Hy het nie ‘n albastefles gebreek en jou met nardusolie gesalf nie – nee, Hy het sy liggaam gebreek en jou met sy bloed gesalf! Sy liefde vir jou is onbegrens. Hy was jou skoon deur sy bloed sodat jy by God se feesmaal kan aansit as ‘n eregas! Waar daar in jou lewe die reuk van die dood was bring Hy die geur van die lewe!

As jy dit besef, maak jy nie meer somme nie, jy stel nie meer voorwaardes nie, jy gee jouself volledig – jy tree impulsief op, jy stort jou hart uit!
Amen