Johannes 19:23-30; 2 Korintiërs 5:11-21

Soos God geskep het en steeds skep, moet ons ook



A. EKSEGETIESE OPMERKINGS

  1. Prediking oor die kruiswoorde van Jesus laat die homileet nie met veel opsies nie. Die kruiswoorde kan as reeks hanteer word, wat sou impliseer dat die onderskeie preke op een of ander manier inhoudelik met mekaar verband sal hou. ‘n Tweede moontlikheid is logies om die verskillende kruiswoorde afsonderlik te hanteer. Die tweede moontlikheid word in die preek wat volg, as benadering gebruik.
  2. Wanneer daar oor die kruiswoorde van Jesus gepreek word, staar een stukkie ge¬vaarwater die homileet in die gesig: van die kruiswoorde (bv Ek is dors) het te make met die menslikheid van Jesus. Die dialektiek Jesus as God en mens, moet dus fyn hanteer word in die prediking.
  3. In die preekskets wat volg word aandag gegee aan Jesus se kruiswoord ‘Dit is volbring’. In die preek word geargumenteer dat God se skepping gesien moet word as meer as die skepping van die hemel en die aarde. God se skepping het ook te make met die pad wat God van die begin af met die mens gestap het, ‘n skepping wat eers sy hoogtepunt bereik wanneer Jesus Christus aan die kruis sterf en Jesus sê: ‘Dit is volbring’. Imperatiwies word daarop gewys dat ons nou, na die dood en opstanding van Jesus, soos Adam en Eva nuut voor God staan, en nou voluit vir God kan lewe. Ons dankbaarheid vir gedane verlossing kom onder andere ook daarin na vore dat ons God se skeppingswerk (soos in die preek uiteengesit) sal voortsit deur God se hande, voete, oë en mond in die wêreld te word. 2 Korintiërs 5:11-21 kan as teks saam met Johannes 19:30 gelees word.

PREEKSKETS
Skriflesing
: Johannes 19:23-30; 2 Korintiërs 5:11-21
Tema: Soos God geskep het en steeds skep, moet ons ook
Prediking:
Broers en susters in onse Here Jesus Christus:

In die begin het God die hemel en die aarde geskep. Presies so staan dit in Genesis 1:1. Daar staan nie dat God die hemel en die aarde gemaak het nie. Daar staan ook nie dat Hy die hemel en die aarde gebou het nie, dat Hy dit ontwikkel het nie, dat daar massaproduksie by betrokke was nie, selfs dat Hy maar net van iets gou fotostate gaan maak het nie. Nee, die woord wat Genesis gebruik is baie duidelik — en baie belangrik — skep. God het hemel en aarde geskep.

Om te skep, broers en susters, is iets heel anders as om te bou. Die verskil is eintlik voor die hand liggend. Om iets te bou, neem net jou hande in beslag. Maar om iets te skep, is meer as net jou hande nodig: dit neem ook jou hart en siel in beslag.

Dink maar aan iets wat u al in die lewe geskep het. Miskien is dit ‘n skildery. Of ‘n lied. Miskien is dit ‘n rekenaarprogram wat u geskryf het. Of dalk daardie paar reëls poësie wat u nog nooit vir iemand gewys het nie. Of selfs die duiwehok in die agterplaas. Hoe voel ons oor hierdie skeppings? Goed? Trots? Verleë? Selfbeskermend? Ons kan elkeen maar self besluit. Feit van die saak is, deel van ons leef in dit wat ons geskep het. Want wanneer ‘n mens skep, steek jy iets van jouself daarin. Jy gee uiting aan jouself. Jy sê eintlik: kyk, dit is wat ek is, dit is hoe ek lyk!

Met dit gesê, broers en susters, kom ons kom terug by Genesis 1:1 en kom ons probeer om ons God se skeppingswerk voor te stel. Daar is baie dinge wat ons nie van die skepping af weet nie (eintlik weet ons niks nie!). Een saak wat ek egter dink ons wel kan aflei, is dat God sy skepping met ‘n glimlag geskape het. Vanuit ‘n menslike perspektief, broers en susters, moes dit wonderlik gewees het om die strepe op die sebra te verf, die sterre in die hemel op te hang, die goud in die sonsondergang te sit, die kameelperd se nek te rek, die fladder in die kokkewiet se vlerke te sit, en die lag in die hiëna te plant.

Heel waarskynlik het God, soos ‘n fluitende timmerman in sy werkwinkel, elke oomblik van sy skepping geniet. En toe, om die kroon op sy skepping te plaas, het Hy die mens gemaak. Met ‘n nuttelose hopie grond het Hy begin en geëindig met ‘n spesie van onskatbare waarde, en dit mens genoem. Die mens wat die unieke eer te beurt geval het om die beeld van God te kon dra.

Baie van ons dink, broers en susters, dat God se skepping hier opgehou het. Dit is egter nie die geval nie. Want na die skepping van die mens, ontvou daar ‘n storie want ‘n mens amper nie kan glo nie. ‘n Duiwelse slang voer die mens ‘n appel en ‘n wolhaarstorie oor God, en die liggelowige mens sluk albei. En hierdie een opstandige optrede van die mens is dan ook die begin van ‘n uiters voorspelbare verhouding tussen God en mens.

Hoewel die karakters en die tonele verander, herhaal die draaiboek homself eindeloos. God begin sy verhouding met sy skepping. En die mens, op sy beurt, reageer opstandig deur telkens van God af weg te hardloop, weer in berou na God uit te reik, om vergewe te word. Om dan maar weer net te vlug, en later maar weer net in berou skaam na God terug te kruip. Lees gerus maar die verhale in die boek Rigters. Dan sal u presies sien waarvan ons hier praat.

In hierdie verhaal, die verhaal van die mens se verhouding met God, sien ons dan, broers en susters, dat God nie ophou skep nie. En as ons gedink het dat God baie verbeeldingryk was met die skepping van die see en die sterre, is dit verstommend om te sien wat God alles doen net om seker te maak dat die mens na Hom luister:

‘n vrou (Sara) van 99 raak swanger;
‘n vrou verander in ‘n soutpilaar;
‘n vloed vee die aarde plat;
‘n bos brand, maar brand eintlik nie;
die Rooi See verdeel in twee;
die mure van Jerigo val eenvoudig net om;
die lug reën vuur; en
‘n donkie praat.

Maar selfs dit alles, broers en susters, was nog niks in vergelyking met dit wat voorgelê het nie. Gedryf deur sy liefde vir die kroon van sy skepping, verras God almal. Hy word mens. In ‘n onverstaanbare misterie vermom God Hom as ‘n timmerman ek kom woon op ‘n stowwerige dorpie in Judea. Vasberade om sy liefde vir sy skepping, en die kroon van sy skepping te bewys, het Hy deur die Galilese platteland, soms met geweldige teenstand en onder groot druk, gestap. Met sy hande het Hy wonde aangeraak, en met sy woorde mense se lewens verander. Hy het, in werklikheid, een van ons geword.

Het ons al ooit in die lewe, broers en susters, sulke vasberadenheid gesien? So ‘n drang om te kommunikeer? So ‘n behoefte om werklik geken en verstaan te word? As een ding nie gewerk het nie, en die sonde van die mens hulle totaal afgestomp het, dan het God iets anders probeer. En as dit met die mens misluk het, het God weer die mens van ‘n ander hoek af benader.

Tot Hy finaal met die mens gehandel het: ‘In die verlede het God baie keer op baie maniere gepraat’, sê die skrywer van Hebreërs, ‘maar nou, in hierdie laaste dae, het Hy met ons gepraat deur sy Seun.
Maar selfs dit, broers en susters, die feit dat God ‘n mens vir mense geword het, was nie die hoogtepunt van die verhaal van God en die mens nie. Toe die hoogtepunt kom het die engele stil geraak en die hemel het as’ t ware tot stilstand gekom om die slot te aanskou. Al God se vroeëre liefdesdade het opgebou na hierdie punt. God aan ‘n kruis.

Die Skepper wat vir die skepping, vir sy eie skepping, geoffer word. God aan ‘n kruis om die mens eens en vir altyd te oortuig dat mislukking van die mens se kant af nog steeds deur vergifnis van God se kant af opgevolg word.

‘n Mens sal altyd wonder, broers en susters, wat in Christus se kop gemaal het toe Hy daar aan die kruis gehang het. Ons kan maar net spekuleer. Miskien het Hy teruggedink aan die skepping van die lug en die see. Miskien het Hy weer gedink aan sy gesprekke met Abraham en Moses. Of dalk gedink aan die plae in Egipte, die manna en kwartels in die woestyn. Of die hardvogtigheid van die Fariseërs. Of die skreeuende skare in Jerusalem. Ons sal nie weet nie.

Wat ons wel weet, broers en susters, is dit wat Hy, soos Johannes 19:30 dit vir ons oorlewer, aan die kruis gesê het: Dit is volbring. Sy sending was nou volledig afgehandel. Alles wat God moes doen, het Hy nou gedoen. Sy skepping was nou finaal voltooi. Daar was nou weer vrede tussen God en mens.

En ons, broers en susters, wat van ons? Deur die gawe van die geloof het ons deel gekry aan hierdie hoogtepunt van God se skeppingsplan. Soos 2 Korintiërs 5:14 dit stel: omdat een vir almal gesterwe het, beteken dit dat almal gesterwe het. Die oue is verby, die nuwe het gekom. ‘n Nuwe lewe waarin ons nie meer vir onsself moet lewe nie, maar vir Hom wat vir ons gesterwe het.

Ons staan dus, broers en susters, wanneer ons hierdie woorde hoor, in wese presies daar waar Adam en Eva voor God gestaan het. Die moontlikheid vir ‘n sinvolle verhouding is daar. Ons kan saam met God leef. Ons kan naby God leef. Ons kan God ken en leer ken. Omdat God dit moontlik gemaak het. Dit is alles, sê 2 Korintiërs 5:18, is die werk van God.

Die vraag is egter: wat gaan ons doen met hierdie liefdesplan van God? Gaan ons soos die eerste mense luister na alles en nog wat in hierdie wêreld, en elke wolhaarstorie sluk wat na ons kant toe kom, of gaan ons, gedwing deur sy liefde vir ons, uitvoering gee aan sy gebod om God en ons naaste vurig lief te hê?

Gaan ons ook die stowwerige paaie van die lewe stap waar ons ander kan aanraak, ‘n trooswoord kan bring, ‘n verskil maak? En as u wonder, broers en susters, waar u hierdie mense gaan vind, moenie bekommerd wees nie. Behalwe dat hulle vanoggend hier reg rondom u sit, sal God hulle u pad laat kruis. Veral daar waar ons sy hande, voete, gesig en mond wil wees.

Sal ons, broers en susters, aan die einde van ons lewe ook kan sê soos God aan die kruis gesê het: dit is volbring! Ek het gedoen wat ek kon. Ek het gedoen wat ek moes, want God se liefde het my gedwing. Ek het gedoen wat ek wou, want toe God my nuut gemaak het, was ek werklik nuut. En omdat ek nuut geword het, kon ek nie meer anders as om in sy voetspore te volg nie.

Is dit wat ons sal kan sê, broers en susters, wanneer ons eendag vir die laaste keer ons oë sal toemaak? Is dit wat ons nou sal kan sê as dit vandag moes gebeur? Dit is nooit te laat nie. In die verlede het God baie keer op baie maniere gepraat, en toe, as die hoogtepunt van sy liefde vir ons, het Hy met ons gepraat deur sy Seun.

Maar nou, in hierdie laaste dae, praat Hy ook deur ons. Hoor die wêreld sy stem waar ons ons monde oopmaak? Sien hulle Hom loop waar ons voetspore lê? Mag dit so wees. Mag ons ook kan sê, wanneer ons sterf: dit is volbring! Deur die genade het ek gedoen wat God wou hê ek moes!
Amen