Psalm 91

Vertrou op God!



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
So ‘n tydjie terug was daar een aand ‘n baie interessante program op TV wat gehandel het oor ‘n burgeroorlog tussen die Engelse en die Skotte iewers in die 13de eeu. Engeland het die Skotte se grondgebied ingeneem, en die Skotte het bly weerstand bied. ‘n Man met ‘n eenvoudige opvoeding en agtergrond, Robert Bruce, het egter daarin geslaag om die Skotte rondom hom te verenig, en die juk van Engeland afgegooi, sodat die Skotte uiteindelik weer onafhanklik was. Na die finale veldslag het hierdie eenvoudige boer dan ook die Skotse koning geword.

Terwyl die oorlog aan die gang was, het Bruce 'n hele paar keer net-net aan die dood ontkom. By een so geleentheid, was hy in die Metvenwoud aan die vlug met die Engelse soldate kort op sy hakke. Uitasem het hy 'n grot binne gestrompel om weg te kruip. As hulle hom daar sou vang, sou dit hom sy lewe kos, al sy volgelinge sou hoop verloor en die oorlog teen die Engelse sou verby gewees het.

Terwyl Bruce agter in die grot wegkruip het, het 'n spinnekop 'n web oor die ingang gespin. Toe die soldate by die grot aankom, het hulle die spinnerak gesien in die lig van die son. Bruce kon hoor hoe hulle met mekaar redekawel en uiteindelik vir mekaar sê dat die man wat hulle soek nie in daardie grot kon wees nie, omdat die spinnerak nog heel was en dat hulle liewers op 'n ander plek moes gaan soek.

Bruce was baie dankbaar dat sy lewe op hierdie besondere wyse gered is. Volgens oorlewering het hy die volgende dankgebed opgesê: ‘Baie dankie, Here, dat U in 'n spinnekop se klein ingewande 'n skuilplek kon bewaar. Op die regte tyd het U hierdie spinnekop gestuur om my skuilplek te beveilig.’ Bruce het dus geglo dat dit die Here was wat Hom gered het. Maar ook: dat God soms op die verrassendste maniere sy mense help, sy mense red.

Dit is ook, broers en susters, hoe ons God leer ken in die verhaal van Moses. Die koning van Egipte, waar die Israeliete in daardie tyd gebly het, het begin bang word dat die Israeliete te veel sou begin word. Daarom beveel hy dat al die Joodse seuntjies doodgemaak moet word. So sou daar uiteindelik te min mans wees vir die Joodse vrouens en ook nie genoeg sterk leiers om die volk saam te snoer nie. Die volk sou of uitsterf, of met die Egiptenare saamsmelt.

Dan word die baba Moses, met wie God 'n besondere plan gehad het, gebore. Om te keer dat hy doodgemaak word, vleg sy ma 'n mandjie van biesies en smeer dit met pik om dit waterdig te maak. Sy sit haar baba in die mandjie en laat hom langs die Nylrivier afdryf in die desperate hoop dat hy dalk so sal oorleef.

Dan gryp God op 'n verrassende manier in: die Farao se dogter kry die mandjie en neem die mooi seuntjie as haar eie aan en Moses kry so die opvoeding van 'n prins in die paleis. Dit help hom om die groot leier te word wat uiteindelik die Israeliete uit Egipte weglei. Deur middel van biesies en pik (uiters onwaarskynlike hulpmiddels), sorg God dat nie net Moses nie, maar ook die hele volk gered word. Op ‘n verrassende manier sorg God dus dat daar uiteindelik redding kom.

En 'n paar duisend jaar later gebeur min of meer dieselfde met die baba Jesus. Die koning van dié tyd, Herodes, hoor by wyse manne van 'n ander koning wat gebore gaan word. Soos die Farao, maak Herodes ‘n plan. Hy gee die bevel dat alle seuntjies onder die ouderdom van twee jaar doodgemaak moet word. Die baba Jesus word gebore in Bethlehem. En om Hom te red, maak God gebruik van drome. Die wyse manne word in 'n droom gewaarsku om met 'n ander pad terug te gaan en nie weer aan Herodes te rapporteer nie. Josef word in 'n droom gewaarsku om na Egipte toe te vlug. Op hierdie manier word die baba Jesus gespaar en kan Hy grootword om sy verlossingswerk klaar te maak.

Wat kan ons uit hierdie drie verhale leer, broers en susters? Ten minste die volgende: God maak van gewone en alledaagse dinge gebruik om sy kinders te red en beskerm. Biesiemandjies en pik, ‘n rivier, ‘n droom of twee. ‘n Spinnerak. Alledaagse dinge. Gewone dinge.

Verder: God doen elke keer die verlossingswerk, maar die mense doen self ook iets. Bruce het in 'n grot gaan wegkruip. En toe red God hom. Moses se ma het 'n biesiemandjie gevleg en hom daarin weggesteek, en so word hy gered. En Jesus se ouers vlug en gaan kruip weg in Egipte, en so bly Hy lewe.

Ek dink hierdie is almal mense wat Ps 91:1 met oorgawe sou kon sê: ‘Hy wat by die Allerhoogste skuiling vind en die beskerming van die Almagtige geniet, hy sê vir die Here: ‘U is my toevlug en my veilige vesting, my God op wie ek vertrou.’ Want hulle het dit ervaar en beleef. Maar: hulle het ook iets gedoen. Hulle het verantwoordelikheid vir hulle eie lewens en dié van ander aanvaar, en so het hulle beleef dat God in die eenvoudige dinge wat hulle gedoen het, hulle geseën het.

Om op die Here te vertrou, broers en susters, beteken dus ook om iets te doen. Kom ek verduidelik. Die Here gee ons die lewe, en om hierdie lewe te lewe op ‘n wyse wat toon dat ons die Here vertrou terwyl ons die lewe lewe, beteken om verantwoordelik met die lewe om te gaan. ‘n Mens kan tog nie wild en woes lewe, onverantwoordelik optree sonder om twee keer te dink nie, en dan sê: ek vertrou dat die Here my sal bewaar nie. ‘n Mens kan tog nie verwag dat God jou en jou lewe moet seën as jy geen saak het met God se wil in jou lewe nie.

Ander kant: wanneer iemand in vrede met God lewe, wanneer iemand naby aan God lewe, elke oomblik van elke dag bewustelik met God omgaan en daarna smag om God teenwoordig te ervaar en te sien, so iemand se hele lewe is een stuk vertroue op God. En wanneer jy God so met jou lewe vertrou, sal jy ervaar hoe God elke dag by jou is. Jakobus 4:8 sê dit pragtig: ‘Nader tot God en Hy sal tot julle nader’.

Hoe nader God tot ons? Ek glo ‘n mens moet prakties oor hierdie dinge dink. God nader tot ons, broers en susters, nie noodwendig in die sogenaamde groot dinge in die lewe nie. Natuurlik ook. Maar God nader Hom tot ons ook in die eenvoudige dinge in die lewe. In my gesondheid, die voorreg om te kan dink en doen, dat ek kan werk, dat ek leef, in die opregte lag van ‘n kind. In die liefde wat ons van ander ontvang. Maar ook: in dit wat ons ander gelowiges wat met toewyding voor God leef sien doen, en hoor sê.

Meer nog: vertroue op God het ook te make met ons elkeen se verlede, al dink ons soms dat vertroue met vandag en more te make het. God gee ons rede om Hom te vertrou. Dink maar gerus vanoggend aan u verlede, en dink veral aan daardie geleenthede of gebeurtenisse uit u verlede wat niks anders as krisisse beskryf kan word nie. En dink maar gerus wat u gedink het toe daardie dinge gebeur het. Wat u en ek gedink het van ons sou word. Hoe hopeloos alles gelyk het. Hoe ons geen uitkoms gesien het nie.

En dink dan maar gerus wat gebeur het. Hoeveel van ons vrese eintlik verdwyn het. Hoe min van die negatiewe verwagting wat ons gehad het, waar geword het. Dink gerus maar hoe God ons oor elke berg en teen elke opdraande uit gehelp het. En besef dan: ek het behoue gebly, God het die spreekwoordelike spinnerak, biesiemandjie of droom gestuur. En my so bewaar.

Wanneer ons, broers en susters, werklik streef om volgens God se wil te lewe, neem Hy ons in sy beskerming. Wanneer ons tot Hom in vertroue nader, wend Hy Hom na ons. En dan seën Hy ons, ook en veral in die gewone dinge en gewone gang van elke dag, in die klein en eenvoudige dingetjies.

Om hierdie seën van God te ontvang, moet ons egter ook iets doen. Ek wil amper sê: God help hulle wat bereid is om hulleself te help, God seën hulle wat binne sy wil lewe en doen.

Kom ons gaan leef hierdie week met toewyding voor en saam met die Here. Kom ons gaan en begin weer om te lewe in die grense van wat ons weet sy wil vir ons is. Kom ons lewe verantwoordelik, en kom ons nader tot God, nie alleen in die gebed nie, maar met ons hele lewe. Kom ons maak Ps 91:1 hierdie week ons leuse, ons belydenis: Hy wat by die Allerhoogste skuiling vind en die beskerming van die Almagtige geniet, hy sê vir die Here: ‘U is my toevlug en my veilige vesting, my God op wie ek vertrou.’

Dan sal God ook tot ons nader. En sal ons sien hoe hy in die eenvoudige dingetjies van elke dag oorlaai met sy goedheid en sy seën. Dat ons dan met vreugde en vrede sal kan lewe. Mag dit hierdie week u en my ervaring wees! God is altyd by ons. En Hy wil ons seën. Kom ons gaan lewe eenvoudig, en ons sal sien: in die sogenaamde eenvoudige dinge sal God ons seën.
Amen