Matteus 10:34-39

Vredevors of swaardvegter?



Geliefdes van ons Here Jesus, die tema van ons prediking is: Vredevors of swaardvegter? Daarmee saam wil ek hê ons moet luister na wat staan in vers 34 van ons Skrifgedeelte: “Moenie dink dat Ek gekom het om vrede op die aarde te bring nie. Ek het nie gekom om vrede te bring nie maar die swaard.”

Broers en susters, wat verstaan julle onder die woordjie “vrede”? Gewoonlik is ons vinnig om te sê dat dit die teenoorgestelde van “oorlog” is. Met ander woorde, as daar nie vrede is nie, dan moet daar onmin of oorlog wees. Kan ’n mens nie dalk ook te midde van oorlog en onmin vrede ervaar nie? En waar pas die Here Jesus dan in die hele prentjie in?

Wel, kom ons kyk na so paar voorbeelde: As die psalmdigter sê: “[God] laat my rus in groen weivelde. Hy bring my by waters waar daar vrede is” (Ps 23:2), wat dink julle het hy daarmee bedoel en wat verstaan julle daaronder? En as die profeet Jesaja oor die koms van Vredevors praat, dan sê hy: “Sy heerskappy sal uitbrei, en Hy sal vir altyd vrede en voorspoed bring” (Jes 9:6). Tog, klink dit in ons teksvers uit die mond van hierdie selfde Vredevors, die Here Jesus, nie so nie. Selfs by die geboorte van hierdie Vredevors hoor ons hoe engele uit die hemel sing: “Eer aan God in die hoogste hemel, en vrede op aarde vir die mense in wie Hy ’n welbehae het” (Luk 2:8)! Toe die Here Jesus sy dissipels vir die eerste keer uitgestuur het, het Hy vir hulle gesê: “As julle in die huis kom, wens die mense vrede toe” (Mat 10:12). Dit was en is steeds ’n Joodse gebruik om mekaar te groet met “Shalom” – dit beteken “vrede vir jou”. Later, ná die Here Jesus se hemelvaart, was dit algemeen vir Christene om mekaar te groet met: “Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus” (Rom 1:7)! En seker een van die mooiste gedeeltes oor “vrede” is Paulus se woorde aan ons: “En die vrede wat Christus gee, moet in julle lewens die deurslag gee. God het julle immers geroep om as lede van een liggaam in vrede met mekaar te lewe” (Kol 3:15).

As ons nou na al hierdie voorbeelde geluister het, wat is die slotsom waartoe ons gekom het? Net dit: vrede het te doen met God se liefde en ontferming vir die mens. Daarom kan daar vrede wees te midde van onmin, haat en selfs oorlog.

Kom ek probeer dit verduidelik met die volgende staaltjie: Daar was eendag ’n ryk man, wat aan ’n skilder die opdrag gegee het om vir hom ’n skildery te maak wat hy in sy kantoor kon hang. Die enigste voorwaarde wat hy gestel het, was dat die skildery oor vrede moes gaan, en dat daar ’n voorstelling van water iewers in die skildery moes wees. Na ’n lang ruk het die kunstenaar met die pragtigste skildery teruggekom. Dit was ’n toneel van ’n man wat op ’n heerlike somersdag in die skaduwee van ’n populierbos by ’n dam visgevang het. Baie beïndruk het die ryk man toe die skildery in ontvangs geneem, maar hoe meer hy later daarna gekyk het, hoe meer het hy besef dat daar iets ontbreek ... so al asof daar te veel vrede was ... dit het amper onwerklik gevoel ...

Die ryk man het toe na ’n tweede kunstenaar gegaan met presies dieselfde opdrag. Na ’n tyd het daardie kunstenaar met iets radikaal anders teruggekom. Dit was ’n waterval wat so realisties voorgestel was, dat ’n mens die gedreun van die vallende water kon hoor. Hoe meer die ryk man na die toneel gekyk het, hoe meer het hy ’n gevoel van gedruis en onrus ervaar. Allesbehalwe vrede! Teen een van die oorhange, gevaarlik naby aan die waterval, was daar ’n nessie van ’n ma-voëltjie, wat besig was om haar kleintjies kos te gee, geskilder.

Die ryk man het die kunstenaar verbaas gevra: “Waarom hierdie toneeltjie? Dit het niks met vrede te doen nie, want daardie bruisende waters van die waterval bedreig die baba-voëltjies!”

Die kunstenaar het kalm verduidelik: “Vrede is nie vir my die afwesigheid van watervalle nie ... nog minder is dit stil poele waters. Almal van ons beleef een of ander tyd watervalle in ons lewens. Vrede – vir mý – is die belewenis van hoe die Here vir my, by daardie watervalle in my lewe, ’n plekkie skep waar ek styf teen Hom kan sit en vrede beleef ... ’n plekkie soos die psalmdigter sê: “Ek het rus en kalmte gevind. Soos ’n kindjie wat by sy moeder tevredenheid gevind het, so het ek tevredenheid gevind” (Ps 131:2).

Gemeente, as die Here Jesus sê: “Moenie dink dat Ek gekom het om vrede op die aarde te bring nie. Ek het nie gekom om vrede te bring nie maar die swaard” (Mat 10:34), dan is dit harde woorde. En soos ek reeds gesê het, dit pas nie by die beeld wat Jesaja van die langverwagte Messias geskep het nie ... inteendeel, dit rym glad nie met waarvoor die Here Jesus staan nie!

Ek dink dit is juis waar die groot probleem van moderne Christene lê: ons maak van die Here Jesus ’n “liewe Jesus”. Een wat saggeaard is ... Een wat maklik vergewe en vergeet ... ja, Een wat ruimte en plek het vir almal en alles – selfs vir gays, egbrekers, moordenaars, en wie ook al! Immers, Hy is mos die Vredevors en het vir almal se sondes aan die kruis gesterf! Maar wat maak ons met Paulus se vraag in Romeine 6:15: “Wat beteken dit? Kan ons nou maar sonde doen omdat ons nie onder die wet van Moses staan nie maar onder die genade? Beslis nie.”

Een van die grootste gevare van die Here Jesus se verlossingsboodskap is die feit dat ons dit verwater ... as’t ware sagter stel sodat mense – so glo ons – nie afgeskrik word nie, maar nader getrek word. Tog, ons moet waak teen ’n sentimentele evangelie. Dit is, volgens my, een van die grootste gevare verbonde aan ons Kersfeesvieringe. Dit raak so maklik soetsappig. Die engele wat vrede sing, die weerlose kindjie in die krip, die diere en herders en wyse manne en geskenke. Alles is net té goed om waar te wees. Wat natuurlik ook reg is: die Evangelie is menslik gesproke net té goed om waar te wees! Maar dit is nie wat ek bedoel met gevaarlike soetsappigheid nie. Ek bedoel dat mense die kern van die Evangelie mis wanneer hulle die pyn daaruit haal. Dit is soos die beste bord kos sonder sout. Dit word smaakloos. En in die Evangelie van Jesus Christus is daar sout – sout wat brand as dit in rou wonde ingevryf word!

O, een ding moet ons baie goed verstaan: die Here Jesus is nie gestuur as die Kindjie in die krip van Betlehem nie, maar as die Verlosser aan die kruis. As Hy steeds vir jou die Kindjie van Betlehem is, en nie groot geword het as die Man aan die kruis nie, dan is jou geloof ook nog nie volwasse nie. Onthou ook dat daardie engele sy geboorte gesing het, beslis ook by ’n ander geleentheid die oordeelsbasuin gaan blaas. Daarom is dit belangrik dat ons die Bybelse begrip van vrede reg sal verstwat vrede by aan. En dit is wat die Here Jesus vir sy dissipels – en ons – in hierdie Skrifgedeelte wil leer.

Geliefdes van ons Here Jesus, net soos destyds toe Jesus Christus se volgelinge teen hulle Joodse gesinslede of volksgenote en geestelike leiers se wense in vír die Here Jesus as die Messias aanvaar het, en sodoende hulle geliefdes en familie se haat moes verduur, net so is dit vandag nog steeds. Die ware vrede wat die Here Jesus gebring het, is eintlik die vonk wat die kruitvat van haat en onmin aansteek ... dit kan egter nie gekeer word nie. Dit gaan immers oor ’n keuse tussen die ewige lewe en die ewige dood. Ja, die goeie tyding van Kersfees, dat daar ’n Verlosser gebore is, is ook ’n slegte tyding. Paulus praat daarvan in sy tweede brief aan die gemeente in Korinte. Die geur van die Evangelie, sê hy, is vir sommige mense ’n lewensgeur: dit is aangenaam en verblydend. Vir ander is dit egter ’n doodsreuk, want dit is stinkend en verrottend (2 Kor 2:16).

Dit is waar dat die Here Jesus gekom het om skeidingsmure af te breek, om daardie kloof tussen mens en God te oorbrug, om mense wat met mekaar in konflik leef met mekaar te versoen. Dit móét julle weet: Daar is geen groter versoeningskrag as die krag van die kruisgebeure nie. Maar, hoe hartseer dit ook al is, desgelyks is daar ook geen groter en verwoestende skeuringsfaktor as juis die kruisgebeure nie. Die kruisgebeure word die swaard wat mense, wat selfs in die intiemste verhoudinge staan, van mekaar skei – man en vrou, ouers en kinders, familie, volksgenote. Daardie donkerte wat op die helder middag oor Golgota toegesak het, vertel ons van die vrede wat te midde van wêreldse haat en onmin bestaan.

In die vorige paar verse het die Here Jesus alreeds ’n onderskeid gemaak tussen diegene wat hulle voor ander mense ten gunste van Hom sal uitspreek, en die ander wat Hom sal verloën. En laas week het ons juis gehoor dat hierdie getuienis verreikende konsekwensies gaan hê. Indien jy vir die Here Jesus gekies het en gevolglik vir Hom getuig, sal Hy ook vir jóú by God intree (Mat 10:32-33). Maar nou is die teendeel ook waar: indien jy nié vir Hom gekies het nie en deur jou optrede sy Naam oneer aandoen, sal Hy jou ook nie voor sy hemelse Vader ken nie. Daar word dus onteenseglik ’n onderskeid getref tussen die Here Jesus se volgelinge en sy teenstanders.

Miskien was dit juis dié woorde van die Here Jesus wat die omstanders laat skrik het, of minstens die noodsaaklikheid van ’n definitiewe keuse onder hulle aandag gebring het. Wanneer Jesus dus sê: “Moenie dink dat Ek gekom het om vrede op die aarde te bring nie,” kom Hy met ’n skoktaktiek vorendag. Natuurlik het almal gedink dat Hy gekom het om vrede te bring! En dit weet Hy ook – vandaar sy woorde: “Moenie dink …” En wat meer is, almal het ook die volste reg gehad om te verwag dat Hy vrede na die aarde sou bring. Die profete, by name Jesaja, het Hom as die groot Vredevors besing (Jes 9:5). Trouens, vir eeue is daar gewag op die koms van die langverwagte Messias.

Broers en susters, as die Here Jesus dan werklik daardie langverwagte Messias is, hoe is dit tog moontlik dat Hy so kras kon gesê het: “Ek het nie gekom om vrede na die wêreld te bring nie”? Hierdie woorde is onbegryplik skokkend ... dog waar! As ’n mens om jou rondkyk, dan lyk dit inderdaad nie asof die Here Jesus se koms enigsins ’n merk gemaak het wat wêreldvrede betref nie … orals is haat en oorlog! Nêrens is daar sprake van vrede nie ... selfs nie eers in die Kerk nie!

Dit raak nou al meer verwarrend. Waarom hét Hy dan gekom? En waarom is die Here Jesus dan met soveel klem as die Vredevors aangekondig, as Hy nie werklik is nie? Waarom het Hyself soveel klem gelê op ’n vredesbediening, terwyl Hy nou as ’t ware die swaard ontbloot? Waarom nou hierdie skielike ommeswaai? Is die Here Jesus die Vredevors of ’n swaardvegter?

Ek sal my nie verbaas as die Here Jesus se uitspraak ’n hele klomp mense se monde van verbasing laat oophang het nie. Om Jesus te volg, sal tweedrag bring ... dit was ’n realiteit destyds, dit is vandag nog steeds net so ’n werklikheid. Kyk maar: kies vir die Here Jesus en alles waarvoor Hy staan, en sien hoe vinnig maak jy vyande. Gou-gou sal jy ondervind dat onmin en tweedrag die teenpool van vrede is. Dit gaan beteken dat jy met geliefdes, familie en vriende in konflik sal verkeer ... dat jy teenoor hulle stelling sal inneem. En dit is presies waarvoor Hy gekom het, sê die Here Jesus. Maar dan moet ons goed na sy woorde luister. Ons moet ook die stemming in sy woorde raaklees en begryp. Hy is wel hier besig om mense doelbewus te laat regop sit.

Hy is beslis die langverwagte Vredevors! Hy hét gekom om vrede te bring – vrede tussen mens en God en ook tussen mense onderling. Hy ís die groot Vredevors by uitnemendheid. Sonder Hom kan geen mens ware vrede in sy lewe ervaar nie. Maar let wel: daar is ook net vrede wanneer Hy tússen my en God staan, tússen my en my naaste. Wanneer die Here Jesus hierdie bindingsfaktor is, is daar vrede ... selfs te midde van gevare, onmin, haat en oorlog. Dan kan jy verstaan hoe die psalmdigter kan sê: “Hy bring my by waters waar daar vrede is” (Ps 23:2) ... ja, dan kan jy selfs verstaan hoekom die kunstenaar ware vrede gesimboliseer het met ’n voëltjienessie teen die agtergrond van bruisende waters.

Máár, dit kan ongelukkig wel gebeur dat die Here Jesus nie die bindingsfaktor is nie, maar eerder die verdelingsfaktor. Dit kan gebeur dat, wanneer Hy in ’n mens se lewe kom, ander mense sal moet padgee, ander belange sal moet wyk, jou prioriteite sal moet gewysig word. Dan is Hy nie meer die Vredevors nie, maar die Koning wat eendag gaan kom om te oordeel ... dan het Hy beslis die swaard in die hand, ’n swaard “met twee snykante en dring deur selfs tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg. Dit beoordeel die bedoelings en gedagtes van die hart” (Heb 4:12)! En wanneer jy vir die Here Jesus en sy belange kies, dan kan konflik en tweedrag ontstaan – tussen pa en seun ... tussen moeder en skoondogter ... tussen familielede ... tussen gelowiges en die wêreld waarin hulle leef. Ja, hoeveel bittere hartseer het dit nie al in huise besorg nie.

Gemeente, die vraag waarmee ons vandag gekonfronteer word, is nie of die Here Jesus die Vredevors of swaardvegter is nie, maar of jy sy vrede ervaar te midde van die onmin en haat? Ware vrede is by uitnemendheid God se vrede, en dit het te doen met sy liefde en ontferming vir die mens. Luister maar na wat het God by monde van Jeremia vir die volk in ballingskap gesê: “... want Ek het my vrede weggevat van dié volk af: Ek het hulle nie meer lief nie en Ek ontferm My nie meer oor hulle nie, sê die Here” (Jer 16:5). Waar vrede beleef word, daar is God met sy liefde en ontferming teenwoordig ... selfs al moet dit teen die agtergrond wees van onmin en haat of oorlog.

En dit is een van die ernstiger en moeiliker boodskappe van die Lydensweke: om in die Here Jesus se voetspore te volg, gaan vir jou ware vrede bring, maar terselfdertyd sal jy ook beleef dat sy woorde waar gaan word: “Ek stuur julle soos skape tussen wolwe in ... Julle sal ter wille van my Naam deur almal gehaat word. Maar wie tot die einde toe volhard, sal gered word” (Mat 10:16,22). Besef dan: Jesus ís die Vredevors, maar Hy dra ook die swaard van oordeel.
Amen