Psalm 127

Waarin lê die sin van die lewe? In die wet van die wêreld of in die wet van die koninkryk?



Broers en susters en kinders in onse Here Jesus Christus

Al wat 'n mens is, soek na sin in die lewe. Of dit nou bewustelik of onbewustelik is. Ons is almal daarmee besig, op een of ander manier. Want elke mens wil tog hê dat sy lewe sinvol moet wees en sin moet maak.

Hierdie soeke na sin in die lewe, broers en susters, word op baie maniere gedoen. In ons kultuur, byvoorbeeld, wat voorgee om sterk deur die Calvinisme bepaal te wees, word die mens se werke (die sin van arbeid) byvoorbeeld so hoog aangeslaan dat dit soms gelykgestel word met die vervulling van die mens se lewe, of dan, die sin van die lewe. Met ander woorde, vir baie van ons is die sin van die lewe om te werk. Om nie te arbei nie, dit wil sê, om sogenaamd lui te wees, grens dikwels dan ook vir ons aan “sonde”. Ons sê dan ook maklik: ledigheid is die duiwel se oorkussing! So asof 'n mens nie soms maar ledig mag wees nie. Ons het ook die mooi woordjie “vryetydsbesteding”. So asof jy jou vrye tyd moet “bestee” op een of ander manier.

Hierdie siening, broers en susters, wil ek beweer, het in 'n groot mate gelei tot 'n oorverhitte arbeidsetiek wat ons kultuur (en dikwels ook ons eie persoonlike lewens) kenmerk: die gejaag na prestasie, die soeke om vir my werk erkenning te kry, werkalkoholisme, om nie eers te praat van die negatiewe uitloopsels daarvan soos verwaardelose huisgesinne en afwesige ouers nie.

Of, om dit anders te stel: Ons soeke na sin in die lewe word meestal deur die wet van die wêreld bepaal en gereël, die wet van die wêreld wat die klem laat val op menslike prestasie. Deur ons geswoeg en gesweet heen, met ons houding/mentaliteit van beter, mooier, sterker, meer, vinniger en verder, hoop ons om sin in die lewe te vind. Ons meen dat die sin van die lewe lê in wat ons kan doen, wat ons kan vermag. As jy dus sin in jou lewe wil hê, moet jy daarvoor werk.

Psalm 127, broers en susters, spreek egter 'n redelik verdoemende oordeel oor so 'n houding/mentaliteit uit. Al hierdie dinge, sê die Psalmskrywer, is sinloos en “tevergeefs” - as dit sonder God aangepak word. Om te strewe na die sin van die lewe deur wat ons kan vermag, of om dit te wil meet aan wat ons in die lewe bereik het, sê die Psalm, maak die lewe juis sinloos, al dink ons dit sal sin in ons lewens gee.

Hoekom? Want ons weet mos, broers en susters, en ons het dit selfs ook al persoonlik ervaar, dat wanneer 'n mens bereik het wat jy so graag wou, dit wat jy gedink het sin en geluk sal bring, heel dikwels as 'n antiklimaks beleef of ervaar word. Wat dan 'n leemte in ons lewens skep. En gou is daar maar weer iets waarna ons streef of wil vermag waarvan ons glo sin in ons lewens sal bring.

Daar bestaan in die Griekse mitologie 'n storie wat ek dink hierdie gevoel wat soms by ons opkom mooi uitbeeld. Daar word vertel dat die god Sisifus een keer teenoor die ander gode oortree het, en sy straf was dat hy 'n swaar klip teen 'n berg moes oprol. Indien hy, met die klip, die top van die berg kon bereik, sou hy verlos wees van sy straf. Net om, elke keer wanneer hy die top van die bult bereik, sy greep te verloor. En dan moes hy maar van voor af begin. En so het dit aangegaan vir die res van sy lewe.

So, broers en susters, is dit baie keer ook met ons wanneer ons na die sin van die lewe soek in terme van die wet van die wêreld. Ons swoeg en sweet, spook en spartel. Ons dink: as ek net dit of dat kan afhandel, net dit of dat gedoen kan kry, net dit of dat kan bereik, dan sal ek gelukkig wees. Dan sal my lewe mooi/ sinvol wees. Dan sal alles in plek wees. Om maar net te besef dat, wanneer ons die kruin van die steilte bereik, ons die greep verloor. Dat alles nie toe met ons gebeur, en ons gevoel het, soos ons gedink het dit sal wees nie. Om dan maar weer net van vooraf te begin. En so hou dit aan. Vir ewig. Sinloos. Tevergeefs. Want ons krag en inspanning is sonder God.

Nee, broers en susters. Die Psalm sê dat die sin van die lewe daarin lê dat ons God se bemindes is. Dat die sin van die lewe daarin lê dat God sy gawes, en veral Homself, aan ons, sy bemindes, verniet gee. Sonder inspanning. God se bemindes, sê ons teksvers, ontvang al hierdie dinge in hulle slaap.

Wat beteken dit? Dat God aan sy bemindes al hierdie dinge in hulle slaap gee? Dat ons dit kry wanneer ons slaap? Of dat ons maar agteroor kan sit, en niks hoef te doen nie, want God gee hierdie dinge aan almal wat slaap en nie werk nie? Nee, broers en susters.

Interessant is dat in die Ou Testament ons dikwels die gedagte vind dat slaap sinoniem met genade is. Wanneer die Psalm dus sê dat God hierdie dinge aan sy bemindes in hulle slaap gee, sê die Psalm dus eintlik dat God dit aan hulle gee as 'n genadegawe(s). Verniet. Sonder inspanning van hulle kant af. Wanneer dit dus by die genade kom, broers en susters, is dit God wat die inisiatief neem, nie die mens nie. Dit is God wat gee, en nie die mens wat iets deur sy eie inspanning verdien nie.

En wat gee God aan sy bemindes in hulle slaap (genade)? Die Psalm sê: Hy gee dit. Wat is hierdie dit? Voedsel, kleding, huis en brood? Sekerlik, broers en susters, maar nie noodwendig net dit nie. Nee. Hierdie dit is veel meer. Hierdie dit is dit wat die sin in die lewe gee. Hierdie dit is dit wat by 'n mens in al jou krisisse en trane bly. Ja. Hierdie dit is God se seën, sy nabyheid, sy liefde, sy alomteenwoordigheid. Dit is as' t ware God self!

So gesien, broers en susters, keer die wet van die koninkryk die wet van die wêreld en die lewe om. Die wet van die wêreld sê: Werk,daarvoor, soek na die sin van die lewe, en die wet van die koninkryk sê: Jy kry dit verniet, so in jou slaap. Ons hoef nie vir die werklike sin in die lewe te soek nie. Ons hoef nie daarvoor te werk, te swoeg en te sweet, te spook en te spartel nie. En al doen ons dit, sal ons dit in elk geval nooit vind nie. Want alleen om daarvoor te begin soek en te werk maak dat onmoontlik om dit te vind of kry. Want die werklike sin van die lewe is dat ons God kan ken, Hom as ons Vader kan aanroep, en kan weet God weet van ons. Dat hy ons ken. Ja, ons sonde, maar ook al ons behoeftes. En dat Hy vir al hierdie behoeftes sorg. En vir dit sal sorg. Hy sal ons sy seën gee. Ons moet net bereid wees om op Hom te wag.

Die Psalm sê, broers en susters, dat God se ware seën gesien kan word in die feit dat hy aan vaders en moeders seuns gee. Dit mag vir ons miskien vreemd klink, maar ons moet onthou hoe belangrik seuns vir veral vaders in die tyd van die Bybel was. Seuns moes die vader se ambag voorsit, en so het seuns die vader se eer vermeerder, hom 'n bepaalde status in die samelewing gegee. Sy seuns was ook sy pensioen vir sy outyd. Want omdat hy aan hulle die lewe gegee het, is geglo, was hulle aan die vader verskuldig om hom die res van sy lewe te versorg, en ook baie belangrik, om hom te begrawe. Seuns, is dus geglo, het voorspoed en sekuriteit beteken. Seuns, is geglo, was God se seën op 'n goeie lewe.

En ons, broers en susters, waarin lê God se seën vir ons? Nie in ons seuns of dogters nie, maar wel in die Seun wat vir ons aan die kruis gesterf het. Dit is God se grootste gawe aan ons, die konkreetste bewys van sy seën aan ons.

Maar, broers en susters, waar die Psalm as' t ware bruis van lewe, bruis van lewenskrag van jong seuns rondom hulle vader, klink die verhaal van ons Seun anders. Hy is nie by sy Vader nie. Nee, Hy is alleen. Hy word gekruisig en sterf. Hy is van sy Vader verlate. Hy gaan skynbaar onder, stort skynbaar soos 'n Sisyphus neer onder die sware las van ons sondigheid en sinlose lewens. Verloor skynbaar die greep op die klip op die bult Golgota. Net om op Paassondag sy verskyning te maak, bo-op die spits van die berg, met die sware klip, al ons sonde en las, triomfantlik langs Hom. Ware sin in die lewe, broers en susters, kom dus alleen deur die Seun.

Psalm 127, broers en susters, wil dus sê: Die eintlike lewe, die ware en sinvolle lewe, dit wat saak maak, of dit nou die huisgesin is wat ons bou, die kerk, die gemeente, of selfs die ekonomiese en politieke bestaan van die mens, dit alles is gawes van God. God is in hierdie sake dan ook nie eintlik die medebouer nie, maar die eintlike bouer.

Nie dat God so luiheid legitimeer/goedkeur nie. Salomo, die spreukedigter kon ook sê: Gaan kyk na die mier, luiaard. Die Here is nie teen huisbou nie, maar teen huisbou sonder Hom. By Hom moet die huisbou begin, daarom gee Hy dit uit genade - aan sy bemindes in hulle slaap. 'n Mens kan amper nie die skalkse toon, die geloofshumor in hierdie vers miskyk nie. Al die geswoeg en gesweet is tevergeefs - God gee genade, in die slaap.

Met ander woorde, God gee ons 'n salige niksdoen. 'n Niksdoen waar dit kom by soeke na sin in ons lewens, om dan weer, die tyd wat ons sou wou gebruik om sin te soek, vir Hom te gaan lewe en werk!

Of, om dit anders te sê: Psalm 127 vra vir ons dat ons sal besin en herbesin oor die diepste grond van ons bestaan en verlossing, die genade. Wie die sin van die lewe soek in iets anders as dit wat God ons in ons slaap gee, sy genade, genadegawes en Homself, sal dit nooit kry nie. Ons sal aanmekaar die klip die bult uitrol en nooit die top bereik nie. Maar Jesus het. Hy het alles oorwin. Ons sonde en sorge. Daarin lê die sin van die lewe. Wie dit nie glo, en leef nie, is baie arm. Mistroostig.

Die feit van die saak is egter dit, broers en susters: Party het dit, en party nie. Wie dit het, soos die Psalm dit stel, sal sy/haar lewe as sinvol beleef en ervaar. Wie dit nie het nie, sal nie. Sal selfs dink dat hierdie eenvoudige boodskap, dat Jesus die ware sin van die lewe is, agterhaal, niksseggend en outyds is. En sal daarom nooit sy lewe as sinvol beleef en ervaar nie.
Amen