Jeremia 28:1-17

Wat is waarheid en wat is fiksie?



Geliefdes van ons Here Jesus, die tema vir hierdie prediking is in ons teksvers opgeteken. Kom ek gee eerstens die teksvers soos ons dit lees in verse 2 en 14 van ons Skrifgedeelte: “So sê die Here die Almagtige, die God van Israel ...” Daarom is die tema vir die prediking dan: Wat is waarheid en wat is fiksie?

Broers en susters, ek wil weer eens vir julle ’n staaltjie vertel wat in een van ons dorpe afgespeel het. In dié dorpie was die kerk en die plaaslike teater reg oor mekaar. Volgens die kerklike kalender was dit die week voor die hemelvaart, en die dominee van die plaaslike gemeente het - soos dit die gebruik in daardie kerk was - besluit om elke aand van daardie week ’n diens te hou. Die dominee het ’n reeks opwekkingspreke voorberei, een vir elke aand, met die hoogtepunt beplan vir die Hemelvaartdiens. Die doel van sy preke was om die lidmate meer betrokke te kry by die gemeente. Die opwekkingspreke is orals in die dorpie geadverteer, met plakkate, strooipamflette, afkondigings, ens. Die eerste aand was daar ’n baie groot skare in die kerk ... die dominee lewer sy preek. Die volgende aand was daar aansienlik minder in die erediens ... die aand daarna nog minder ... die laaste aand - die aand voor die Hemelvaart - was daar slegs drie mense in die erediens.

’n Onbekende akteur het in daardie tyd ook in die dorpie aangekom, en besluit om in die teater ’n opvoering te hou - in dieselfde week wat die dominee sy opwekkingspreke gehou het. Slegs ’n enkele plakkaat voor die teater het sy eenmansvertoning geadverteer. Soos dit maar nou gebeur, het beide die predikant en die akteur op dieselfde aand met hulle onderskeie dienste begin. Die eerste aand was daar maar net drie mense by die akteur se opvoering ... die aand daarna het dit gegroei tot ’n hele paar mense ... die volgende aand was die teater byna vol ... teen die laaste aand moes hulle mense by die deure wegwys.

Op die laaste aand van beide die predikant en die akteur se onderskeie optredes, het die dominee en die akteur, nadat hulle onderskeidelik die kerk en die teater se deure gesluit het, mekaar na die tyd buitekant in die straat raakgeloop. Die dominee het die akteur geroep en hom toe gekonfronteer met sy suksesresep: “Hoe kry jy dit reg? Jy verkondig tog net fiksie en kyk na die skares wat na jou kom luister... daarteenoor verkondig ek die absolute waarheid, en kyk na my swak opkomste by die eredienste.”

Hierop het die akteur kort en kragtig sy resep gedeel met die platgeslane dominee: “Die groot verskil is dit: Ek verkondig fiksie asof dit die waarheid is, maar jy... ja, jy verkondig die waarheid asof dit fiksie is!”

Die dominee het sonder ’n antwoord omgedraai ...

Gemeente, dít is ook die probleem wat baie lidmate vandag in ons gemeentes beleef: Lidmate hoor gereeld op Sondae hoe predikante sê: “So sê die Here die Almagtige ...”, maar nou skep ons gelese gedeelte egter een probleem: Is dit regtig wat God sê, of is die predikant nie maar net besig om te preek wat hy dink die Here vir die gemeente wil sê nie. Met ander woorde, hoe weet ons of dit, wat die dominees preek, werklik Gods Woord is soos Jeremia dit verkondig het, en of dit nie maar soos Gananja se leë en valse beloftes was nie? Ja, vra jouself vandag die volgende vraag af: Hoor ek regtig God se stem vanaf die kansel, of hoor ek eerder ’n tipe Gananja-stem?

Wat hierdie probleem nog erger maak, is die feit dat ’n mens op ’n gegewe Sondag in ’n erediens kan sit en na ’n spesifieke preek kan luister, net om ’n paar Sondae later ’n totaal ander interpretasie van dieselfde Skrifgedeelte te hoor. Wie praat nou die waarheid, en wie nie? Wat is waar? Wat is fiksie? Wie ... wat ... moet ons glo? Hierdie soort van vrae - sonder ooglopende antwoorde - word ook in die verhaal van die twee profete Jeremia en Gananja, soos ons dit lees in Jeremia 28, opgestapel. Die skrywer van die boek Jeremia wil hê dat ons saam met hom hierdie spanningsveld moet betree. Voordat ons egter hierdie spesifieke gedeelte in die Bybel sal verstaan, en moontlik ’n antwoord op al hierdie vrae sal kan kry, moet ons dalk eers net na die agtergrond tot hierdie gedeelte gaan kyk.

Jeremia het herhaaldelik teen hierdie sogenaamde heilsprofete gewaarsku (vgl Jer 27:9,14-17 : “Julle moenie luister na julle profete, julle besweerders, julle droomuitlêers, julle towenaars, julle goëlaars wat vir julle sê om nie die koning van Babel te dien nie ... Dit is vals profete wat vir julle optree. Moenie na hulle luister nie. Dien die koning van Babel, en bly lewe. Waarom moet hierdie stad verwoes word?”). Nou ontmoet ons hier in hoofstuk 28 een so ’n profeet wat dien as illustrasie van die soort mooiweersprofete teen wie Jeremia die volk so gewaarsku het, en wat ook die oorsaak was van sy lydensgeskiedenis as ’n profeet. Julle moet ook besef dat die profete lankal in die geskiedenis die oordeel oor die Israeliete aangekondig het, as gevolg van hulle ongehoorsaamheid aan God. Hulle straf, volgens die profete, sou die ballingskap wees. Dit is egter nie die boodskap wat hulle wou hoor nie. Nee, hulle wou graag hoor hoe God hulle, as sy uitverkore volk, sou beskerm teen vyandelike magte. Sommer met die intrapslag by die lees van hierdie hoofstuk, word ons deel van die skare in die tempelhof ... ja, word ons as’t ware getuies van woordestryd tussen twee Godsmanne, twee profete wat teenoor mekaar te staan kom ... die een is Gananja, seun van Assur uit Gibeon, en die ander is Jeremia, seun van Hilka uit Anatot. En dit vonke spat behoorlik tussen dié twee!

Geliefdes van ons Here Jesus, ek wil hê dat julle julleself vir so ’n oomblik in hierdie verhaaltjie moet inleef. Immers, ek het mos reeds gesê dat baie van ons al verskillende preke oor presies dieselfde Skrifgedeelte gehoor het. Wel, verbeel julle dat julle weer in so ’n situasie is.

Eerste aan die woord is Gananja. Hy verkondig ’n boodskap soos jy nie beter kan kry nie ... ’n boodskap vol hoop en troos ... hy preek: “Luister, Israel, die Here gaan die juk van Babel van julle nek afhaal en stukkend breek. Nog net twee jaar ... Die Here sal dit doen!” Ja, volgens Gananja het die Here self vir hom hierdie wonderlike boodskap van troos en hoop gegee. In teenstelling met die 70 jaar ballingskap wat Jeremia vroeër aangekondig het, gee Gananja hulle ’n baie goeie troos ... nie sewentig jaar nie, nee, net twee jaar! ’n Tinteling van opgewondenheid gaan deur die skares. Jy kan die vreugde en opgewondenheid op hulle gesigte sien. Ja, dít is die boodskap wat hulle wil hoor! Hulle wil hoor dat God dinge weer sal verander na die goeie ou dae ... daardie tyd toe dit so voorspoedig met hulle gegaan het. Baie profete het dit tog ook al verkondig ... profete soos Jesaja. En hier staan Gananja, in lyn met al daardie profete, en bevestig die Here se genadige handelinge met sy volk. As dit darem nie ’n goeie preek is nie, dan weet jy darem nie!

Terwyl die skare nog hierdie pragtige boodskap van Genanja in hulle harte koester, hoor ons hoe Jeremia sy keel skoonmaak. Uit sy woorde word dit duidelik dat Jeremia se status as profeet of sy eie belang nie vir hom belangrik is nie. Hy het geen probleem daarmee as die volk nie van hom of sy boodskap hou nie. Hy het ’n taak om te verrig, en dit is om die volk uit hulle droomwêreld te skud! Jeremia staan nou direk in konflik met Gananja, wat ook beweer dat God aan hóm dinge geopenbaar het, dinge wat heeltemal strydig is met wat Jeremía as die Godswoord verkondig. En die manier waarop Jeremia vir Genanja antwoord, impliseer dat Gananja eintlik maar net sê wat sy eie wense en begeertes is, en dat hy dit dan as Godswoord verkondig. Ja, volgens Jeremia is Genanja net besig om te preek wat die vólk graag wil hoor, in plaas van om werklik te preek wat Gód regtig sê.

Een ding moet ons egter baie goed besef: Jeremia wil nie sy volk se ondergang hê nie. Inteendeel, in vers 6 lees ons dat hy sou baie graag wou sien dat Gananja se voorspellings bewaarheid word ... hy is selfs bereid om te bid dat hy verkeerd mag wees, en Gananja reg. Tog, Jeremia stem nie met Gananja se preek saam nie, want die geskiedenis bewys altyd dat ’n ware profeet se woorde op die ou end waar word. Een van hulle twee praat die waarheid en die ander een nie! ’n Mens kan die spanning duidelik aanvoel! Wie is nou reg en wie is verkeerd?

Om aan sy woorde dan groter krag te gee, en om te wys dat sy profesie werklik die waarheid is, vat Gananja die houtjuk, wat Jeremia as teken van die volk se swaarkry tydens die ballingskap gedra het, en breek dit stukkend voor die oë van die volk. Op ’n meesterlike wyse voer die profeet Gananja sy gesprek tot ’n klimaks!

Sjoe, dit was voorwaar ’n preek waaroor die gemeente nog lank sou kon praat! Nou het hy darem vir Jeremia ’n ding of twee gewys! Hierdie optrede van Gananja was so indrukwekkend dat Jeremia as’t ware niks daarteen kon sê nie. Net soos in ons staaltjie oor die dominee en die akteur, het Jeremia ook, sonder om ’n woord te sê, omgedraai en huistoe gegaan. Ja, hierdie optrede van Genanja laat dit lyk asof Jeremia se wind uit sy seile geneem is. Jeremia loop toe weg, soos ’n verslane profeet ...

Maar, broers en susters, Jeremia is egter gou terug nadat God weer met hom gepraat het. Die tweede saak van sy preek is dat hy nou ’n erger straf kom aankondig. In plaas van houtjukke sal Gananja en die volk nou ysterjukke dra ... die oordeel oor hulle sal beslis nie afneem nie, maar eerder toeneem. Jeremia verspil geen woorde nie. Sy derde punt is dat Gananja, wat in opstand teen die Here gekom het, en boonop voorgegee het dat hy namens God praat, voor die einde van daardie jaar sou sterf.

Volgens die skrywer sou ’n mens sekerlik ’n speld in daardie tempelhof kon hoor val. Wie op aarde moet jy nou glo? Vir Genanja of vir Jeremia? Wie praat die waarheid en wie lieg, want dit is een profeet teen die ander, een Godsman teen die ander? Die een sê: “So sê die Here, die Almagtige, die God van Israel ...”, en die ander een sê ook: “So sê die Here, die Almagtige, die God van Israel ...”

Vinkel en koljander ... die een klink soos die ander! Wie is nou die werklike profeet, en wie is nou die valse profeet? Of nog erger: Praat God hier teen Homself? ’n Mens voel amper lus om te huil van frustrasie! En dan lees ons in vers 17 van ons Skrifgedeelte die skokkende woorde: “In die sewende maand van daardie jaar is die profeet Gananja dood.” Jeremia was dus die ware profeet en Genanja was dus die valse profeet! Máár ... as dit maar so maklik was!

Wat nou van die mense, wat goedgelowig, aan Genanja se boodskap van hoop en verlossing vasgehou het? Hulle het mos nie geweet dat Genanja nie die waarheid praat nie, of het hulle?

Gemeente, hierdie is beslis nie ’n maklike vraag om te beantwoord nie. Enigiemand wat hom- of haarself beskou as geroepe deur God, worstel gereeld met hierdie vraag: Is dit my eie of is dit God se boodskap wat ek oordra? Preek ek nie maar net wat die mense graag wil hoor nie, of preek ek werklik wat God vir hierdie gemeente wil sê?

En wat dan van die gemeentelede wat goedgelowig Sondag na Sondag kom luister hoe sê die dominee: “So sê die Here die Almagtige, die God van Israel ...”? Hoe moet julle weet wat is die waarheid en wat is vals?

Wel, die enigste manier hoe ’n mens ’n predikant se woorde as God se woorde kan glo, is om dit te meet aan die waargeworde geskiedenis in die Bybel. En dan moet ons vanuit hierdie geskiedenis na die predikant se woorde luister en daarop voortbou in geloof en hoop! Kom ek verduidelik dit so: Die Bybelse geskiedenis herinner ons aan die vraag van die tempelowerstes en skrifgeleerdes aan Jesus, naamlik met watter gesag Hy oor God praat en tekens doen (vgl Mark 11:28 : “Met watter gesag doen u hierdie dinge? Wie het u hierdie gesag gegee om dit te doen?”). Ook in die lewe van die Here Jesus was die probleem van die ware en valse profesie nie opgelos nie: Wie moes die mense glo: Jesus of die Fariseërs? Soos Jeremia het ook die Here Jesus dinge gesê wat reëlreg gebots het met die leerstukke van die heersende leiers, en dit wat die mense graag wou hoor.

In Jeremia se tyd het die valse profeet uiteindelik gesterf, maar die ironie is dat die Here Jesus, as die ware Profeet, uiteindelik moes sterf! Vir die mense van sy tyd, het dit dus gelyk asof Jesus die valse profeet was. In die geval van die Here Jesus kon slegs sy opstanding uit die dood uitsluitsel gee oor wie die waarheid verkondig het, en wie nie. Dít is waarom die opstanding so ’n kardinale geloofstuk van die Christelike geloof is. Ja, die Here Jesus het met sy opstanding uit die dood bewys dat Hy alleen die ware Profeet was ... immers, Hy het tog sy eie dood en opstanding aangekondig. Dit is dan vir ons ook die bewys dat alles wat Jesus verkondig het, die waarheid was, en dat al daardie beloftes wat Hy gemaak het en wat nog nie gerealiseer het nie, wel eendag bewaarheid sal word.

Daarom moet elke predikant ook op hierdie beloftes voortbou, en nie anders preek nie. En net soos Paulus moet elke predikant ook in nederigheid die volgende as sy eie geloofsvisie sien: “Ek het my voorgeneem om met julle oor niks anders te praat nie as oor Jesus as die Christus, en wel oor Hom as die gekruisigde” (1 Kor 2:2). Dan sal die waarheid wat ons, as predikante, verkondig nie soos fiksie vir gelowiges klink nie. Dan sal ons kerke ook nie leegloop en ons lidmate in ander plekke na “waarheid” gaan soek nie! Maar dan moet elke gelowige ook daarteen waak om nie net te hoor wat jý graag wil hoor nie, maar opreg te luister na die waarskuwings van God.

Net soos in die geval van Jeremia waar die volk hulle blind en doof gehou het vir die geskiedenis, moet ons ons ook nie blind en doof hou vir die verlossingsboodskap wat die Here Jesus vir ons gebring het nie: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie” (Joh 14:6)! So sal ons ook kan hoor hoe God, deur mensewoorde, self aan die woord kom, en dan sal ons ook van ons eie geloofslewe die volgende kan sê: “Die boodskap van die kruis van Christus is wel onsin vir dié wat verlore gaan, maar vir ons wat gered word, is dit die krag van God ... Wat vir die wêreld die onsin van God is, is groter wysheid as die wysheid van mense, en wat vir die wêreld die swakheid van God is, is groter krag as die krag van mense ...” (1 Kor 1:18,25).

Ja, so sal die tyd ons (en die wêreld) ook leer dat die Here Jesus wel die enigste ware Verlosser was. Dit is die waarheid, en ek lieg nie ... die tyd sal die waarheid hiervan bevestig!
Amen