Johannes 6:22-36

Brood wat uitgedeel moet word



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
In ons teksvers, Johannes 6:36, maak Jesus daarop aanspraak dat Hy vir die siel is wat brood vir die maag is. Soos brood die maag voed, so voed Jesus die siel. Met ander woorde: Jesus vergelyk Homself hier met brood.

En wanneer 'n mens so 'n bietjie gaan nadink oor hierdie vergelyking wat Jesus self hier gebruik, broers en susters, maak dit nie net sin nie, maar geweldige sin. En kom ek sê hoekom.

Reis maar na enige land, en wanneer jy in 'n restourant kom, word daar aan jou brood bedien. Al het byvoorbeeld die wat ryk is alles, hulle het brood ook. Brood is nie streekkos of 'n nasionale dis nie. Net so kan geen land daarop aanspraak maak dat hulle brood uitgevind het nie, al kom dit byvoorbeeld in die vorm van 'n lekker boerebrood of lang Franse brood.

Presies dieselfde, broers en susters, kan van Jesus gesê word. Hy word nie ingeperk deur grense nie. Geen land het alleenreg op Hom nie. Geen streek besit Hom nie. Hy kan nie gekaap word deur enige land, organisasie of beweging nie. Hy is altyd oral op dieselfde tyd. Universeel, vir almal, beskikbaar.

Verder, broers en susters, word brood daagliks geëet. Sommige vrugte is net in seisoen beskikbaar, en sekere kossoorte word deur ons op net sekere dae geëet. Maar nie brood nie. Dit is altyd beskikbaar en word altyd geëet.

So is dit ook die geval met Jesus Christus. Ook Hy behoort elke dag na ons tafel gebring te word, of dit nou die tafel van ons werk, ons skool, of huis is. En daar moet ons Hom toelaat om ons harte en siele te voed, nie net op sekere tye nie, maar elke dag.

Net so, broers en susters, word brood in verskeie vorme bedien. Dit word gerooster, gebotter, gebraai of konfyt gesmeer. Verder kan dit 'n toebroodjie wees, 'n broodrolletjie of 'n oop broodjie. Brood voorsien in die behoefte, dit voorsien in elke smaak.

Net so met Jesus. Hy pas Hom, op grond van sy liefde, aan by ons behoeftes. Hy het 'n woord vir sowel die eensame as die vreugdevolle mens. Hy het hulp vir hulle wat liggaamlik of geestelik siek en moeg geword het. As jou visie helder is, help Hy. As dit dof is, help Hy ook. As jy verkeerd loop, vermaan Hy. Want God, deur Jesus Christus, voorsien eenvoudig in elke behoefte wat ons mag hê.

Ek glo, broers en susters, dat u nou al kan begin verstaan hoekom Jesus na Homself as brood kon verwys. Maar vergun my nog een ooreenkoms tussen Jesus en brood. Dink bietjie hoe brood gemaak word. Dink aan die proses. Van die heel begin af. Koring groei op die land, koringare wat feitlik presies dieselfde lyk. Dan word die koringaar afgesny, gedors en tot meel gemaal. Alles word gemeng, en deeg word gemaak. Dan gaan die deeg deur die vuur, en word brood. Dan word die brood vanuit die bakkery, versprei, vir almal om te eet, en versadig te word.

Neem egter een stap uit hierdie proses weg, en jy het nie brood nie. Elke stap is noodsaaklik. Elimineer die plantproses, en jy het nie koring nie. Los die dorsproses, en jy het nie meel nie. Vat die oond weg, en deeg bly maar net deeg. Los die brood in die bakkery, met ander woorde, versprei dit nie, en niemand word versadig nie. Elke stap is noodsaaklik.

En dink nou aan die lewe van Jesus. Hy het grootgeword, sê Jesaja 53:2 `soos 'n loot wat voor die Here uitspruit'. Een van baie ander seuns in Nasaret. Een van duisende in Israel. Hy was nie te onderskei van die bure se seun of die kind langsaan nie. As jy Hom as jong seun gesien het, sou jy nouliks gesê het: maar hier is die Seun van God, nie. Hy was net 'n seun, een van honderde. Soos 'n koringplantjie in 'n koringland. Soos een koringaar tussen baie ander.

Maar soos koring is Hy ook afgesny. Soos 'n koringkorrel is Hy gestamp en gemaal. Soos Jesaja 53:5 dit stel: `Oor ons oortredings is Hy deurboor, oor óns sondes is Hy verbrysel'. En soos brood moes Hy ook deur die vuur. Aan die kruis moes hy deur die vuur, die toorn van God oor die sonde. En dan nie oor sy sonde nie, maar ons s' n. Presies soos Jesaja 53:6 dit stel: ‘Die Here het ons almal se sonde op Hom laat afkom’

So, broers en susters, het Jesus, by wyse van spreke, deur elke deel van die broodmaakproses gegaan. Die groei, die maal, die vuur. En net soos elkeen van hierdie nodig is vir brood, was elkeen van hulle nodig vir Christus om die brood te word wat lewe gee. Soos Lukas 24:26 dit stel: `Moes Christus nie hierdie dinge ly om in sy heerlikheid in te gaan nie?'

Die laaste deel van die broodmaak proses, die verspreiding uit die bakkery na die man op straat toe, broers en susters, laat God egter aan ons oor. Ons is die verspreiders daarvan. Ons kan mense nie dwing om dit te eet nie, maar ons kan seker maak dat hulle dit kry.

Of dit nou ons buurman, ons kollega by die werk, selfs ons werkgewer, en spesifiek in ons geval vanoggend, my kind by die huis is, die een wat ek vanoggend laat doop, of die een wat verlede maand, verlede jaar, of wanneer ook al, gedoop is.

En tog, broers en susters, al verstaan ons dat ons deel van hierdie broodmaak en brood-gee proses is, is ons soms so traag om dit te doen. Selfs al kom dit by ons kinders. Wat meer is, ek wonder soms of ons, wanneer iemand vir ons die ware brood vra, in staat sal wees om dit te gee.

Daar kan redes voor wees, broers en susters. Hoe sal ons weet waarom elkeen van ons soms so traag is om dit te doen. Dalk ken ons God se geskenk aan ons, sy Woord, nie goed genoeg nie. Dalk spartel ons so in die geloof om net maar self kop bo water te hou, dat ons nie krag oor het om ook aan ander die brood van die lewe uit te deel nie. Of dalk, broers en susters, het ons nog nooit self gesmaak wat die ware Brood uit die hemel is nie, en omdat ons nog nie die heerlikheid daarvan gesmaak het nie, het ons nie die behoefte om ander dieselfde ervaring te laat kry nie. Of, dalk, broers en susters, omdat God nou nie werklik vir my só belangrik in my lewe is nie, goed, Hy is belangrik, maar darem nou nie só belangrik nie, oordeel ons, wanneer dit byvoorbeeld by ons kinders kom, dat God ook nie vir hulle so belangrik hoef te wees nie.

Ek weet egter nie, broers en susters, wat die ongelooflikste is nie: dat God die brood van die lewe verpak het in die omhulsel van 'n plattelandse timmerman, of dat Hy vir ons die sleutels van die afleweringswa gee. Die Timmerman het sy deel gedoen. (Dit gaan ons nou weer hoor en sien wanneer ons die doopformulier lees en 'n kindjie ten dope bring).

Ons deel moet egter gedoen word. Ek wil amper sê, nog gedoen word. Altyd gedoen word. Sonder ophou. Anders bly die brood in die bakkery, en niemand word gevoed nie.
Amen