Matteus 10:1-15 en 28:16-20

Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels!



Matteus: ‘n kort agtergrondskets
1. Inleiding

Warren Carter (2000) sê dat hy die evangelie van Matteus lees as ‘n “counter narrative” verweerskrif/apologie. Volgens hom is dit ‘n verweer geskrif wat geskryf is vir ‘n groot Joodse godsdienstige groepering. Dit is ‘n geskrif wat direk teenoor die bestaande status quo van die Romeinse oorheersing en teenoor die beheer van die sinagoge staan. Dit is ‘n geskrif wat die kulturele strukture weerstaan. Maar dit is ook ‘n werk van voorspraak en hoop. Die evangelie konstrueer ‘n alternatiewe wêreldbeskouing en gemeenskap. Dit bevestig dat daar ‘n ander lewe moontlik is op die rand van die samelewing, naas dié van die magstrukture. Die evangelie roep sy hoorders op om gelowig met weerstand in die bestaande omstandighede te lewe. Dit dra die belofte dat Jesus weer sal terugkeer om ten volle die koninkryk en redding van God te kom vestig.

Die outeur (2000:1) argumenteer dat die evangelie se eerste hoorders die dissipels was wat gelewe het in die tyd na Rome se oorwinning oor Jerusalem in 70 n C. Die evangelie interpreteer dié oorwinning in die lig van God se straf oor die godsdienstige leiers wat die mense verlei het om Jesus te verwerp. Rome word ironies genoeg, as die bondgenoot van die Joodse leiers, die agent wat die straf van God uitvoer. Maar die straf is nie die finale woord van God nie. Die evangelie belowe die mense dat Jesus hulle sal red van hulle sondes. Die redding van God kan nou deels ervaar word, maar sal met die koms van Jesus Christus volvoer wees. Rome se arrogansie sal dan ten einde kom en God se koninkryk van reg en geregtigheid sal ‘n werklikheid wees. Om die komende glorie en triomf van God se redding en die oorwinning van Rome uit te druk, gebruik die evangelie heel ironies die imperiale paradigma wat hy teëstaan!

Die outeur verduidelik in sy inleiding nege faktore wat ‘n bydrae lewer tot die verstaan van die evangelie. Die eerste drie faktore handel oor die evangelie se funksie om identiteit en ‘n lewenstyl te vorm:
Om te lees is ‘n aktiewe proses. Wanneer hierdie evangelie gelees word is dit duidelik dat dit die leefwêreld van die teks blootstel en die alternatiewe wêreld van God se koninkryk bekend stel. Dit veronderstel ‘n ander teenswoordige tyd met spesifieke gebruike en verhoudinge. Maar dit antisipeer ook die toekoms met Jesus se wederkoms wanneer God se koninkryk sal aanbreek.
Die evangelie maak gebruik van ‘n vertelling om vorm te gee aan die alternatiewe leefstyl en identiteit van ‘n gemeenskap van dissipels van Jesus.
Die evangelie gebruik ‘n verskeidenheid van strategieë om die vorming van identiteit te bereik naamlik deur name, die sentrale rol van Jesus, rituele, aanvalle op opponente, ‘n apokaliptiese wêreldbeeld en die voorstelling van die oorsprong, bestuur en praktyke van die gemeenskap.

Faktore vier tot nege handel oor die omstandighede van die eerste lesers van die evangelie:
Matteus se evangelie was na alle waarskynlikheid geskrywe na 80 n C in die stad Antiogië in Sirië deur ‘n onbekende outeur.
Die lesers van dié evangelie het hulle dissipelskap uitgelewe in die harde, semi- stads, hiërargiese omgewing van Antiogië.
Die eerste lesers is ‘n sosio ekonomiese deursnee/cross-section van dié gemeenskap.
Die eerste lesers is ‘n klein groepering.
Die eerste lesers is in spanning met ander lede van die stad se Joodse gemeenskap.
Die eerste lesers het die waardes, verpligtinge en agendas van die Romeinse Ryk weerstaan.

Die skrywer (2000:2) sê dat hy ten slotte sal aantoon dat die Matteus evangelie ‘n gemarginaliseerde samelewingstruktuur voorstel as ‘n alternatiewe lewenstyl.

Carter (2000:5) wys vir ons daarop dat outeurs altyd ‘n bepaalde gehoor in gedagte het wanneer hy/sy ‘n verhaal skryf. Hierdie gehoor is in alle opsigte ‘n model/ideale gehoor wat in alle opsigte saamstem met elke woord wat hy/sy sê, wat enige los drade in die verhaal self optel, wat self oor al die kulturele agtergrond beskik om die verhaal te verstaan en wat elke retoriese strategie as oortuigend en reg aanvaar. Volgens Carter (2000:5) is daar egter ook die ander gehoor wat ‘n mens ook die lewende/werklike gehoor kan noem. Die werklike gehoor sal op verskeie terreine saamstem met die ideale gehoor van die outeur. Daar sal egter ook die kere wees waar die lewende/werklike gehoor sal verskil van die ideale gehoor of sekere sake bevraagteken. Met tye sal werklike gehoor die ‘counternarrative’ weerstaan. So vra die skrywer van die evangelie die ideale gehoor en daarom ook die lewende/werklike gehoor om met hom akkoord te gaan oor betwyfelbare sake. Dit word duidelik op die volgende plekke:
Die outeur verwag van sy lesers om die sinagoges te beskou as plekke van geweld en huigelary en die Joodse leiers as skynheiliges en moordenaars. Die outeur wil sy lesers oortuig dat dié Jode wat Jesus nie volg nie, ongelowig is en die hel en die verdoemenis verdien. Hy verwag dat die Joodse leiers in dieselfde lig gesien moet word as die duiwel en sy agente. (sien Matteus 4:1-11; 12:34; 16:1-14; 19:3; 22:15,34)
Die evangelie is manlik gedomineerd omdat die rol van mans meer beklemtoon word as dié van vrouens. Net mans is dissipels. Vrouens is onsigbaar. Die patriargale lewensorde word verwerp in Matteus 19:3-12 en 23:8-12 alhoewel daar deurgaans na God as Vader verwys word. Dit wil voorkom asof die skrywer sê dat die wêreld regeer moet word deur ‘n patriargale Vader God.
Die evangelie weerstaan en ontbloot die gewelddadige en onderdrukkende maniere van wêreldse koninkryke (2; 14:1-12), wat oor mense heers (20:20-28). Dit herinner die lesers daaraan dat die dinge van die keiser en God nie dieselfde is nie (22:15-22). Die alternatief vir die heerskappy van Rome, is die koninkryk van God wat nou al aangebreek het met Jesus en wat sal triomfeer oor alles. Dit is hier nogal interessant om op te merk dat die skrywer dieselfde taal gebruik van die saak wat hy juis weerstaan. Dit wil voorkom asof die mag van God herinner aan die mag van Rome. In plaas daarvan dat die evangelie ‘n alternatiewe model van insluiting en versoening bied, staan hy en God saam om Rome te vernietig.

Uit hierdie gegewens kan dit lyk asof die ideale gehoor heeltemal saamstem met die skrywer se opinies en menings veral ten opsigte van die Joodse leiers, Rome en die rol van mans. Die lewende werklike gehoor moet egter van hierdie opinies van die skrywer kennis neem en nie alles vir soetkoek opeet nie. Die werklike gehoor kan nie alles, veral die waardeoordele van die skrywer, onkrities in die evangelie aanvaar nie. Die konteks moet te alle tye in ag geneem word. Vir sekere sake is daar sosio-historiese redes hoekom die skrywer sekere religieuse leiers en plekke voorstel soos hy doen. Die sinagoges is nie almal plekke van skynheiligheid en geweld nie, ten spyte van wat die evangelieskrywer hieroor sê. Carter (2000:6) sê inderdaad dat die gruweldade wat tydens die Tweede Wêreldoorlog teenoor die Jode gepleeg is, ‘n uitvloeisel is van sulke denke. Hy is ook die mening toegedaan dat die rolle en ervarings van vrouens meer sigbaar gemaak moet word in die evangelie.

Deur kreatiwiteit kan ‘n mens dikwels jouself verplaas na ‘n ander werklikheid. Die evangelie doen dit in sekere gevalle. Dit vind ons veral in Matteus 5:44 waar die lesers opgeroep word om hulle vyande lief te hê, in Matteus 9:13 en 12:7 om barmhartigheid te bewys aan alle mense, in Matteus 5:45 waar die Vaderbeeld van God geherdefinieer word in die lig van sy ongelooflike liefde vir alle mense en die herformulering van koninkryke in Matteus 4:17-25. Die evangelie suggereer ‘n weerstand teenoor die dominante kulturele norme en ‘n strewe vir ‘n ander wêreld.

Om saam te stem met die ideale gehoor van die skrywer is een ding. Dit is iets anders om regtig die omstandighede van die eerste lesers te beleef. Ons moet kennis neem van die feit dat om die ideale lesers te ontmoet net die begin is van die leesproses. Hierna volg die interaksie met die teks wat altyd ‘n konstruk is. Die skrywer stel dit pertinent dat sy verstaan van Matteus nie die enigste is nie, alhoewel sy lees van Matteus ‘n omvangryke studie is.

2. Die funksie van evangelies: legitimasie en identiteit en ‘n vorm van lewe
Wat doen die Matteusevangelie vir lesers? Party mense is die mening toegedaan dat dit ‘n historiese weergawe van die lewe van Jesus bied. Uit die getuienis van die evangelie self, volgens Matteus 7:24-27;12:46-50, blyk dit nie so te wees nie. Die evangelie kan die beste verstaan word as materiaal wat gerig is aan dissipels van Jesus. GD Kilpatric is die mening toegedaan dat dit geskryf is as ‘n hersiene Evangeliese lesing wat gelees en uitgebrei is in die erediens. Volgens Carter (2000:8) gaan hierdie argument nie op nie. Wat wel belangrik is van die insigte van Kilpatric is dat hy aandag skenk aan die opvoedkundige en gemeenskaplike oriëntasie van die evangelie. Die evangelie is na alle waarskynlikheid geskryf aan ‘n groep dissipels wat nog gevorm moes word na die eise van dissipelskap. Dit is daarom geen wonder dat die evangelie opgedeel is in vyf groot lesings nie naamlik hoofstukke 5-7, 10, 13, 18, 24-25. Hierdie materiaal roep die dissipels op tot ‘n aktiewe lewe van geloofsgehoorsaamheid. Maar hierdie materiaal het ook ‘n gemeenskapsoriëntasie. R Burridge toon aan dat die evangelie se genre een is van die ‘bioi’, biografie. ‘n Biografie is ‘n tipe vertelling wat gewoonlik ontstaan uit ‘n groep mense wat rondom ‘n charismatiese leier versamel is. Dit gaan primêr in dié genre om die persoon van hulle subjek naamlik Jesus Christus. Hierdie genre verskaf ‘n voorbeeld wat die navolgers kan volg. Die lede van Matteus se gehoor het ‘n sentrale verbintenis met mekaar naamlik hulle lojaliteit teenoor Jesus as God se agent. Die evangelie neem aan dat die lede van sy gehoor bekend is met die Joodse geskrifte, tradisies en sentimente wat, soos dit deur Jesus geïnterpreteer word, aan hulle lewens identiteit en vorm gee. As volgelinge van Jesus is hulle bekend met sy leringe.

3. Hoe vorm die evangelie ‘n gemeenskaplike identiteit en gee hy gestalte aan ‘n lewenstyl?
Die evangelie gee ‘n goeie weergawe van sy verstaan as ‘n gemarginaliseerde gemeenskap deur:
Naamgewing. Die evangelie gebruik verskillende name sy gehoor naamlik dissipels, geseëndes, kinders, lidmate (ekklesia), broers en susters, profete, geleerdes, wyses en suigelinge. Hierdie name onderskei hulle van ander gemeenskappe, geen aan hulle groepidentiteit en waarsku hulle om nie soos die ander groepe te wees nie.
Sentrale fokus. Die evangelie roep sy lesers op om hulle te verbind aan Jesus as die sentrale wyse van die gemeenskap se identiteit. Jesus roep sy dissipels op om hom te volg (Matteus 4:19-22; 9:9; 10:1-4; 19:21), om sy kruis op te neem en nie dié van die wêreld nie (vgl Matteus 11:29). Die dissipels word opgeroep om in sy naam op te tree (vgl Matteus 5:11; 10:18, 22, 39; 16:25; 18:5; 19:29; 24:9). Hulle is gehoorsaam aan sy leringe (Matteus 7:24-27; 12:46-50), wat hulle onderskei van ander wat nie is nie (Matteus 13:10-17).
Aansprake van eksklusiewe openbaring. Die evangelie stel Jesus voor as die definitiewe openbaarder van God se teenwoordigheid (Matteus 1:23; 18:20; 28:20), wil (Matteus 5-7, 10, 13, 18, 24-25), heerskappy (Matteus 4:17) en vergewing (Matteus 1:21; 9:1-8; 26:28). As ontvangers van hierdie openbaring, is die gemeenskap van dissipels anders as al die ander (Matteus 13:10-17).
Rituele en assosiasie. Die deel word van die gemeenskap van Matteus het met verskeie rituele gepaard gegaan soos die doop as inlywing tot die gemeenskap (28:19), die aanvaarding van die gemeenskap se leringe (7:24-27), aanbidding (2:1-12; 5:23-24), en die interaksie met die ander lede van die gemeenskap met vergewing (6:14-15; 18:21-35), liefde (22:38-39), deelname aan die regering (18:15-20) en rituele maaltye (26:26-29), gebed (6:9-13) en ‘n lewe van inklusiewe genade (10:7-8; 19:16-30; 25:31-46).
Sosiale organisasie. Die evangelie vorm die gemeenskap se leierskap. Daar is geen ander herkenbare leierskap, leeramp (23:8-12) of hiërargiese kontrole (20:20-28). Die gemeenskap is ‘n gelyke samestelling van mense waar almal mekaar dien soos Jesus hulle geleer het (20:25-28). Die gemeenskap het sy eie besluite oor toelaatbare en ontoelaatbare gedrag (18:18). Dit het ook sy eie dissiplinêre struktuur (18:15-17).
Verwyte teen die opponente. Matteus belaster die opponente van Jesus deur hulle allerhande name te noem soos vyande, hipokrate, blinde leiers, slange en boosdoeners. Hulle weier om die geskrifte en die krag van God te verstaan ( 22:19). Hulle onderdruk die mense (9:36) en is daarom nie in staat om leiers te wees nie (21:43; 23:38). Hulle het geen sosiale plek in die Matteus gemeenskap of eskatologies in God se toekoms nie (15:13; 23:13). Die dissipels word opgeroep om nie soos die opponente te wees nie (6:2-6,16-18,7,33; 20:25).
Apokaliptiese eskatologie. Dit is ‘n manier om die wêreld te verstaan. Daar is twee tye naamlik die teenswoordige bose tyd wat God se bedoelinge dwarsboom en die toekomstige glorieryke tyd wanneer God se doel gerealiseer sal word (13:36-43). Daar is twee kosmiese kragte naamlik Satan en God (4:1-11). Daar is ook twee soorte sosiale groepe naamlik die goddeloses en die regverdiges (25:31-46). God se koninkryk het ‘n werklikheid geword in Jesus. Wanneer Hy weer kom, sal die finale oordeel aanbreek (13; 24-25). Die apokaliptiese denkraamwerk van die gemeenskap van Matteus maak hulle identiteit as die bevoorregtes van God se finale redding ‘n sekerheid.
Gemeenskaplike definisie van oorsprong, beheer en aksies. Matteus begin sy evangelie met die geslagsregister van Jesus (1:1-17), sy verwekking (1:18-25), geboorte (2:1a), vroeë kinderjare (2:1b-21) en verblyf in Nasaret (2:22-23). Carter (2000:11) wys vir ons op die ooreenkomste tussen Josef, Moses en Jesus. Matteus gebruik die ooreenkomste as die skakeling tussen Jesus en die geskiedenis van Israel. Jesus bring, as die seun en nakomeling van Abraham en Dawid ‘n gemeenskap tot stand deur dissipels te roep (4:18-22; 9:9; 10:1-4), hulle te leer (5-7; 10;13; 18; 24-25), deur vir hulle ‘n nuwe gemeenskap en familie te gee (12:46-50), hulle op te roep tot missionêre diens (4:19b; 10:5-14; 28:19-20). Die genealogie en verbintenis met Abraham, Josef en Moses plaas Jesus en sy gemeenskap binne die staanplek van Israel (1:1-17). Die beheer van die gemeenskap van Matteus kan ‘n teokrasie genoem word omdat die gemeenskap van dissipels God se wil gehoorsaam soos Jesus dit aan hulle openbaar het (1:21; 11:25-27; 12:46-50). Jesus sê uitdruklik in die vyf groot leerredes (5-7;10;13;18;24-25) wat Hy van die dissipels verwag.

Matteus gebruik hierdie onderwerpe van oorsprong, beheer en praktyke om die gemeenskap van dissipels se randbestaan vorm en identiteit te gee.

4. Die Evangelie van Matteus: hoe, waar en wanneer?
Carter (2000:14) sê ter inleiding hy beredeneer nie die evangelie se plek van oorsprong, die datum en outeur net omdat hy dink die oorspronklike konteks is belangrik nie. Hy doen dit omdat hy uit die teks self wil aflei of die oorspronklike wêreld van die evangelie ‘n invloed gehad het op die teks en die eerste lesers. In die lig hiervan kan hy dalk die skrywer se vyandigheid verklaar teenoor die sinagoge, die beeld van Vader wat hy gebruik vir God en heerskappy vir God se doel. Dit wil voorkom asof die oorspronklike teks gevorm is deur sy eie tyd en plek. Die werklike gehoor moet altyd bewys bly van die feit dat ‘n teks op ‘n spesifieke tyd en plek ontstaan het om sodoende absolutasie uit te sluit van die werklike tyd en plek ten koste van die teks. Daar moet afstand en perspektief wees tussen die teks en die werklike gehoor.

Ons weet nie wie die skrywer is van hierdie evangelie nie. Na alle waarskynlikheid was dit nie dié Matteus wat Jesus by die tolhuis geroep het nie (Matt 9:9). Die redes hiervoor is die feit dat hy nie ‘n spesiale getuie is van die gebeure rondom private gebeure soos die doop van Jesus of sy verandering van gedaante (Matt 17:1-2) of die hemelvaart. Hy verskyn ook agste (8ste) op die lys van dissipels in Matteus 10:2-4. Irenaeus het honderd jaar nadat die evangelie geskryf was na die evangelie verwys as die evangelie volgens Matteus. Na alle waarskynlikheid het hy dit gedoen omdat die naam Matteus “geskenk van God” beteken, wat ‘n goeie beskrywing is van die goeie nuus wat die evangelie bied. Verder herinner die naam Matteus ook aan die Griekse woord wat amper dieselfde klink, wat dissipel beteken. Hierdie benaming is toepaslik vir ‘n evangelie wat poog om die dissipels te leer om in ‘n alternatiewe lewenswyse te bestaan.

‘n Ander rede kan wees dat Matteus, die dissipel van Jesus na die kruisiging en in die tyd voordat die evangelie geskryf is, ‘n prominente rol gespeel het in die gemeenskap aan wie dié evangelie geadresseer is. Miskien het hy die gemeenskap gestig met sy prediking en hulle toegerus met sy onderwysinge. Die naam Matteus sou dan die hede met die verlede verbind en hulle sodoende herinner aan die goeie leier. Maar dit is net aannames. Ons kan nie met sekerheid sê wie die evangelie geskryf het nie. Wanneer Carter dus van Matteus of die Matteus evangelie praat, dan doen hy dit met inagneming van die feit dat niemand regtig weet wie hierdie Matteus as ‘n historiese figuur is nie.

Waar?
Carter (2000:15) voer aan dat niemand regtig weet waar die evangelie ontstaan het nie. Daar is egter goeie redes om aan te neem dat die Matteus evangelie geskryf is in die stad Antiogië in die Romeinse provinsie Sirië, wat op die walle van die Orontesrivier geleë was. Ignatius die biskop van Antiogië het in die eerste dekade van die tweede eeu materiaal vanuit Matteus gebruik in sy briewe aan verskeie kerke. In sy geskrif, die 'Didaché', gebruik hy Matteus se “Onse Vader” (vgl Did 8:1-3 met Matteus 6:9-13 en Lukas 11:1-4). Die feit dat die Matteus evangelie gevind word in materiaal wat afkomstig is van Antiogië, kan daarop dui die evangelie hier ontstaan het.

Interne teksgetuienis (vgl Matt 4:24 met Markus 1:28 en 39) dui op Antiogië as die plek van ontstaan. Verder is dit so dat Petrus ‘n baie belangrike rol speel in die evangelie (vgl Matt 4:18-20; 10:2; 14:28-32; 16:16-18; 17:1-8; 26:33-46, 58, 69-75). Volgens Galasiërs 2:11-14 het Petrus ‘n belangrike rol gespeel in die kerk in Antiogië. Carter (2000:16) verstaan onder Antiogië ook die dorpies en gemeenskappe van dissipels van die onmiddellike omgewing. Hy sal in sy boek hoofsaaklik fokus op Antiogië as die plek waar die Matteus evangelie ontstaan het (sien Bosch 1996:58; 80)

Wanneer?
Carter (2000:17) meen dat die evangelie iewers na 70 n C, maar voor 100nC, miskien iewers in die tagtigerjare van die eerste eeu geskryf is(vgl Matt 22:1-14; sien Bosch 1996:58).

5. Dissipelskap in Antiogië
Antiogië in Sirië was na alle waarskynlikheid die derde grootste stad van die Romeinse Ryk naas Rome en Aleksandrië, wat gestig is in 300vC deur Seleukus 1 op die walle van die Orontesrivier. Antiogië was ook die hoofstad van die Romeinse provinsie Sirië op die belangrikste handelsroetes tussen die noorde en die suide en die ooste en weste. Die stad was digbevolk ongeveer 150 000 tot 200 000 mense aan die einde van die eerste eeu. Die stad was ongeveer 3,2 km in lengte en 1,2-1,5 km in breedte. R Stark (in Carter 2000: 17) voer aan dat daar ongeveer 117 mense per vierkante “acre” (akker of halwe morg) was, in vergelyking met 37 mense per vierkante “acre” (akker of halwe morg) in New York. As ‘n mens nog sou byvoeg dat 40% van die stad bestaan het uit geboue het die syfer verhoog tot 205 mense per vierkante “acre” (akker of halwe morg). Dit het meegebring dat die mense amper geen privaatheid gehad nie, wat gelei het tot ‘n onhoudbare situasie van konflik, geweld en stryd.

Die samelewing was ‘n samestelling van belangrike en onbelangrike mense. Die belangrikste was die goewerneur wat deur Rome aangestel is as die verteenwoordiger van die keiser. Dan was daar die beherende elite wat bestaan het uit die politieke, militêre, administratiewe en ekonomiese leiers. Hulle is bygestaan deur twee groepe naamlik die priesters en die invorderaars (mense wat huur vra, in Engels 'retainers'). Naas die elite was daar die nie-elite wat uit die grootste getal van die bevolking bestaan het soos die slawe wat vrygemaak of losgelaat is. Hulle was meestal ambagsmanne en het dit in familieverband gedoen. Naas hierdie groep was daar die onreines en uitgeworpenes. Hierdie groep het bestaan uit die kriminele, prostitute, fisiese gestremdes, vrouens sonder familiale verbintenis en sekere slawe. Buite die stad was die landbouers wat swaar belas is. (kyk Matt 20:1-16) Die sosiale struktuur was gekenmerk deur beskaafdheid. Uit die geskrifte van die elite blyk dit duidelik dat hulle die elite verafsku het. Die samelewing was ook gekenmerk deur die onderskeid van eer en skande.

Iemand se status is bepaal deur genealogie, sosiale staanplek wat rykdom en politieke mag reflekteer. Taal, vryheid, opvoeding, beroep, geslag, etnisiteit en ouderdom het ook ‘n rol gespeel. Status en eer was nie ‘n permanente gegewenheid nie. Dit moes hernu word en aanhoudend duidelik gemaak word deur jou verblyf, kleding en sosiale verbintenisse. Die stad het die elite die geleenthede verskaf om hulle taak te volvoer deur geld te spandeer, publieke diens, feestelikhede, diens van barmhartigheid, ontspanning en borgskappe. So het elite hulle mag oor ander behou. Mans het normaalweg die huishoudings verteenwoordig terwyl vrouens in die private sfeer gewerk het.

Die strukture van ‘n stad bepaal in ‘n groot mate die sosiale behoeftes van die gemeenskap. Die elite het van die geboue in Antiogië gebruik om mense in en uit te sluit soos die teater en die amfiteater. Antiogië was omring deur stadsmure wat die stad van die platteland geskei het. Die mure het ook baie gehelp in tye van oorlog en opstande. Die hekke was gebruik om gelde in te samel soos tolgelde volgens Matt 7:13-14.

Dit wil voorkom asof stad en die platteland mekaar met gemengde gevoelens aanskou het. Die landbouers het die stad Antiogië beskou as een van boosheid, luilekker plesier en mag. Plattelandse gebiede is weer beskou as minderwaardig en sonder enige kultuur. Tog is die eienaarskap van grond ekonomies en sosiaal hoog aangeslaan.

Die toestande van die elite in die stad was baie gunstiger as dié van die nie-elite. Die nie-elite wat uit die grootste deel van die bevolking bestaan het, het meestal in klein huisies, woonstelle en kamers gebly. Hierdie vertrekke was meestal swaar berook veral wanneer daar voedsel voorberei is. Die strate was nou en het meestal ook gedien as die publieke handelsplek. Die hoë digtheid in die stad het gelei tot waterskaarste en ‘n rioolprobleem. Die meeste mense in die stad, uitgesonderd die rykes, moes hulle water self aandra vanuit die fonteine en watertenks. Hierdie tenks was gewoonlik die broeiplek van allerlei siektes. Riool is gewoonlik in die strate sommer deur die vensters gegooi. Die warm temperature, die riool in die strate en die aanwesigheid van allerlei diere, het van dié stad ‘n stinkende een gemaak. Dit was ‘n teelaarde vir siektes, hoë sterftesyfer en ‘n kort lewenspan. ‘n Mens kon die groot hoeveelheid mense met fisiese gebreke opmerk.

Daar was ook verskeie soorte nasies wat hier gebly het soos onder andere Romeine, Jode en Siriërs. Stark (in Carter 2000:24) raai dat hier omtrent agtien verskillende soorte nasies gebly het. Daar was ook ‘n deurlopende aantal mense wat, meestal vanuit die platteland, na die stad gestroom het. Hierdie voortdurende stroom van nuwe mense en die diversiteit van die samelewing het gelei tot misdaad, wanorde, chaos en opstande. Die stad was ook ‘n teiken vir vure, wat maklik versprei het in hierdie digbeboude stad, vloede as gevolg van die feit dat hy op die walle van die Orontesrivier gebou was en water wat vanuit die berg Silpius gevloei het en aardbewings.

In hierdie omstandighede het die lesers geleef aan wie Matteus sy evangelie rig.

6. Waar is Matteus se Christene in Antiogië?
Die omstandighede van die gemeenskap word gereflekteer in verskeie gedeeltes in Matteus, soos 18:23-35; 20:1-16; 9:9-13. Ons kan egter nie onomstootlik bewys dat Matteus se gehoor net bestaan het uit ‘n groot groep van 'involuntary marginals'. Die teks se belang by “involuntary marginals” kan nie gesien word as ‘n refleksie van die gehoor nie. Daar is nie ‘n direkte verband tussen die storiewêreld en die gehoor nie.

Resente navorsing wys vir ons dat die gehoor van Matteus nie net bestaan het uit “involuntary marginals” (onwillekeurige randfigure) nie, maar uit ‘n “cross-section” van die stedelike gemeenskap. Ons kan egter nie ontken dat hulle wel in die gemeente was nie, veral omdat Jesus so dringend daarop aandring dat daar sendingwerk onder hulle gedoen moet word. Carter (2000:27) sê dat dit beter sal wees as aangeneem word dat die gemeenskap van Matteus bestaan het uit ‘n “cross-section” van die gemeenskap.

7. Die klein groepering van die eerste lesers van Matteus
Die gehoor van Matteus was na alle waarskynlikheid klein in getal, ‘n minderheidsgroep in ‘n groter gemeenskap. Dit het hulle aanhoor van die evangelie beïnvloed. Sekere beelde in die evangelie bevestig dat 'smallness' ‘n deel is van die ervaring van ‘n lewe as ‘n dissipel. (vgl Matt 10:42; 11:25; 18:1-7, 10, 14; 19:13-15). Hierdie beelde wys daarop dat alhoewel “smallness” dui op iets van klein waarde, breekbaarheid en magteloosheid, is dit van spesiale waarde in God se oë. Die evangelie bou voort op die waarde van ‘n “smallness” en minderheidsgevoel as deel van God se vrymakende proses.

Hoeveel?
Ons weet nie regtig presies hoeveel nie omdat dit te moeilik is om die spesifieke getal vas te stel. Wat wel ‘n feit is, is dat die Christelike gemeenskap in ‘n stad met 150 000 tot 200 000 inwoners, klein in getal was.

8. Spanning met die sinagoge
Daar is twee aspekte wat ‘n effek gehad het op die gemeenskap in Antiogië se aanhoor van die verhaal van Jesus. Navorsing het gewys dat Matteus ‘n erg Joodse evangelie is (vgl Matt 6:1-18, 29; 12:23, 39-42; 22:42-46). Tog is daar ook in dié evangelie ‘n openheid na die heidene (vgl Matt 2:1-12; 8:5-13; 15:21-28; 28:19-20) – wat die teenwoordigheid van heidene ook moontlik maak in die gemeente.

Volgens Josefus was die Joodse deel van die stad se oorspronklike inwoners huursoldate in die weermag van Aleksander die Grote. Hy wys ook op ‘n lang tradisie van Siriese konflik met die Jode. Twee sinagoges het bestaan, een in die stad en een naby Daphne.

Joodse groepe het ook in huise ontmoet. Dit onderstreep die feit dat die Joodse groep in Antiogië ‘n diverse groep was wat bestaan het uit Jode met verskillende oortuigings en praktyke. Om spanning te hê met die sinagoge is nie net ‘n religieuse saak of ‘n saak van nie-welkom-wees in ‘n bepaalde gebou nie. Dit beteken verwydering van ‘n groep mense of gemeenskap. Dit sluit in politieke, sosiale, ekonomiese en familiale dimensies.

Matteus se gehoor is deel van die diverse Joodse Antiogeense gemeenskap. Hierdie spanning is duidelik veral wanneer Matteus veranderinge aanbring uit die materiaal wat hy gebruik vanuit sy bronne Q en Markus. Hy doen dit om die omstandighede van sy gehoor in ag te neem en hulle aan te spreek.

Carter (2000:31) noem ses veranderinge wat Matteus aanbring:
Matteus praat van die sinagoge vyf keer (Matt 4:23; 9:35; 10:17; 12:9; 13:54) en “jou sinagoge” (Matt 23:34) om die afstand te onderstreep tussen Jesus en die sinagogale gemeenskap.
Markus praat van Jaïrus as die leier van die sinagoge, terwyl Matteus dit verswyg (Matt 9:18, 23). Ook Lukas praat van die genesing van die offisier se slaaf van die offisier as ‘n liefhebber van die Joodse mense en ‘n bouer van die sinagoge (Luk 7:5), terwyl Matteus hierdie verwysings weglaat (Matt 8:5-13).
Matteus verhoog Markus se verwysings na geestelike leiers se bydrae/rol in die moord op Jesus. Hy voeg by Markus se verwysing van Fariseërs as hipokrate nog Skrifgeleerdes ook (vgl Mark 7:6 en Matt 15:1, 7).
Hy verwys sewe keer na die Fariseërs as skynheiliges. Vier keer vervang hy Markus se verwysings na Skrifgeleerdes met verwysing na Fariseërs. Uniek aan Matteus is sy beskrywings van die Skrifgeleerdes en Fariseërs as blinde leiers en dwase (Matt 23:16, 17, 19, 26; vgl 15:14).
Die naam “rabbi” word ‘n negatiewe een wanneer dit deur die valse dissipels en godsdienstige leiers gebruik word. Matteus verwyder Petrus se twee gebruike hiervan in Markus deur die een te verander na “Here” (vgl Mark 11:21 en Matt 21:20) en die ander weg te laat (vgl Mark 9:5 en Matt 17:4). Matteus behou dit wanneer hy oor die verraaier Judas praat (vgl Mark14:45 met Matt 26:49). Ons vind dit ook in Matteus 26:21-25 wanneer Judas vir Jesus “rabbi” noem terwyl die res van die dissipelgroep aanhou om vir Jesus “Here” te sê. (vgl Markus 14:19) Die Fariseërs, wat selfsugtig en hipokrate is, verkies die titel “rabbi” (Matt 23:2-7). Daarom verbied Jesus die Christelike gemeenskap om dit te gebruik volgens Matteus 23:8.
Matteus lê klem op die negatiewe konnotasies wat die woord “skrifgeleerde” oproep. Markus 1:22 kontrasteer Jesus se gesag met dié van die skrifgeleerdes, terwyl Matteus die afstand beklemtoon deur die woorde “die skrifgeleerdes” te verander na “hulle skrifgeleerdes” (Matt 7:29). Matteus verander die Q tradisie deur die persoon wat Jesus wil volg na die “skrifgeleerde” wat Jesus dan ook afwys (vgl Lukas 9:57 met Matt 8:19). Die afgewyse skrifgeleerde spreek Jesus aan as “leermeester”, terwyl sy dissipel hom aanspreek as “Here” volgens Matt 8:21. In Matteus hoofstuk 2 wat algemeen aanvaar word as materiaal uniek aan dié evangelie, koppel die skrifgeleerdes nie die geskrifte met Jesus nie of tree nie, volgens hulle kennis, met respek teenoor Jesus op nie (Matt 2:-4-6; vgl Matt 22:29; 7:24-27; 12:46-50). Matteus verander ook die simpatieke weergawe van Markus 12:28-34 na een in Matteus 22:34-40 waar die skrifgeleerde na ‘n Fariseër verander word, verwyder Markus se dubbele waardering van die skrifgeleerde se waardering vir Jesus se antwoorde in Markus 12:28, 32 en ook Jesus se waardering vir die skrifgeleerde in Markus 12:32-34. Matteus verwys elf kere na die skrifgeleerdes, waarvan tien op ‘n negatiewe manier is. Veral hoofstuk 23 is nogal veroordelend!
Sommige veranderinge verhoog die polemiek teen die godsdienstige leiers soos in Matteus 5:20 waar gewys word op die skynheiligheid van die skrifgeleerdes en die Fariseërs teenoor die goeie lewenstyl van sy lesers. In twee verhale (Matt 21:43; 22:7) voeg Matteus verse by die gelykenisse in Markus 12:1-12 en Q in Lukas 14:15-24 waar die godsdienstige leiers veroordeel word. Die finale oordeel word oor die skrifgeleerdes en Fariseërs uitgespreek in Matteus 23 waar hulle moordenaars van die volgelinge van Jesus genoem word, anders as in Q (vgl Matt 23:34 met Lukas 11:49).

Oor die jare is daar dikwels gewonder oor die redes vir Matteus se negatiwiteit teenoor die sinagoge en die godsdienstige leiers. Navorsing het dit verbind aan die verskriklike omstandighede toe Rome Jerusalem en die tempel afgebreek en ‘n einde gemaak het aan die priesterdom in 70 n C (Matt 22:7; 23:38; 24:2; 26:61). Die daaropvolgende jare was ‘n tyd van angs en stryd vir die Jode oor die betekenis en sin van dit wat met hulle gebeur het. Judaïsme moes wees nuut bedink word en die Fariseërs moes hierin leiding neem. Matteus se gemeenskap het nie hierin leiding gegee nie. Dit verklaar Matteus se negatiwiteit jeens die sinagoges en godsdienstige leiers.

Wat was die kwessies in die konflik?
Ons kry sommige leidrade in die evangelie oor die kwessies wat betrokke was in die konflik. Die vernietiging van die tempel het veroorsaak dat die Jode nuut moes kyk na hulle godsdiens. Hulle het nie meer ‘n tempel gehad waar hulle kon aanbid en God kon eer nie. 4 Esra en 2 Barug getuig hoe die Jode die regverdigheid en getrouheid van God bevraagteken het, hoe hulle God se teenwoordigheid in die hede moes beleef en hoe hulle God se straf kon vermy. Matteus maak dan daarop aanspraak dat Jesus die een is wat hulle vrae geantwoord het deur God se redding ook aan hulle te bied (vgl Matt 1:21). Die evangelie getuig van drie aansprake wat op die Jode se aandeel in die konflik wys nl:
Menige skrywers het die gebeure van die vernietiging van Jerusalem en die tempel in 70nC geïnterpreteer as God se straf ( JW 4.386-88; Esra 3:24-36; 4:22-25; 5:21-30; 2 Bar 1:1-5; 4:1; 6:9; 32:2-3) Matteus stem hiermee saam, maar verkwalik die sonde as die hoofrede hoekom die elite Jesus verwerp het (Matt 21:12-13, 18-19, 41-43; 22:7; 27:25). Matteus beklemtoon die feit dat Jesus gekom het om almal wat glo se sondes te vergewe (1:21; hoofstukke 24-25; 3:2, 6; 26:28; 9:1-8; 5:23-24;18:23-35; vgl 6:12, 14-15).
Jesus het gekom om God se teenwoordigheid duidelik te maak (Matt 1:23; 18:18-20).
Jesus is die interpreteerder van God se wil (Matt 1:23; 2:6,15,18, 23; 4:15-16; 8:17; 5:21-48; 7:24-27, 9:11-13; 11:10; 12:1-8; 12:9-14, 46-50; 13:14-17, 35; 15:1-20; 19:3-12; 22:34-46; 24:35; 26:56; 27:9-10).

In die tyd na 70 n C was die stryd tussen die godsdienstige leiers en die Matteus gemeenskap fel en sosiaal dekonstruktief. Die gemarganaliseerdes is diegene wat verwerp is deur die dominante en magtige kerngroep. Ons moet egter onthou dat die stryd wat binne die sinagoges gewoed het, nie die einde beteken het van Judaïsme nie. Die eerste eeuse Judaïsme het nie net uit een groep bestaan nie.

Dit behoort daarom nou duidelik te wees dat die hoofsaaklik Joodse gemeenskap wat lojaal is aan Jesus, aan wie Matteus skryf in ‘n stryd gewikkel was met die plaaslike sinagoge om ‘n staanplek in die algemene tradisie. Alhoewel hulle op verskeie terreine met mekaar ooreenstem verskil hulle prinsipieel oor die rol van Jesus in hulle geloofslewe. Die sinagoge verwerp die aansprake dat Jesus sondes vergewe, dat Hy die wil van God interpreteer en God verteenwoordig. Hulle sien geen plek vir Jesus in hulle godsdiens nie. Matteus se gehoor is dus ‘n Joodse groep wat, alhoewel hulle oortuig is om Joodse tradisies te handhaaf, spanning het met die plaaslike sinagogale gemeenskap.

9. Romeinse imperiale teenwoordigheid
Naas die stryd met die Joodse gemeenskap het die eerste lesers van die evangelie ook te doen gehad met die Romeinse imperiale teenwoordigheid. Carter (2000:36) sê dat bitter min navorsers hieraan aandag gegee het veral omdat Rome nie genoem word nie en daar net in die verbygaan van die keiser melding gemaak word in Matteus 22:15-22. Hoe dit ook al sy, die ervaring van Romeinse mag was vir hulle ‘n werklikheid. Hulle het die verhaal van Jesus verstaan as iemand wat ‘n alternatiewe sosiale visie gehad het, wat in stryd was met die godsdienstige leiers en die lede van die elite regeerders wat vriende van Rome was. Hierdie vriende van Rome was natuurlik die voorstanders van die hiërargiese struktuur wat deur Rome ingestel is. Dit verstaan Jesus as die een wat gekruisig word deur Rome. Die vraag is hoe word Rome deur die evangelie uitgebeeld.

Carter (2000:37) sê dat Matteus Rome uitbeeld as die agent van satan , wie se dae getel is en wat sy gehoor aanmoedig om in die tussentyd ‘n alternatiewe lewe te lei vol geduld omdat God se koninkryk gou sal aanbreek. As die hoofstad van die Romeinse provinsie van Sirië was dit ‘n militêre en administratiewe kern. Die teenwoordigheid van Rome was dus duidelik in die stad. Hulle was deurgaans bewus van Rome se mag en heerskappy. Verskeie geboue in die stad het hierdie mag heerskappy van Rome beklemtoon soos die hek van Tiberius aan die noordoostelike einde van die hoofstraat en aan die bopunt van hierdie straat die standbeeld van Remus en Romulus wat gevoed word deur ‘n wolvin. In die tweede dekade van die tweede eeu het Trajanus in die middel van hierdie straat ‘n “arch” boog’ opgerig. Daar was ook in hierdie straat ‘n standbeeld van Tiberius en Vespasianus in Dafne.

Daar was ook fisiese simbole van oorwinnings. Titus het na sy oorwinning oor Jerusalem in 70 n C brons figure opgerig buite die stadshek wat na Daphne gelei het. Dit moes die indruk wek dat dit die engele van die tempel was. By die hek wat na Jerusalem gelei het, was daar ‘n brons figuur van die maan en vier bulle, die simbool van “Aeternitas” van Rome en die Flaviane. Dit was naby die Joodse woongebied in die suidelike deel van die stad en vir hulle almal ‘n waarskuwing om nie teen Rome in opstand te kom nie.

Muntstukke het ook die Jode herinner aan die Romeinse oorheersing. Op al die muntstukke was die koppe van die keisers vanaf die tyd van Augustus en Tiberius. Muntstukke was die simbool van Rome se oorwinnings en die seën van die gode wat die keiser aan sy mense gebring het. In die alledaagse handel, was hulle gedurig herinner aan Rome se heerskappy en mag. Wat veral vernederend was, was die muntstukke wat Vespasianus en later Titus in 80 n C uitgegee het. Op hierdie muntstuk was ‘n gebonde vrouefiguur as simbool van Juda, om die oorwinning van Vespasianus en sy seun Titus oor Jerusalem uit te druk. Vespasianus het ook al die Jode verplig om belasting aan Rome te betaal (vgl Matteus 17:24-27).

Die vernedering van die Jode as gevolg van die oorwinning oor Jerusalem het ‘n hoogtepunt bereik met die besoek van Titus aan die stad in 71nC.

Dit is dus duidelik dat die Jode deur propaganda soos die muntstukke, die belasting, die geboue die militêre en administratiewe teenwoordigheid en standbeelde, gedurig herinner is aan die feit dat Rome regeer en dat hy regeer deur die gode wat hom goedgesind is.

Hoe het die gemeenskap van Matteus hierop gereageer?
Joodse groepe en skrywers openbaar ‘n verskeidenheid van reaksies teen die Romeinse imperialisme. Sommige mense soos die elite het die Romeinse teenwoordigheid verwelkom. (kyk na Agrippa se toespraak in Josefus, JW 2.345-401). Matteus skryf sy evangelie na die oorlog. Hy, soos baie ander interpreteer die val van Jerusalem en die verwoesting van die tempel in teologiese terme. Volgens hom was dit God se straf oor die sondes van die volk, die godsdienstige leiers wat God se boodskapper verwerp het en die mense mislei het (Matt 21:12-13, 18-19; 22:7; 27:25). Matteus bring dit ook in verband met die Ou Testament waar God die volk gestraf het oor hulle ongehoorsaamheid aan die verbond, wat uiteindelik gelei het tot die Babiloniese ballingskap. Net soos wat Assirië (Jes 10:1-7), Babel (Jer 25:1-11) en Antiogus Epifanus (2 Makk 6:12-17) gedien het as die agente van God se straf oor sy volk, dien Rome nou dieselfde doel. Matteus stem hier met verskeie apokriewe materiaal.

Maar dit beteken nie dat Rome vir altyd kan seëvier nie. Net soos wat al die bogenoemde koninkryke geval het as gevolg van hulle hoogmoed, net so sal Rome ook val. Vir Matteus is hierdie redding alreeds ‘n werklikheid in Jesus, alhoewel die finale doel van God se reddingsdade nog in die toekoms lê (Matteus 13:37-43; 24-25). Rome se mag sal finaal gebreek word met die wederkoms van Jesus. (kyk Matt 24:27-31; 28:18)

Matteus roep sy lesers op hoopvol te wees, om getrou te bly aan hulle geloof in Jesus en om te onthou dat Rome se mag net vir ‘n kort rukkie sal duur. Rome as die agent van Satan sal uiteindelik die knie moet buig voor die heerskappy van God. God is Here oor hemel en aarde (11:25) en nie Jupiter of die keiser nie. Die opgestane Jesus deel in hierdie mag oor hemel en aarde volgens Matteus 28:19. Die koninkryk van God sal vir ewig duur volgens Matteus 24-25. Die inleiding van die Matteus evangelie herinner sterk aan die geskiedenis van die Farao se teenstand teen Moses om God se volk uit slawerny te lei. Net so ook het Herodes in Matteus 2 heftig gereageer toe hy hoor dat daar ‘n koning vir die Jode gebore is. Jesus is nie ‘n keiser nie, maar God se gestuurde agent, die Christus, die Seun van God. Hy verteenwoordig God se koninkryk, heerskappy, seën, reddende genade, regverdigheid, wonderwerke, dood, opstanding en spoedige wederkoms.

Die Matteusevangelie vertel dus die verhaal van ‘n profetiese figuur wat ly onder die ergste vorm van straf wat die regering van die dag aan iemand kan oplê naamlik in sy geval die kruisiging. Maar sy opstanding ontbloot die perke van Romeinse mag en heerskappy. Die evangelie skep ‘n ander wêreld wat die imperiale aansprake weerstaan en wat weier om te erken dat die wêreld binne sulke grense moet bestaan. Dit bied ‘n alternatiewe verstaan van die wêreld en menslike eksistensie wat sentreer rondom God soos gemanifesteer in Jesus. Dit skep ‘n alternatiewe gemeenskap en vorm ‘n anti-imperiale praktyk. Hierdie identiteit en leefstyl verteenwoordig God se koninkryk wat ten volle sal aanbreek met Jesus se wederkoms wanneer Hy sy missie sal voltooi en mense red van hulle sondes.

10. Die propagering van ‘n marginale bestaan
Carter (2000:43) voer aan dat die Matteus evangelie ‘n marginale identiteit bevorder as ‘n manier van lewe vir die gemeenskap van dissipels. In die proses om by ‘n definisie uit te kom, gebruik hy verskeie navorsers (RE Park 1928; EV Stonequist 1937; JY Lee; G Germani 1980; V Turner) se definisie van marginaliteit. Op die ou einde kies hy vir die definisies van Germani, Turner en Lee wie se analises ‘n wyer konteks insluit as net die onmiddellike. Hulle bied aan ons drie baie goeie perspektiewe van marginaliteit nl:
“In-beide” wat daarop dui dat marginale groepe hulle dikwels in ambivalente omstandighede bevind, in twee wêrelde, in ‘n groter kulturele konteks en in dié van hulle eie groep.
“Teenoor” wat daarop dui dat daar twee groepe is in ‘n samelewing naamlik die kerngroep en die ander of gemarginaliseerde/rand groep. Gewoonlik is laasgenoemde groep deur die kerngroep uitgesluit of is hulle self deur hulle eie oortuigings van die kerngroep afgeskei. Om marginaal te wees beteken om te bestaan buitekant die kern, op die rand, die periferie in ‘n antitetiese verhouding in opposisie tot die dominante of kernbestaan.
Alternatiewe bestaan wat daarop dui dat nie almal in samelewing dieselfde is nie. Daarom is die houdings van die randgroep van “in-beide” en “teenoor” heeltemal positief omdat dit mense toelaat om ‘n alternatiewe lewe te lei as dié van die kerngroep.

Matteus en die randgroepering of marginaliteit
Bogenoemde faktore help ons met perspektiewe hoe ons die visie van dissipelskap en menslike bestaan in die evangelie van Matteus kan verstaan. Om te lewe volgens hierdie visie het beteken om deel te wees van ‘n marginale gemeenskap omdat dit bestaan het “in-beide” die groter kulturele stad-platteland, hiërargiese Antiogië en in die eie etos van die eie gemeenskap wat gesentreer het rondom die volgelingskap van Jesus. Hulle het gelewe as deel van die wyer konteks, maar in spanning “teenoor”, as ‘n “alternatief” tot die dominante waardes en strukture.

Vanuit hierdie dimensies het ‘n alternatiewe identiteit en lewenstyl ontwikkel van hierdie volgelinge van Jesus:
In stede daarvan om na Abraham, Enog, Moses en Salomo, of die sinagogale leierskap of imperiale ideologie te kyk vir openbarings van lering en handelinge, het die gemeenskap van Matteus gekyk na Jesus as die openbaarder van God se wil.
In stede daarvan om ‘n verpligting te hê teenoor die keiser van die Romeinse Ryk, het die gemeenskap Jesus gevolg wat gekruisig is deur die Romeine.
In stede daarvan om die Pax Romana te ondersteun, het die gemeenskap gebid vir en die koninkryk van God verkondig (4:17;6:10; 12:28; 24-25).
In stede daarvan om die keiser te sien as die uitvoerder van die gode se wil, het die gemeenskap God se reddende teenwoordigheid en wil in Jesus as Immanuel, raakgesien (1:23; 18:20; 28:20).
In stede daarvan om die imperiale mag te aanvaar, het die gemeenskap kritiek uitgespreek keiserskap en leierskap (hoofstuk 2; 14:1-12; 20:20-28; 27)
In stede daarvan om die imperiale mag te ondersteun as die onderhouer van orde het die gemeenskap saam met die profetiese tradisie dit bevraagteken.
In stede daarvan om te wedywer vir mag oor ander soos wat die heidene en “hulle belangrike manne” gedoen het, het die gemeenskap gelewe as een van slawe (20:20-28).
In stede daarvan om hiërargiese, patriargale huishoudings te onderhou, het die gemeenskap ‘n alternatiewe, meer gelyke huishouding nagestreef (19-20).
In stede daarvan om belasting te betaal as ‘n daad van oorgawe tot die Romeinse Ryk, het die gemeenskap hulle belasting betaal as ‘n daad van erkenning teenoor die Almag van God oor die aarde (17:24-27; 22:15-22).
In stede daarvan om geweld te gebruik om te vergeld, het die gemeenskap hulle verbind tot aktiewe, nie gewelddadige weerstand (5:43-48).
In stede daarvan om voor te gee dat die Romeinse Ryk voorspoed gebring het vir die wêreld (Matt 4:24), was die gemeenskap ‘n inklusiewe gemeenskap wat in die praktyk van die alledaagse swaarkry wêreld van Antiogië sonder onderskeid genade betoon het aan alle mense sonder onderskeid van ras, geslag of etniese grense (8-9; 9:13; 12:7; 25:31-46).
In stede daarvan om rykdom te soek om status te hê, het die gemeenskap daarna gestrewe om God se wil te soek en om rykdom aan te wend vir alternatiewe barmhartigheid vir almal wat in nood is (5:42; 6:19-34; 10:9-15; 19:16-30).

Carter (2000:46) sê dat Matteus sy gehoor oproep tot so ‘n bestaan. Dit bied aan die lesers ‘n visie van die lewe as vrywillige gemarganaliseerdes, dit bevestig en versterk diegene wat alreeds so ‘n bestaan voer en daag hulle en ander uit tot geloof.

Daar is vier faktore wat lei tot die oproep tot ‘n rand/gemarginaliseerde bestaan:
Die klein getal gemeentelede het daartoe gelei dat hulle “teenoor” die groot menigtes van die bevolking gestaan het as ‘n minderheidsgroep.
Stedelike onkonvensionaliteit wat beteken het dat volgens C Fischer die stad Antiogië ‘n wêreld was waarbinne die gemeenskap van Matteus daagliks hulleself bevind het. In hierdie wêreld het hulle ook nog hulle eie wêreld gehad waar hulle hulle verbind het tot aktiewe geloof in Jesus. Hierdie evangelie het vir hulle ‘n ander werklikheid gebied wat heeltemal onkonvensioneel was van die alledaagse kerngroep.
Die groot verskeidenheid godsdienstige groepe het gemaak dat die gemeenskap van Matteus hulleself onttrek het van die bestaande godsdienstige praktyke en hulle eie geloofsoortuigings uitgeleef het. Dit het daartoe gelei dat hulle direk teenoor die kerngroep gestaan het, dat hulle as gevolg van verbintenis met Jesus ‘n randbestaan gevoer het.
Vrywillige assosiasies – daar was baie in die antieke wêreld. Daar is verskeie ooreenkomste tussen hierdie groepe en vroeë Christelike groepe soos: vrywillige lidmaatskap nie deur geboorte, groepe word gevorm deur private inisiatief, byeenkomste in huise van lede, kwantiteit (gewoonlik was dit klein groepe), gereelde byeenkomste waar saam geëet is, lidmaatskap sonder diskriminasie van enige aard, plek (gewoonlik was dit plaaslik georganiseer), prominente rol van ‘n god, ‘n mengsel van hiërargie en gelykheid en dissiplinêre reëls. Vir buitestanders het die gemeenskap van Matteus gelyk soos ‘n vrywillige assosiasie. Dit het vir diegene wat deel was hiervan ook van binne so gevoel. In opposisie teenoor die breë gemeenskap van Antiogië was daar ‘n minderheidsgroep wat ‘n alternatiewe wêreldbeskouing, strukture en praktyke gebied het aan mense wat vrywilliglik hulle hierby gevoeg het.

Die gehoor van Matteus was dus na alle waarskynlikheid ‘n gemarginaliseerde/randgroep. Die gemeenskap het sosiaal hierdie randgroepering beleef. Daarom bevestig en legitimeer die evangelie hierdie sosiale ervaring, interpreteer dit teologies en daag dit uit tot ‘n meer konsistente en getroue rand identiteit en ‘n alternatiewe manier van lewe in afwagting vir die voleinding van God se reddende doel en die aanbreek van die koninkryk van God met Jesus se wederkoms.

11. Ten slotte
Bosch (1996) en Carter (2000) toon baie duidelik aan dat die agtergrondgegewens van Matteus uiters belangrik is vir die verstaan van die hele evangelie. Sonder hierdie agtergrondgegewens kan daar maklik afleidings gemaak word wat die teks en die konteks skade kan berokken. Dit is in hierdie lig dat ek Matteus 10:1-15 en 28:16-20 verstaan. In my eksegese het ek verskeie bronne gebruik (sien literatuurverwysings).

PREEK
Votum: God sê: Kom na My toe dat julle gered kan word, almal op aarde, want Ek is God, daar is geen ander nie!

Lofsang: Gesang 509:1,2,4

Na wet: Gesang 516:1

Na geloofsbelydenis: Gesang 530:1,2 en 3

Skriflesing: Matteus 10:1-15 en 28:16-20

Gebed

Sang: Gesang 478:1-4

Teksverse vir prediking:
Verse 9 en 10

Prediking
As ‘n mens hierdie twee gedeeltes lees, wil dit voorkom asof Matteus hom weerspreek. Die een oomblik sê hy dat Jesus die dissipels net na die verlore skape van Israel gestuur het en later sê hy dat Jesus hulle ook na alle nasies toe gestuur het.

Ek dink, geliefdes, dat die oplossing vir ons probleem sal wees dat ons na die agtergrond van ons gelese gedeeltes moet kyk. Die agtergrond van die Matteusevangelie behoort ons te help om hierdie teenstrydige gedeeltes te verstaan!

Matteus skryf aan ‘n bepaalde gehoor, in sy geval ‘n vroeg-Christelike gemeenskap na die Joodse oorlog van 66-70 n C. Hy skryf hierdie evangelie na alle waarskynlikheid vanuit Antiogië, die hoofstad van die Romeinse provinsie Sirië wat geleë was aan die walle van die Orontesrivier. Hierdie stad was in daardie tyd die derde grootste stad van die Romeinse ryk op die belangrikste handelsroetes tussen die noorde en die suide. Hierdie gemeente aan wie Matteus sy evangelie rig het, onder andere, bestaan uit Jode wat na die Joodse oorlog van 66-70 n C gesoek het na hulle ware identiteit.

Jerusalem is in die lente van 70 n.C deur Titus, die seun van die Romeinse keiser, ingeneem en totaal en al verwoes. Selfs die tempel wat net enkele jare tevore (64 n.C) voltooi is, is afgebreek. Duisende Jode het met hulle lewens geboet en baie is weggeneem as gevangenes en slawe. Dit het die Jode se voortbestaan as volk ‘n ernstige knou gegee. Daarom het die Jode na 70 vir hulle ‘n godsdienstige sentrum te Jamnia gevestig. Omdat die tempel verwoes was, het die Jode in al die dorpe sinagoges gebou waar hulle dan bymekaar gekom het. Dit was dan ook hier met die sinode van Jamnia waar daar later besluit is om die Joodse Christene uit die sinagoges te ban en hulle te vervloek as ketters. Daar was dus in die Matteusgemeenskap ‘n bepaalde spanning tussen die Christengemeenskap en die Jode of anders gesê tussen die vroeë Christene en die sinagoge!

Matteus skryf sy evangelie met al bogenoemde as agtergrond. Daar word algemeen aanvaar dat ons twee gelese gedeeltes twee verskillende standpunte in die vroeg-Christelike gemeenskap van Matteus verteenwoordig het. Daar was die streng wetsgehoorsame Jode vir wie die wet van Moses, die besnydenis en Jesus as die vervulling van die Ou Testamentiese profesieë as die Messias belangrik was. Hierteenoor was daar ‘n ander groep wat meestal uit heidene bestaan het vir wie die leiding van die Gees belangriker was. Laasgenoemde groep het ook geglo aan allerlei profesieë en wonderwerke. Vir hulle het heidensending voorop gestaan.

Matteus probeer nie met sy evangelie om vir een groep bo ‘n ander te kies nie. Hy probeer eerder vir albei groepe daarop wys wat regtig belangrik is - naamlik wat Jesus geleer het: versoening, vrede, vergifnis en wedersydse liefde. Vir hom is dit belangrik dat albei groepe hande vat en die opdrag wat Jesus hulle gegee het, naamlik om die evangelie aan alle mense te verkondig! Verder wil hy vir hulle wys op hulle nuwe identiteit as die kerk van Christus in die wêreld. Hy is daarom die enigste evangelis wat die Griekse term vir kerk, naamlik ekklesia, gebruik. Hulle is die nuwe volk Israel, die ware dissipels wat die geweldige opdrag ontvang het om die evangelie van Jesus nie langer vir hulleself te hou nie, maar dit met alle mense te deel. Daarom haal hy wat Matteus is, gereeld aan uit die Ou Testament wat Jesus uitbeeld as die vervulling van die Ou Testamentiese profesieë. Hy gebruik ook die OT as getuie en bron teen die argumente van die Joodse leiers. Heel in die begin voer hy ook Jesus se geslagsregister terug tot by Dawid. Daarom is dit heel logies dat Jesus gestuur is na die volk Israel toe, om hulle te red van ondergang. Maar omdat hulle dit nie aanvaar het nie, het Hy die dissipels die wye wêreld ingestuur om van alle mense dissipels te maak. Hiermee wys Matteus aan die twee opponerende groepe waaroor dit regtig gaan - dat hulle moet gaan verkondig dat die koninkryk van God aangebreek het en dat hulle na mense moet omsien en vir hulle moet sorg. Hulle moet van alle mense dissipels maak en hulle leer wat Jesus hulle geleer het. Dit gaan nie oor na wie toe hulle gestuur is nie, maar oor die wát, die inhoud van hulle boodskap.

In die eerste gedeelte word die dissipels gestuur na die verlore skape van Israel. Hier word alreeds in die vooruitsig gestel dat hulle teenstand kan ondervind. Hulle word gestuur om te gaan verkondig dat die koninkryk van die hemel aangebreek het. Hulle word ook bemagtig om net soos hulle leermeester ander mense te help en by te staan in hulle nood. Matteus maak ‘n onderskeid tussen die woorde “verkondig” en “leer” in Matteus 28:20. Gewoonlik gebruik hy die woord “verkondig” net as hy buitestanders bedoel en altyd in verband met toekomstige heidensending. Wanneer hy die woord “leer” gebruik bedoel hy dit in die konteks van die leringe van Jesus. Hulle moet nie bekommerd wees oor materiële lewensmiddele nie, maar op God vertrou. God sal vir hulle sorg. As hulle in ‘n dorp aankom moet hulle ‘n geskikte gasheer vind, m a w iemand wat na hulle boodskap sal luister. As hulle die vredewens oor ‘n huis uitspreek naamlik dat God se koninkryk aangebreek het en dit nie beantwoord word nie, moet hulle dit terugtrek en onmiddellik daardie huis, stad of dorp verlaat en die stof van hulle voete afskud. Hulle hoef nie skuldig te voel nie. Om ‘n kledingstuk uit te skud het in die Ou Testamentiese tyd beteken om ‘n oordeel uit te spreek. Dit het ook algehele verwydering en distansiëring beteken. Hulle moet selfs die stof wat deel is van ‘n bepaalde dorp of stad van hulle voete verwyder! Die gedeelte sluit af met Jesus se waarskuwing dat dit slegter sal gaan met die stede wat die dissipels verwerp, as met die stede Sodom en Gomtor wat deur God vernietig is. Dié stede is vernietig omdat hulle nie die verbond met God gehandhaaf het nie, oor sosiale ongeregtigheid, immoraliteit en hulle minagting van God se boodskappers! Dit is dus duidelik dat Matteus hiermee dit wat wel later gebeur het in die vooruitsig stel, dat die volk Israel sy verlosser Jesus sou verwerp!

In Matteus 28:16-20 is dit duidelik dat die opgestane Christus ‘n nuwe boodskap bring vir ‘n nuwe tyd wat aangebreek het. Die boodskap dat sy dissipels van alle mense dissipels moet gaan maak, ook die heidene, en dat hulle die nuwe bekeerlinge alles moet leer wat Hy hulle geleer het. Hulle moet hulle leer om God se wil op aarde te doen en te gehoorsaam, om deur liefde na te streef die hele wet na te kom, om God in alles te volg, om vrede en geregtigheid in alle situasies na te streef en om vrugte te dra wat pas by hulle nuwe lewens.

As hulle dit doen, gee Jesus aan hulle die versekering dat Hy altyd by hulle sal wees. Hulle het niks te vrees aangaande hulle opdrag nie, solank hulle doen en lewe soos wat Hy hulle geleer het.

Ons het nie meer vandag dieselfde kwessies as die gehoor aan wie Matteus sy Evangelie rig nie. Ons wonder lankal nie meer aan wie die sendingboodskap gerig is nie. Ons worstel eerder met die vraag wat ons vir die mense van ons tyd moet sê oor Jesus Christus.

Dit is duidelik dat sending uit twee fasette bestaan, wat ons met die woorde “verkondig” en “leer” kan uitdruk. Ons moet aan ons wêreld gaan verkondig dat die koninkryk van God aangebreek het. Dit is reeds ‘n werklikheid vir almal wat glo. Ons moet vir ons wêreld wys hoe hierdie koninkryk lyk deur dít te gaan doen wat Jesus gedoen het. Ons moet na die siekes en die hulpbehoewendes omsien, ons moet liefde uitstraal na alle mense.

Maar ons moet ook ons wêreld leer soos wat Jesus ons in die Bybel leer. Ons moet die wêreld leer om alles te doen wat Jesus op aarde gedoen het:
Ons moet God in alles gehoorsaam,
ons moet sy liefde teenoor almal uitlewe, selfs teenoor die mees veragtelike persoon in ons oë,
ons moet ons wange draai as iemand ons verneder of kwaad aandoen,
ons moet ons oë, ore, harte en huise oophou vir almal wat sukkel en swaarkry,
ons moet almal wat huil, vertroos en bemoedig,
ons moet kos gee aan almal wat honger is,
ons moet ‘n ekstra kilometer stap vir almal wat ons bystand nodig het,
ons moet almal aanvaar en niemand veroordeel nie,
ons moet ons nie bekommer oor die dag van môre nie

Die beste van alles is dat God aan ons die versekering gee dat ons ons nie hoef te bekommer oor wat ons gaan sê nie. Hy sal altyd by ons wees en ons help. Hy sal op sy tyd en manier self die middele verskaf. Ons moet net sy werktuie wees.

As ons dit alles doen, sal ons van alle mense dissipels van God kan maak, selfs die mees gehardste ou. Ons het ‘n boodskap vir ons wêreld. God se koninkryk is nou al reeds ‘n geloofswerklikheid. Hierdie koninkryk het nie grense nie. Die horisonne van God se genade en liefde lê voor ons oop. Ons moet net dít gaan doen wat Hy gedoen het.

Mag ons die krag en genade ontvang om opnuut weer die opdrag van ons opgestane Here te hoor en dit te gaan gehoorsaam:

“Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels!”
Amen!

Kom ons sing ter vertroosting gesang 489:1 en 3.

Seën

Literatuurverwysings:
Bosch, DJ 1996. Transforming mission: paradigm shifts in theology of mission. New York: Orbis Books.
Carter, W 2000. Matthew and the Margins: A socio-political and religious reading. Sheffield: (Journal for the Study of the New Testament Supplement 204.)
Duling, DC & Perrin, N 1994. The New Testament: Proclamation and Parenesis, Myth and History. 3rd ed. Fort Worth: Harcourt Brace College Publishers.
Garland, DE 1993. Reading Matthew: A literary and theological commentary on the first gospel. New York:Crossroad. (Reading the New Testament Series)
Hare, D R A 1993. Matthew. Louisville: John Knox Press. (Interpretation: A Bible commentary for teaching and preaching)
Malina BJ & Rohrbaugh RL 1992. Social science commentary on the Synoptic Gospels. Minneapolis: Fortress Press.
Van Aarde, AG 1994. Kultuurhistoriese agtergrond van die Nuwe Testament: Die eerste-eeuse Mediterreense sosiale konteks. Pretoria: Kital.