Handelinge 8:26-40

Jy kon in die Bybel gewees het



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
In die verhaal wat ons vanoggend saam gelees het, is daar drie karakters. Die eerste is Filippus, ‘n dissipel in die vroeë kerk wat aangetrokke gevoel het tot verlore mense. Toe sê God vir hom eendag om na die pad tussen Gasa en Jerusalem te gaan. Dit was eintlik maar ‘n verlate pad. Daar was dikwels nie baie mense op die pad nie. Maar Filippus het maar gegaan.

Daar gekom, tref hy ‘n man aan wat ‘n baie hoë pos beklee het in die regering van die koningin van Ethiopië. En natuurlik het dit Filippus ‘n bietjie skrikkerig gemaak. Wie van ons sou nie dieselfde gevoel het nie? Maar toe hy sien die man was besig om ‘n boekrol van die profeet Jesaja te lees (onthou, daar was toe nog nie Bybels nie), het hy dadelik sy hulp aangebied.

‘Verstaan jy wat jy daar lees?’. ‘Nee’, het die man geantwoord, ‘hoe kan ek verstaan as iemand nie dit vir my verduidelik nie?’ En toe verduidelik Filippus. Net daar op die wa (wat seker ‘n koets was), doen hy en die Etiopiër toe Bybelstudie. Dit het die man so oortuig dat hy dan ook net daar en dan gedoop is.

En toe neem hulle afskeid van mekaar. Filippus gaan sy koers, en die Etiopiër gaan syne. ‘n Verhaal met ‘n gelukkige einde. Filippus onderrig, die Etiopiër gehoorsaam, en die evangelie versprei na Afrika.

Maar dit is nie die hele verhaal nie. Onthou, aan die begin het ons gesê hierdie is ‘n verhaal met drie karakters. En tot dusver het ons eintlik net twee van hulle ontmoet. Filippus, die een, en die Etiopiër die ander een. Dit is mos net twee. Waar is die derde een?

Die derde persoon van hierdie verhaal, broers en susters, is daar, al sien ons Hom nie. Kom ons lees weer: ‘‘n Engel van die Here het vir Filippus gesê: Maak jou klaar en gaan’ (Hand 8:26-27) en Toe sê die Gees vir Filippus: Gaan loop saam met daardie wa’ (Hand 8:29-30). Baie duidelik: die derde persoon van hierdie vertelling is God. Die Heilige Gees. God was agter alles. Hy het die man van Etiopië se verwarring gesien. En besluit om iets daaraan te doen. En gekyk of Hy nie iemand in Jerusalem kan sien wat sal kan help nie. En toe God vir Filippus daar sien, het die Gees hom aangevuur om te gaan, te vertel, en te doop.

Wanneer ons hierdie verse lees, broers en susters (en kom ons probeer vanoggend ten minste net met onsself eerlik wees), dan is ons tipiese reaksie gewoonlik min of meer die volgende: oulike vertelling. Tipies van dinge wat in die Bybel gebeur. Gewone ouens het nie sommer toegang tot mense in hoë regeringskringe nie, maar in die Bybel gebeur dinge soos hierdie nogal gereeld. Vir ons eie tyd miskien so ietwat onmoontlik, maar nie vir die Bybel nie.

Verder is die ding tussen die Gees en Filippus ook nie vreemd vir die Bybel nie. Ook nie die ding tussen Filippus en die engel nie. Die engel laat Filippus na die pad tussen Gasa en Jerusalem gaan, en die Gees gee Filippus opdrag om saam met die wa te loop. God wat dus met mense praat. Ja, vir ons tyd so effens ongewoon en vreemd, maar nee wat, nie vir die Bybel nie. Eintlik, wat die Bybel betref, doodgewoon.

Met ander woorde, broers en susters: wanneer ons hierdie verhaal lees is ons tipiese reaksie om te dink dat gebeure soos hierdie moontlik is omdat Filippus heel waarskynlik ‘n besonderse mens met beslis ‘n bogemiddelde geloof, uitgereik met ‘n eerste-eeuse roepradio waarmee God met hom kon praat en wat ongelukkig (party sal sê gelukkig) vandag nie meer uitgedeel word nie. Dus: heeltemal moontlik vir die Bybel, maar vandag nog? Ja, miskien, maar nie sommer nie.

Laat ons egter nie te gou praat nie, broers en susters. Kom ons stop net hier en sit ‘n oomblik terug. En terwyl ons so terugsit, kom ons neem die Woord van God op en delf so bietjie daarin. En wat sal ons vind? Dat in die briewe van Paulus, wat hy aan Christene — net soos ons —geskryf het, ons byvoorbeeld die volgende lees: om aan ons te bevestig dat ons werklik aan God behoort, het God aan ons elkeen sy Gees gegee (Ef 1:13), Laat julle lewe steeds deur die Gees van God beheers word (Gal 5:16), en Almal wat hulle deur die Gees van God laat lei, is kinders van God (Rom 8:14).

As ons na mekaar luister, sal ‘n mens soms dink dat ons nie die inhoud van hierdie verse glo nie. Wat meer is, dat ons nie glo in God soos ons Hom drie-enig bely nie. Ja. Ons praat maklik oor die Vader, oor sy sorg, sy beloftes, sy almag. Ook die Seun is vir ons geen probleem nie. Feitlik elke keer in die verkondiging, en ook in ons gebede, roep ons Hom aan, sê ons dankie vir sy verlossing aan die kruis. Maar as dit kom by die Gees, dan is dit soms of ons ewe skielik verward is.

Wat sou ons, in baie baie kort, oor die Heilige Gees kon sê? Kom ek probeer eenvoudig wees (natuurlik met die gevaar om alles miskien te oorvereenvoudig). Die Gees van God is die teenwoordigheid van God in ons lewe wat die werk van Jesus Christus in ons voortsit. Die Gees help ons in drie rigtings: na binne (deur aan ons die vrug van die Gees te gee volgens Gal 5:22-24), na bo (deur vir ons te bid volgens Rom 8:26) en na buite (deur God se liefde in ons hart so uit te stort dat ons dit ook begin leef, volgens Rom 5:5).

Verder: by die verkondiging van die Woord (soos nou), staan die Heilige Gees sentraal. Wanneer die kind van God ander in die Woord onderrig, is dit omdat die Heilige Gees die woorde gee om te sê (Luk 12:12). As die luisteraar/hoorder oortuig raak van die boodskap, ook van sy/haar sonde, is dit omdat die Heilige Gees tot so iemand deurgedring het (Joh 16:8). Ook: as die hoorder van die Woord tot bekering kom, is dit deur die transformerende krag van die Gees (Rom 8:11), en wanneer daardie nuwe kind van God in die geloof begin groei, is dit omdat die Gees so iemand bekwaam maak (2 Kor 3:6).

In kort: dieselfde Gees wat in Filippus gewerk het, werk ook in ons. Ja, sal ons sê. Klink nie sleg nie, dit is miskien waar, maar onthou: Filippus het iets gehad wat ons nie het nie. Soos hy, het ons nog nooit ‘n engel se stem gehoor nie.

Maar, broers en susters, hoe weet ons Filippus het? Goed, ons aanvaar hy het. Dit is soos ons geleer is. Dit is ook hoe prentjies dit in beelde vir ons uitdruk. ‘n Engel wat hier by Filippus se oor sit en fluister. En daarom het hy geen keuse nie. Hy moet gaan. Hy kan nie anders nie. Want God het gepraat.

Maar het God, broers en susters, nie ook al met ons almal op dieselfde manier gepraat nie? Maak nou nie saak watter beeld ons gebruik of hoe ons die werking van die Gees en die hoor van die stem van die Gees in ons lewens wil uitdruk nie.

Want het ons nie al almal, broers en susters, gehoor dat God ook ons naam fluister nie? Het ons nie ook al gehoor hoe God ons aanpor om te gaan, te stop, te sê, te handel, te besluit nie? Het ons dit dan nog nooit ervaar nie? Ek oordeel ons het. En kom ek verduidelik met ‘n paar voorbeelde.

Jy sien iemand wat jy goed ken in die winkel. Die oomblik wat jy groet, sien jy iets is nie reg nie. Iets in die ander een se oë, iets op sy gesig, sê eenvoudig vir jou: hier is iets nie reg nie. En gewoonlik vra jy nie uit nie. Maar nou vra jy, want jy kan op die ander een se gesig die bekommernis sien wat nie wil bedaar nie. Dus vra jy.

Of: jy sit in ‘n vergadering waar een van jou kollegas oor die kole gehaal word. Al wat almal dink is: ek is bly dit is nie ek nie. En maak hulle so gou as moontlik uit die voete. Maar iets sê net vir jou, of jy bly dink: dit moet darem erg wees. Dus stap jy by daardie iemand se deur in en sê hoe jammer jy is dat sy/haar dag so sleg verloop.

Of: jy dink die hele week aan iemand. Wanneer jy uiteindelik bel, om maar net te hoor hoe gaan, hoor jy hoe sleg dit gaan. Hoe groot die behoefte is. Hoe diep die seer lê. En jy is spyt dat jy nie vroeër gebel het nie. En dan klim jy in jou kar, ry soontoe, haal die Bybel uit, lees en bid. En alles lyk beter. En ewe skielik besef jy, soos in die vorige twee gevalle: dit is hoe die Gees van God my naam fluister, dit is hoe die Heilige Gees lei.

Was daar ligte? Nee, behalwe jy. Want jy het so pas een aangesteek. Was daar stemme? Nee. Maar jy was pas een. Was daar sigbare wonderwerke? Nee. Maar as jy mooi kyk, sal jy sien dat jy pas deel van een was.

En wie weet, as die Bybel vandag geskryf sou gewees het, was u of my naam dalk daar in die agste hoofstuk van Handelinge.

Ek sluit af: In 1 Korintiërs 12:3 lees ons: niemand kan sê Jesus is die Here nie, behalwe deur die Gees van God. Met ander woorde: ons wat opreg bely dat Jesus Christus die Verlosser is, dit bedoel, dit glo, ons kan dit alleen doen omdat die Gees van God in ons woon.

Die vraag is net: luister ons wanneer die Gees van God met ons praat. Is ons oop vir die werking van sy Gees? Is ons ingestel op die ervaring van God se teenwoordigheid deur sy Gees in ons lewens? As ons is, sal ons hoor hoe God ons naam fluister. En dan sal ons hoor, sal ons praat, sal ons doen. Dan sal ons ook sien, self sien, dat wat in die Bybel gebeur het, vandag ook nog gebeur. Mag ons bereid wees dat God ons elkeen ook so kan gebruik!
Amen