Matteus 7:7-12; Galasiërs 6:1-5

Elke jas het sy gesig



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
Vra 'n kleuter om vir jou 'n mens te teken, en hy/sy teken gewoonlik 'n ronde sirkel, met twee regaf strepe ondertoe aan die onderkant van die sirkel, en effens hoër twee strepe na die kante toe. Met ander woorde, hy/sy teken ‘n lyf, met twee bene en twee arms, dit wat vir 'n kleuter saak maak: bene van pa en ma om aan vas te hou en arms wat my kan optel.

Maar dan ook teken 'n kleuter gewoonlik bo op die lyf 'n gesig. 'n gesig wat gewoonlik oordrewe groot is, buite verhouding met die grootte van die lyf. Want die gesig waarin hy kyk is die plek waar die kleuter aanvaarding beleef, of dalk verwerping. Uit die gesig kom die vriendelike glimlag van goedkeuring, of die harde blik van verwerping.

'n Kleuterskets van 'n kind van sy pa of ma, of albei, het dus meer om die lyf as wat die blote oog maar net sien. Dit, in elk geval, broers en susters, sal 'n opvoedkundige u dadelik vertel. In die skets van een ouer, of albei, word iets geïllustreer van die diepe behoefte van 'n kind – en dan nie net in sy kleuter- en kinderjare nie, maar ook wanneer so 'n kind ouer word. Ook in sy/haar tienerjare, en ook daarna. Want ook dan het kinders nog sekuriteit nodig, al hou hy nie meer pa se bene vas of tel ma haar in haar arms op nie.

Maar die diepste verlange – by wyse van spreke – bly altyd Pa en Ma se gesig: want daar vind die gesprek plaas, daar vind die ware ontmoeting, goedkeuring, afkeuring, ware kommunikasie plaas.

Kinders kan die prentjie van hulle pa en ma natuurlik ook anders teken, broers en susters. Vra hulle om pa en ma te teken, word dalk pa of net vir ma geteken. Dan is dit waarskynlik so dat een van die ouers in so 'n kind se lewe afwesig is, natuurlik op verskeie maniere. Of pa word groot geteken en ma baie klein, of anders om. 'n Prentjie wat natuurlik ook boekdele kan spreek. Of, die bene van pa en ma word baie groot geteken, oorbeklemtoon. Dit sê dalk: pa en ma bied sekuriteit. Hulle is vooraanstaande mense, en baie besig. Daarom ook groot arms en hande. Want hulle kan gee en betaal. Maar dan met klein gesiggies: van ware komminukasie en ontmoeting is daar weinig sprake. Want pa en Ma is te besig. Daar is nie tyd vir my nie. Ons verstaan mekaar nie. Eintlik is ons vreemdelinge vir mekaar.

Nou is dit verder so, broers en susters, dat wat waar is van die ontmoeting en verhouding tussen ouers en kinders, ook geld vir die verhoudinge tussen mense in die algemeen. Want ook by alle ander mense is ontmoeting eers ware ontmoeting wanneer dit `van aangesig tot aangesig' is.

So veelseggend is dan ook 'n mens se gesigsuitdrukkings dat die ou mense sommer maklik na 'n eerste kennismaking iemand sommer maklik op sy gesig getakseer het. Had jy 'n `goeie gesig' het dit niks met skoonheid of lelikheid te make gehad nie, maar het dit beteken jy kan so iemand vertrou.

En net so kan iemand se gesig straal van geluk, maar dit kan ook vertrek van pyn. Dit kan bleek word van skrik, maar ook rooi van woede of skaamte. En net so kan 'm glimlag spontaan wees, maar ook smalend en minagtend.. Selfs 'n kyk is feitlik nooit neutraal nie, en kan soms baie meer sê as woorde. Nie-verbale kommunikasie, noem die sielkundiges dit.

Wat meer is, broers en susters, is dat gesigsuitdrukkings natuurlik ook soms baie misleidend kan wees. Want iemand se eie gesig kan ook as masker ingespan word. Agter 'n breë glimlag en 'n jolige uiterlike kan diepe pyn en hartseer versteek word.

En nou is dit merkwaardig, broers en susters, dat in ons tyd van ongelooflike verbeterde kommunikasiemedia (dink maar aan die internet, fakse, e-pos, die telefoon of wat ook al), tegnologie wat mense baie nader aan mekaar bring, die afstand tussen mense, in die algemeen, eintlik net groter en groter geword het.

Veral in die stede het mense, juis omdat hulle so besig is, omdat mure om huise opgerig word om sekere elemente buite te hou, omdat alles gesluit moet word, vir mekaar gesigloos geword. In 'n sekere mate het mense se gesigte vir ons maar net nog 'n gesig in 'n skare geword, amper iets soos 'n nommer, 'n geval. Ja, ons maak baie kontak met ander, maar eintlik net vlugtig, sonder om werklik te kommunikeer. Ja, om by die skets van die kleuter aan te sluit, ons het mense geword met haastige hande en bene, maar met baie baie klein gesiggies. Want die werk wag, die dagboek wag, en die tyd staan nie stil nie. Daarom: eerste dinge eerste. Wat eintlik beteken: diegene rondom my: heel laaste. Bygesê: as daar nog tyd oor is.

Só broers en susters, mag dit natuurlik in die gemeente van Jesus Christus nie wees nie. Want 'n gemeente is juis die ruimte waar uitdrukking gegee behoort te word aan die gemeenskap van die gelowiges. Gemeenskap van gelowiges wat beteken: ons is broers en susters van mekaar. Ons bly in dieselfde huis. In dieselfde huis met dieselfde Vader: God. En daarom behoort ons, soos dit in 'n huis behoort te wees, mekaar se lief en leed te deel. Ons behoort mekaar se laste te dra. Want deur sy Gees het God ons in Christus weer bymekaar uitgebring. Nie alleen dat ons God weer in die oë kan kyk nie, maar ook weer my broer en my suster.

Verder is dit waar, broers en susters, dat elke mens, maak nie saak wie of wat hy/sy is nie, 'n behoefte aan kommunikasie, aan ander mense het. Niemand wil, broers en susters, gesigloos wees nie. Ek kan verkeerd wees. Ek weet nie. En nog meer: ek glo nie mense kan gesigloos wees nie.

Die tema van vanaand, broers en susters, het my onwillekeurig aan die gedig Ballade van 'n grys land van D J Opperman laat dink. Ek haal net een vers aan:

Deur tralies wat die tuin omsluit
Kyk ek en my verwarde broers
Verlangend na die stad nog uit;
hoe deur die reën en laaste lig
krukkig soos nat voëls
loop elke jas met sy gesig.

Elke jas met sy gesig. En agter elke gesig 'n hart, en agter elke hart 'n mens. Iemand. Iemand wat dalk langs u woon, iemand wat dalk vanaand langs u in die kerkbank sit. Iemand wat dalk saam met u werk. Of selfs: iemand wat saam met u in dieselfde huis woon.

Ons is soms, broers en susters, so taakgeörienteerd. Neem byvoorbeeld vanaand se ouderlingvergadering. Vir ons wag 'n lang agenda. Dit moet klaar. Maar weet u: agter elke punt op daardie agenda is daar 'n gesig. Of dalk baie gesigte. Elke besluit wat geneem word, raak mense. Bepaal hoe ons na ander sal omsien, of dalk nie. So, ons moet dalk ook weer dink oor hoekom ons vergader, en of negatiwiteit nie die gevolg is van ons misverstaan waaroor dit gaan nie.

Daar is deesdae verskeie gesprekke, en artikels in die dagblaaie en tydskrifte, wat indringend debat voer oor of die gewone kerke 'n toekoms het. Ek het nou die dag selfs die volgende vraag uit die mond van iemand in die kerk gehoor: sal die Hervormde Kerk nog met ons wees oor 10 jaar, oor 20, of miskien oor 30? Met ander woorde, die Kerk gaan verdwyn, dit is net 'n kwessie van tyd.

Ek is van oordeel, broers en susters, dat hierdie persoon reg bewys sal word as ons langer aangaan om mense maar net op hulle (baadjie)jasse te takseer. Dan sal die kerk verdwyn.

Maar as ons uitkom by die gesig agter die jas, as ons bereid is om van aangesig tot aangesig met mekaar om te gaan, as ons bereid is om mekaar sagmoedig tereg te wys, as ons onsself nie belangriker as ander ag nie, as ons bereid sal wees om mekaar se laste te dra, dan, broers en susters, sal die kerk nooit ophou bestaan nie.

Want dan is die kerk kerk. Gemeente, gemeenskap, mense wat na mekaar uitreik. In alles wat hulle ookal in die gemeente doen. Maar dit alles, broers en susters, is net moontlik as ons weer hoor en weer besef:

Agter elke jas is 'n gesig, agter elke gesig 'n mens, agter elke mens 'n hart. Elke ander mens is daarom 'n medemens. 'n Mens soos u en ek. Broos en kwesbaar, met 'n hunkering na liefde en aanvaarding. 'n Mens teenoor wie ons moet uitleef wat Jesus aan ons opgedra het: `Alles wat julle wil hê die mense aan julle moet doen, moet julle ook aan hulle doen'.

Doen ons dit, broers en susters? Miskien moet ons, in die beantwoording van hierdie vraag, hulle wat ons goed ken vra om 'n prentjie van ons te teken. Ja, selfs net 'n prentjie van ons gesig sal genoeg wees om hierdie vraag te kan antwoord.
Amen