Matteus 7:1-12

Jesus se goue reël



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
Die spreuk/gesegde `alles wat julle wil hê die mense aan julle moet doen, moet julle ook aan hulle doen’, glo ek, is aan die meeste van ons baie bekend. Want hoeveel keer het ons nie al hierdie spreuk gehoor, of self gebruik nie? Vriend en vreemdeling, by die werk, in die fabriek, op kantoor, op die kampus, by die skool, op straat, noem maar op, gebruik dit.

Wat meer is, is die feit dat, alhoewel hierdie spreuk uit die mond van Jesus kom, en in die Bybel staan, dit nie alleen Christene is wat hierdie spreuk gebruik nie. Ons hoor dit soms ook uit die mond van ongelowiges, nie-Christene. Want juis vanweë die aantreklikheid van hierdie spreuk, het dit deel van die volksmond geword, en so ook die beskrywing as die `goue reël’ van die lewe gekry. Want almal vind dit aanvaarbaar.

Dit moet ‘n mens laat vra, broers en susters, of ons daarom nie hier maar net met ‘n stukkie goeie lewensfilosofie te make het wat Jesus op ‘n keer kwytgeraak het nie? Met ander woorde, is dit maar net ‘n goeie stukkie lewensingesteldheid wat toevallig in die Bybel beland het, of steek daar meer hieragter?

Die feit is, broers en susters, dat die meeste mense gewoonlik hierdie reël óf verkeerd aanhaal, óf net ‘n gedeelte daarvan aanhaal, óf dit in ‘n gees en gesindheid gebruik anders as wat dit hier in Matteus bedoel word. Trouens, as die volle reikwydte en betekenis van hierdie grondreël reg verstaan word, sal ons gou besef dat dit nie maar hier net gaan om ‘n algemene en gemaklike goue ou reëltjie wat sommer net so maklik in alle omstandighede op die tong geneem kan word nie. En om te verduidelik wat ek hiermee bedoel, sal ons goed moet gaan kyk presies wat Jesus bedoel as Hy hierdie spreuk/gesegde uitspreek.

In die eerste plek moet ons raaksien, broers en susters, dat Matteus hierdie spreuk van Jesus heel aan die einde van Jesus se bergrede plaas. Met ander woorde, Matteus wil hierdeur aantoon dat hierdie pragtige stukkie leer van Jesus, gerig aan sy dissipels (dus: gerig aan die kerk en dus ook gerig aan ons) betrekking het op die hele bergrede, die hele bergrede waarvan die tema is: die gelowige se verhouding met God, met sy naaste en met alle mense. Of anders gesê: Jesus se hele bergrede, alles wat Hy vanaf Matteus 5:1 gesê het, word saamgevat in hierdie grondreël.

Daarom ook die, myns insiens, beter vertaling van hierdie grondreël in die Ou Vertaling: alles wat julle dan wil hê dat die mense aan julle moet doen, net so moet julle aan hulle ook doen. Of, uitgedruk in terme van Jesus se bergrede: ons Vader in die hemel is barmhartig en verhoor gebede, daarom moet ons ook barmhartigheid bewys. Ons Vader oordeel niemand vals nie, daarom moet ons ook nie ander vals oordeel nie. Ons Vader laat dit reën oor goeies en slegtes, daarom moet ons selfs bereid wees om ons vyand lief te hê, en so kan ons aangaan.

Dus: Matteus koppel hierdie grondreël van Jesus aan al Jesus se ander uitsprake of opdragte. Wat eenvoudig beteken: ons mag nooit hierdie goue reël uithaal uit sy konteks, en dit sommer maar net so losstaande gebruik asof dit nie te make het met al die ander uitsprake en opdragte van Jesus nie. Dit kan nie maar net ‘n losse gesegde wees vir die kere wat ek dit nodig het nie. Dit geld vir of alle tye in alle omstandighede, of glad nie.

In die tweede plek, broers en susters, is dit interessant om te weet dat Jesus nie die eerste een was wat hierdie spreuk gebruik het nie. Inteendeel, dit was ‘n alombekende spreuk wat in die tyd van Jesus, en lank reeds voor die tyd van Jesus, in omloop was. Kom ek noem u vinnig ‘n paar voorbeelde:

  • Isocrates adviseer sy onderdane in so vroeg as 400 v.C.: Wat ook al jou toorn verwek wanneer jy deur die toedoen van ander ly, dit moet jy nie aan ander doen nie;
  • Epictetus het so vroeg as 200 v.C. hierdie spreuk gebruik om byvoorbeeld slawerny te verwerp;
  • Die bekende leier van die Fariseërs, Hillel, het in 60 v.C. sy leerlinge geleer deur te sê: Wat jy ook al haatlik vind, moenie dit aan ander doen nie; en
  • Confucius het enkele eeue voor Christus, toe hy gevra is of daar een praktiese reël is wat kan geld vir ‘n mens se lewe, geantwoord: Is wederkerigheid nie die antwoord nie? Wat jy nie wil hê ander aan jou moet doen nie, moet dit nie aan ander doen nie.

Wat, kan ons dan vra, maak Jesus se uitspraak in Matteus 7:12 dan so spesiaal? Een groot verskil: Jesus formuleer hierdie uitspraak positief. Hy sê nie: moenie aan ander doen wat jy nie aan jouself gedoen wil word nie, maar `alles wat jy wil hê ander aan jou moet doen, doen dit aan ander’.

Dus, broers en susters, wat Jesus hier vra is oneindig meer. Hy vra nie van ons om net byvoorbeeld die kwaad te vermy nie, maar om een stap verder te gaan: om te gaan en bestaande kwaad te gaan bestry. Hy vra nie van ons om slegs die vrede te bewaar ter wille van vrede nie, maar om vredemakers te wees. Om uit te gaan en waar daar nie vrede is nie, vrede te bewerkstellig. Jesus vra nie dat ons nie ander se besittings sal steel nie, maar ander se besittings sal help beskerm. Nie dat ons nie oor ander valse getuienis sal spreek nie, maar positief en opbouend oor ander sal praat.

Met ander woorde, Jesus vra hier van ons om daadwerklik betrokke te raak by ander en ander se omstandighede. Waar ander dit gebruik het om menseverhoudings moontlik te maak, vra Jesus by wyse van hierdie spreuk dat ons daadwerklik by ander mense betrokke sal raak.

Ten slotte, broers en susters, die eintlike punt van hierdie spreuk van Jesus, die kern van hierdie goue reël is doen. Verkeerd opgevat kan dit twee dinge beteken:

  • doen vir ander sekere dinge dat hulle dit weer aan jou kan doen. Dit is nie wat Jesus hier bedoel nie; of
  • moet sekere dinge nie doen nie: beteuel jou humeur, bedwing jou, onthou jou van die kwaad. ‘n Mens kan egter, broers en susters, al hierdie dinge doen, maar nog steeds ‘n nuttelose mens bly.

Jesus stel hierdie spreuk egter radikaal, Hy vra meer, Hy vra dat ons sal doen, op ‘n aktiewe manier aan ander sal doen op ‘n manier wat ons verlang ander aan ons moet doen. Dat ons dus aan ander goed sal doen.

En wat meer is, die oorspronklike woordjie wat hier vir doen gebruik word, beteken dat ons voortdurend sal doen, aanhoudend sal doen, altyd sal doen.

Ek sluit af: die spreuk wat Jesus hier gebruik, het ons gesien, is nie nuut nie. Jesus maak dit egter nuut: Hy koppel hierdie opdrag aan al die opdragte in die bergrede, en by implikasie, aan al die opdragte in die Skrif. Tweedens gebruik Hy dit positief, positief in die opsig dat Hy nie maar net van ons vra om sekere dinge nie te doen nie, maar juis om sekere dinge te gaan doen. En hierdie doen beteken, in die derde plek, ‘n daadwerklike betrokkenheid by al die ander rondom ons.

En miskien voel ons nou aan: dit wat na so ‘n eenvoudige reëltjie gelyk het, lyk nou ewe skielik na ‘n onmoontlike opdrag en onbereikbare ideaal. En juis daarom, broers en susters, voeg Jesus hier by: dit is waarop dit aankom in die wet en profete.

Waarom is dit belangrik dat Jesus hierdie woorde by sy spreuk voeg wat ons by geen ander iemand vind nie? Die feit, geliefdes, dat Jesus selfs reeds die wet en profete kom vervul het. En wat Hy dus eintlik van ons vra, nie in die eerste plek is om hierdie spreuk te gaan uitleef nie, maar dat ons hierdie weg met ons naaste en na ons naaste toe moet loop in die geloof.

Of kom ek stel dit anders: hierdie goue reël kan ons lewenswyse word alleen as ons in ‘n werklike geloofsverhouding met God leef. Want wie naby God leef, wie naby God wil leef, wie na God soek in sy of haar lewe, van hulle word dit waar dat ek in my lewe al hoe minder word en Jesus al hoe meer.

Iets wat alleen moontlik is wanneer ons die Gees van God toelaat om dit in ons lewens te bewerkstellig. Want deur sy Gees maak God nuut, deur sy Gees maak God vry, deur sy Gees gee God die geloof om sy pad te stap en nie ons pad nie.

Wie dus daarna smag om in God te bly, sal die werking van die Gees so in sy of haar lewe ervaar, dat hierdie reël ‘n lewenswyse word. En wie so lewe in die geloof, het Jesus gesê, vervul met daad die wet en die profete.
Amen