Lukas 10:25-37

Naasteliefde is nie net praat nie, maar om te doen



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
Een Sondag na kerk het 'n predikant 'n ontnugterende ervaring gehad. Een van sy ouderlinge het hom na sy baie klein, maar netjiese, huisie vir tee genooi. In die loop van die gesprek het dit duidelik geword dat die huisie vroeër deel van 'n baie groter familiehuis was, maar dat dit tydens die Tweede Wêreldoorlog in 'n bomaanval feitlik verwoes is. Net 'n kamer of wat het oorgebly.

Die dominee het sy spyt hieroor uitgespreek, maar die ouderling se antwoord was dat hulle verlies eintlik 'n stuk genade was. Hoe toegewyd, het die dominee gedink, ek praat van verlies en hy getuig van genade. Maar toe gaan die ouderling voort: Genade, ja, want nou het ons nie las van die talle dakloses in die omgewing na die oorlog wat by ons vir blyplek kom aanklop nie. Want daarvoor is die huisie te klein!

Vroom in die genade, maar genadeloos in die naasteliefde. Tussen teorie en praktyk gaap 'n afgrond so wyd as die afstand tussen die hemel en aarde. Presies wat 'n mens seker sou kon sê van die wetgeleerde wat in Lukas 10 met Jesus in 'n tweegesprek tree. Vroom was hy wel, eintlik 'n vakman op sy gebied. Enige vraag oor die wet kon hy dadelik en dodelik korrek antwoord, en met vers en kapittel boekstaaf.

Daarom, wanneer hy hier met Jesus in gesprek tree, is dit nie eintlik om van Jesus iets te leer nie, eerder om vas te stel of hierdie man, van wie sommige sê dat Hy 'n rabbi (wetgeleerde) is, ook werklik 'n vakkundige op die gebied van die wet is. En daarom stel Hy aan Jesus 'n vraag om Hom te toets: `Wat moet ek doen om die ewige lewe te verkry?’

Jesus laat Hom egter nie by 'n redenasie betrek nie, en antwoord die vraag met 'n teenvraag: `Sê jy vir My, wat staan in die wet van Moses geskrywe. Wat lees jy daar?’. Waarop die wetsgeleerde blitssnel antwoord: `Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met al jou krag en met jou hele verstand, en jou naaste soos jyself’. En Jesus se antwoord: `Jy het reg geantwoord. Dit is tog eenvoudig. Doen dit en jy sal die lewe kry’.

Die wetgeleerde was egter nie tevrede met Jesus se antwoord nie, hy wou darem meer geleentheid hê om sy kundigheid ten opsigte van die wet uit te stal, en daarom stel hy 'n tweede vraag aan Jesus: `En sê my 'n bietjie, wie is nou eintlik my naaste?’ En hy hang aan Jesus se lippe. Hoe gaan Jesus uit hierdie een loskom? Gaan Hy dalk 'n nuwe teorie oor naasteliefde uitlê? Maar Jesus antwoord hom nie. Hy vertel 'n storie. 'n Storie wat ek vanaand aan u wil oorvertel, maar aangepas in moderne vorm.

Eenkant lê daar 'n halfdooie man langs die berugte N1. Die kapers van sy motor het alles van hom gesteel: sy geld, sy ID-boekie, sy horlosie, sy tjekboek, kredietkaarte, die hele werke. Ons ken nie sy naam of adres nie. Inteendeel. Hy is maar net nog 'n slagoffer van vandag se tye van geweld op die uiters gevaarlike N1 waarvan almal weet.

Dan stop daar gelukkig 'n man langs hom, in 'n swart pak geklee en 'n ewe deftige motor. Die motorbestuurder agter die stuurwiel en die vlaggie voor op die motor sê duidelik dat hierdie man 'n BBP is: 'n baie belangrike persoon.

Maar ook: 'n baie besige persoon. Want voor hy kyk of hy kan help maak hy eers sy sakboekie oop om na sy afsprake te kyk. In die sakboekie staan: 19:00: Afspraak met jeugaksie van die gemeente Jerigo-Sentraal. En die tema waaroor hy moet praat is: Wie is my naaste.

Is die gewonde man langs die pad darem nie gelukkig dat Jesus so 'n bekende kerkman langs hom laat stop nie. Iemand wie se roeping dit juis is om mense soos hy te help nie. Maar hy help hom nie. nee, die opdrag kom: `Ry bestuurder, ons sou graag wou help, maar ons kan nie nou nie, ons sal laat vir ons afspraak wees.’

Dan stop daar 'n tweede motor. Nie 'n onbelangrike man nie, hy is immers 'n diaken van die gemeente Jerigo-Sentraal en hy is op pad om alles te gaan regkry vir die diens van vanaand, asook vir die praatjie na die diens wat handel oor die tema, `Wie is my naaste?’ Daar gaan ook Nagmaal wees, so, hy moet die tafel gaan dek, die wyn regkry sodat alles vanaand goed sal afloop. Maar hy is klaar laat. So, al wou hy, hy kan nie nou nie. Sy tydskedule laat dit eenvoudig net nie toe nie.

Dan kom 'n volgende motor op die toneel aan. Hy sien die man in die pad lê, en stop daarom onmiddellik. Want dadelik besef hy: hierdie man het nog 'n kans om gered te word. Buitendien: as gelowige kan hy nie anders as om naasteliefde te bewys nie. Daarom bewys hy dit aan hom deur onmiddellik alles vir die man te doen wat hy kan.

In die dominee se sakboekie het daar gestaan: jy praat vanaand oor die vraag `wie is my naaste’. Wat doen hierdie man? Hy staak al die gepraat oor naasteliefde, haal die woordjie uit die besige sakboekie uit, uit al die doseerlokale en kerkgeboue, en beoefen dit daar op die besige N1. Hy praat nie net nie, hy doen!

Maar nog meer. Die diaken was op pad om die wyn vir almal daar aan die Nagsmaaltafel reg te sit. Wat doen hierdie man egter. Hy haal die wyn uit die kerk uit, hy neem dit weg van die Nagmaalstafel af, en haal die ontsmettingsmiddel uit sy noodhulptassie in motor en ontsmet solank waar hy kan. Wat doen hy? Hy beoefen die erediens sommer daar langs die pad.

Hierdie moderne aanpassing van hierdie gelykenis, broers en susters, (vir wat dit werd is), laat ons in ons tyd (en nie meer die skrifgeleerde nie) nou met die vraag: Wie van hierdie drie is die naaste van Hom wat onder die geweldenaars verval het?

En die antwoord is eenvoudig: die man in die laaste motor. En die implikasie van die antwoord is onontwykbaar: Doen dit en jy sal die lewe verkry. 'n Glashelder antwoord, broers en susters. Maar tog so vatbaar vir geweldige misverstand. 'n Mens sou kon dink wat Jesus ons hier leer 'n nuwe wet is, maar nogtans 'n wet. 'n Wet wat ek moet nakom om die ewige lewe te verkry. Is dit so? Nee.

Heel waarskynlik, broers en susters, is die man in die derde motor nie so barmhartig gewees omdat hy 'n kerkmens, belydende lidmaat of dalk eenvoudig maar net so 'n wonderlike mens is nie. Nee. Hy het dit heel waarskynlik gedoen omdat hy ook maar, soos almal van ons, ook maar net nog 'n gebroke mens is. Hy het immers ervaar wat dit beteken om as Samaritaan deur almal verwerp te word. Om deur almal misken te word omdat hy nou nie so belangrik, of dit of dat was nie.

Daarom help hy: as stukkende mens wat 'n ander stukkende mens wil help; 'n barmhartige wat deur die onbarmhartigheid van ander tot barmhartigheid aangespoor word.

Eintlik is dit al wonderlik genoeg, broers en susters. Dit kon met hierdie man soveel ander gewees het. Hy kon byvoorbeeld oorgeloop het van bitterheid oor al die geweld in sy buurt en al die moord en doodslag op die paaie. Maar nou is hy vol barmhartigheid.

Heel waarskynlik 'n barmhartige wat deur die barmhartigheid van Iemand anders gevorm is, ja, die barmhartigheid van God. Daarom tree hy soos 'n volgeling van Jesus op. Hoe is hy deur die barmhartigheid van God gevorm, kan u vra? Die antwoord is eenvoudig: Toe hy die betrokke oggend in die kerk was, het die predikant, op grond van die Woord en onder leiding van die Gees — dus, eintlik God self — vir hom 'n prentjie geteken, 'n prentjie wat hom altyd sal bybly.

Die prentjie van 'n onskuldige en barmhartige man wat stukkend geslaan word vir stukkende mense. Die barmhartige wat onbarmhartig behandel word juis vir onbarmhartiges, die prentjie van 'n man wat sy laaste asem uitblaas, sodat hulle wat dink hulle het die lewe, daardie asem kan inasem en werklik kan begin lewe.

Gaan doen jy net so, broers en susters, die woorde van Jesus in ons gedeelte, kan nie maar net in die kerk gehoor word en dan vergeet word nie. Want dan is dit nog nie barmhartigheid nie. Gaan doen jy net so, broers en susters, is ook nie wet nie. Nee, dit is 'n uitnodiging om deel te word van die evangelie van Jesus Christus, dit is 'n uitnodiging om deel te word van God se barmhartigheid hier waar ons woon en daar waar ons beweeg. Kan ons hierdie uitnodiging regtig weier as ons sê ons glo?

Maar voor ek vergeet. Die verhaal langs die pad is nog nie klaar nie. Daar kom nog twee motors aangery terwyl die man van die derde motor oor die stukkende man buk. Uit die motors klim niemand anders as u en ek nie.

Wat gaan ons doen? Moue oprol om te help, of dalk ons besige sakboekies raadpleeg. Buitendien, as ons nie vanoggend in die kerk moes wees nie, sou ons nou baie meer tyd gehad het!
Amen