Johannes 19:23-30

Dit is volbring!



A. EKSEGETIESE OPMERKINGS

  1. Prediking oor die kruiswoorde van Jesus laat die homileet nie met veel opsies nie. Die kruiswoorde kan as reeks hanteer word, wat sou impliseer dat die onderskeie preke op een of ander manier inhoudelik met mekaar verband sal hou. ‘n Tweede moontlikheid is logies om die verskillende kruiswoorde afsonderlik te hanteer. Die tweede moontlikheid word in die preek wat volg, as benadering gebruik.
  2. Wanneer daar oor die kruiswoorde van Jesus gepreek word, staar een stukkie gevaarwater die homileet in die gesig: van die kruiswoorde (bv Ek is dors) het te make met die menslikheid van Jesus. Die dialektiek Jesus as God en mens, moet dus fyn hanteer word in die prediking.
  3. In die preekskets wat volg word aandag gegee aan die feit dat Jesus Christus, omdat Hy gehoorsaam aan God gebly het, volhard het met dit waarvoor Hy mens geword het, aan die einde van sy lewe kon sê: ‘Dit is volbring!’. Gemik op prediking tydens ‘n dankseggingsdiens word die gemeente opgeroep om weer eens, na die tafel, te gaan volhard in ‘n lewe tot eer van God. Wanneer ons moeg word en wil uitsak kan ons weet: soos Christus nooit sonder God was nie, sal ons nooit sonder God hoef te lewe nie. Meer nog: juis omdat Jesus Christus daardie oomblikke van Godsverlatenheid aan die kruis deurleef het, sal ons nooit weer sonder God wees nie.

PREEKSKETS
Skriflesing: Johannes 19:28-30
Tema: Dit is volbring!
Prediking:
Broers en susters in onse Here Jesus Christus:

Die woordjies ‘aanhou’, ‘deurdruk’, en ‘klaarmaak’ word baie vinnig gesê, maar om te doen wat hierdie woordjies beteken, is nie so eenvoudig en maklik nie. Ons almal weet dit. Om die waarheid te sê: die meeste mense is geneig om te gou tou op te gooi, te gou moed te verloor, te stop voor die wenpaal bereik is.

Ons onvermoë om klaar te maak wat ons begin het, kan byvoorbeeld in die kleinste dingetjies gesien word:
‘n half gesnyde grasperk;
‘n half gelese boek;
onvoltooide briewe;
‘n dieet wat laat vaar is;
of selfs ‘n half geverfde huis.

Of, broers en susters, in die meer pynlike areas van ‘n mens se lewe:
‘n kind wat aan homself oorgelaat word;
geloof wat koud geraak het;
iemand wat gedurig van werk verwissel;
‘n huwelik wat op die rotse beland het;
‘n wêreld waarin die evangelie nog nie werklik verkondig word nie.

Jesus, broers en susters, het egter nooit tou opgegooi nie. En moenie vir een oomblik vinnig dink dat dit so is omdat Hy God was nie. Nee, broers en susters. In sy mensheid was die versoeking om tou op te gooi met dit waarvoor Hy gekom het, ook maar daar.

Hoe dink u, het Hy gevoel toe Hy gehoor het hoe sy dissipels gedurigdeur aan die skinder en twis was oor wie nou eintlik die belangrikste onder hulle was? Onthou maar gerus hoe Hy moedeloos by Lasarus se graf gesit en huil het oor ‘n vriend wat dood was. Hoe Hy in die tuin van Getsémane geweeklaag het oor Jerusalem en met sy hande op die grond geslaan het. Of toe Hy vir God gevra het dat, indien dit moontlik is, die beker van die dood by Hom verby moes gaan.

‘n Blik op hierdie aspekte van Jesus Christus se aardse lewe, broers en susters, gee sy woorde aan die kruis: ‘dit is volbring’, daarom soveel meer gewig.

Dit was al skemer toe Jesus hierdie woorde geuiter het. Heel waarskynlik was die twee ander saam aan die kruis aan die kerm. Dalk was daar ‘n algemene geween. Dalk was daar stilte. Ons weet nie. Maar wat ons weet, is dat Jesus vir ‘n laaste keer diep asemgehaal het, sy voete vas teen die spykers gedruk het, en hardop uitgeroep het: ‘Dit is volbring!’

Wat, broers en susters, was volbring? God se eeue lange plan om die sondaarmens vry te koop, was volbring. God se boodskap van liefde aan die mensdom was volbring. Jesus Christus se taak om volgelinge te roep en te leer wat dit beteken om waaragtig voor God te lewe, was volbring. Dit was alles afgehandel. Ook die offer. Die bloed het gevloei. Die angel van die dood was verwyder, uitgetrek. Dit was oor en verby. Die mens het weer aan God behoort.

Was hierdie kreet van Jesus dus ‘n kreet van oorgawe? ‘n Kreet van wanhoop? Nee. Dit was ‘n oorwinningskreet. Die wenpaal was oorgesteek. Omdat Jesus geweier het om tou op te gooi. Omdat Hy kom doen het waarvoor Hy gestuur is. Niks was meer half nie. Alles was heel. Nie alleen die aarde nie, maar ook mense se harte. En natuurlik mense se verhouding met God.

Hoekom was dit moontlik? Omdat God by Hom was. Elke tree. Met elke druppel bloed wat geval het. Met elke druppel sweet. Al het Hy ook uitgeroep op ‘n stadium: ‘My God, my God waarom het u my verlaat?’ Want al het Jesus so gevoel, dit was nie so nie. God was daar. God het nooit sy plan laat vaar nie. Daarvoor het Hy die sondaarmens te lief.

Is dit nie ons probleem nie, broers en susters? Ons dink God is nie meer daar nie. Ons dink God het nie meer ‘n plan met ons nie. Daarom kom ons dikwels by die punt waar ons tou wil opgooi. Waar ons net nie meer wil nie.

‘n Jesus wat aan die kruis hang en uitskree ‘dit is volbring’, pleit egter by ons om nie moed op te gee nie. Voel jy moedeloos as ouer? Dink jy jy het jou kind finaal verloor? Druk deur, pleit Jesus se lewe by jou. Is jy moeg om goed te doen? Doen nog ‘n bietjie meer. Is jy neerslagtig oor jou werk? Jou studies? Die projek waarmee jy tans besig is? Rol jou moue op en begin weer van voor af. Geen kommunikasie meer in jou huwelik of in sekere verhoudings nie? Probeer nog ‘n keer. Kan jy versoekings nie weerstaan nie? Aanvaar God se vergifnis en veg nog ‘n rondte. Is jou dae gevul met hartseer en bekommernis? Lyk dit vir jou of daar niks van jou drome gaan kom nie? Het die woordjie hoop by jou vergete geraak? Dink maar aan jou Verlosser wat soms ook so gevoel het. Maar gebly het op die pad wat die vader vir Hom uitgelê het. En omdat Hy daarop gebly het, kon sê: dit is volbring.

‘n Bittereinder, broers en susters, is nie iemand sonder wonde en tamheid nie. Inteendeel. ‘n Bittereinder is dikwels soos ‘n bokser, vol littekens en bebloed. Van al die harde houe wat die lewe hom geslaan het. Wat meer is: die bittereinder is die een wat weer en weer hoor dat God sê: Ek het julle nie geroep om suksesvol te wees nie, net gelowig. Ek het nie gekom om die wêreld rustig leefbaar te maak nie, maar om julle in staat te stel om in hierdie wêreld voluit te leef. Ek het gekom sodat julle kan weet dat julle nooit weer alleen is en sal wees nie.

Daarom, broers en susters, laat ons nie ophou om werklik te bly leef nie. Ja, te midde van alles. Bo alles: laat ons nie ophou om goed te doen nie. Al wou ons so dikwels ophou. Al het ons al so dikwels en so gereeld gefaal.

Ons het so pas aan tafel weer God se genade ontvang. Ook by die tafel het God weer, toe ons die brood en wyn in die hand geneem het, uitgeroep: dit is volbring! Ek het vergewe. Ek is genadig. Ek is by julle. Altyd. Soos by die tafel, ook na die tafel. Ook daar buite. Daar by die huis.

Bo alles: los die soeke na sukses. Gaan leef net gelowig. Gaan soek my teenwoordigheid in julle lewens. Gaan soek my leiding. Gaan soek die koninkryk. En al die ander dinge sal vir julle bygevoeg word! Dit is volbring!
Amen