Romeine 5:1-11

Geloof, hoop en liefde



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
Ons teksvers, verse 4-5, praat van geloof, hoop en liefde, drie woorde wat Paulus nogal lief is om saam te noem. Drie woorde wat ons onmiddellik aan 1 Korintiërs 13 laat dink, en sommer ook vir die liefde laat kies, omdat Paulus daar sê dat die liefde die heel belangrikste is. Met ander woorde, dat die liefde belangriker is as geloof en hoop.

As ons dit so verstaan, broers en susters, verstaan ons nie wat Paulus in 1 Korintiërs 13 wil sê nie. Want Paulus wil daar juis nie sê dat ons 'n keuse vir die liefde moet maak ten koste van geloof en hoop nie. Wat hy wil sê is dat hierdie drie sake — geloof, hoop en liefde — eintlik in 'n onlosmaaklike verband met mekaar staan, en dat elkeen sy eie funksie/plek in die lewe van die gelowige het.

Hierdie funksie/plek wat elkeen van hierdie drie sake in die lewe van 'n gelowige mens het, word pragtig uitgespel in die gedeelte wat ons vanaand saamgelees het. En ek wil vanaand in 'n bietjie meer diepte daaroor praat.

Romeine 5, broers en susters, begin waar ons vanaand geëindig het, toe ons daar van God se tafel opgestaan het. Die tafel wat simbool is van God se kruis, van God se Seun aan daardie kruis. Die hele hoofstuk 5 speel af in die skadu van hierdie kruis.

En nou, sê Paulus, is geloof in hierdie kruis, 'n bevrydende geloof. Dit maak my vry van 'n klomp dinge wat my lewe bedreig of my lewenskanse kan belemmer. Dit maak my vry van die verskriklike straf wat die wet van God op my lê weens al my sonde. Dit maak my vry van 'n lewe van angs en onsekerheid. Angs vir straf en oordeel, onseker¬heid of ek werklik aan God behoort of nie. Dit alles, sê Paulus, val weg. Want deur my geloof in die Man aan die kruis, behoort ek nou (aan God), en hoef ek my nie meer te bekommer nie (dink 'n bietjie hieroor na), en word die skatkis van God se genadegawes vir my oopgesluit. Nou is ek God se kind, en nou gaan Hy vir my sorg.

Hierdie geloof waarvan ek tot nou toe gepraat het, broers en susters, is by baie mense net 'n kop-ding. Iets wat ek glo, in my kop. Iets waarmee ek instem. Paulus sê egter hier dat `egte geloof' (dit is die woorde wat hy gebruik) meer is as maar net instemming. Dit is 'n vasgryp aan God, 'n uitreik na God, 'n verbinding aan God, en op so 'n vaste/noue wyse dat dit my toekoms munt/bepaal/ver¬ander.

Of anders gesê: dat ek nou kan hoop, werklik kan hoop. Maar wat is hierdie hoop, broers en susters? Is dit 'n hoop op beter dae? Is dit 'n hoop op die hemel? Op die heerlikheid wat God vir ons weggelê het, soos Paulus dit in Romeine 5:2 noem? Ek hoop nie so nie, broers en susters, want as dit is wat hoop (ten minste alleen was), dan is hoop mos maar net toekomsmusiek wat vir die hier en die nou nie veel beteken nie. En kom ek verduidelik wat ek hier¬mee bedoel.

Natuurlik is die hemel/die heerlikheid van God, dit waar¬heen (ek wil amper sê die teiken waarheen), elke kind van God op pad is. En dit is ook te verstane dat die heerlik¬heid wat dit sal meebring, 'n mens opgewonde kan maak. Die Christelike hoop, broers en susters, het egter nie net die hemel as bestemming nie.

Dit het ook elke dag as bestemming, elke nuwe môre. Want hoewel die heerlikheid waarvan Paulus hier praat beslis die heerlikheid eendag by God in die oog het, moet dit egter ook so wees dat iets van daardie heerlikheid eendag nou reeds in ons lewens sigbaar word. Kort gesê: die hemel moet aarde toe kom in u en my lewe. Soos Jesus aarde toe gekom het. En nou is ons sy navolgers, en daarom moet dit ook so by ons wees.

Luister hoe pragtig Paulus dit stel in 2 Korintiërs 3:18: `Ons almal weerspieël die heerlikheid van die Here, want die sluier is van ons gesig weggeneem. Ons word al hoe meer verander om aan die beeld van Christus gelyk te word. Die heerlikheid wat van ons uitstraal, neem steeds toe'.

Dus, broers en susters: geloof is egte geloof, sê Paulus, wanneer dit iemand laat hoop. Hoop, op sy beurt weer, is egte hoop wanneer dit nie alleen hoop op die heerlikheid eendag vorentoe nie, maar wanneer deur die lewe van die een wat hoop iets van daar ewige heerlikheid nou sigbaar gemaak word in die wêreld en in die lewe van die ander.

Eenvoudig gesê: hoop word egter hoop wanneer die liefde in my lewe sigbaar word. So kry my hoop spiere: as ek die liefde leef. En so bly my geloof beweeg, word my geloof daadwerklike geloof, my hoop egter hoop, en my lewe werklike lewe.

Ek vat saam: geloof, sê Paulus, word alleen opregte/egte geloof wanneer dit ons laat hoop. Hoop, op sy beurt weer, word alleen opregte/egte hoop wanneer dit nie maar alleen bestaan uit 'n hoop op die hemel of toekoms nie, maar wanneer dit, deur die leef/uitleef van die liefde die hemel vir ander aarde toe bring.

Daarom kan Paulus sê: al wat bly is geloof, hoop en liefde. En van hierdie drie is die liefde die belangrikste. Hoekom: want alleen die liefde kan gesien word. Is sigbaar. Maar dit beteken nie dat dit geloof en hoop nou afskryf nie. Nee, Paulus sê juis: alleen egter geloof bring hoop, en alleen egte hoop ontsluit liefde.

Geloof bring hoop. Hoop is om te weet daar is 'n toekoms. Maar dit is ook om te werk vir daardie toekoms. By wyse van die liefde. As ons dit gaan doen, gaan doen ons wat God vir ons gedoen het om vanaand hier te kon aansit.

Is dit ons begeerte, broers en susters? Ons werklike begeerte? As dit nie is nie, het ons vanoggend en vanaand elkeen 'n oordeel oor onsself geëet en gedrink. Hoekom? Want om die geloof as gawe van God te ontvang bring hoop, en hoop lei tot die liefde. So eenvoudig is dit.
Amen