Efesiërs 4:25-32

Gryp vandag en begin waarlik lewe



Broers en susters in onse here Jesus Christus
Ons sê dikwels dat om 'n fout te maak nie die einde van die wêreld is nie. Om 'n fout te maak is nie so vreeslik nie. Ons almal maak in elk geval dikwels foute, en dikwels ook nie doelbewus nie. Wat egter belangrik is, sê ons ook dikwels, is om nie uit jou foute te leer nie.

Ons kan dit ook anders stel. Gestel dit was vir ons moontlik om in een of ander tydmasjien te klim — dié soort wat u seker ook al op die televisie of in die filmteater gesien het. Ons druk die verledeknoppie en siedaar, ons is in die hitte van die Franse Rewolusie of in die middel van die Tweede Wêreldoorlog. Of dalk nog beter: ons is in die motor net voordat ons daardie vreeslike ongeluk beleef het wat ons lewens eenmalig beïnvloed het, ons beleef daardie dag net voordat ons 'n bepaalde besluit geneem het wat verreikende negatiewe konsekwensies vir ons lewens gehad het, of ons kom tot stilstand by daardie dag in ons verlede wat die deurslaggewende vurk in ons lewens was. En skielik sien ons alles presies soos dit was.

Of anders, broers en susters: ons druk die toekomsknoppie en skielik bevind ons ons in die jaar 2020, midde in ons toekoms. Waar ons sonder sogenaamde horoskope, die sterre voorspel of kristalballe presies kan sien hoe ons toekoms gaan wees.

Natuurlik is hierdie beskrywing, broers en susters, niks anders as 'n fantasievlug nie. In hierdie oefening steek daar egter groot waarde en waarheid: indien ons werklik kon terugkeer tot die verlede sou ons daar waar ons in die verlede verkeerde besluite geneem het, anders besluit sodat ons vandag, nou, beter kan wees. En as ons onsself werklik tot in die toekoms kon verplaas om te sien hoe dit is — negatief of positief — sal ons vandag die regte besluite neem om daardie toekoms te bevestig, of vandag anders besluit om seker te maak dat dit toekoms wat ons gesien het, darem beter is as wat ons wel gesien het. Dit sal ons vandag verander, dit sal ons vandag anders laat leef.

Ook sal dit ons weer eens laat raaksien dat ons almal êrens vandaan kom en iewers heen op pad is. Met ander woorde, dat ons vandag nie maar net êrens ronddryf nie, maar vasgeanker is tussen gister en more.

En hierdie wete, broers en susters, dat ons vandag vasgeanker is tussen gister en more, is 'n feit, dit is nie maar net 'n fantasievlug nie. Wat meer is: ons lees presies daarvan in Efesiërs 4:30: ‘En moenie die Heilige Gees van God bedroef nie, want Hy het julle as die eiendom van God beseël met die oog op die verlossingsdag.’

Ons word in die hede geanker — Paulus noem dit beseël — deur die Heilige Gees. Ons word as die eiendom van God bewaar, vandag, tussen gister en more, in God se hand vasgehou. Of anders gestel: daar is Iemand, die Gees van God, wat ons bind aan die verlede en die toekoms, wat ons insig gee in die verlede en insig gee aan wat nog moet kom. Ons het dus nie 'n fantasievlug nodig nie, want die Gees doen dit vir ons. Hy beseël ons, anker ons vas, aan sowel dit verlede en toekoms, en dan veral aan die verlede en toekoms van Christus. Dus, by implikasie, aan jou en my verlede en toekoms.

Kom ek verduidelik hoe die Gees dit doen. Die Gees bring in die eerste plek die verlede van Christus na ons toe. Deur ons as God se eiendom te beseël, bring die Gees as 't ware Christus se geskiedenis/verlede na ons toe. Hy bring Kersfees, Golgota, Paasfees en Hemelvaart na ons toe. Presies dit wat die tafel (vanoggend/vanaand) gedoen het: deur in die Gees van die brood te eet en van die wyn te drink, het Christus se verlede ons verlede geword. Sy kruisdood ons kruisdood, sy opstanding ons opstanding, sy nuwe lewe ons nuwe lewe.

En so is ons elkeen se verlede totaal verander, maak nie saak hoe ons elkeen se eie verlede lyk nie. Word ons elkeen se verlede vol foute en verkeerde keuses, vol verkeerde afdraaipaaie en verkeerde optredes vervang met Christus se verlede: sonder fout, sonder sonde, sonder verkeerde besluite.

Maar net so, broers en susters, verander die Gees ons toekoms. Want, sê Paulus hier in Efesiërs 4:30, die Gees anker ons nie alleen vas in Christus se verlede nie, maar ook in Christus se toe¬koms. ons word immers beseël as die eiendom van God met die oog op die verlossingsdag. Daardie dag van uiteindelike verlossing, of dit nou is wanneer ons sterf of wanneer Christus eendag weer sal kom.

Maar soos die Gees Jesus se verlede ons vandag maak (soos ons pas by die Nagmaalstafel beleef het), so maak die Gees ook Christus se toekoms ons vandag. Want die Gees ken aan ons die verlossing toe nie maar net vir eendag nie, nee, dit word vandag reeds aan ons toegeken. Of anders gesê: die ewige lewe word nie soos 'n wortel voor ons neuse gehou vir eendag vorentoe nie, nee, ons word dit vandag deelagtig. Ons ontvang dit nou, ons het dit nou aan die tafel weer bevestigend ontvang.

Ons kan dit ook so stel: deur aan die tafel te kom aansit, kon ons nou reeds, vandag, iets smaak van die teenwoordigheid van God in ons lewens. Ons kon aan die nagmaalstafel reeds iets van die toekoms smaak, 'n stukkie van die hemel ervaar. Hier waar God by ons teenwoordig was en is — nou nog in 'n gebroke wêreld — maar eendag volledig en volkome.

En so, broers en susters, net soos die tafel ons terugneem na die verlede, so rig die tafel ons op die toekoms, neem Christus ons vorentoe, laat Hy ons iets van die toekoms sien soos dit werklik gaan wees.

Om saam te vat: die tafel van die Here, deur die werking van die Gees, bind ons vandag op 'n besonderse wyse aan die verlede en aan die toekoms. Dit laat ons insien: ons verlede is positief, al kan ons daarin negatiewe dinge aantoon, want ons verlede is in die geloof deur die Gees die verlede van Christus. Net so is ons toekoms verseker, al is dit vir ons deesdae hoe onseker, want ons toekoms is deur die geloof in die Gees Christus se toekoms. En daardie toekoms is verseker tot by die verlossingsdag.

Wat beteken dit alles vir ons, broers en susters? Ten minste twee sake, sou ek sê.
Eerstens: Dit behoort vir ons te dien as 'n geweldige troos. Want wie verstaan dat die tafel, as simbool vir God se liefde vir ons in Jesus Christus, ons vandag vasbind aan ons verlede en toekoms, kan insien en besef dat ons nie maar net in hierdie lewe koersloos op pad is nie. Ons kan weet: ons kom, in Christus, iewers vandaan en ons is iewers heen op pad. Ons het 'n vastigheid in die verlede, Golgota, en ook ons toekoms is beseël, verseker, vasgemaak in Christus. Ons is veilig in die toekoms in die hande van God.

Tweedens: Wanneer 'n mens raaksien dat ons vandag leef tussen verlossing wat aangebied word (deur die verlede van Christus) en verlossing wat finaal sal kom (ons toekoms in Christus), dan besef ons hoe belangrik vandag is.

Daarom is dit nie so vreemd dat die Bybel dikwels die erns en belangrikheid van die hede sterk beklemtoon nie. Kom ek noem u twee voorbeelde: ‘yk, nou is die regte tyd, nou is die dag van redding’ (2 Kor 6:2). Of Hebreërs 3:7-8: ‘Vandag, as julle sy stem hoor (verwysend na die Gees) moet julle nie hardkoppig wees nie’.

Want dit is die allerverskriklikste wat kan gebeur, sê Paulus: 'n mens kan die Heilige Gees bedroef. Jy kan sy bemoeienis met jou — om jou onthalwe en tot jou voordeel — in die wind slaan. Jy kan voortleef in die hede asof in die verlede in Christus niks vir jou gebeur het nie, en vandag lewe asof in Christus niks vir jou in die toekoms gaan gebeur nie. So asof vandag niks te make het met gister of more nie.

Daarom juis Paulus se oproep in ons gelese gedeelte: soos ons vanoggend en vanaand aan die tafel van die Here weer eens sy verlossing gegryp het, sy reddende dood in die geloof deur die Gees ons eie gemaak het deur van die brood te eet en van die wyn te drink, gryp die verlossing elke dag, gryp God elke dag. Gaan leef na die tafel deur na God te gryp, elke dag, om maar net weer en weer te ontdek dat God jou reeds gegryp het!

Hoe doen ons dit? Hoe gryp 'n mens so elke dag na God. Paulus stel dit heel prakties en heel eenvoudig. Nou dat julle my verlossing en beloftes aan my tafel ervaar en ontvang het:
praat onder mekaar die waarheid;
sondig nie deur kwaad vir ander te word nie;
moenie die duiwel vatkans gee nie;
werk hard en maak so 'n eerbare bestaan;
praat oor dinge wat goed en opbouend vir mekaar is;
moenie verbitterd wees en met woede in jouself leef nie; en
bo alles: wees goedgesind en hartlik teenoor mekaar, en vergewe mekaar soos God julle in Christus vergewe het.

So lyk die handvatsels van vandag. So lyk die handvatsels van elke dag. So lyk 'n lewe wat God se tafel waardig is. So lyk 'n lewe wat sê: ek weet my verlede, my toekoms, en daarom ook vandag, is in die hand van God! Daarom is ek iewers heen op pad, en lewe ek nie maar net nie!

Want is dit nie maar die meeste van ons se probleem nie, broers en susters. Dat ons maar net lewe omdat ons lewe nie? Al is dit hoe 'n sleurgang, hoe koersloos, hoe eentonig en vervelig? Wie egter, as dankbaarheid na die tafel, reg na God en sy genade gryp, omdat ons reeds as sy eiendom beseël is, sal waarlik lewe!

Lewe u so?
Amen