Kolossense 4:2-6; Hebreërs 10:19-25

Hoekom kom ons kerk toe, hoekom gebruik ons Nagmaal?



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
Waarom kom ons nog kerk toe, en waarom kom sit ons kwartaal na kwartaal aan die Nagmaalstafel? Het dit nie outyds geword nie? Is dit nie maar iets wat vroeëre jare, toe alles nog nie so modern en gerekenariseerd was, sin gehad het nie? Moet ons nie miskien oorweeg (wat baie kerke reeds al gedoen het) om iets anders in die plek van die erediens en die preek daar te stel nie. Is die tyd nie verby dat mense in die kerk kom sit en na 'n monoloog van die predikant moet luister nie? Waar hulle net sit, en as hulle nie met iets saamstem nie, maar stil moet bly en dit net so aanvaar nie? Met ander woorde: tel die preek nog 'n punt? Het dit nog enige waarde?

Want in 'n sekere sin, redeneer sommiges, is ons al opgepreek, deurgepreek en moeggepreek. Sondag na Sondag is dit maar dieselfde storie, Nagmaal vir Nagmaal is dit dieselfde storie, dieselfde ou bekende formulier, dieselfde erediensorde, en dieselfde ou boodskap.

Goed, sal mense sê, dit is darem nou nie dieselfde preek elke Sondag nie, daar is so nou en dan darem aksent-verskille, maar in wese is dit maar die ou ou tyding. Daarom dikwels die vraag: kan daar nog iets nuuts gesê word, kan daar nog iets nuuts in die erediens en aan die tafel ervaar word? Is dit nie miskien nodig dat ons vir 'n slag halt sal roep en iets anders probeer nie? Of dalk moet ons dit alles maar stop, totdat daar in die erediens en by die Nagmaal werklik iets nuuts kan gebeur of aangebied word.
Laat ons, broers en susters, hieroor nie 'n illusie hê nie: dit is baie moontlik, en inderdaad verskriklik maklik om verveeld in die erediens te raak. So maklik kan alles vir ons maar net 'n gepraat van woorde word wat ons laat gaap en laat wens alles kan maar net gou verby wees.

Miskien het Paulus juis hieraan gedink toe hy in Kolossense 4:3 geskryf het: `bid vir ons. Bid dat God die Woord oopmaak sodat ons die geheimenis van Christus kan verkondig…' Paulus het maar te goed geweet, broers en susters, dat hy en alle ander bedienaars van die Woord nie engele was en is met harpe van goud nie, maar mense met voete van klei. Hy het ook geweet dat niks of niemand 'n deur vir die Woord kan oopmaak behalwe God nie, dat niks of niemand die koms van die Woord in die erediens en aan tafel kan waarborg buiten God nie:

  • nie tientalle grade in Godsgeleerdheid nie;
  • nie ure se navorsing in berge boeke nie;
  • nie spreekvermoë wat mense kan roer nie; ook nie
  • briljante Bybelse insigte nie

Want God self, deur sy Gees, moet die Woord oopmaak, God moet as’ t ware self deur sy Woord na ons toe kom, anders is enige preek tevergeefs, 'n geroep in die wind. Of hoogstens 'n gefluister deur 'n sleutelgat.

Juis daarom sê Paulus in Kolossense 4 baie duidelik: daar moet vir die erediens gebid word. En nie net deur die predikant voor die preek nie, maar deur almal wat dit bywoon, of self die betrokke oggend of aand dit nie kan bywoon nie. Bid, sê Paulus, dat God vir ons die deur van die Woord sal oopmaak.

Met ander woorde, broers en susters, in 'n sekere sin hang dit van u en van my af of die deur van die Woord in die erediens sal oopswaai of nie, of die Here in die gemeente se midde sal kom of nie, in die preek, en aan Sy tafel.

Want wanneer dit gebeur, broers en susters, wanneer ons biddend die Here se teenwoordigheid tydens die erediens afsmeek, Sy teenwoordigheid by Sy tafel afbid, daar hou die gepraat van baie woorde op, want wanneer die Here in ons midde kom, dan hou die preekmoegheid en sogenaamde verveelde erediensorde op. Want dan ervaar ons die geheimenis van Christus.

Dan word die onbekende geopenbaar, dan hoor ons die ongehoorde, dan hoor en sien ons dinge soos ons dit nog nooit vantevore gesien en gehoor het nie, dan verstaan ons die lewe soos ons dit mog nooit vantevore verstaan het nie, dan hoor ons die Woord, telkens weer, asof dit die eerste keer is!

Wat in die erediens behoort te gebeur, is dat ons met 'n tintelende gevoel van opgewondenheid op die punt van die kerkbank behoort te sit, met 'n hart wat vinniger klop en met die asem wat ingehou word: want nou gaan God self nog 'n geheimenis van Christus hier en nou openbaar, en dit mag ek nie mis nie. Of, soos Van Ruler op keer gesê het: daarom moet ons ons na die erediens haas, en nie net omdat ons verslaap het nie!

Want die erediens, en die Nagmaal, broers en susters, is meer as maar net 'n geselsie oor koeitjies en kalfies oor 'n koppie tee en tertjies. Inteendeel. Dit is 'n saak van lewe en dood. Want hier staan ons kans om die heil, die ware lewe te ontvang. Hier kry ons die kans om oor te gaan van dood na lewe, of van lewe na dood.

Hoor wat skryf Van Ruler oor die preek, en dan oordeel u maar self of u hiermee saamstem of nie, en of u dink dit is waar of nie:
'n Preek is in sy kern 'n vertelling van die heilsverhaal van Jesus Christus. In hierdie vertelling word die hele heil teenwoordig gestel. In hierdie vertelling kom God in Christus na ons toe. Daarom moet ons kerk toe gaan!. Na die plek waar dit gebeur! Want in die kerk kom die heil na ons toe, op ons af, en ons gaan dit daar haal. Die preek doen dus iets. Dit bemiddel die verlossing. Maar dit doen ook nie alles nie. Dit skenk die heil aan ons, ja, maar wat aan ons geskenk word, moet ons ook aanneem. Die vraag is daarom nie alleen: wat doen die preek aan my nie? Die vraag is eerder: wat doen ek met die preek?

Wat doen ons met die honderde, dalk duisende, preke wat ons al gehoor het, broers en susters? Wat doen ons met al die tafels van die Here waarby ons al aangesit het. Die preek eindig nie daar waar die predikant `Amen' sê nie. En net so eindig die deelname aan die tafel van die Here nie daar waar ek die geldjie onder die doek inskuif en opstaan nie.

Inteendeel, want in 'n sekere sin begin die preek dan eers. Die Woord mag nie stom word wanneer die kerkdeure deur die koster gesluit word nie. Want die Woord wat hier verkondig is, en die heil wat by hierdie tafel gehoor en ervaar is, is dan in ons monde.

In ons monde, wat ons in staat stel om dit nou oor te gaan preek, te gaan preek met woord en daad. Soos u en ek moet bid dat daar hier by die erediens iets sal gebeur, net so is ons deel van dit wat met die erediens daar buite gaan gebeur.

Hier in die gemeente, broers en susters, is die predikant die openbaarmaker van die Woord, daar buite is dit u. Daar word u en ek die deur waardeur die Woord van God in die wêreld instap.

Besef ons hierdie verantwoordelikheid, broers en susters? Besef ons dat ons deel is van die erediens, dat ons die erediens is daarbuite?

Miskien moet ons bid soos Van Ruler gebid het:
Here,
ek kom te veel kerk toe om te rus,
en ek gaan te min uit die kerk uit om te werk.
O Gees,
stel my in staat om wat aan my geopenbaar is,
— die geheimenis van Christus –
aan ander te gaan openbaar.

Sien ons hiervoor kans, broers en susters?
Amen