Lukas 14:15-24

Hoe lyk ons vreugde?



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
Mense wat in God glo, wat bely dat hulle nie sonder God kan lewe nie, mense wat sê dat hulle 'n persoonlike verhouding met God het, is mense wie se lewens veral een saak behoort uit te straal: vreugde.

En dan nie sommer net gewone vreugde nie, maar vreugde omdat God in ons woon en wil woon, vreugde omdat ons so pas aan sy tafel, en elke dag, met God gemeenskap kan hê. Dat ons, soos Paulus dit in Filippense 4:4 dit stel, bly kan wees, in alle omstandighede, omdat God naby aan ons is.

Nou is die vraag egter, broers en susters, of dit werklik so in ons lewens is, of vreugde — vreugde omdat ons aan God behoort en God altyd by ons is — altyd deel van ons lewens is, of ander van ons kan sê: maar kyk hierdie of daardie persoon: dit lyk altyd of die lewe vir hom/haar 'n fees is, 'n fees omdat hy of sy bely dat hulle in Christus glo, en daarom, omdat hulle deur Christus verlos is, nie an¬ders kan as om vreugde en blymoedigheid uit te straal nie.

Lyk u en my lewe so, broers en susters? Of is dit miskien eerder die geval dat feesloosheid en vreugdeloosheid altyd maar weer dreig om die oorhand in ons lewens te kry? Waarvoor daar natuurlik baie redes kan wees: om¬standighede, teenspoed, kommer, of wat ook al. Dinge wat maak dat ons soms nie blymoedig wil of kan voel nie. Maar ook: daar bestaan altyd die gevaar dat ons so gewoond kan raak aan die fees van kerkwees, die fees van die hoor van die Woord en die deelname aan die sakramente, ja selfs, so gewoond kan raak aan die teenwoordigheid van die gasheer self, God, se teenwoordigheid in ons lewens, dat ons nie meer vreugde en blymoedgheid uitstraal nie juis omdat ons nie werklik meer weet waaroor dit werklik gaan om God teenwoordig in ons lewens te kan ervaar nie.

Waar dit gebeur, broers en susters, waar hierdie soort siekte ontstaan, is die simptome feitlik altyd dieselfde: ons verhouding met God verloor sy sprankel, ons godsdiens word vir ons dooie roetine, soms selfs 'n las, 'n geploeter van Sondag tot Sondag, 'n beweging van nagmaal tot nagmaal, 'n geloofsbeweging waar niks te siene is van vreugde, blydskap en die gevoel van feesvier nie. En al glo ons in God, al is Hy teenwoordig in ons lewens, lyk ons lewens dan presies soos die een langs my wat niks met God te doen wil hê nie.

Hierdie soort geloofsuitlewing, broers en susters, wat soms miskien by ons te veel sigbaar is, het iemand op 'n keer die volgende opmerking laat maak: Ek sou enige dag kon glo in God en Christus as die verlosser van die wêreld, as ek maar net een Christen kan sien wat ten minste verlos lyk. Watter aanklag teen die kerk, en teen ons, broers en susters, is dit nie? Lyk ons nog verlos? Gaan ons môre soos mense lyk wat gister van 'n feestafel opge¬staan het? Met ander woorde: straal ons nog iets uit, broers en susters, van die vreugde, van die fees, om aan God te kan behoort, of luier ons maar net elke dag voort in ons klae, kommer en vreugdeloosheid?

In die gelykenis wat ons saamgelees het, broers en susters, lyk dit of dieselfde aan die gebeur is. Die fees¬maal wat die koning voorberei het (en hier kan ons duidelik aflei dat met die gasheer hier na God verwys word) lyk of dit op 'n fiasko afloop. En dan nie omdat die gasheer te min moeite gedoen het nie.

In die eerste plek stuur hy, soos dit die gebruik in daardie tyd was, twee uitnodigings uit. Die eerste uitnodiging was altyd so 'n soort van 'n eerste uitnodiging wat wou sê: Op hierdie of daardie dag gaan daar 'n fees wees. Jy is genooi, so maak jou gereed om saam met my te kom fees vier.
Die tweede uitnodiging was die eintlike uitnodiging. So 'n uur of wat voor die fees sou begin, is boodskappers uitge¬stuur na almal wat die eerste keer genooi was om te sê: Die uur van die fees het aangebreek. Alles is gereed, so kom tog dadelik, die fees gaan begin.

Maar wat gebeur dan? Die een na die ander het verskoning begin maak. Nie omdat hulle so sleg was nie, broers en susters, dit moet ons hier baie goed raaksien. Want wat hulle op hulle agendas het is goeie en belangrike dinge: boerdery, ploeëry, besigheid en die huwelik. Dinge, waarvan ons selfs kan sê deur God self geskep is.

Maar duidelik was die probleem dit: hulle het almal so verknog geraak aan hierdie dinge waarmee hulle besig was, hulle het so daarin begin opgaan, hulle is so vasgesuig deur die dinge van elke dag, dat hulle helaas so die fees van feeste mis.

En niks, broers en susters, kan myns insiens vreesliker as dit wees nie: dat ons so vasgesuig kan word deur ons omstandighede, dat ons as genooide gaste so besig kan word met ons eie program en ons eie dinge, so besig kan raak met ons dagtaak, dat ons roepstem van die gasheer nie meer hoor nie. Of selfs, nie meer daarin belangstel of daarvoor tyd oor het nie.

Is dit nie presies, broers en susters, hoe ons lewens soms lyk nie? God is in ons lewens teenwoordig. Elke dag is God op besondere maniere met ons besig. Elke dag oorlaai hy ons met goeie en wonderlike gawes. En nooi God ons uit om dit raak te sien. Nooi Hy ons uit om bly te wees, vol vreugde te wees, maak nie saak wat ons omstandighede is nie, juis omdat Hy in al ons omstandighede teenwoordig is, nooi Hy ons uit om juis in sy teenwoordigheid uit te styg bo ons omstandighede, stel Hy ons in staat om bo ons omstandighede uit te styg juis omdat Hy in ons lewens teenwoordig is.

Maar wat maak ons? Ons raak so besig met alles rondom ons, ons gedagtes raak so besig met alles wat gebeur het, gebeur en nog moet gebeur, dat ons nie meer 'n sekonde oor het om net vir 'n slag stil te staan en te ervaar: maar maak nie saak waarmee ek besig is, wat ek doen en nog moet doen, wat swaar op my lê, of wat ook al nie, God is by my. En omdat Hy by my is, omdat Hy met my gemeenskap het en wil hê, daarom kan die lewe 'n vreugde wees, moet die lewe 'n vreugde wees.

Dalk is ons probleem, broers en susters, dat ons te dikwels ons lewens in kompartemente indeel. Of ek is met my dinge besig, of met die dinge van God. Of dalk is die probleem dat ons, waar ons nou aan sy tafel aangesit het, nie werklik hier beleef het dat God vir ons 'n feesmaal hier aangebied het nie.

'n Feesmaal omdat juis hierdie maal 'n teken van lewe, nuwe lewe en volle lewe is. 'n Feesmaal waar ons God se teenwoordigheid kon beleef, en weer eens sy bevestiging kon ontvang dat ons aan Hom behoort. Dat ons nie meer verlore is nie. Dat ons 'n Vader in die hemel het.

Maak hierdie dinge u bly, broers en susters? As dit u nie bly maak nie, het u en ek nog nie verstaan wat hier by die tafel gebeur nie. As ons egter hier uitgaan en môre die lewe as 'n vreugde beleef, en uitleef, toon ons daarmee dat ons vanoggend en vanaand by 'n feesmaal aangesit het. Wat sien mense wanneer hulle na ons kyk? Straal ons iets van die vreugde uit om deel van God se kinders te kan wees, of is ons so vasgevang deur die elke dagse en alledaagse, dat blymoedigheid lankal nie meer deel is van ons lewe voor God nie?

As dit so is, het ons nog nie verstaan wat dit beteken om jouself God van kind te kan noem nie.
Amen