Hebreërs 10:1-4; Lukas 22:14-20

Is ons dors geles?



Broers en susters in onse Here Jesus Christus

In Lukas 22:20 lees ons dat Jesus, nadat hy die beker in sy hand geneem het, die volgende vir sy dissipels gesê het: ‘Hierdie beker is die nuwe verbond, beseël deur My bloed, wat vir julle vergiet word’.

Hierdie woorde van Jesus, broers en susters, moes die dissipels verbaas het.  Hulle het die verhaal van die pasgawyn baie goed geken.  Dit was die simbool van die bloed van die lam wat die Israeliete, solank hulle in Egipte was, aan die deurkosyne van hulle huis gesmeer het.  Daardie bloed het die dood van hulle huise weggehou en hulle eersgeboornes gered.  Dit het gehelp om hulle uit die kloue van die Egiptenaars te bevry.

Duisende geslagte lank het die Jode die pasga gevier deur lammers te offers.  Elke jaar het die bloed gevlei, en elke jaar is die verlossing uit Egipte so gevier.  Die wet was duidelik: die bloed van ‘n lam moes vloei.  Dot sou voldoende wees.  Voldoende wees om die wet te vervul.  Voldoende wees om God se opdrag uit te voer.  Voldoende wees om God se geregtigheid te bevredig.

Dit sou egter nie voldoende wees, broers en susters, om mense se sonde weg te neem nie.  Dit sê Hebreërs 10:4 baie duidelik: `die bloed van bulle en bokke kan onmoontlik sondes wegneem’.  Offerandes was ‘n oplossing, maar dit was ‘n tydelike oplossing.  Daarom moes die bok of die lam weer en weer geslag word.

God het egter, broers en susters, die ewige oplossing gebring.  Die ewige oplossing bewerk.  Sy kinders was vasgeval in die sonde.  Daarom het Hy sy Seun gegee, het sy Seun sy bloed gegee.

Calvyn het dit pragtig gestel: Sy bloed is al wat Hy gehad het.  Sy vriende was weg.  Sy krag was besig om af te neem.  Sy besittings was weggedobbel aan sy voete.  Selfs sy vader het sy gesig van Hom weggekeer.  Sy bloed is al wat Hy gehad het.  Maar ook: sy bloed is al wat nodig was.  Di het die nuwe verbond geword, die wyse, die enigste wyse waarop ons met God versoen kan word.

Op ‘n keer, broers en susters, het Jesus gesê:  `As iemand dors het, laat hy na my toe kom en drink!’.  Sy verlossing is daar, sy bloed is daar, die beker van die nuwe verbond.  Maar, broers en susters, alhoewel dit beskikbaar is, is daar tog ‘n probleem: dit is vir ons soms baie moeilik om te erken dat ons dors is.

Wat dikwels meen ons dat ons nie dors is nie.  Daar is so baie ander fonteine waaruit ons drink: die fontein van plesier, van stokperdjies, die fontein van my eie wil.  Fonteine, broers en susters, wat ons egter tog mettertyd agterkom valse fonteine is.  Want daar kom ‘n dag waarop ons besef maar plesier bevredig nie meer nie.  Daar kom dae wanneer ons besef dat ons eintlik dors is, al drink ons so baie en so gereeld uit o baie fonteine.  Daar kom ook soms daardie donker uur in ons lewens wanneer ons hele wêreld rondom ons intuimel en ons bly lê onder die puin van die werklikheid van ons eie lewe, sterwend, en smagtend.  Smagtend na dit wat sin in die lewe kan bring en gee, smagtend na dit wat werklik vrede en vreugde kan bring.

Sommiges, broers en susters, sterf sonder om dit te erken.  Ander erken dit weer in die hoop om van God se oordeel te ontkom.  Ander egter, kom omdat hulle besef hulle kan nie meer aangaan soos dit was nie: hulle kom met die woorde: Here, ek is dors, Here, ek het hulp nodig.

So kom, goddank, broers en susters, so baie dorstiges.  ‘n Gehawende ou klompie, net met verpletterde drome, mislukte planne, en gebreekte beloftes.  Met fortuine wat nooit gemaak is nie.  Met gesinne wat nooit tot stand gekom het nie.  Met huwelike en verhoudings wat nooit gewerk het nie.  Mense wat vasgepen is in hulle eie mislukkings, in hulle eie pogings om sin te maak van alles en van die lewe.

Mense wat, broers en susters, dors is:  Nie dors na roem nie, nie dors na besittings of sukses nie.  Uit daardie poele het hulle reeds gedrink.  En agtergekom dat daardie poele niks anders as soutwater in die woestyn is nie.  Soutwater wat nie die dors geles het nie, maar doodgemaak het.  Hulle dorser en dorser gemaak het na nog, na meer.  Maar net dorser en dorser geword het.

Hierdie dors, broers en susters, kan alleen geles word wanneer ons van hierdie beker drink, die beker van die nuwe verbond, die beker van Jesus se bloed.  Of, ander gesê: die enigste beker wat lewe kan gee, die enigste beker wat ware dors kan les: dors na ‘n skoon gewete, dors na ‘n goeie huwelik, dors na sinvolle verhoudings, dors na vrede en vreugde.  Die dors na ‘n nuwe begin, die dors na ‘n skoon bladsy.

U en ek, broers en susters, het vanoggend en vanaand uit hierdie beker gedrink, die beker, die enigste beker, wat werklik dors kan les.  Die enigste beker wat ons weer reg kan maak.  Wat vreugde kan bring, wat vrede kan bring.

Wie in Christus s, leer die Woord ons, het ‘n nuwe mens geword.  Wie uit hierdie beker gedrink the, kan nooit weer dieselfde wees nie.  Kan nooit weer uit ander poele gaan drink en dink dat ons dors vir die ware lewe geles sal word nie.  Dit is eenvoudig net nie moontlik nie.

Of is dit?  Want ons wat hier uit die beker gedrink het, en nog maar net dieselfde is, wat nog dors word na die ware lewe, en nog steeds maar uit ander poele lafenis wil gaan vind, ons, broers en susters, het nie waarlik uit hierdie beker gedrink nie.

Het u, my liewe broer en suster, vandag, aan die tafel van die Here, werklik uit hierdie beker gedrink?  As u en ek dit werklik gedoen het, sal ons nooit weer dors kry nie.
Amen