Efesiërs 4:17-32

Leef in vrede met mekaar



Broers en susters in ons Here Jesus Christus
Die tafel van die Here waarby ons (so pas) aangesit het, kan onder andere gesien word as 'n simbool of ‘n teken van die vrede wat daar tussen God en sy kinders is.. Al is ons sondaars, al is ons anders as God, al is ons onregverdiges, deur die bloed en liggaam van Jesus het daar versoening tussen ons en God gekom, en daarom is daar nou ook vrede tussen ons en God. Van hierdie vrede is die tafel van die Here ‘n simbool.

En soos ons die een brood, die brood van vrede, (so pas) gebreek het en saam daarvan geëet het, behoort daar tussen ons, wat saam van die een brood geëet het, ook vrede te wees. Dus: versoen met God, in vrede met God, en daarom ook in vrede met mekaar. Die gawe van vrede met God, die opdrag van vrede met mekaar. Hoe gaan leef ‘n mens dit uit? Kom ons kyk na Paulus se antwoord.

Iemand wat vrede met God het, is iemand wat hierdie vrede besit omdat God so iemand nuut gemaak het (vers 22-24). Die nuut-wees van die kind van God is daarin geleë dat hy/sy nou anders dink, en anders doen. So iemand dink nie meer aan die dinge van die mens (die sonde) nie, maar aan die dinge van God, dit wil sê, hoe hy/sy gehoorsaam voor God kan lewe. Dit is iemand wat dus die valsheid afgelê het (vers 25), en nou in vrede met God en die medemens lewe.

En dan gaan Paulus verder: die lewe van die nuwe mens, sê hy, die lewe van vrede met God en die medemens, is 'n heel praktiese saak. 'n Saak wat te make het met die praat van die waarheid (vers 25), die saak van kwaad word sonder om te sondig (vers 26), die saak van steel (vers 28), die saak van vuil taal (vers 29) en die saak van die bedroef maak van die Heilige Gees (vers 30). En alhoewel u aanvanklik mag dink, broers en susters, dat hierdie sake niks te maak het met die vrede tussen ons en ander nie, hoop ek dat dit duidelik sal word soos ons hierdie sake nou een vir een sal hanteer.

Wat beteken dit om die waarheid te praat, broers en susters? Gewoonlik verstaan ons hieronder dat dit beteken dat ek byvoorbeeld nie moet jok nie, nie leuens moet vertel wanneer ek oor 'n saak gekonfronteer word nie. Om die waarheid te praat beteken egter nie alleen veel meer nie, dit het ook besliste konsekwensies vir ons vrede met ander. Kom ek noem u 'n paar voorbeelde:
om net jouself lief te hê, altyd jou eie voordeel in alles te soek, altyd jou eie beeld te verbeter, en mense so te hanteer dat ek altyd die meeste voordeel daaruit put, is om 'n leuen te leef, die leuen dat ek sogenaamd my naaste liefhet soos myself. So skep ons onvrede;
wanneer ek stilbly wanneer ander rondom my verkeerd optree, is om toe te laat dat mense in onvrede met God leef, en wie in onvrede met God leef kan nie in vrede met ander leef nie;
wanneer ek 'n masker opsit, 'n front voorhou van wat ek nie is nie, skep ek onware en onegte verhoudings. En vrede kan nooit op die bodem van valsheid staan nie;
wanneer ek weier om byvoorbeeld my emosies aan ander deur te gee, en tog sê dat alles reg is, skep ek 'n onheilige en valse vrede;
wanneer ek spog oor my eie prestasies, en telkens so 'n stertjie aanlas oor my sogenaamde gedane prestasies, of werk wat ander gedoen het tot my eer aanhaal asof ek dit sou gedoen het, skep ek 'n valse beeld. Dit is nie die waarheid nie, en alleen die waarheid kan die vrede dien.

So maklik, broers en susters, kan 'n mens se hele lewe 'n leuen word, ons verhoudings met ander kan op leuens gebaseer wees, en dit kan tog nie vrede beteken nie. So skep ons as 't ware 'n valse wêreld.

Tweedens: hoe word 'n mens kwaad deur nie te sondig nie? Hier is God die voorbeeld: hy haat die sonde, God word kwaad vir die sonde, maar die sondaar het Hy lief. Dieselfde word van ons verwag: ons kan dit gerus oorweeg om maar met ander vir 'n slag te deel oor hulle verkeerde optredes en dade — dit is tog ons opdrag om alle valsheid aan die lig te bring. Want so maak ons dit moontlik om die vrede tussen God en so iemand te herstel. Maar wanneer ons nie alleen die sonde haat nie, maar ook die een wat byvoorbeeld die sonde tot my nadeel gepleeg het, dan leef ons nie in vrede met so iemand nie. Dan eis ek die vergelding toe, dan tree ek op tot my eie voordeel. Dan haat mense mekaar, en waar haat is, kan nie vrede wees nie.

Wat beteken dit om te steel, behalwe om onwettig fisies op iemand anders se besittings beslag te lê (wat natuurlik die gevolg van onvrede sal hê)?
ek kan byvoorbeeld die eer wat 'n ander toekom vir myself toeëien;
ek kan byvoorbeeld daar waar ek werk of studeer en skool doodeenvoudig lui wees. Dan steel ek nie alleen my werknemer se geld nie, maar ek steel van die tyd wat God aan my leen om sinvol te werk en besig te wees. Logies: die gevolg is onvrede tussen mense, maar ook tussen mense en God;
'n laaste voorbeeld hier: ek kan dit wat God aan my leen, my werkkragte, my besittings, my finansiële vermoë, my tyd (om maar net 'n paar voorbeelde van baie te noem) maar skraps aan die kerk van die Here afstaan. So steel ek as 't ware van die Here, so kom daar onvrede tussen my en God, en kan 'n verdere gevolg wees dat — indien ek wel by die werk van die Here betrokke sou wees — vrede wat ek tussen mense en God en tussen mense en mense kon bewerkstellig, eenvoudig net nie realiseer nie.

Vuil taal, broers en susters, op sy beurt weer, sluit beslis sake soos skinder, die beswad¬der/swartsmeer van 'n ander, of dan die afkraak van 'n ander in. Hoe kon daar vrede wees tussen die een wat sulke stories versprei, en die een van wie dit versprei word?

En dan, die laaste saak wat Paulus hier aanraak: die bedroefmaak van die Heilige Gees. Hoe be¬droef 'n mens die Heilige Gees? Kom ek gebruik net een voorbeeld, ter wille van die tyd. Die Gees van God ontvang die gelowige, saam met die geloof, as gawe uit die hand van God. Die Gees van God doen dan onder andere die volgende in die lewe van die mens: dit ondersoek ons lewe vir sonde, oortuig ons dat ons sonde het, en bring ons om hierdie sonde te bely. Verder lei die Gees ons ook elke dag en elke oomblik om gehoorsaam voor God te lewe.

Wanneer ons miskien iets gedoen het wat onvrede tussen ons en iemand veroorsaak het, en die Gees oortuig ons daarvan, en ons wil die betrokke sonde nie bely nie, bedroef ons die Gees. Of: wanneer ons iets wil doen wat onvrede tussen ons en iemand anders sal veroorsaak, en die Gees lei ons en laat ons insien dat dit verkeerd is en sal wees, maar ons doen dit tog — teen die leiding van die Gees in my lewe in — dan bedroef ons die Gees van God. Dus: ook die bedroef van die Heilige Gees het te make met die opdrag om in vrede met ander te lewe.

Ek sluit af: so maklik dink ons, broers en susters, dat vrede tussen ons en ander, as opdrag omdat ons nuut geword het, as opdrag omdat ons nou weer die vrede van God aan sy tafel ervaar en ontvang het, maar alleen te make het met iets soos sondevergiffenis, vriendelikheid, ordentlikheid, taktvolheid en diplomasie.

Vandag het God se Woord aan ons getoon dat dit ook te make het met die waarheid wat ons moet praat, die taal wat ons gebruik, dat ons van ander op bepaalde maniere kan steel, dat ons die sonde behoort te haat sonder om die een wat dit gedoen het te haat of te veroordeel, en ook dat ons onvrede kan stig deur die Heilige Gees te bedroef.

Ons moet dus raaksien dat vrede met die medemens veel meer om die lyf het, dat dit eintlik, soos Paulus dit hier beskryf, 'n heel praktiese saak is, dat daar vele maniere is waarop ons onvrede kan stig, en in onvrede met ander kan lewe. Die mens wat nuut geword het, die mens wat God se vrede weer eens (vanoggend en vanaand) aan sy tafel ontvang het, kan egter nie so lewe nie.

Ons het tog immers van Christus gehoor, soos Paulus hier sê, en ons is tog onderrig in die waarheid wat in Jesus is. Die implikasie is dus eenvoudig: wie nie in die waarheid is en daarin probeer lewe nie, is nie in Christus nie.
Amen