Markus 14:22-25

Neem dit...dit is My liggaam



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
Tussen 1 en 4 Oktober 1529 het daar 'n interessante gesprek in Marburg, Duitsland, plaasgevind — dit sou later in die kerkgeskiedenis as die Marburger gesprekke bewindsman — tussen 'n aantal prominente figure uit die destydse Kerkhervorming. Onder die kerkleiers wat teenwoordig was, was manne soos Luther, Zwingli, Bucer, Melanchton en ander. Die een saak wat op die tafel was, was die Nagmaal. Blykbaar was daar, ook in die kringe van die Hervorming, 'n uiteenlopende verskeidenheid sieninge, in besonder oor die instellingswoorde van die nagmaal wat ons vanaand vroeër gelees het: Dit is my liggaam en dit is my bloed (Mark 14:22 en 24).

Die vrae op die tafel was velerlei: Wat het die Here met hierdie woorde bedoel? As Hy by ons in die Nagmaal teenwoordig is, hoe is Hy? Inderdaad diepsinnige vrae, broers en susters, vrae waaroor 'n mens jou nie alte slim moet hou nie. Tog vrae wat, ek meen, 'n mens kan beantwoord.

Luther, in elk geval was so sterk onder die indruk dat hierdie woorde bevestig en beteken het dat die Here werklik by ons teenwoordig was in die Nagmaal, dat hy blykbaar reeds voor die gesprek met 'n stuk kryt in Latyn op die tafel geskryf het: ‘dit is My liggaam’. Die woorde wat hy geskryf het, het hy aanvanklik met 'n tafeldoek toegehou.

Dit het hy gedoen, enersyds, om die hele tyd die woorde voor hom te hou om in die ingewikkelde gesprek altyd te onthou dat Jesus werklik by ons aan tafel teenwoordig is by die Nagmaal, maar andersyds ook wou hy, indien die feit dat Jesus werklik by ons aan tafel teenwoordig ty¬dens die gesprek in die gedrang sou kom, die tafeldoek te kon afruk om te bevestig: maar hieroor gaan dit. Hier staan dit, soos dit in die Bybel staan, uit die mond van die Here self: Dit is my liggaam Die brood en die wyn is my liggaam en my bloed. Ek is hier teenwoordig.

Van een ding was Luther doodseker: Jesus is by ons in die Nagmaal teenwoordig, en wel ook in 'n spesifieke gestalte — as die een wie se liggaam vir ons gebreek is, die een wie se bloed vir ons vergiet is. As Verlosser, as die Middelaar tussen ons en God, as die een wat dit moontlik maak dat ons in God se teenwoordigheid kan kom. Van alles in die lewe kan ons onseker wees, maar oor hierdie saak, het hy gemeen, kan ons absoluut seker wees: Jesus Christus, die opgestane Here, lewe, en by die tafel is Hy in ons lewens teenwoordig.

Is dit nie wonderlik nie, broers en susters, om dit te kan weet? want daar is so baie dinge waaroor ons deesdae onseker kan wees en is. Want tussen die dalende rand, die sukkelende ekonomie en groeiende misdaadsyfer, die toenemende korrupsie en dalende lewenswaardes en morele waardes, is sekerheid eintlik in ons lewens by die agterdeur uitgeboender. Is daar iets waaroor nog seker kan wees in hierdie lewe? Verander alles nie maar elke dag net meer en meer nie?

Maar oor een ding, het Luther gesê, kan ons seker wees. Wat meer is, oor een ding wat vir ons lewensbelangrik is. Een ding waaroor 'n mens seker die meeste sekerheid sou wou hê. Dat ons gered is. Dat God ons liefhet. Dat God ons behoue sal laat bly in 'n wêreld vol veranderinge en onsekerhede. En hieroor, sê hy, kan ons absoluut seker wees. want so seker as wat ons die brood en die wyn aan tafel vanaand gesien, geëet en gedrink het, so seker as wat ons dit in ons hande gehou het, so seker kan ons weet dat God by ons teenwoordig is. Hy is by ons: aan tafel, maar ook elke dag elke sekonde van ons lewens.

Hierdie teenwoordigheid van God aan tafel en elke dag in ons lewens, broers en susters, is egter 'n saak wat nie maar net geglo moet word nie, dit moet ook gesien word. En of 'n mens dit sal raaksien in jou lewe of nie, hang alles af van hoe u en ek kyk, hoe ons na die wêreld en na ons elkeen se lewe kyk. As ons verkeerd kyk, sal die brood aan die tafel brood bly en die wyn maar net wyn. Die Nagmaal sal inderwaarheid vir ons dan maar soos 'n karige ete voorkom. Maar as jy reg kyk, sal jy sien dat dit hier gaan oor meer as maar net gebakte koringkorrels en geparste druiwe.

Kom ek verduidelik dit met 'n bekende beeld. 'n Tyd gelede was dit baie gewild om driedimensionele prente (sg outostereogramme) in tydskrifte te plaas om te kyk wie die prentjie in die prentjie kan sien. Die aanwysings was duidelik: kyk 'n paar sentimeter dieper as die niksseggende kolletjies op die oppervlak, laat oë as 't ware uit fokus gaan. En dan gebeur daar amper iets soos 'n wonderwerk: uit al die niksseggende kolletjies kom daar ritme, 'n patroon, 'n duidelike prentjie wat jou verwonderd laat. Want deur reg te kyk, het jy ewe skielik orde in die chaos raakgesien.

Met eerbied gesê: dieselfde geld vir die Nagmaal. As 'n mens na die Nagmaal net oppervlakkig kyk, net asof dit 'n versameling kolletjies is (brood, wyn, kelkies, tafeldoek, tafel), sal dit nie veel meer beteken as 'n stuk vorm, 'n geykte gebruik nie.

Maar as jy dieper kyk, sal u en ek vir Jesus raaksien. Sal die Nagmaal vir ons 'n ander wêreld laat oopgaan, 'n wêreld waarin die kruis van Jesus voorop staan, sy liggaam wat gebreek is en sy bloed wat vergiet is. Maar ook meer, baie baie meer: ons sal ook 'n nuwe toekoms sien, 'n toekoms waarin ons met God versoen is, ons sal 'n nuwe hemel sien. Maar ook: al die kolletjies van ons lewe, al die kolletjies van elke dag, wat soms so niksseggend lyk, wat soms so chaoties lyk, sal 'n pragtige prentjie vorm: 'n prentjie waarin ons sal sien dat ons stap in die lewe, 'n pad stap met God langs ons. Waar hy soms ons hand vashou, ons soms dra, waar ons soms sonder Hom loop, of wil loop, maar 'n pad waar ons voetspore altyd maar weer langs God s’n uitkom. Omdat Hy ons nie los nie, nooit los nie, nooit wil los nie, ons altyd kom soek, altyd by ons wil wees en is.

Hierdie, broers en susters, is die geheim van die Nagmaal. Trouens, hierdie is ook die geheim van die geloof. Die versekering wat God ons gee dat Hy, wat in die Nagmaal by ons is, orals en altyd by ons is. As ons Verlosser. As die Middelaar tussen God en ons. As die een wat in nood en dood ons belowe: Ek sal by julle wees tot aan die voleinding van die wêreld. Dit is wat God in sy Woord ons belowe, en sal God, nee broers en susters, kom ons sê dit anders, kan God ooit iets anders as die waarheid praat?

Luther het oor laasgenoemde ook later die pen opgeneem en soos volg daaroor geskryf:

Deur die teken van die Nagmaal word diegene bewaar wat bewaar wil word. Die Nagmaal wys na Christus en sy beeld, sodat jy teen die beeld van die dood , die sonde en die hel kan sê: God het my belowe Hy sal altyd by my wees, en Hy het my 'n teken gegee om dit te bevestig: die sakramente, die Nagmaal. Die nagmaal wat sê: die dood van Christus het my dood oorwin, sy gehoorsaamheid het my sonde uitgedelg, sy liefde het my somtydse liefdeloosheid reeds vernietig, sy verlatenheid aan daardie kruis het gesorg dat ek nooit weer alleen, sonder God sal wees nie. Hiervan is die Nagmaal 'n sigbare teken, 'n teken wat sigbaar is, en my daarom nooit kan bedrieg nie. God het dit gesê, en God kan nie lieg nie.

Ons het so pas, broers en susters, hierdie teken ontvang. Die Nagmaal, as teken van God se liefde, genade, teenwoordigheid, vergifnis. Mag ons dit sien, so sien, so diep kyk, dat ons God se liefde, genade, teenwoordigheid en vergifnis agter die sigbare tekens raaksien. En dan gaan lewe met die wete: God is altyd by my. Aan tafel het Hy dit weer aan my gewys en bewys. Daarom is daar orde tussen al die kolletjies in my lewe, al sien ek dit nie altyd dadelik raak nie.
Amen